Libië (Arabies: ليبيا, Lībyā; Berbers: ⵍⵉⴱⵢⴰ, Libya), amptelik die Staat Libië (دولة ليبيا, Dawlat Lībiyā), is 'n land in Noord-Afrika. Libië is geleë tussen Egipte in die ooste, Soedan in die suidooste, Tsjad en Niger in die suide en Algerië en Tunisië in die weste. Met 'n oppervlakte van 1,8 miljoen km² (waarvan 90% woestyn is) is Libië die vierde grootste land in Afrika. Libië se hoofstad, Tripoli, is die tuiste van 1,7 miljoen van die land se totale bevolking van 5,7 miljoen mense. Libië het die tiende grootste bewese oliereserwes van enige land ter wêreld. Die drie tradisionele dele van die land is Tripolitanië, Fezzan en Sirenaïka. Tot 2020 het die Tweede Libiese Burgeroorlog in die land gewoed en tot onsekerheid en onstabiliteit aanleiding gegee.

duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Libië Die naam "Libië" is 'n inheemse naam en verskyn ook in antieke Egiptiese tekste as 100px, (R'bw of Liboe), waar daar verwys word na een van die Berberstamme wat wes van die Nylrivier woon. Die Griekse naam vir die stamlede was Libyes en die land se naam het Λιβύη, getranslitereer as "Libuee", geword. In antieke Griekeland het die term 'n breër betekenis gehad wat die hele Noord-Afrika wes van Egipte ingesluit het.

Die land was tussen 1969 en 2011 onder leiding van kolonel Moeammar al-Ghaddafi, wie se buitelandse beleid hom dikwels in konflik met die Weste en regerings van ander Afrikalande gebring het. Ghaddafi is in die Libiese Burgeroorlog van 2011 omvergewerp en doodgeskiet. Twee owerhede het aanvanklik beweer dat hulle Libië moes regeer: die Raad van Afgevaardigdes in Tobroek en die 2014 Algemene Nasionale Kongres (GNC) in Tripoli, wat hulself beskou het as die voortsetting van die verkose 2012 Algemene Nasionale Kongres.

Na die VN-geleide vredesgesprekke tussen die Tobroek- en Tripoli-regerings, is in 2015 'n verenigde tussentydse VN-gesteunde regering van nasionale akkoord (GNA) tot stand gebring, en die GNC is ontbind ter ondersteuning daarvan. Die konflik het egter voortgeduur en 'n tweede burgeroorlog het uitgebreek, met dele van Libië wat tussen die Tobroek- en Tripoli-gebaseerde regerings verdeel is, asook verskillende stam- en Islamitiese milisies wat ook gebiede beset het. Vanaf Julie 2017 is gesprekke tussen die GNA en die Tobroek gebaseerde owerhede gevoer om die twis te beëindig en die verdeelde inrigtings van die staat, waaronder die Libiese nasionale leër en die Sentrale Bank van Libië, te verenig.

Libië word beskou as 'n transito-land vir baie Afrika-vlugtelinge en immigrante na Europa. Daar word beweer dat honderde duisende mense uit ander Afrikalande in die land is wat blootgestel word aan misdade soos moord, aanranding, verkragting en slawerny. Voorts word hulle dikwels in kampe soortgelyk aan konsentrasiekampe aangehou.

Libië is 'n lid van die Verenigde Nasies, die Beweging van Onverbonde Lande, die Afrika-unie, die Arabiese Liga, die Organisasie van Islamitiese Samewerking en OPUL. Die land se amptelike godsdiens is Islam, met 96,6% van die Libiese bevolking wat Soennii-Moslems is.

Etimologie duimnael|Die argeologiese terrein Sabratha duimnael|'n 1820-tekening van 'n Boek van Poorte-fresco van die graf van Seti I, wat van links af, vier groepe mense uitbeeld: 'n Libiër (Berbers), 'n Nubiër ("Nehesu"), 'n Asiër ("Aamu") en 'n Egiptenaar ("Reth") Die oorsprong van die naam "Libië" het vir die eerste keer verskyn in 'n inskrywing deur Ramses II as 100px R'bw of Liboe in hiërogliewe. Die naam is ontleen aan 'n veralgemeende identiteit wat aan 'n groot konfederasie van Antieke Oos-Libiese Berbers, Afrikane en stamme wat rondom die "welige streke" Sirenaïka en Marmarika gewoon het. 'n Weermag van 40 000 man en 'n konfederasie aan stamme genaamd "Groot Hoofmanne van die Liboe" is aangevoer deur koning Meryey wat oorlog gevoer het teen farao Merneptah in 5 (1208 v.C.). Dié konflik is genoem in die Groot Karnak-inskrywing in die westelike delta tydens die vyfde en sesde jaar van sy bewind en het in 'n nederlaag vir Meryey geëindig. Volgens die Groot Karnak-inskrywing het die militêre alliansie die Mesjwesj, die Lisiërs, en die "Seevolke" bekend as die Ekwesj, Teresj, Sjekelesj en die Sjardana ingesluit.

