Alpha Andromedae (α Andromedae, afgekort Alpha And of α And), ook genoem Alpheratz, is 97 ligjare van die Son af geleë en is die helderste ster in die sterrebeeld Andromeda. Dit lê net noordoos van die sterrebeeld Vlieënde Perd (Pegasus) en is die noordoostelike ster van die Groot Vierkant van Pegasus.
Hoewel dit met die blote oog soos ’n enkele ster lyk, met ’n skynbare magnitude van +2,06, is dit eintlik ’n dubbelster; dit bestaan uit twee sterre wat naby om mekaar wentel. Die chemiese samestelling van die helderste ster is ongewoon, aangesien dit ’n kwik-mangaan-ster is waarvan die atmosfeer abnormale hoë vlakke kwik, mangaan en ander elemente soos gallium en xenon bevat.Alpheratz, Kaler Stars 2/14/2013 Dit is die helderste bekende kwik-mangaan-ster.
Stelsel links|duimnael|240px|Die grootte van die twee komponente in vergelyking met die Son. Die grootte van die sirkels dui op die radiusse en die kursiewe getalle dui die massas aan.
Die Amerikaanse sterrekundige Vesto Slipher het tussen 1902 en 1904 ’n reeks metings van α Andromedae se radiale snelheid gedoen en vasgestel dit wissel periodiek. Hy het afgelei dit is in ’n wentelbaan in ’n spektroskopiese dubbelsterstelsel met ’n periode van sowat 100 dae. ’n Voorlopige wentelbaan is in 1907 deur Hans Ludendorff gepubliseer, en ’n meer presiese een later deur Robert Horace Baker.
Dit is nou bekend die twee sterre wentel met ’n periode van 96,7 dae om mekaar. Die grootste en helderste een, die hoofster, is van spektraaltipe B8IVpMnHg, het ’n massa van sowat 3,6 sonmassas, ’n oppervlaktemperatuur van sowat 13 800 K en ’n ligsterkte, wat oor alle golflengtes gemeet is, van sowat 200 keer die Son s’n. Die kleiner en dowwer ster, die metgesel, het ’n massa van sowat 1,8 sonmassas, ’n oppervlaktemperatuur van sowat 8 500 K en ’n ligsterkte van sowat 10 keer dié van die Son. Dit is ’n vroeë tipe A-ster met ’n geraamde spektraaltipe A3V.
Chemiese afwykings In 1906 het Norman Lockyer en F.E. Baxandall berig α Andromedae het ’n paar ongewone lyne in sy spektrum. In 1914 het Baxandall daarop gewys die meeste van dié lyne word veroorsaak deur mangaan, en dat soortgelyke lyne teenwoordig is in die spektrum van μ Leporis. Nog 12 sulke sterre is later ontdek. Baie van hulle word nou geklassifiseer as kwik-mangaan-sterre, ’n groep sterre met buitengewoon baie elemente soos kwik, mangaan en gallium in hul atmosfeer., §3.4. In α Andromedae se geval is daar ook baie xenon in die hoofster se atmosfeer.
Verwysings
Eksterne skakels
15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia
Kategorie:Andromeda (sterrebeeld) Kategorie:Bayer-voorwerpe Kategorie:Dubbelsterre Kategorie:Flamsteed-voorwerpe Kategorie:Henry Draper-voorwerpe Kategorie:Sterre met eiename Kategorie:B-tipe subreuse Kategorie:A-tipe hoofreekssterre