Leonardo di ser Piero da Vinci om te hoor hoe Leonardo se naam in Italiaans uitgespreek word. (15 April 1452 – 2 Mei 1519) was 'n Italiaanse veelweter: 'n wetenskaplike, wiskundige, ingenieur, ontleedkundige, uitvinder, skilder, beeldhouer, argitek, tuinkundige, musikant en skrywer. Hy is gebore in Vinci, 'n dorp in Florence, as die buite-egtelike seun van 'n notaris, Piero da Vinci, en 'n plattelandse meisie, Caterina. Hy het opleiding ontvang in die ateljee van die bekende Florentynse skilder Verrocchio. 'n Groot gedeelte van sy vroeë werkende lewe was in die diens van Ludovico il Moro, in Milaan, waar verskeie van sy belangrikste werke geskep is. Hy het ook in Rome, Bologna en Venesië gewerk, maar het sy laaste jare in Frankryk deurgebring, in die tuiste wat deur koning Frans I aan hom gegee is.

Leonardo is dikwels beskryf as die argetipiese "Renaissance-man" of universele genie: 'n man wie se skynbare eindelose verbeelding slegs deur sy uitvindingsvermoë geëwenaar is.Helen Gardner, Art through the Ages, (1970) Harcourt, Brace and World Hy word wyd beskou as een van die beste skilders van alle tye en moontlik die mees divers begaafde persoon wat ooit geleef het.Vasari, Boltraffio, Castiglione, "Anonimo" Gaddiano, Berensen, Taine, Fuseli, Rio, Bortolon, ens. Sien ook spesifieke aanhalings in die afdeling, "Leonardo, die legende".

Leonardo was, en is, hoofsaaklik beroemd vanweë sy skilderwerk. Twee van sy werke, die Mona Lisa en Die Laaste Avondmaal, het reeds albei die unieke eer te beurt geval om die bekendste, mees geïllustreerde en mees nageskilderde portret en religieuse skildery van alle tye genoem te word. Slegs Michelangelo se Skepping van Adam is naastenby so bekend. Leonardo se tekening van die Vitruviaanse Man is ook 'n ikoniese beeld. Daar is moontlik 15 skilderye wat behoue gebly het: die klein getal is te wyte aan Leonardo se konstante (en dikwels rampspoedige) eksperimentering met nuwe tegnieke en sy chroniese getalm.Daar is 15 kunswerke wat deur kunsgeskiedkundiges aan Leonardo toegeskryf word. Hierdie getal bestaan hoofsaaklik uit paneelskilderye, maar sluit ook in 'n muurskildery, 'n groot tekening op papier en twee ander werke wat nog in die vroeë fases van voorbereiding is. Afgesien van hierdie werke is daar ook 'n aantal ander werke wat verskeidelik aan hom toegeken word. Nietemin word hierdie klein aantal werke, saam met sy notaboeke, wat tekeninge en wetenskaplike diagramme bevat, en sy idees oor die aard van skilder beskou as 'n bydrae aan skilders van latere geslagte waarmee slegs dié van sy tydgenoot Michelangelo kan meeding.

As 'n ingenieur was baie van Leonardo se idees sy eie tyd vooruit: in konsep het Leonardo 'n helikopter, 'n tenk, die gebruik van gekonsentreerde sonenergie, 'n sakrekenaar, 'n kru teorie oor plaattektoniek en baie ander konsepte uitgevind. Relatief min van sy eie ontwerpe is ooit gebou of was enigsins uitvoerbaar tydens sy eie leeftyd.Moderne wetenskaplike benaderings tot metallurgie en ingenieurswese was nog in wording tydens die Renaissance, maar sommige van sy kleiner uitvindings, soos 'n outomatiese spoelopwenner en 'n masjien wat die trekvastheid van draad toets, het die vervaardigingswêreld onbesonge betree. 'n Aantal van Leonardo se praktieste uitvindings kan as werkende modelle by die Museo Ideale Leonardo da Vinci in Vinci besigtig word. As 'n wetenskaplike het hy die stand van kennis in die gebiede van ontleedkunde, siviele ingenieurswese, optika en waterloopkunde besonders bevorder.