Die Groot Karnak-inskrywing lees soos volg:

Die moderne naam "Libië" is 'n ontwikkeling van die Liboe- of Libúē-naam (van Grieks Λιβύη, Libyē), wat algemeen na die mense van Sirenaïka en Marmarika verwys. Die Liboe- of Libúē-naam het waarskynlik in die klassieke wêreld gebruiklik geword as 'n identiteit vir die inheemse volke van Noord-Afrika en dit is dalk ontleen aan die Proto-Afro-Asiatiese labiʔ- ("leeu"), vergelyk Somalies libaax. In 1934 is die naam herleef vir Italiaans-Libië van die Antieke Grieks Λιβύη (Libúē). Dit sou terme vervang wat toegepas is op Ottomaans-Tripolitanië, die kusstreek van die huidige Libië, wat van 1551 tot 1911 deur die Ottomaanse Ryk as Ejalet Tripolitanië beheer is. In 1903 is die naam "Libië" heringevoer deur die Italiaanse geograaf Federico Minutilli. "Bibliografia della Libia"; Bertarelli, bl. 177.

In 1951 het Libië onafhanklik geword as die Verenigde Libiese Koninkryk (المملكة الليبية المتحدة, al-Mamlakah al-Lībiyyah al-Muttaḥidah) en in 1963 sy naam verander in Koninkryk Libië (المملكة الليبية, al-Mamlakah al-Lībiyyah), letterlik "Libiese Koninkryk". In 1969 is die naam ná 'n staatsgreep deur Moeammar al-Ghaddafi verander in Libiese Arabiese Republiek (الجمهورية العربية الليبية, al-Jumhūriyyah al-'Arabiyyah al-Lībiyyah). Van 1977 tot 1986 was die amptelike naam "Sosialiste Libiese Arabiese Volksrepubliek" (الجماهيرية العربية الليبية الشعبية الاشتراكية) en van 1986 tot 2011 "Groot Sosialiste Libiese Arabiese Volksrepubliek" (الجماهيرية العربية الليبية الشعبية الاشتراكية العظمى, al-Jamāhīriyyah al-'Arabiyyah al-Lībiyyah ash-Sha'biyyah al-Ishtirākiyyah al-'Udmá, ).

Die Nasionale Oorgangsraad, wat in 2011 gestig is, het na die land slegs as "Libië" verwys. In September 2011 het die Verenigde Nasies die land amptelik onder die naam "Libië" erken gebaseer op 'n versoek deur die Permanente Sending van Libië met verwysing na die tussentydse Libiese Grondwetlike Verklaring op 3 Augustus 2011. In November 2011 is die ISO 3166-1 gewysig om die nuwe landsnaam Libya in Engels en Libye (la) in Frans in ag te neem.

In Desember 2017 het die Permanente Sending van Libië die Verenigde Nasies ingelig dat die land se amptelike naam voortaan "Staat Libië" sal wees, "Libië" die amptelike kortvorm sal bly en die land in alfabetiese lyste steeds onder die letter "L" gelys sal word.

Geskiedenis Vroeë geskiedenis duimnael|links|'n Kaart gebaseer op navorsing deur die Griekse filosoof, Strabo (63/64 v.C. – 24 n.C.), wat wys hoe groot die gebied wat as "Libië" bekend gestaan het, op 'n tyd was duimnael|Die antieke Griekse tempel in Cyrene ter ere van Zeus duimnael|links|Ruïnes van die teater in die Romeinse stad, Sabratha, wes van Tripoli duimnael|Die drie Ottomaanse Turkse gebiede (Tripolitanië, Sirenaïka en Fezzan) in die huidige Libië Argeologiese bewyse dui aan dat die Libiese kusgebiede so vroeg as die 8ste millennium v.C. deur Neolitiese mense bewoon is. Dié mense was bekwaam in die tem van vee en die verbouing van gewasse. Die area wat vandag as "Libië" bekend staan, is later deur 'n reeks bevolkings beset: die Fenisiërs, Kartagers, Grieke, Romeine, Vandale en Bisantyne het almal op 'n tyd oor dié gebied (of dele daarvan) geheers. Alhoewel die Grieke en Romeine ruïnes gelaat het by Sirene (ook bekend as Kurene), Leptis Magna en Sabratha, het min ander bewyse van hierdie antieke kulture oorleef.

Die Fenisiërs was die eerste om handelsposte in Libië te stig, toe die handelaars van Tirus (die hedendaagse Libanon) kommersiële bande met die Berberstamme aangeknoop en verdrae met hulle gesluit het om samewerking in die uitbuiting van grondstowwe te verseker.

