duimnael|Ruïnes van Mohenjo-daro in Pakistan wat opgegrawe is. Dit wys die Groot Bad op die voorgrond. Die Indusvalleibeskawing was ’n beskawing uit die Bronstydperk (3300–1300 v.C.) in hoofsaaklik die noordwestelike streke van Suid-Asië, van wat vandag Noordoos-Afganistan tot Pakistan en Noordwes-Indië is. Saam met Antieke Egipte en Mesopotamië was dit een van drie vroeë beskawings van die Ou Wêreld en, van die drie, die mees uitgestrekte. Dit het floreer in die vallei van die Indusrivier, wat deur die hele lengte van Pakistan vloei, en aan ’n stelsel van riviere wat eens deur die streek gekronkel het.
Die verdroging van die streek in die 3de millennium v.C. kon die rede gewees het vir die aanvanklike verstedeliking wat met die beskawing verbind word, maar kon ook eindelik gelei het tot die beskawing se ondergang en die verspreiding van die bevolking ooswaarts.
Op sy hoogtepunt kon die beskawing meer as 5 miljoen bewoners gehad het. Hulle het nuwe tegnieke in handwerk en metallurgie ontwikkel. Die Indus-stede was bekend vir hul stedelike beplanning, huise van gebakte stene, uitgebreide dreineringstelsels, watertoevoerstelsels en groepe groot, nieresidensiële geboue.
Die Indusvalleibeskawing is ook bekend as die Harappabeskawing, genoem na Harappa, die eerste van die terreine in die gebied wat in die 1920's uitgegrawe is in wat toe bekend was as die Pandjab-provinsie van Brits-Indië (nou Pakistan). Die ontdekking van Harappa en kort daarna Mohenjo-Daro was die hoogtepunt van werk wat in 1861 begin het met die stigting van die Argeologiese Opname van Indië. Uitgrawings van terreine in Harappa duur reeds sedert 1920 voort, met belangrike deurbrake so onlangs as 1999.
Die vroeë Harappa-kulture is voorafgegaan deur plaaslike Neolitiese landboudorpe, waarvan die inwoners na die vallei getrek het. In 1999 was reeds meer as duisend stede en nedersettings gevind, waarvan 96 uitgegrawe is – hoofsaaklik in die omgewing van die Indus- en die Ghaggar-Hakra-rivier en hul sytakke.
Omvang duimnael|Die ligging van IVB-terreine. Die Indusvalleibeskawing (IVB) het groot dele van Pakistan, Wes-Indië en Noordoos-Afganistan beslaan. Dit het gestrek van Balochistan in Pakistan in die weste tot Uttar Pradesh in die ooste, Noordoos-Afganistan in die noorde en Maharashtra in die suide. Vanweë die geografie van die Indusvallei was die beskawings wat daar ontstaan het, in baie dieselfde situasie as dié in Egipte en Peru, met ryk landbougrond wat omring is deur hooglande, woestyn en die oseaan. Ander, afgeleë nedersettings is gevind tot in Turkmenistan. Die meeste was aan riviere geleë, maar ook aan die antieke seekus, soos Balakot, en op eilande, soos Dholavira.
Dit het floreer in die bekkens van die Indusrivier, wat in die lengte deur Pakistan vloei, en aan ’n stelsel standhoudende riviere wat hoofsaaklik deur moesonreëns gevoed is en wat eens in die nabyheid van die seisonale Ghaggar-Hakrarivier in Noordwes-Indië en Oos-Pakistan gevloei het.
Volgens sommige argeoloë is meer as 500 Harappa-terreine ontdek aan die uitgedroogde rivierbeddings van die Ghaggar-Hakrarivier en sy sytakke, in teenstelling met net sowat 100 aan die Indus en sy sytakke;bv. hulle dink dus die naam Indus-Ghaggar-Hakra- of Indus-Saraswati-beskawing is meer gepas. Ander glo daar was geen latere nedersettings in die Ghaggar-Hakra-woestyngebied wat die antieke terreine versteur het nie en dit is hoekom daar meer ongerepte terreine in dié gebied ontdek is.
Ontdekking en opgrawings duimnael|links|upright|Indusvallei-pottebakkersware, 2500–1900 v.C. duimnael|links|upright|Indusvallei-seëls met ’n bul, olifant en renoster, 2500–1900 v.C.
Die ruïnes van Harappa is in 1842 deur Charles Masson beskryf in sy Narrative of Various Journeys in Balochistan, Afghanistan, and the Punjab, waar inwoners gepraat het van ’n antieke stad wat sowat 41 km lank is. In 1856 het Alexander Cunningham, later direkteurgeneraal van die argeologiese opmeting van Noord-Indië, Harappa besoek waar die Britse ingenieurs John en William Brunton die spoorlyn van die Oos-Indiese Spoorwegmaatskappy tussen die stede Karachi en Lahore aangelê het.