Biografie Vroeë lewe: 1452–1466 duimnael|250px|Leonardo se vroegste tekening, sover bekend, die Arno-vallei (1473). Leonardo is in die "derde uur van die nag"Die derde uur van die nag was 22:30, drie ure na die segging van die Ave Maria. Bron: Leonardo da Vinci: Renaissance Man. op 15 April 1452 gebore, in die Toskaanse heuweldorpie Vinci. Die dorpie is geleë in die laer vallei van die Arno-rivier, in Florence. Leonardo het sy eerste vyf jaar in die nabygeleë dorpie Anchiano deurgebring.Sy geboorte is aangeteken in die dagboek van sy oupa (aan sy vaderskant), Ser Antonio, soos aangehaal deur Della Chiesa Hy was die buite-egtelike seun van Messer Piero Fruosino di Antonio da Vinci, 'n Florentynse notaris, en Caterina, 'n plattelandse meisie.Alessandro Vezzosi, Leonardo da Vinci: Renaissance Man Daar is bewyse dat Caterina moontlik 'n slavin uit die Midde Ooste was,Volgens Alessandro Vezzosi, die Hoof van die Leonardo Museum in Vinci, is daar bewyse dat Piero 'n Midde-Oosterse slavin met die Caterina gehad het en dat sy die lewe geskenk het aan 'n seun met die naam Leonardo. Bewerings dat Leonardo Midde-Oosterse bloed gehad het, word ondersteun deur die rekonstruksie van sy vingerafdruk, volgens die verslag van Marta Falconi, skryfster vir die Associated Press: "Experts Reconstruct Leonardo Fingerprint" (12 Desember 2001). maar baie kenners bevraagteken hierdie bewyse.Experts Reconstruct Leonardo Fingerprint deur die Associated Press. Verkry op 14 Desember 2007. Leonardo het nie 'n van in die moderne sin van die woord gehad nie: "da Vinci" beteken slegs "vanaf Vinci" en sy volle geboortenaam was "Leonardo di ser Piero da Vinci", wat beteken "Leonardo, seun van (Mes)ser Piero van Vinci". Daar is nie veel oor sy vroeë lewe bekend nie, maar dit is reeds 'n geruime tyd die onderwerp van geskiedkundige bespiegeling deur die 16de-eeuse Giorgio Vasari en ander.Brigstoke, Hugh: The Oxford Companion the Western Art. 2001:Oxford University Press, VSA. . Op vyfjarige ouderdom het hy in Vinci gaan woon, in die huis van sy vader, grootouers en oom Francesco. Sy vader het daar met 'n sestienjarige meisie met die naam Albiera getrou; sy was baie geheg aan Leonardo, maar het jonk gesterf.

Leonardo het self slegs twee gebeurtenisse uit sy jeug aangeteken. Die eerste (wat hy as 'n voorbode beskou het) was toe 'n valk uit die lug geval het, oor sy wiegie bly hang het en sy stertvere oor Leonardo se gesig gevee het.Liana Bortolon, The Life and Times of Leonardo, Paul Hamlyn, Londen, 1967. Die tweede gebeurtenis het plaasgevind tydens 'n verkenningstog in die berge. Leonardo het 'n grot ontdek en sy emosies rakende die verkenning van die grot aangeteken: aan die een kant was hy doodbang dat 'n groot monster daar binne mag wegkruip, maar aan die ander kant was hy uiters nuuskierig om uit te vind wat werklik binne-in die grot was.

Giorgio Vasari, die 16de eeuse lewensbeskrywer van Renaissance-skilders, vertel hoe 'n plaaslike landarbeider Ser Piero gevra het dat sy seun vir hom 'n prentjie op 'n ronde plaat moes verf. Leonardo het vir hom 'n skildery geverf van slange wat vuur spoeg, maar Ser Piero het dit so vreesaanjaend gevind dat hy dit aan 'n Florentynse kunshandelaar verkoop het, wat dit weer aan die Hertog van Milaan verkoop het. Siende dat hy 'n profyt gemaak het, het Ser Piero 'n ander plaat gekoop wat versier was met 'n hart wat deur 'n pyl deurboor is en dit aan die arbeider gegee.Giorgio Vasari, Lives of the Artists, 1568; Hierdie weergawe deur Penguin Classics, vertaling George Bull 1965,

Verrocchio se werkswinkel, 1466–1476 duimnael|240px|Die Doop van Christus, deur Verrocchio en Leonardo (1472–1475). 'n Veertienjarige Leonardo het in 1466 as vakleerling ingeskryf by een van die suksesvolste kunstenaars van die tyd: Andrea di Cione, beter bekend as Verrocchio. Dié beroemde meester se werkswinkel was in die middel van die intellektuele strominge in Florence, wat die jong Leonardo voorligting in die geesteswetenskappe verseker het. Sommige van die skilders wat ook vakleerlinge van die werkswinkel was, of met die werkswinkel geassosieer word, is Domenico Ghirlandaio, Pietro Perugino, Sandro Botticelli en Lorenzo di Credi.

