Graaf Dracula is die titelkarakter en hoofantagonis in Bram Stoker se 1897-rilroman Dracula. Hy word beskou as die model vir alle daaropvolgende vampiere. Hy word ook in die roman uitgebeeld as die oorsprong van weerwolflegendes.
Dracula is ’n ondooie, eeue oue vampier wat in ’n vervalle kasteel in Transsilvanië woon. Hy was in die lewe ’n soldaat en staatsman met ’n goeie kennis van vele vakgebiede, onder meer swartkuns. Hy word beskryf as die slimste, slinkste en dapperste seun van Transsilvanië.
As vampier het Dracula menslike bloed nodig om te oorleef. Hy het talle bomenslike kragte, soos om van gedaante te verander en diere te beheer, en hy beskik oor hipnotiese en telepatiese vermoëns. Wanneer hy iemand byt, verander hy of sy ook in ’n vampier. Daar is egter beperkings aan sy kragte – bedags kan hy nie funksioneer nie en slaap hy; hy kan nie sy lus vir bloed beheer nie; sekere voorwerpe kan hom doodmaak of sy kragte ongedaan maak; hy het in die vreemde Transsilvaniese grond nodig om volkome te rus en sy kragte te herwin.
Ander eienskappe wat aan Dracula toegeskryf word, is in daaropvolgende aanpassings van die oorspronklike boek bygevoeg of verander. Die karakter verskyn dikwels in van rolprente tot allerlei stories.
Aan die begin van Stoker se boek beplan graaf Dracula om die wêreld oor te neem en koop hy ’n huis in Londen. Daarna reis hy na Engeland, waar hy gou sy oog op twee vroue het. Hy verander die een, Lucy, in ’n vampier. Haar vriendin, Mina, en ’n paar mans begin inligting oor Dracula versamel en volg hom toe hy eindelik terugvlug na Transsilvanië. Hier vermoor hulle hom.
Sommige van Dracula se eienskappe, veral wat sy herkoms betref, is volgens sommige geskoei op die 15de-eeuse prins Vlad die Deurboorder van Walachye, wat ook as Dracula bekend was.
Stoker se skepping Bram Stoker se boek is geskryf in die vorm van briewe waarin graaf Dracula se eienskappe, magte, vermoëns en swakhede deur verskeie vertellers beskryf word, uit verskillende oogpunte.Carol N. Senf "Dracula: The Unseen Face in the Mirror" in the Norton Critical Edition of Dracula (1997) deur Bram Stoker, red. Nina Auerbach en David J. Skal: 421-31
Graaf Dracula (hoewel sy naam nie in die roman genoem word nie, kry hy in sommige flieks die voornaam "Vladimir") is ’n ondooie, eeue oue vampier en ’n Transsilvaniese edelman wat beweer hy is ’n Szekler wat van Attila die Hun afstam. Hy woon in ’n vervalle kasteel in die Karpate. Anders as die vampiere van Oos-Europese folklore, wat as weersinwekkend en lyk-agtig uitgebeeld is, straal Dracula ’n soort aristokratiese sjarme uit. In sy gesprekke met Jonathan Harker blyk hy is baie trots op sy bojaarse erfenis en het ’n nostalgie vir die verlede, waarvan die heroïsme, eer en dapperheid volgens hom in moderne tye net ’n herinnering is.
Vroeë lewe Besonderhede oor sy vroeë lewe is vaag, maar daar word genoem "hy was in die lewe ’n uiters wonderlike man. Soldaat, staatsman en alchemis. Alchemie was in sy tyd die hoogste ontwikkeling van wetenskaplike kennis. Hy het ’n sterk brein, ’n opvoeding sonder gelyke en ’n hart wat geen vrees of wroeging geken het nie, gehad . . . daar was nie ’n kennisveld wat hy nie ondersoek het nie." Hy het swartkuns bestudeer aan die Scholomance-akademie in die Karpate en het ’n groot kennis van alchemie en towerkuns gehad.Dracula, hoofstukke 18 en 23 Soos dit sy status as woiwode (prins of hertog) betaam het, het het hy soldate teen die Turke aan die ander kant van die Donau gelei. Volgens die bewerker van sy ondergang, Abraham van Helsing, "moes hy inderdaad woiwode Dracula gewees het wat naam teen die Turke gemaak het, anderkant die groot rivier aan die grens van Turkye-land. As dit so is, was hy geen gewone man nie; in daardie tyd, en eeue daarna nog, is van hom gepraat as die slimste en slinkste, sowel as die dapperste van die seuns van die 'land anderkant die woud'."Mina Harker se dagboek, 30 September, Dracula, hoofstuk 18 Nadat hy gesterf het en in die kapel van sy kasteel begrawe is, het Dracula as ’n vampier teruggekeer uit die dood en lewe hy al verskeie eeue lank in sy kasteel met drie verskriklike mooi vroulike vampiere aan sy sy.Dracula Chapter 27
Verhaal duimnael|180px|links|Die voorblad van Dracula's Guest, ’n versameling kortverhale deur Bram Stoker.duimnael|180px|links|Die eerste uitgawe van Bram Stoker se boek Dracula (1897).
