Kaaps-Hollandse Styl is 'n styl van argitektuur wat deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie en sy goewerneurs aan die Kaap die Goeie Hoop gebruik is. Dit is beïnvloed deur die argitektuur van Nederland (gewels), Italië en Frankryk (barokvloerplanne; sien ook: barok), en Portugal (rietdakke).
Pas na die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap in 1652 is geboue uit noodsaak opgerig en materiaal wat plaaslik beskikbaar was moes uiteraard gebruik word. Met verloop van tyd en namate die nedersetting om die oorspronklike Fort de Goede Hoop en later om die Kasteel uitgebrei het, het 'n soort Kaapse volksboukuns ontwikkel wat in wese heeltemal tydeloos was.
Oor die algemeen het die stylelemente van hierdie volksboukuns twee eeue lank die weerspieëling gebly van plaaslike omstandighede, vereistes en die materiaal wat beskikbaar was. Naas die tydelose basiese elemente het die Kaapse boukuns ook geboue opgelewer wat juis sterk tydsgebonde sierelemente besit het. Die boustyl aan die Kaap en in die omliggende distrikte sou met verloop van tyd stylkenmerke van die Barok, die Klassisisme en die Neo-Klassisisme toon wat oorgedra is op die tradisionele, konserwatiewe volkstyl.
Die meeste historiese geboue en huise wat vandag as voorbeelde van die Kaaps-Hollandse boustyl beskou word, is tussen 1750 en ongeveer 1825 gebou. Aan die begin van hierdie eeu was daar na raming nog sowat 3 000 Kaaps-Hollandse geboue, waarvan daar 50 jaar later maar net 'n paar honderd oor was. Verskeie individue en organisasies beywer hulle al sedert die einde van die vorige eeu vir die behoud en bewaring van hierdie unieke eie volksboustyl.
Agtergrond Van die geboue wat in die eerste eeu na die vestiging van die nedersetting aan die Kaap gebou is, het net die Kasteel in sy geheel behoue gebly. Al die belangrike geboue uit daardie tydperk is deur die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) opgerig. Nie alle Blanke nedersetters aan die Kaap het egter in Kompanjiegeboue gewoon en gewerk nie.
Reeds gedurende die eerste dekade het die Vryburgers huisies op hul plasies langs die Liesbeeckrivier opgerig, en in die omgewing van die Kasteel en die Kompanjiestuine het 'n hele aantal eenvoudige dorpshuisies verrys. Die aansig van hierdie eerste huisies is nie bepaal deur ʼn bestaande boustyl wat destyds in Europa gevolg is nie, maar eerder deur plaaslike toestande en die beskikbaarheid van boumateriaal aan die Kaap.
Boonop was die nedersetters arm en kon hulle niks meer as 'n heel eenvoudige huisie bekostig nie. Hierdie eerste nedersetters en huisbouers aan die Kaap - hulle het hoofsaaklik uit Nederland, die aangrensende dele van Noord-Duitsland en later Frankryk gekom- het die huise en boustyle van hul moederland waarskynlik wel deeglik onthou. Boustyle soos hulle dit in Europa geken het, soos die Klassisisme, die Barok en die Rococo, het op welvaart gedui. Die nedersetters het egter geen ander keuse gehad as om met eenvoudige verblyf tevrede te wees nie. Aan die boustyl wat in daardie jare in Nederland gewild was, het hulle nie gedink nie. Uit die staanspoor het daar ʼn aantal probleme opgeduik wat ʼn duidelike invloed op die ontwikkeling van 'n plaaslike, eie boustyl sou uitoefen.
Selfs in later jare, toe geld volop was, het hierdie faktore nog 'n belangrike rol gespeel in die uitvoering van Barok-, Rococo- en Neo-Klassisistiese style in die plaaslike bouwerk. Bakstene was in Jan van Riebeeck se tyd al 'n probleem. Om 'n stewige muur te kon bou, veral vir die Fort, het die nedersetters stewige bakstene nodig gehad. Die bakstene wat hulle egter gemaak het, was vanweë die samestelling van die beskikbare grond poreus en nie sterk genoeg nie. Daar moes met lae klei en strooi gebou word, of met sagter kleistene wat in die son drooggemaak is.
