Alpha Librae (α Librae, afgekort as Alpha Lib of α Lib) is ’n dubbelster en ondanks die "alpha" in sy naam die tweede helderste ster in die sterrebeeld Weegskaal (Libra). Die twee komponente word α¹ Librae en α² Librae genoem. Die stelsel se tradisionele naam is Zubenelgenubi, hoewel die Internasionale Astronomiese Unie dié naam net vir α² Librae gebruik.

Die komponent α² Librae is 0,33 grade van die sonnebaan af en kan dus maklik deur die Maan en soms deur die planete verduister word. Die volgende verduistering deur ’n planeet is op 10 November 2052 deur Mercurius.Peuschel, Marco (2003). "Astronomische Ereignisse der besonderen Art" . Besoek op 10 Julie 2005.

Eieskappe Alpha Librae is sowat 77 ligjare van die Son af. Die twee helderste komponente vorm ’n dubbelster; die helderste komponent, α2 Librae, is self ’n spektroskopiese dubbelster. Die ander komponent, α1 Librae, is sowat 5 400 AE van die primêre stelsel af. Dit is ook ’n spektroskopiese dubbelster met ’n wentelperiode van 5 870 dae en ’n hoekskeiding van 0,383 boogsekondes, wat gelyk is aan sowat 10 AE. Die stelsel kan ’n vyfde komponent hê: die ster KU Librae sowat 3,3 ligjare weg. Dit is naby genoeg om deur swaartekrag aan die ander sterre verbind te wees, maar sy metaalinhoud verskil aansienlik.

Die stelsel se helderste komponent is ’n wit ster met ’n sterreklassifikasie van A3 en ’n skynbare magnitude van 2,8. Sy metgesel is ’n tipe F4-ster met ’n skynbare magnitude van 5,2. Hulle is moontlik deel van ’n groep sterre wat saam deur die ruimte beweeg en sowat 200 miljoen jaar gelede ’n gemeenskaplike oorsprong gehad het.

Name Die ster se Bayer-naam is "Alpha Librae" en sy Flamsteed-naam "8 Librae". Die tradisionele naam, "Zubenelgenubi", kom van die Arabiese ّالزُبَانَى الجَنُوبِي al-zubānā al-janūbiyy, "die suidelike poot", wat gebruik is voordat die Weegskaal as ’n sterrebeeld apart van die Skerpioen erken is.

In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Zubenelgenubi" vir die ster α² Librae goedgekeur omdat hulle eiename aan individuele sterre toegeken het eerder as aan stergroepe.

Verwysings

Eksterne skakels Kaler, Jim (2004). "STARS: Zubenelgenubi". Besoek op 10 Julie 2005.

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veelvoudige sterre Kategorie:Weegskaal (sterrebeeld) Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:A-tipe subreuse Kategorie:F-tipe hoofreekssterre