"Dracula's Guest" gaan oor ’n Engelse reisiger wie se naam nie genoem word nie. Hy loop in München rond voordat hy na Transsilvanië vertrek. Dit is Heksenag en die jong man verlaat sy hotel ondanks waarskuwings. Hy loop alleen deur ’n digte woud en in ’n stadium voel hy hy word deur ’n lang, skraal vreemdeling (waarskynlik graaf Dracula) dopgehou.
Die klimaks van die verhaal vind in ’n ou begraafplaas plaas waar die Engelsman ’n slapende vroulike vampier, gravin Dolingen, teenkom in ’n marmergraftombe met ’n ysterpaal wat daardeur gedryf is. Die mooi vampier word wakker en roep ’n sneeustorm op voordat sy deur weerlig getref word en terugkeer na haar ewige tronk. Die Engelsman se probleme is egter nie heeltemal verby nie, en hy word deur ’n onsigbare mag weggesleep en bewusteloos gelaat. Hy word wakker en sien ’n reusewolf lê op sy bors en lek aan sy nek; die wolf hou hom egter net warm en beskerm hom totdat hulp opdaag. Toe die Engelsman eindelik na sy hotel teruggeneem word, is daar ’n telegram vir hom van sy gasheer Dracula wat op hom wag, met ’n waarskuwing van "gevare van sneeu en wolwe en die nag".
Wanneer die Dracula-verhaal in die laat 19de eeu begin, voer Dracula sy lang beplande voorneme uit om die wêreld oor te neem. Hy infiltreer Londen om sy terreurbewind te begin. Hy vra Jonathan Harker, ’n pas gekwalifiseerde Engelse prokureur, om hom regshulp te gee oor die aanskaffing van eiendom. Dracula beïndruk Harker aan die begin met sy hartlikheid en kennis van die geskiedenis, en "red" hom selfs uit die kloue van die drie vroulike vampiere in die kasteel. Intussen wil Dracula vir Harker net lank genoeg aan die lewe hou om die transaksie af te handel en soveel moontlik van Engeland te leer.
Eindelik verlaat Dracula sy kasteel en gaan met 50 kiste Transsilvaniese grond aan boord van ’n Russiese skip, die Demeter. Hy het die grond nodig om sy krag te herwin en in die dag te rus. Gedurende die reis na Whitby, ’n Noord-Engelse kusdorp, drink hy die bloed van die skip se bemanning. Net die kaptein se lyk word later gevind. In die kaptein se logboek word vertel van vreemde gebeure wat op die reis plaasgevind het. Dracula verlaat die skip in die vorm van ’n hond.
Gou val die graaf Harker se verloofde, Wilhelmina "Mina" Murray, en haar vriendin Lucy Westenra lastig. Daar is ook ’n band tussen Dracula en Renfield, ’n pasiënt in ’n inrigting met John Seward aan die hoof. Renfield eet insekte, spinnekoppe, voëls en ander diere om hul "lewenskrag" uit hulle te absorbeer. Renfield dien as ’n soort sensor – hy reageer as Dracula naby is en verskaf so leidrade. Dracula begin om Lucy se slaapkamer elke nag te besoek; hy dreineer haar bloed uit haar en besmet haar terselfdertyd met die vloek van vampirisme. Haar drie vryers – Seward, Arthur Holmwood en Quincey Morris – weet nie hoekom Lucy so agteruitgaan nie en vra hulp by Seward se mentor, die Nederlandse dokter Abraham van Helsing. Van Helsing raai gou wat die bonatuurlike bron van haar toestand is, maar sê niks. Ondanks ’n poging om die vampier met knoffel weg te hou, val Dracula Lucy se huis nog een keer aan, maak haar ma dood en verander Lucy in een van die ondooies.
duimnael|240px|’n Skoot van Renfield (Dwight Frye) uit die lokprent van die 1931-rolprent Dracula.
Harker ontsnap intussen uit Dracula se kasteel en gaan na Engeland, skaars lewend en erg getraumatiseer. Op Seward se voorstel vra Mina by Van Helsing hulp oor Harker se gesondheid. Sy lees sy dagboek en oorhandig dit aan Van Helsing. Dit verskaf die eerste leidraad oor Lucy se aanvaller, en spoor Mina aan om al die inligting oor Dracula bymekaar te maak uit nuusartikels, briewe, koerantuitknipsels en elke lid van die groep se dagboek. Dit help die groep om Dracula se bewegings na te speur en later agter te kom Renfield se gedrag word regstreeks deur Dracula beïnvloed. Hulle vind ook uit Dracula het ’n huis net langs dié van Seward gekoop. Hulle probeer Dracula opspoor sodat hulle hom kan vernietig.
