duimnael|Michelangelo se Dawid. duimnael|links|Leonardo da Vinci se Vitruviaanse Man, 'n voorbeeld van die sintese van kuns en wetenskap tydens die renaissance.
Die term renaissance (/ʀənɛˈsɑ̃s/, Frans: "hergeboorte"; Italiaans: Rinascimento) verwys na die periode in die geskiedenis wat ná die Gotiek van die Middeleeue aanvang en in die barok afsluit, en dit omspan rofweg die 14de, 15de en 16de eeue. Die Franse term is afgelei van die Italiaanse rinascimento wat vanaf die 19de eeu gebruik is om na die kulturele herlewing van die Griekse en Romeinse Oudheid in die 14de tot 17de eeuse Europa te verwys. Sedert hierdie periode is die ontwikkeling van die wetenskappe, kuns en samelewing in teenstelling met die Middeleeue deur 'n groter individuele vryheid van die mens gekenmerk.
Die term het 'n meer spesifieke betekenis as een van die periodes in die kunsgeskiedenis, maar word ook algemeen gebruik om na die hergeboorte van sekere waardes, geboue, 'n historiese tydperk of waardestelsel te verwys.
duimnael|center|600px|Florence was die hoofstad van die renaissance.
Tegniese prestasies Een van die mees dramatiese tegniese prestasies in die Renaissance-tydperk was die oprigting van 'n Egiptiese obelisk ( 'n lang, vierkantige, smal monument wat van onder af nouer loop totdat dit eindig in 'n piramidevormige punt, die sogenaamde pyramidion) met 'n gewig van 33 ton op die St. Pieterskerkplein in Rome. Die oprigting van die obelisk het selfs vir Michelangelo nagmerries besorg.
Die boumeester of argitek, Domenico Fontana het in 1586 het 'n reuse houtraamwerk laat bou. Die klipreus het hy laat oplig deur talle kaapstanders wat aan die grond geanker is, dan deur perde en mense gedraai is. Hulpmiddels van die "ou" tegniek is nog ingespan om dit te kon regkry. Rollers, windasse, kaapstanders en katrolle was gebruik. Die enigste energiebron was die spierkrag van mens en dier. Die ou Egiptenare het op soortgelyke wyse hul piramides gebou.
Nogtans kan die Renaissance beskou word as die geboortetyd van die moderne ingenieurswese, al kon die meeste van die dinge wat geniale uitvinders ontwerp het, destyds nog nie verwerklik word nie. Dit geld veral vir die werk van Leonardo da Vinci, stellig die grootste gees van dié tyd.
Ander noemenswaardige tegniese voortuigang wat tydens hierdie tydperk gemaak is: Ratstelsel - een van die beroemdste masjiene van Leonardo da Vinci Rathorlosie - bv. in die Kasteel van Dover (14e Eeu) Krukas - word deesdae in motorenjins aangetref Aandryffketting - buigsame kettings deur Leonardo da Vinci ontwerp bv. fietsketting Dryfrat - toestel vir omkering van draairigting van 'n as Klokkespel - aan 'n uurwerk gekoppel, bv. in 'n ou kerk in Duitsland, kon elke halfuur afwisselend 'n gewyde en 'n wêreldse wysie speel Waterskepmasjien - skepwiele wat deur tandratte aangedryf is Ertstamper - baie soos stampmeulens wat in 1890 aan die Witwatersrand opgerig is
Begripsbepaling Tussen 1350 en 1750 is intellektuele Europa oorheers deur twee mens-en wêreldbeskouinge wat in belangrike opsigte van mekaar verskil het. Die ouer wêreldbeskouing was eers algemeen aanvaar, maar het geleidelik plek gemaak vir die moderner beskouing. Volgens die vertroude (Middeleeuse) beskouing is die werklikheid beskou as ʼn objektiewe gegewe, wat vir eens en vir altyd vasstaan. 'n Mens kon die objektiewe werklikheid leer ken deur daaroor na te dink.
Algemene beskouinge wat deurgaans van metafisiese en teologiese aard was, was kenmerkend vir die Middeleeuse filosofie. "Nuwe" feite is 'n plek en verklaring binne die reeds geformuleerde kader toegesê. Ondersoek wat op direkte waarneming berus, is as sinloos geag omdat die uitkoms daarvan vooraf bepaal was. Die wetenskap is beskou as 'n soort veredelde invul-oefening, 'n manier om die reeds en wetmatighede van die Bybel en klassieke Oudheid terug te vind.
