Ds. Nicolaas Jacobus van Warmelo (Gouda, Nederland, 8 September 1835 – Heidelberg, Transvaal, 21 April 1892) was die vierde leraar in die Nederduitsch Hervormde Kerk en ’n kerkleier in Transvaal. Hy was sowat 21 jaar lank Hervormde predikant tot hy in 1885 met die kerkvereniging in Transvaal saamgegaan en van toe tot sy dood predikant in die NH of G Kerk (Verenigde Kerk) was.
Herkoms en opleding Van Warmelo was die sesde kind van Gerhard van Warmelo (oorlede 1850), predikant van die Hervormde Kerk in Gouda, en sy vrou, Christina Deliana ten Bosch (oorlede 1874). Albei sy ouers is in ’n pastorie gebore. Die familie Van Warmelo, onder wie verskeie predikante, kan teruggevoer word na Henrick van Warmelo, 'n chirurgyn ('n geneesheer met onvolledige bevoegdheid of bloot 'n chirurg), wat in 1625 burger van Deventer in Nederland geword het.
Van Warmelo het sy skoolonderwys aan die Latynse skool in Gouda ontvang en is in 1853 as teologiese student aan die Universiteit van Leiden ingeskryf, waar hy onder proff. N.C. Kist, A. Kuenen, J.H. Scholten en Niermeyer studeer het. (Van die eerste vyf predikante in die NH Kerk in Transvaal het di. Dirk van der Hoff en Van Warmelo aan Leiden studeer en die orige drie, di. A.J. Begemann, G.W. Smits en P.A.C. van Heyningen, aan die Universiteit van Utrecht.) In sy teologiese denke sou Van Warmelo, volgens dr. A.P. du Pont in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, self die nadruk laat val op die wetenskaplikheid van die teologie en 'n meer behoudende weg gaan as die meer radikale sienswyse van sy leermeesters in dié tyd van liberalisme in Nederlandse kerkkringe.
Na Suid-Afrika duimnael|links|200px|Ds. N.J. van Warmelo.
duimnael|regs|190px|Die eerste mev. (ds.) Van Warmelo, Josina van Vollenhoven, met wie hy in Nederland getroud is en wat 11 maande en 11 dae ná hul huwelik oorlede is op Schoemansdal. Van haar het prof. dr. S.P. Engelbrecht in die Hervormde Kerk se Eeufees-album van 1942 geskryf: "Deur haar sagte en liefderike aard was sy by die Zoutpansbergers baie bemind."
In Januarie 1858 het Van Warmelo sy kandidaatseksamen in die teologie afgelê en in September dieselfde jaar is hy tot die bediening in die Nederlandse Hervormde Kerk toegelaat. Omdat hy weens die skaarste aan vakante gemeentes as gevolg van die ooraanbod van predikante indertyd nie in Nederland 'n beroep kon kry nie, het hy eers daaraan gedink om in Kaapstad onderwyser te word. Maar ná 'n ontmoeting met dr. J.W.G. van Oordt, wat vroeër sy onderwyser was en destyds in Kaapstad in die onderwys werksaam was, het Van Warmelo beplan om as hulpprediker aan die Kaap 'n werkkring te vind. So vertrek hy op 25 Augustus 1862 daarheen.
Tog, ná sy aankoms in Oktober 1862, het die sinode (wat juis in sitting was en waartydens gemoedere oor die vermeende liberalisme in die Kerk hoog geloop het) is sy aansoek om legitimasie in die NG Kerk teruggehou tot nuwe voorwaardes vir legitimasie aanvaar kon word. Teen die verdaging van die sinode was sy legitimasie nog nie afgehandel nie. Die versoek dat hy die pas ingestelde colloquium doctum aflê, het by hom bedenkings opgeroep teen die prosedure wat die sinode gevolg het.
Om in sy lewensonderhoud te voorsien, het hy op 1 April 1863 hulpprediker van ds. J.S. Spijker, bejaarde predikant van die Kaapse gemeente geword, en ontmoet daarna ds. Smits, predikant van die NH Kerk op Rustenburg, van wie hy die toesegging van 'n beroep na die NH gemeente Zoutpansberg aanvaar het.
Hervormde predikant in Transvaal duimnael|regs|190px|Die eerste bladsy van die brief van ds. Van Warmelo aan sy moeder in Nederland waarin hy uitvoerig die siekte en dood van sy eerste vrou, Josina, beskryf.
duimnael|links|270px|Die kerkie op Schoemansdal is in 1858 gebou, maar met die verlating van die dorp in 1867 deur die swart inwoners van die omgewing afgebrand, saam met die hele dorp. Die argief van die gemeente het bewaar gebly.
duimnael|regs|270px|Die pastorie op Schoemansdal waarin ds. Van Warmelo gewoon het.