Nadat Lucy verskeie kinders aangeval het, gaan Van Helsing, Seward, Holmwood en Morris haar grafkelder binne en maak haar dood om haar siel te red. Later sluit Harker by hulle aan en hy help die groep om uit te vind Dracula het verskeie eiendomme in Londen gekoop onder die skuilnaam "graaf De Ville". Dracula se hoofplan was om elk van sy 50 kiste met grond na ’n eiendom te neem sodat hy verskeie skuilplekke deur die hele Londen sou hê. Die groep dwing die kiste oop en plaas nagmaalsbrood in elk voordat hulle dit weer verseël. So kan Dracula nie in hulle skuil nie.
Dracula kry toegang tot Seward se huis deur Renfield te dwing om hom daarheen te nooi. Toe hy by die kamer wil ingaan waar Harker en Mina bly, probeer Renfield hom keer en Dracula wond hom noodlottig. Terwyl hy sterf, vertel Renfield vir Seward en Van Helsing dat Dracula agter Mina aan is. Van Helsing en Seward kom op Dracula af waar hy Mina byt en haar dwing om sy bloed te drink. Die groep dwing Dracula met kruise en nagmaalsbrood om te vlug, en Dracula verdwyn as ’n donker mis. Die groep hou daarna aan om nog van Dracula se skuilplekke te soek. Hoewel Dracula se "doop" van Mina hom ’n telegrafiese verbinding met haar gee, boemerang dit toe Van Helsing Mina hipnotiseer en dié verbinding gebruik om Dracula se spoor terug na Transsilvanië te volg.
Eindelik vernietig die groep Dracula in ’n geveg met sy sigeunerlyfwagte. Ondanks die bekende beeld van Dracula wat sterf met ’n paal wat sy hart deurboor, beskryf Mina se vertelling hoe Harker hom met sy mes onthoof het terwyl Morris terselfdertyd sy hart met ’n ander mes deurboor het. (Mina Harker se dagboek, 6 November, Dracula hoofstuk 27). Sy liggaam verander daarna in stof, maar nie voordat Mina ’n uitdrukking van vrede op sy gesig sien nie.
Eienskappe Hoewel Dracula vroeg in die boek skuil agter ’n masker van hartlikheid, kry hy woede-aanvalle wanneer sy planne skeefloop. Toe die drie vroulike vampiere in sy kasteel probeer om Jonathan Harker te verlei, val Dracula die een fisiek aan en betig hulle woedend vir hul ongehoorsaamheid. Daarna praat hy sagter met hulle en verseker al drie van sy liefde.
Hy hou van antieke argitektuur en verkies ou huise wanneer hy eiendom koop, want "’n nuwe huis sal my doodmaak". Hy sê ook dit sal hom ’n eeu neem om ’n nuwe huis woonbaar te maak.
Dracula is baie trots op sy vegtersverlede, en vertel vir Harker hoe die Szekler-volk heldebloed het. Hy toon ook ’n belangstelling in die geskiedenis van die Britse Ryk en praat bewonderend van sy mense. Hy het ’n ietwat outydse mening oor die wêreld: Hy bejammer gewone mense vir hul weersin in hul donkerder drange. Hy is egter nie sonder menslike emosie nie; hy sê dikwels hy kan ook liefhê.
Hoewel hy gewoonlik met ’n sterk Oos-Europsese aksent uitgebeeld word, lui die oorspronklike boek net sy Engels is uitstekend, maar met ’n vreemde toon.
Sy voorkoms wissel saam met sy ouderdom. Vroeg in die boek word hy beskryf as maer, met ’n lang wit snor, gepunte ore en skerp tande.Dracula, hoofstuk 2 ’n Dieretuinopsigter merk ook op (in hoofstuk 11) dat hy ’n krom neus het en sy baard gepunt is met ’n wit streep daarin. Hy het swart klere aan en het hare in sy handpalms. Jonathan Harker beskryf hom as ’n ou man "wat wreed lyk en buitengewoon bleek is". Wanneer hy kwaad is, kom die graaf se dierlike geaardheid uit en is sy blou oë vlammend rooi (Jonathan Harker se dagboek, Dracula, hoofstuk 4).
Namate die verhaal vorder, kry Dracula ’n al hoe jonger voorkoms. Nadat Harker hom met ’n graaf geslaan het, het hy vir die res van die verhaal ’n litteken aan sy voorkop.