Toe die Kasteel gebou moes word, is bakstene uit Nederland na die Kaap ingevoer in die vorm van ballas in die leë skepe wat na Indië onderweg was. Burgerwonings is in hierdie jare van sagte kleistene, klip of sagte koffieklip gebou. Om met hierdie sagte boumateriaal ʼn stewige konstruksie te kon oprig, moes die mure minstens 50 cm, maar soms tot 80 cm, dik wees. Hoëkommissaris H.A. van Reede het selfs 'n regulasie uitgevaardig wat bepaal het dat hierdie mure sowel buite as binne met kleimortel afgepleister moes word om die sagter materiaal bymekaar te hou. Soms het die pleistermengsel reeds 'n bietjie kalk wat van die skulpe op Robbeneiland gemaak is, bevat. Om hierdie " moddermure" duursamer te maak, moes dit afgewit word om dit teen die reën te beskerm.
Die kalkmengsels het soms vet en sout bevat wat die kalk aan die muur laat kleef het. Die pleisteroppervlak van hierdie mure was altyd ietwat groot en dit het meegebring dat die witgekalkte mure die lig nie te skerp weerkaats het nie, 'n eienskap wat kenmerkend sou word vir die skoonheid van die meer ingewikkelde boustyl wat uit hierdie basiese volkstyl ontwikkel het. Die bekende dakteëls wat in Europa gebruik is, was ook nie aan die Kaap beskikbaar nie. In uitsonderlike gevalle is van die teëls ingevoer, maar daar is hoofsaaklik van die enigste beskikbare plaaslike dekmateriaal, vleiriet, gebruik gemaak. Hierdie vleiriet het oral digby die talle riviere in die Kaap welig gegroei.
'n Verdere probleem wat die ontwikkeling van enige boustyl aan die Kaap beïnvloed het, was die gebrek aan hout. Binne die eerste 50 jaar was alle bome wat met kar en perde of ossewa in die omgewing van die Kaapse Skiereiland bereik kon word, reeds uitgekap. Van Riebeeck het aanvanklik geprobeer om die geelhout in die natuurlike bosse van Houtbaai te beskerm, maar teen 1700 was die ook reeds opgebruik. Die meeste van hierdie hout is nie eens in die boubedryf gebruik nie, maar is as brandhout gestook. Die lengte van die hout wat wel beskikbaar was, was beperk, met die gevolg dat die standaardwydte van die dakoorspanning ongeveer 6 m was. Die mure was boonop te swak om 'n swaarder dak te dra. Kaapse huise kon in werklikheid dus nie wyer as 6m wees nie, hoewel groter huise verkry is deur bykomende vleuels, ook van 6 m wyd, aan te bou. Die beperking het 'n besondere invloed op die ontwikkeling van die plattegronde van hierdie huise gehad.
Tot aan die einde van die 18e eeu was daar geen houtvloere nie; dit was eenvoudig te skaars of te duur. Hout is van Mauritius en Java ingevoer en later is van die hout uit die woude van Knysna gebruik gemaak. Die eerste stinkhout en geelhout uit Knysna se omgewing het die Kaap eers in 1788 bereik. Met hierdie beperkte hoeveelheid hout is daar aanvanklik langwerpige huisies in die dorpie om die Kasteel gebou wat met hul langste kant aan die straat gefront het. (In die Nederlandse stede met hul kleiner erwe het die huise gewoonlik dwars, met die kort kant aan die straatfront, gestaan.)
Op die platteland het die huisies met die lang kant na die oprit na die huis gekeer gestaan. So 'n huisie het, veral op die dorp, gewoonlik slegs uit drie vertrekke bestaan omdat die ruimte op die erwe baie beperk was. Die middelvertrek met sy ingang het gewoonlik as woonkamer gedien, met die slaapkamer aan die een kant en die kombuis aan die ander kant. Sommige bouers het die lang rietdak naderhand vervelig gevind en die eerste vorm van 'n geweltjie in die middel van die dak bo-oor die voordeur gebou.
Dit was 'n ronde uitbousel in die muur waaroor die rietdak gekrom het en geen gewel in die ware sin van die woord nie aangesien dit nog nie nokhoogte bereik het nie. Weens die beperkte boumateriaal en selfs meer beperkte finansies het 'n voorlopige boustyl ontwikkel wat die Kaapse volksboustyl genoem kan word. Die elemente van die Kaapse volksboustyl is in werklikheid heeltemal tydeloos en stylelemente daarvan was twee eeue lank 'n weerspieëling van die plaaslike omstandighede, vereistes en materiaal wat beskikbaar was. Die volksboustyl sou sonder die koms van die Industriële Revolusie in die tweede helfte van die 17de eeu vandag ongetwyfeld nog voortgeleef het - soos dit inderdaad in afgeleë dele van Kaapland tot diep in die 20e eeu die geval was: in die Sandveld (die Weskus, noord van Piketberg), die Duineveld (naby Bredasdorp) en in sommige Kleurling gemeenskappe.