Teen die 5de eeu v.C. het Kartago, die grootste Fenisiese kolonie, sy heerskappy oor groot dele van Noord-Afrika uitgebrei en 'n onderskeidelike bevolking, bekend as Punies, het ontstaan. Puniese vestings aan die Libiese kus het Oea (vandag Tripoli), Libdah (Leptis Magna) en Sabratha ingesluit. Hierdie vestings was almal in 'n gebied wat later sou bekendstaan as Tripolis of "Drie stede". Libië se huidige hoofstad, Tripoli, se naam is hiervan afgelei.

Die Grieke het Oos-Libië verower toe (volgens oorlewering) die orakel by Delfi emigrante van die oorbevolkte eiland Thera beveel het om 'n nuwe tuiste in Noord-Afrika te soek. In 631 v.C. het hulle die stad Sirene gevestig.

Binne die volgende 200 jaar is nog vier belangrike Griekse stede in die area gestig: Barka (die huidige El Mardzi); Euhesperides (later Berenike, hedendaagse Benghazi); Taucheira (later Arsinoe, tans Tokra) en Apollonië (Susah), die hawe van Sirene. Saam met Sirene was die stede bekend as die Pentapolis ("vyf stede").

Die Romeine het beide streke van Libië verenig en vir meer as 400 jaar daarna was Tripolitanië en Sirenaïka welvarende Romeinse provinsies. Handelaars en vakmanne uit baie dele van die Romeinse wêreld het hulle in Noord-Afrika gevestig, maar die karakter van die stede in Tripolitanië het hoofsaaklik Punies gebly en in Sirenaïka, Grieks.

Die Arabiere het Libië in die 7de eeu n.C. verower. In die daaropvolgende eeue het baie van die inheemse volke Islam as hul geloof aangeneem, sowel as die Arabiese taal en kultuur. Die Ottomaanse Turke het die land in die middel van die 16de eeu verower en die drie state waaruit Libië toe bestaan het (Tripolitanië, Sirenaïka en Fezzan), het deel van die Ottomaanse ryk gebly, met die uitsondering van die Karamanli-dinastie wat feitelik selfregerend was. Die Karamanli's het van 1711 tot 1835 hoofsaaklik in Tripolitanië regeer, maar het ook teen die middel van die 18de eeu invloed in Sirenaïka en Fezzan gehad. Die hervereniging van die land was egter te danke aan 'n inval en besetting deur Italië. Tydens die Turks-Italiaanse Oorlog (1911–1912) het Italië die drie streke tegelykertyd in drie Italiaanse kolonies verander.

Moderne geskiedenis duimnael|upright|links|Koning Idris tydens die onafhanklikheid van Libië in 1951 duimnael|upright|Moeammar al-Ghaddafi, voormalige de facto leier van Libië, in 2003 afgeneem In 1934 het Italië die naam "Libia" aangeneem as die amptelike naam van die kolonie (wat bestaan het uit die drie provinsies: Sirenaïka, Tripolitanië en Fezzan). Idris al Senoessi, die emir van Sirenaïka, het die Libiese verset teen Italië tussen die twee Wêreldoorloë gelei. Van 1943 tot 1951 was Tripolitanië en Sirenaïka onder Britse administrasie, terwyl Frankryk beheer oor Fezzan gehad het. In 1944 het Idris teruggekeer vanuit sy ballingskap in Kaïro, maar hy het geweier om permanent daar te bly tot sommige aspekte van buitelandse beheer in 1947 afgeskaf is. Onder die voorwaardes van die 1947-vredesverdrag met die Geallieerdes het Italië van enige aansprake op Libië afgesien. Op 21 November 1949 het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies 'n voorstel aangeneem dat Libië vóór 1 Januarie 1952 onafhanklik moes word. Idris het Libië in daaropvolgende VN-verhandelinge verteenwoordig. Op 24 Desember 1951 het Libië sy onafhanklikheid as die "Verenigde Koninkryk Libië" verklaar: 'n grondwetlike en erflike monargie onder leiding van Koning Idris.

In 1959 het die ontdekking van aansienlike oliereserwes en die daaropvolgende inkomste van petroleumverkope een van die wêreld se armste nasies daartoe in staat gestel om 'n uiters welvarende staat te stig. Alhoewel die olie Libië se finansies drasties verbeter het, het die bevolking gegrief geraak oor die toenemende konsentrasie van die nasie se rykdom wat in die hande van koning Idris en die nasionale elite was. Die misnoeë het aangehou toeneem met die opkoms van Nasserisme ('n ideologie gebaseer op die denkwyses van die voormalige Egiptiese president, Gamal Abdel Nasser) en Arabiese nasionalisme. Dié ideologieë was gewild in Noord-Afrika en die Midde-Ooste.