duimnael|regs|260px|George Weideman, omstreeks 1968. George Weideman (* 2 Julie 1947, Cradock – † 28 Augustus 2008, Bellville)Hollander, Haydee Roekeloos: http://www.roekeloos.co.za/boekrak/boekra80.html was 'n Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg. Weideman beperk homself nie tot een genre of skryfstyl nie. Benewens die verskeie dramas en radiodramas wat uit sy pen verskyn, publiseer hy ook kortverhaal- en digbundels. Hy publiseer ook romans, onder sy eie naam, sowel as die skuilnaam S.E. Lessing. Verder is hy is ook 'n bekroonde kinder- en jeugverhaalskrywer en lewer hy ook 'n bydrae tot die Afrikaanse letterkunde deur middel van die onderskeie vertalings en samestellings waarby hy betrokke is.
Lewe en werk
Vroeë lewe en herkoms George Henry Weideman is op 2 Julie 1947 op Cradock gebore as die laatlam van vier kinders in ’n onderwysgesin. Hy het ’n broer, Hennie, en twee susters, Marietjie en Fesia. Sy pa, Floris Johannes Weideman (1903–1986), was nie net onderwyser nie, maar ook boer, skrynwerker, kulkunstenaar en dramaturg. Sy ma was Johanna Catharina Hendrika Shaw (1914–1994).NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/635 Saam met Hugo Gutsche lewer sy pa (in samewerking met sy ma) die liedjies Hoe ry die boere, Die kat kom weer en Bobbejaan-kleinspanlied, wat almal in die FAK-Volksangbundel opgeneem word, terwyl hy ook dramas soos Klaas Droster en Rommelwerk skryf. Floris het ’n groot liefde vir boer, maar wend hom telkens weer tot die onderwys vir ’n heenkome wanneer sy sporadiese boerderypogings misluk.
George begin sy laerskoolopleiding in 1952 op sy geboortedorp Cradock. Op die plaas De Novo, waar hy grootword, lees hy aand vir aand by lamplig klassieke verhale aan sy ouers voor. Wanneer die gesin in 1957 na ’n plaas tussen Modderrivier en Kimberley verhuis, help hy sy vader smiddae ná skool om blomplante te verkoop en kry as beloning een keer per week die geleentheid om ’n hele middag in die openbare biblioteek deur te bring. Hy gaan vanaf 1957 skool in Kimberley. Sy skryflus ontwaak in 1960 in standerd ses onder aanmoediging van dr. Jolly Jacobs, onderwyser aan die Hoërskool Adamantia in Kimberley, en sy eerste skryfpogings in standerd ses verskyn in die heel eerste jaarblad van die Hoërskool Adamantia. Reeds op hierdie stadium weet hy dat hy eendag gaan skryf. Van dertienjarige ouderdom kry hy ’n uitlaatklep vir sy kreatiwiteit deur telkens ’n skoolkoerant te begin, waar hy tegelykertyd die redakteur, drukker en grootste bydraer is. Die gesin vestig hulle in sy standerd sewe-jaar vir ’n rukkie in Clocolan in die Vrystaat waarna hulle verhuis na ’n besproeiingserf by Onseepkans aan die Benede-Oranje. Hy voltooi sy skoolloopbaan in 1964 aan die Hoërskool Namakwaland op Springbok, waar hy die skoolkoerant, Die Namakwa, bedryf. In hierdie tyd reeds skryf hy talle gedigte oor sy streek, die Karoo, Noord-Kaap en Noordwes-Kaap.
Verdere studie en begin van loopbaan Vanaf 1965 studeer hy verder aan die Universiteit van Pretoria, waar hy in die koshuis Sonop inwoon. Hier behaal hy die B.A.-graad met Afrikaans-Nederlands en Duits as hoofvakke in 1967 en die Hoër Onderwysdiploma in 1968.
Hy begin daarna in 1969 skoolhou op Fraserburg in die Karoo. Hier ontmoet hy Celién Nel, een van sy leerlinge, met wie hy in 1973 trou terwyl hy op Kenhardt skoolhou. Uit die huwelik word twee dogters, Melita (1983) en Siobhan (1988) gebore.
Hy sit sy studies deeltyds voort aan die Universiteit van Suid-Afrika en verwerf die B.A. Honneurs-graad met lof.
In 1971 word hy as senior onderwyser aangestel by die Hoërskool Nassau in Mowbray in Kaapstad en daarvandaan hou hy skool op Kenhardt. Na sy troue doen hy in 1974 aansoek vir ’n pos by die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth, wat aan Celién die geleentheid gee om musiek en onderwys aan die Universiteit van Port Elizabeth te studeer.