In 'n werkswinkel soos Verrochio s'n, was kunstenaars hoofsaaklik as vakmanne beskou en het slegs die meester (in hierdie geval Verrochio) sosiale aansien geniet. Die produkte wat deur die werkswinkel voortgebring is, het versierde toernooiskilde, geverfde bruidskatkiste, votiefgedenkplate, klein portrette en godsdienstige beelde ingesluit. Onder hulle groot opdragte was gedenkbeelde en altaarstukke vir kerke. Die grootste opdragte was fresko's vir kerke, soos dié wat deur Ghirlandaio en sy werkswinkel in die Tornabuoni-kapel verskyn, asook groot standbeelde soos die ruiterbeelde van Gattemelata deur Donatello en Bartolomeo deur Verrocchio.J.R.Hale, Renaissance Europe, 1480–1520 Fontana (1971)

As 'n vakleerling sou Leonardo opgelei word in al die tallose vaardighede wat in 'n tradisionele werkswinkel benodig word. Alhoewel baie ambagsmanne gespesialiseer het in take soos die maak van rame, vergulding en bronsgieting, sou Leonardo aan 'n wye reeks tegniese vaardighede blootgestel gewees het en die geleentheid gehad het om kennis op te doen in wisselende vakgebiede soos ontwerp, chemie, metaalkunde, metaalbewerking, gipsgieting, leerwerk, meganika en skrynwerk. Hy het natuurlik ook artistieke vaardighede soos skets, skilder, boetseerwerk en beeldhouwerk aangeleer.Andrew Martindale, The Rise of the Artist, Thames en Hudson, Theophilus On Divers Arts, vertalers: J.G.Hawthorne en C.S. Smith, University of Chicago Press, 1963; herdruk in New York: Dover Publications 1979. Hierdie is 'n Middeleeuse praktiese handboek met vaardighede vir die ambagsman en bevat kort instruksies vir die meng van olieverf.Cennino d’A. Cennini Il Libro dell’ Arte, red. D. V. Thompson Jr. (1933) New Haven: Yale University Press. 'n Praktiese handboek vir skilderwerk in die vroeë 15de eeu.

Alhoewel Verrocchio oënskynlik 'n bekwame en produktiewe werkswinkel beheer het, was hy hoofsaaklik 'n goudsmid en metaalwerker. Die meeste van die geverfde skeppings wat sy werkswinkel gelewer het, is deur sy werknemers geproduseer en daar is min skilderye wat aan hom toegeskryf kan word. Volgens Vasari het Leonardo tydens één van hierdie skilderye saam met Verrocchio gewerk, aan die Doop van Christus. Vasari beweer dat Leonardo die jong engel geverf het en dat hy dit op 'n manier gedoen het wat só ver bo dié van sy meester verhewe was, dat Verrocchio sy kwas neergelê het en nooit weer geverf het nie. Dit is waarskynlik 'n oordrywing en wanneer die skildery van digby bekyk word, ontdek mens dat daar oor baie van die tempera-dele van die skildery geverf of opgeknap is met die nuwe olieverftegniek. Die landskap, die rotse wat deur die bergstroom wys en die dele van Jesus dui op Leonardo se handewerk.

Verrocchio se ander skepping waarby die jong Leonardo betrek word, is die bronsstandbeeld Dawid (tans in die Bargello-museum in Florence), wat volgens oorlewering 'n beeld van sy vakleerling Leonardo is. As dit wel die geval is, dan is die Leonardo wat in Verrocchio se Dawid gesien word 'n maer, gespierde seun – baie anders as die ronde, tweeslagtige figuur deur Verrocchi se leraar, Donatello, waarmee dit dikwels vergelyk word.Donatello se Dawid en Verrocchio se Dawid is albei ikoniese beeldhouwerke van die Vroeë Renaissance. Albei word in die Bargello-museum in Florence gehuisves en hulle stilistiese verskille word dikwels vergelyk. Daar is ook voorgestel dat die Aartsengel Migael in Verrocchio se Tobias en die Engel 'n portret van Leonardo is.