John het geskryf nadat hy baie gedink het oor waar hulle ballas vir die spoorlyn kon kry, het hy gehoor van die ruïnes van ’n antieke stad met die naam Brahminabad naby die spoorlyn. Toe hy die stad besoek, het hy baie stene gevind en, oortuig daarvan dat daar ’n groot steengroef was, is al die stene gebruik vir die maak van ballas.
’n Paar maande later het sy broer William se spoorlyn gevorder tot by ’n ander antieke stad, waarvan stene reeds deur dorpenaars van die nabygeleë Harappa gebruik is. Hierdie stene is gebruik vir ballas vir die lyn tussen Karachi en Lahore.
In 1872 tot '75 het Cunningham die eerste Harappa-seël gepubliseer. In 1912 is nog soortgelyke seëls deur John Faithfull Fleet ontdek, en dit het gelei tot ’n argeologiese veldtog onder sir John Hubert Marshall. Hy en ander het in 1921 opgrawings in Harappa begin doen en geboue en artefakte van ’n antieke beskawing ontdek. Kort hierna is soortgelyke ontdekkings by Mohenjo-Daro gedoen. Teen 1931 was ’n groot deel van Mohenjo-Daro opgegrawe, maar opgrawings het voortgeduur tot in 1944.
Ná onafhanklikwording is die grootste deel van die uitgrawings geërf deur Pakistan, waar die meeste terreine geleë was. Opgrawings van hierdie tyd af sluit in dié in 1949 onder Wheeler, die argeologiese raadgewer vir die Pakistanse regering.
Buiteposte van die Indusvalleibeskawing is opgegrawe so ver wes as Sutkagan Dor in Balochistan, Pakistan, so ver noord as Shortugai in die huidige Afganistan, so ver oos as Alamgirpur, Uttar Pradesh in Indië, en so ver suid as Malwan, in die moderne Surat in Indië.
In 2010 het groot vloede Haryana in Indië getref en die argeologiese terrein Jognakhera verwoes waar kopersmeltoonde van amper 5 000 jaar gelede ontdek is. Die terrein van die Indusvalleibeskawing is getref deur water van byna 3 m hoog toe die Sutlej Yamuna-kanaal oorvloei.
Geskiedenis Die stede van die Indusvalleibeskawing het "sosiale hiërargieë, ’n skryfstelsel, groot beplande stede en langafstandhandel gehad, wat maak dat argeoloë hulle beskou as ’n volwaardige 'beskawing'". Die middelfase van die Harappa-beskawing het geduur van omstreeks 2600 tot 1900 v.C. Met inbegrip van die voorloper- en opvolgerbeskawings – die Vroeë en Laat Harappa onderskeidelik – het die hele Indusvalleibeskawing vermoedelik geduur van die 33ste tot die 14de eeu v.C.
Verskeie indelings word gebruik vir die tydperk van die Indusvalleibeskawing. Die algemeenste is die Vroeë, Ontwikkelde en Laat Harappa-fases. Volgens ’n alternatiewe benadering deur Shaffer word die breë Indusvalleitradisie in vier eras verdeel, die Voor-Harappa (vroeë kospoduserende era) en die Regionalisasie-, Integrasie- en Lokalisasie-era, wat min of meer ooreenstem met die Vroeë, Ontwikkelde en Laat Harappa.
Datum Fase Era 7000–5500 v.C. Voor-Harappa Mehrgarh I (akeramiek-Neolitikum) Vroeë kosproduserende era 5500–3300 v.C. Mehrgarh II-VI (keramiek-Neolitikum) Regionalisasie-erac. 4000–2500/2300 v.C. (Shaffer)c. 5000–3200 v.C. (Coningham & Young) 3300–2800 v.C. Vroeë Harappa Harappa 1 (Ravi-fase; Hakrawarekultuur) 2800–2600 v.C. Harappa 2 (Kot Diji-fase, Nausharo I, Mehrgarh VII) 2600–2450 v.C. Ontwikkelde Harappa (Indusvalleibeskawing) Harappa 3A (Nausharo II) Integrasie-era 2450–2200 v.C. Harappa 3B 2200–1900 v.C. Harappa 3C 1900–1700 v.C. Laat Harappa (Begraafplaas H);Okerkleur-pottebakkersware-kultuur Harappa 4 Lokalisasie-era 1700–1300 v.C. Harappa 5 1300–300 v.C. Na-Harappa Geverfde gryswareNoordelike swart, gepoleerde ware (Ystertydperk)Ystertydperk Indië Vediese tydperkTweede verstedeliking
Voor-Harappa – Mehrgarh Mehrgarh is ’n Neolitiese (7000 v.C. tot c. 2500 v.C.) terrein wes van die Indusvallei, naby die hoofstad van die Kacchi-distrik in Pakistan, op die Kacchi-vlakte naby Balochistan. Volgens Ahmad Hasan Dani, emeritus professor van die Quaid-e-Azam-universiteit in Islamabad, het die ontdekking van Mehrgarh "die hele begrip van die Indusvalleibeskawing verander. Daar het ons die hele sekwensie, reg van die begin van die gevestigde dorpslewe af." Mehrgarh is een van die vroegste terreine met bewyse van landbou- en veeboerdery in Suid-Asië.UNESCO World Heritage. 2004. ". Archaeological Site of MehrgarhHirst, K. Kris. 2005. "Mehrgarh" . Guide to Archaeology Volgens Parpola het dié kultuur na die Indusvallei migreer en die Indusvalleibeskawing geword.