Prop. Van Warmelo is op 14 Junie 1864 te Potchefstroom deur die kommissie van die algemene kerkvergadering tot die bediening in die NH Kerk toegelaat, georden en kort daarna bevestig in Schoemansdal, die noordelikste voorpos van die blanke beskawing in Transvaal. Daar het hy die opbou van kerk en skool ter hand geneem en probeer om as fynbeskaafde en goed onderlegde mens die gemeenskap wat hy dien, te lei en op te voed. Twee groot terugslae sou hom daar tref: Sy eerste vrou sterf in 1865 en die herhaalde aanslae van vyandige swart stamme in dié streek dwing hom om die dorpie Schoemansdal in Julie 1867 te verlaat. Sy vrou se afsterwe was vir ds. Van Warmelo, volgens prof. S.P. Engelbrecht, 'n geweldige slag. Hy het 'n brief aan sy moeder in Nederland geskryf waarin hy sy vrou se siekte en oorlye breedvoerig beskryf. Prof. Engelbrecht meen "'n mens kan die brief nie lees sonder om diep geroerd te word nie". Sy is in die kerkhof op Schoemansdal begrawe. Ds. Van Warmelo het 'n paar dae nodig gehad om die brief te voltooi; vandaar dat dit nie gedateer is nie' boaan staan bloot "Schoemansdal 1865."Engelbrecht, prof. dr. S.P. 1942. Eeufees-album van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika 1842–1942. Pretoria: NH Kerk.
Kmdt. Hendrik Potgieter het Schoemansdal in 1848 as die mees noordelik dorpie in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek aangelê. Hy is dan ook daar oorlede en begrawe. In 1855, toe die plek Schoemansdal genoem is na genl. Stephanus Schoeman, het die nedersetting reeds 2 000 blanke inwoners gehad wat in 278 huise gewoon het. Daar was ’n kerkgebou (Hervormd), ’n skool en ’n pastorie. Dit was ’n welvarende sentrum vanweë die ivoorhandel en die handelsverbinding wat João Albasini met Mosambiek onderhou het. Van 1864 af het ds. Van Warmelo ’n groot bydrae gelewer om dit ’n sentrum van die Westerse beskawing te maak. Omstreeks dié tyd het spanning met die omliggende inboorlinge tot ’n uitgerekte oorlog gelei, maar weens ’n gebrek aan daadwerklike bystand van die Transvaalse owerheid kon dit nie beëindig word nie. Op 15 Julie 1867 het die krygsraad onder leiding van kmdt.genl. S.J.P. Kruger besluit om die dorp en distrik te ontruim. So het die inwoners die dorp verlaat en dit aan vernietiging oorgegee. Ná die ontruiming is die hele dorp deur die swart mense van die omgewing aan die brand gesteek en verwoes.
Ds. Van Warmelo het ’n tyd lank met ’n deel van sy gemeente op Marabastad gaan woon, maar het Noord-Transvaal middel 1868 verlaat omdat hy 'n beroep na Heidelberg (Tvl.) aangeneem het, waar hy tot aan die einde van sy lewe as predikant sou staan.
Kerkleier duimnael|links|190px|Ds. Van Warmelo se eerste vrou, Josina van Vollenhoven, is in 1865 op Schoemansdal oorlede.
Op die breëre kerklike terrein het ds. Van Warmelo vroeg reeds 'n rol begin speel. In November 1869 is hy tot skriba van die algemene kerkvergadering en sy kommissie gekies, en as skriba het hy mettertyd 'n groot invloed in die kerk en volkslewe van sy aangenome land gekry. Met die anneksasie van Transvaal in 1877 en die daaropvolgende Britse bewind kon hy hom nie versoen nie, en in die jare van lydelike verset, het hy gereeld op die volksbyeenkomste verskyn en gepreek. Met die groot volksbyeenkoms te Paardekraal in Desember 1880 was hy al predikant wat die vergadering bygewoon het. Hy het daar gepreek en 'n belangrike deel bygedra tot die besluit om met die wapen die Transvaalse onafhanklikheid te herstel.
Kerkvereniging in Transvaal duimnael|regs|220px|Sommige afgevaardigdes na die samesprekings tussen kerklike partye in Transvaal, vir Augustus 1891 opgeroep deur pres. Paul Kruger. W.H. Schroëder het dié sketse gemaak wat voorin die notule verskyn het. Ds. Van Warmelo se afbeelding is bo in die middel. Hy, ds. Hermanus Bosman en H.L. Neethling het die Verenigde Kerk verteenwoordig.