Hierdie benadering was in noue samehang met die Middeleeuse maatskaplike idees. Die afgesonderde lewe van 'n monnik is gesien as die hoogste vorm van waarlike menswees. Daar is van ʼn goeie monnik verwag om sy medemens in alle opsigte by te staan, maar daarvoor was besinning oor die wese van dinge en die verhouding tot God 'n eerste voorwaarde. Vir die skeppende moontlikhede van die mens was daar nie veel geleentheid nie. In navolging van Augustinus is van die standpunt uitgegaan dat die mens nie tot enige skeppingswerk in staat was nie omdat slegs God dit kon doen.
In die praktyk het dit daarop neergekom dat daar geen of weinig ruimte vir individuele selfontplooiing van die mens was. Hierdie mensbeskouing impliseer nie dat daar in die Middeleeue geen sterk persoonlikhede was nie, maar dit het die betrokke figure nie tot eer gestrek as hulle hulself as unieke individue voorgedoen het nie. Dit is as hoogmoed en sonde teen God se heilsplan beskou. 'n Individu was in die eerste plek 'n lid van 'n familie, ʼn gilde (beroepsrigting) en die stand waarin hy gebore was.
Om die aardse bedeling soveel moontlik in ooreenstemming met die voorstelling van die hemel te bring, is daar ʼn sterk voorkeur vir 'n monargale staatsvorm getoon. Republieke was wel uit die ou klassieke geskrifte bekend, maar het nêrens voorgekom nie.
Verandering in Italië Teenoor die Middeleeuse denke, wat in belangrike opsigte nog tot in die 18e eeu aanhang geniet het, het daar in die loop van die 14e eeu in Italië 'n nuwe wêreldbeskouing ontwikkel, wat later Renaissancisties genoem is. Die werklikheid is nie meer as staties gesien nie, maar as veranderlik en opgebou uit telkens wisselende verhoudinge. Die mens sou daaroor kon filosofeer, maar nooit iets definitiefs daaroor kon sê nie.
Dit was egter wel moontlik om oor die details van die werklikheid sekerheid te verkry deur empiriese waarneming (dit is waarneming gevolg deur ʼn beskrywing daarvan) en eksperimente. Algemene uitsprake kon wel later gedoen word nadat voldoende materiaal versamel is om die geldigheid daarvan aanneemtik te maak. Dit het beteken dat die mens naas God ook 'n funksie as skepper en ontdekker van die natuur verkry het. Aanhangers van die nuwe beskouing het dikwels groot minagting vir die lewens van monnike getoon.
ʼn Lewe wat net uit eet, bid en slaap bestaan, is deur hulle as nutteloos beskou. Die mens was nie ʼn vegeterende plant nie, maar was volgens God se beeld geskape en moes daarom net soos die Vader ʼn aktief skeppende lewe lei. Op staatkundige gebied het die nuwe beskouing 'n voorkeur vir die republikeinse regeringsvorm laat ontstaan omdat meer individue daardeur die geleentheid sou kry om hulself verdienstelik vir die staat of stad te maak.
Inspirasie Die eerste aanhangers van die Renaissancistiese lewensbeskouing was nie bewus van die verreikende gevolge van hul beskouing nie. Dit verklaar in sekere mate hoekom hulle regverdiging vir hul idees in die Oudheid gesoek het. Die Oudheid was hul outoriteit en inspirasiebron: wanneer die denk- beelde van die Oudheid eers van "Middeleeuse" elemente gesuiwer was, sou die werklikheid vanself na vore tree. "Ad fontes", terug na die bronne, was hul leuse.
Hulle het nie self die term Renaissance gebruik om hul nuwe lewensbeskouing aan te dui nie, maar het meestal van vae terme gebruik gemaak en deurgaans van "herlewing" en "vernuwing" van die kuns en wetenskap gepraat. Die woord renovatio ("vernuwing") was vir hulle 'n sleutelwoord wat oral in hul geskrifte opgeduik het. In die 16e eeu het Italiaanse geleerdes die verskynsel in sy geheel beskou en verklaar dat die herlewing nog voortgesit word en nie 'n geïsoleerde verskynsel is nie.