Mehrgarh is beïnvloed deur die Nabye Oosterse Neolitikum, met ooreenkomste wat graanvariëteite, vroeë fases van landbou, pottebakkersware, ander argaeologiese artefakte, sommige plante en tropdiere betref. Gallego Romero et al. (2011) merk op "die vroegste bewyse van beesboerdery in Suid-Asië is uit die Indusrivier-terrein Mehrgarh en dateer van 7 000 jaar gelede."
Vroeë Harappa duimnael|Die Vroeë Harappa-tydperk, c. 3300–2600 v.C. Die Vroeë Harappa-Ravi-fase, wat genoem is na die nabygeleë Ravirivier, het geduur van omstreeks 3300 tot 2800 v.C.. Dit is verwant aan die Hakra-fase van die Ghaggar-Hakra-riviervallei in die weste, en was voor die Kot Diji-fase (2800–2600 v.C., Harappa 2), wat genoem is na ’n terrein in Noord-Sindh, Pakistan, naby Mohenjo-Daro. Die vroegste voorbeelde van die Indusskrif dateer van die 3de millennium v.C.
Handelsnetwerke het hierdie kultuur verbind met verwante streekkulture en verafgeleë bronne van grondstowwe, onder meer vir die maak van krale. In dié tyd het dorpenaars verskeie gewasse begin groei, onder meer ertjies, sesamsaad, dadels en katoen, en verskeie diere makgemaak, soos die waterbuffel. Vroeë Harappa-gemeenskappe het teen 2600 v.C. groot stedelike sentrums geword, en toe het die Ontwikkelde Harappa-fase begin.
Ontwikkelde Harappa duimnael|links|Mohenjo-Daro. duimnael|Die Ontwikkelde Harappa-fase, c. 2600–1900 v.C. Volgens Giosan et al. (2012) het die stadige suidwaartse beweging van die moesonreëns oor Asië die Indusvalleidorpe aanvanklik in staat gestel om te ontwikkel deur die oorstroming van die Indus en sy sytakke te tem. Vloedondersteunde landbou het gelei tot groot landbousurplusse, wat weer die ontwikkeling van die stede tot gevolg gehad het. Die IVB-inwoners het nie besproeiingstelsels ontwikkel nie en op die seisoenale moesonreëns staatgemaak wat tot somervloede gelei het. Brooke merk verder op die ontwikkeling van gevorderde stede het saamgeval met ’n afname in reënval, wat kon aanleiding gegee het tot ’n reorganisering in groter stedelike sentrums.
Volgens J.G. Shaffer en D.A. Lichtenstein was die Ontwikkelde Harappa-beskawing ’n "vermenging van die Bagor-, Hakra- en Kot Diji-tradisies of "etniese groepe" in die Ghaggar-Hakra-vallei op die grense van Indië en Pakistan".
Teen 2600 v.C. het die Vroeë Harappa-gemeenskappe verander in groot stedelike sentrums soos Harappa, Ganeriwala en Mohenjo-Daro in die hedendaagse Pakistan en Dholavira, Kalibangan, Rakhigarhi, Rupar en Lothal in Indië. Meer as 1 050 stede en nedersettings is al ontdek, hoofsaaklik in die algemene omgewing van die Indus en sy sytakke.
Stede duimnael|links|’n Rekenaarkonstruksie van ’n Harappa-kusnedersetting by Sokhta Koh naby Pasni in Pakistan. duimnael|links|Dholavira se gesofistikeerde reservoir. ’n Gesofistikeerde en tegnologies gevorderde stedelike kultuur is te bespeur in die Indusvalleibeskawing. Dit het gesorg vir die eerste stedelike sentrums in die streek. Die gehalte van stedelike beplanning is hoog en dit is duidelik die doeltreffende munisipale regerings het groot waarde geheg aan higiëne of, alternatiewelik, toegang tot die middele vir godsdiensrituele.