Soos weinig ander predikante in Transvaal het ds. Van Warmelo hom met die Transvaalse vryheidstrewe vereenselwig en met die ideaal om 'n sterk, verenigde volk in die republiek te bou. Daarom het hy hom ook beywer, met die vaste oortuiging dat hy 'n goeie saak gedien het, vir 'n nouer samegaan tussen die Afrikaners op kerklike gebied in die republiek. Maar volgens dr. A.D. du Pont in die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek het hy, soos sommige van sy tydgenote, hierdie saak aangepak sonder om genoegsaam rekening te hou met verskeie faktore wat 'n vereniging van Afrikaanse kerke sou bemoeilik. Met die onderhandelings wat van 1882 tot 1885 tussen die NH Kerk en die NG Kerk oor kerkvereniging gevoer is, het ds. Van Warmelo as leidinggewende figuur onder die predikante van die NH Kerk aan die besprekings deelgeneem. Hy was skriba van die vergadering van 1882 van die twee kommissies van die deelnemende kerke wat 'n grondslag vir die kerkvereniging moes vind, en het saam met ds. D.P. Ackermann en vyf ouderlinge die NH Kerk verteenwoordig wie se standpunt hy voortdurend stel. Skerp meningsverskille het tussen hom en ds. H.L. Neethling voorgekom oor die naam van die toekomstige, verenigde Kerk en oor die kwessie van onafhanklikheid van hierdie Kerk ten opsigte van die NG Kerk van die Kaapkolonie. Maar deur toegewings is die verskilpunte oorkom en het die ideaal van 'n verenigde Kerk gestalte gekry, hoewel ds. Van Warmelo juis hierin afgewyk van die aanwysings wat die NH Kerk gegee het as grondslag vir die vereniging.
Dr. Du Pont meen dit "is juis hierdie geskilpunte wat in 1882 deur ooreenkoms uit die weg geruim word, wat later herleef en die vereniging grotendeels laat misluk". Mede vanweë ds. Van Warmelo se houding kon die kommissies hul werksaamhede afsluit met die bereiking van 'n basis vir kerkvereniging wat deur die algemene sinodale liggame van die twee kerke aanvaar is, en het die finale voorbereidings vir die vereniging geslaag. Op 7 Desember 1885, toe die eerste algemene kerkvergadering van die verenigde Kerk gekonstitueer word, is ds. Van Warmelo as skriba van dié liggaam gekies.
Hoewel ds. Van Warmelo se ideaal dus geword het, sou dit betreklik gou blyk dat in sommige gemeentes van die NH Kerk wat verenig het, lidmate was wat bedenkings teen die vereniging gekoester het. Maar vroeëre NH lidmate het ds. Van Warmelo se leiding volkome vertrou en hom in die vereniging gevolg. Sy aansien selfs onder NH lidmate was so groot dat hy in November 1886 beroep is na Hervormde gemeentes wat nie aan die kerkvereniging deelgeneem het nie en die wettige voortsetting van dié kerkverband was. Tog het hy vir dié en soortgelyke beroep bedank omdat hy oortuig was dat die aanvaarding daarvan 'n massa-uittog van gewese NH lidmate tot gevolg sou kon hê, en hy niks wou doen om die kerkvereniging te laat misluk nie.
Maar die ontevredenheid by 'n groot deel van vroeëre Hervormde lidmate in die Verenigde Kerk het bly bestaan en die groep wat ná die vasstelling van die naam van die Verenigde Kerk daarvan oortuig was dat van die grondslae van die kerkvereniging, soos in 1882 vasgestel, afgewyk is, is saamgesnoer. Gaandeweg het ds. Van Warmelo ingesien dat die kerkvereniging waarvoor hy hom so hard beywer het, ou verdeeldhede laat herleef en nuwes geskep het. Die twis oor die reg op vaste eiendom van die NH gemeentes wat wel aan die vereniging deelgeneem het, het gevoelens hoog laat loop en ds. Van Warmelo ontstel. Toe pres. Paul Kruger, lidmaat van die Gereformeerd Kerk, in 1891 'n vergadering belê om 'n oplossing vir die geskil te vind, het ds. Van Warmelo se poging om 'n bemiddelende rol te speel misluk en is die saak eindelik in die howe besleg.
Laaste jare duimnael|regs|190px|Maria van Warmelo (1850–1916), 'n dogter van landdros Dietlof Maré, was ds. Van Warmelo se tweede vrou.