Die term rinascita ("wedergeboorte") het toe in gebruik gekom, eers aarselend en terloops, totdat die kunskritikus en kunstenaar Giorgio Vassari (1511 - 1574) dit in sy boek Lewens van die mees vooraanstaande Italiaanse argitekte, skilders en beeldhouers (1550) tot standaardterm verhef het. Op die wyse het Rinascita of Renaissance 'n sleutelbegrip vir 'n bepaalde tydperk van die kunsgeskiedenis geword. Volgens Vassari is die grondslag vir die bloei van die kuns in die Oudheid gelê.
Die val van die Romeinse Ryk is gevolg deur 'n lang periode van barbarisme, waartydens die kuns van die Oudheid in sluimering gelê het. Die " herontdekking" van die klassieke kuns het volgens hom in die 13e eeu plaasgevind, meer spesifiek deur Nicola Pisano (ca. 1220-1287). Die voorbeeld van Pisano is miskien minder gelukkig, want in sy werk is daar juis nog baie van die verfoeide "barbaarse" erfgoed te bespeur. 'n Breuk met die ou tradisie kan wel in die werk van skilders soos Cimabue en Giotto (einde 13e eeu) bespeur word.
Hul werk bevat tekens van die buona maniera antica (die goeie " manier" van die antieke, 'n term van Vassari). Volgens Vassari was 'n skilder "nuut" wanneer hy hom soos die klassieke kunstenaars deur die suiwer natuur laat lei en hom nie laat verlei het tot die toevoeging van allerlei "Bisantynse" versiersels, ensovoorts, nie. Volgens die 16e eeuse Italiaanse kritici kon die Rinascita ook op ander gebiede van die kuns waargeneem word, veral in die letterkunde.
Die baanbreker op die gebied was die kunstenaar Franceso Petrarca (1304- 1374), hoewel Dante (1265 - 1321) en Boccaccio (1313-1375) saam met hom genoem word. Wetenskaplikes van die verlede en die hede was en is dit eens dal Petrarca 'n groot invloed uitgeoefen het op die ontwikkeling van wat sedert die 19e eeu as Renaissancekultuur bekend gestaan het. Sy aandrang op byvoorbeeld die gebruik van suiwer Latyn het deur navolging van sy eie styl ʼn blywende invloed gehad.
Sy historiese en histories-topografiese (ligging van klassieke kultuursentra) belangstelling in die Romeinse Ryk is ook in breë kringe nagevolg. Petrarca was net soos Cimabue en Giotto bewus daarvan dat hy in belangrike opsigte van sy voorgangers afwyk. Hy het egter van hulle verskil deur daarvan rekenskap te gee: in sy briewe skryf hy minagtend oor die periode na die val van die Romeinse Ryk as ʼn (barbaarse) tussenperiode wat oorbrug moet word om die suiwer klassieke bronne te kan benut.
Die term Middeleeue het egter eers in die 17e eeu in gebruik gekom. Petrarca het hom nie uitgelaat oor die aard van die nuwe tydperk wat moes aanbreek nie, maar hy het wei ingesien dat daar verandering in die lug was. Die belangstelling in die verskynsel " Renaissance" in 16e eeuse Italië was van korte duur. Die Teenhervorming (herstelbeweging in die Rooms-Katolieke Kerk teenoor die bedreiging van die Hervorming) in die tweede helfte van die 16e eeu het belangstelling in die "anti-Middeleeuse" en derhalwe "anti-kerkse" Renaissance laat verflou.
'n Herwaardering van sowel die Middeleeue as die Renaissance het eers in die 19e eeu begin. Die Franse historikus Jules Michelet (1798- 1874) was een van die eerstes wat die woord Renaissance gebruik het. Daarmee het hy nie net die kunsaspekte aangedui nie, maar die hele periode waarin die vernuwing plaasgevind het. Die twee belangrikste kenmerke van die Renaissance was volgens hom die ontdekking van die wêreld en die ontdekking van die mens.
Volgens die Switserse historikus Jacob Burckhardt (1818 - 1897) het die herontdekking van die wêreld en van die mens in die Renaissance tot uitdrukking gekom in die blye lewensaanvaarding (in die kuns byvoorbeeld deur die kultus van die skoonheid), in die emansipasie van die politiek (skeiding tussen Staat en Kerk), in individualisme en in ʼn rasionele vormbesef. Sy boek Kultur der Renaissance in Italien (1860) word beskou as die standaardwerk oor die Renaissance.
Politieke en ekonomiese agtergrond