Alpha Delphini (α Delphini, afgekort as Alpha Del of α Del) is ’n veelvoudige ster sowat 354 ligjare van die Son af in die sterrebeeld Dolfyn (Delphinus).

Metgeselle α Delphini is ’n spektroskopiese dubbelster. Die komponente word Aa (amptelik bekend as Sualocin) en Ab genoem, of soms A en G. Hulle is 0,2 boogsekondes van mekaar af en wentel elke 17 jaar om mekaar.

Verder is daar vyf dowwe sterre wat in katalogusse van veelvoudige sterre aangedui word. Hulle het ’n skynbare magnitude van sowat 11 tot 13 en is tussen sowat 35 en 72 boogsekondes van mekaar af. Hulle is vermoedelik net optiese metgeselle.

Eienskappe Die primêre ster, α Delphini Aa, het ’n sterreklassifikasie van B9IV. Die tweede ster s’n kan nie vasgestel word nie omdat dit te naby aan Aa en te dof is; sy ander eienskappe is ook nie bekend nie. Die primêre ster is ’n subreus wat van die hoofreeks af begin wegbeweeg het. Sy massa is 2,82 keer dié van die Son en dit is omtremt twee keer so warm.

Sualocin en Rotanev Niccolò Cacciatore was ’n Italiaanse sterrekundige. Toe die Polermo-sterkatalogus in 1814 gepubliseer is, het die twee sterre Alpha en Beta Delphini daarin verskyn met die ongewone name "Sualocin" en "Rotanev". Eindelik het eerwaarde Thomas William Webb, ’n Britse sterrekundige, die raaisel opgelos oor waar dié name vandaan kom.

Cacciatore se naam, wat in Afrikaans vertaal sou kon word as "Nikolaas Jagter", was in Latyn "Nicolaus Venator". As ’n mens die letters van dié naam en van van agter na voor lees, kom jy by die name van die twee sterre uit. Cacciatore se grappie om die sterre na homself te noem, is vandag nog geldig. In 2016 het die Internasionale Astronomiese Unie se sternaamwerkgroep (WGSN) die naam "Sualocin" vir die ster Alpha Delphini Aa goedgekeur omdat hulle eiename aan individuele sterre toegeken het in plaas van aan stergroepe.

Hoe Webb by sy gevolgtrekking uitgekom het 45 jaar ná die publikasie van die katalogus, is steeds ’n geheim.

Verwysings

Eksterne skakels

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:Veelvoudige sterre Kategorie:B-tipe subreuse