Naas die basiese tydelose elemente het die Kaapse boukuns ook geboue opgelewer wat juis sterk tydsgebonde sierelemente besit het. Dit sou met verloop van tyd stylkenmerke vertoon van die Barok, die Klassisisme en die Neo-Klassisisme wat op die tradisionele konserwatiewe volkstyl oorgedra is. Die boustyl met sy tydelose sowel as tydsgebonde kenmerke is later die Kaaps-Hollandse boustyl genoem, hoewel daar sterk tussen Kaapse Barok en Kaapse Neo-Klassisisme onderskei kan word. Die ontwikkeling van 'n unieke boustyl aan die Kaap het ook nou met die ontwikkeling in die geskiedenis saamgehang.
Die meeste geskiedkundige huise en geboue wat vandag as voorbeelde van die Kaaps-Hollandse boustyl beskou word, is tussen 1750 en ongeveer 1825 gebou. Hierdie tydperk stuit drie periodes van relatiewe welvaart aan die Kaap in, te wete 1756 tot 1763, 1760 tot 1790 en 1796 tot 1620. Gedurende die eerste periode het Engeland teen Frankryk oorlog verklaar, en dit het die burgers aan die Kaap geraak omdat hulle - anders as wat die geval met die bemanning en passasiers van besoekende Kompanjieskepe was toegelaat is om vryelik teen die beste prys met die besoekende, vreemde oorlogskepe handel te dryf. Geld was vir die eerste keer volop aan die Kaap, en dit het tot aan die einde van die oorlog in 1763 voortgeduur.
Teen 1780 het die Nederlanders as seevarende mag begin kwyn en die VOC was feitlik bankrot. Baie meer vreemde as Nederlandse skepe het die Kaap aangedoen en die mense aan boord van die vreemde skepe het tot drie keer meer vir produkte betaal as die Kompanjie. Dit het so voorspoedig in die Kaap gegaan dat die dorp, wat toe al Kaapstad genoem is, die bynaam Klein Parys gekry het. Hierdie 10 jaar lange periode van welvaart, waartydens daar van 1781 tot 1783 ook 'n Franse garnisoen aan die Kaap gevestig was, het verreikende gevolge vir die ontwikkeling van die plaaslike boukuns gehad.
'n Franse luitenant, Louis Thibault, het na die vertrek van die Franse aangebly en die Kaap se eerste ware argitek geword. Hy het 'n belangrike stempel op die Kaapse boukuns afgedruk. Die laaste periode van welvaart was aan die Britse oorname van die Kaap, 'n nuwe bestuur en nuwe handelsmoontlikhede te danke. Gedurende hierdie tydperke van welvaart kon die burgers groter en mooier huise bekostig, en daar is ook baie meer huise gebou. Daar was nou ook vir die eerste keer ʼn mate van keuse oor hoe die huise kon lyk, en Europa kon sy artistieke invloed vir die eerste keer laat geld.
Kaapse burgers kon die boustyle uit hul moederland nou vir die eerste keer toepas, en aandag kon ook geskenk word aan nuwe boustyle wat intussen in Europa ontwikkel het. Hoewel die Europese Barok en Neo-Klassisisme as voorbeeld gedien het, het dit in die Kaap – as uitbouing van 'n reeds bestaande en deur omgewing bepaalde volkstyl ‘n nuwe, eie karakter gekry. Die verloop van die geskiedenis en die periodes van welvaart het dus meegebring dat 'n eie boustyl aan die Kaap ontwikkel het.
Plattegronde Die dorpshuisies op die erwe in Kaapstad het aanvanklik uit drie vertrekke naasmekaar bestaan aangesien daar op die destydse erfbreedte nie veel meer ingepas kon word nie. Omdat die beskikbare houtlengtes beperk was en die mure nie stewig genoeg nie, kon hierdie huise nie vergroot word deur eenvoudig 'n verdere drie vertrekke reg agter die bestaande kamers aan te bou nie. Die dak wat hierdie reghoekige konstruksie sou moes oorspan, sou te groot en te swaar wees.