In 1978 neem hy vir drie kwartale waar as junior dosent aan die Paarl Onderwyskollege en later dieselfde jaar aanvaar hy ’n pos as dosent aan die Windhoek Onderwyskollege. In hierdie tyd begin hy werk aan ’n M.A.-verhandeling. Hierdie studie is so omvattend dat dit spoedig ’n Ph.D.-skripsie word en in 1982 promoveer hy aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad onder leiding van André P. Brink met sy proefskrif getitel ’n Ondersoek na aspekte van die verhouding tussen betrokkenheid en universaliteit in die literatuur.Beuke-Muir, C.M. Universiteit van die Vrystaat: http://scholar.ufs.ac.za:8080/xmlui/handle/11660/1367 Hy is in 1975 ’n stigterslid van die Afrikaanse Skrywersgilde en woon op gereelde grondslag hierdie groep se berade by en word in 1986 tot voorsitter van hierdie liggaam verkies. Die jaarlikse beraad is daardie jaar in Windhoek gehou.
Werk as akademikus In 1981 word hy senior lektor aan die nuut gestigte Akademie vir Tersiêre Onderwys in Windhoek en beklee hier vanaf 1986 die pos van departementshoof en medeprofessor. In Namibië raak hy betrokke by die politiek en in Junie 1988 is hy lid van die eerste Namibiese afvaardiging wat met Sam Nujoma in Stockholm gaan praat. Weens asma-aanvalle van sy jongste dogter besluit die gesin om Namibië te verlaat en terug te keer na Suid-Afrika.
In 1989 aanvaar hy ’n pos by die Skiereilandse Technikon in Bellville, waar hy senior lektor is onder Abraham H. de Vries en die gesin in De la Haye in Bellville gaan woon. Hierdie pos beklee hy totdat hy in 1997 weens swak sig moet aftree. Hierna skryf hy voltyds, terwyl hy tussen 1999 en 2002 as inwonende skrywer en navorsingsgenoot belangrike publikasies lewer vir die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy is ’n stigterslid van die Afrikaanse tak van die skrywersorganisasie Pretoria PEN. In 2003 word hy uitgenooi na ’n internasionale jeugboekskrywersimposium in Antwerpen in België. Tydens ’n reis in Kroasië in April 2005 word hy so siek dat hy en sy vrou die reis moet kortknip en kort daarna word bloedkanker by hom gediagnoseer.
Pro-Afrikaans Van Oktober tot Desember 2005 lei hy saam met Elsa Joubert, Abraham H. de Vries en Leonard Koza ’n protesaksie teen die instelling van dubbelmediumonderrig aan die Universiteit van Stellenbosch. Hierdie aksie word opgevolg met ’n brief aan Die Burger waarin ’n versoek oor die taalkwessies by die universiteit aan die Raad van die universiteit gerig word.
In 2006 lewer hy die D.F. Malherbe-gedenklesing oor Die skrywer se verantwoordelikheid teenoor sy taal. Daarin benadruk hy dat skrywers nie net “intern” die taal moet dien deur letterkunde daarin voort te bring nie, maar ook bereid moet wees om “ekstern” weerstand te bied wanneer dit afgetakel word.
Sterfte Hy is op Donderdag 28 Augustus 2008 in die Louis Leipoldt-hospitaal in Bellville oorlede nadat hy lank aan leukemie (bloedkanker) gely het.Remembered: http://remembered.co.za/obituary/view/8504
Skryfwerk
Inleiding Hy is een van die veelsydigste skrywers in Afrikaans en publiseer met goeie gevolg in al die genres. As jeug- en kinderboekskrywer verower hy al die belangrikste pryse, sy digbundels word goed ontvang en sy romans word eweneens met literêre pryse bekroon. Ook sy dramas en radiodramas verower talle pryse, terwyl hy etlike bundels kortverhale laat publiseer. Hy vertaal ook ander werke in Afrikaans, veral die geestelike romans van Walter Wangerin, soos Die boek van God, Die verhaal van Paulus en Jesus: ’n roman asook Trevor Dennis se Die Boek van alle tye: die storie van die Bybel.Kombuis, Koos. Rapport, 8 Junie 2003
Saam met Anastasia de Vries is hy samesteller van die bloemlesing Nuwe stemme 1 wat in 1997 verskyn en waarin nuwe digters wat nog nie voorheen gebundel het nie, kans kry om gepubliseer te word. Hierdie is die eerste van ’n aantal soortgelyke bloemlesings, wat alreeds ’n hele aantal digters opgelewer het wat selfstandige bundels uitgegee het. Verder verskyn ’n menigte artikels en resensies van hom in vaktydskrifte en tree hy ook gereeld as spreker op by openbare geleenthede.Malan, Lucas. Rapport, 25 Januarie 1998· Cloete, T.T. Beeld, 8 Desember 1997Conradie, Pieter. Insig, Februarie 1998
Poësie Vanaf standerd ses skryf hy gedigte en hy lê sy eerste manuskrip reeds teen die einde van 1963 (sy standerd nege-jaar) aan ’n uitgewer voor. Hy trek ook in hierdie tyd reeds aandag met sy deelname aan die radioprogram Skrywers van die toekoms. Sy gedigte verskyn periodiek in letterkundige tydskrifte soos Standpunte, Tydskrif vir Letterkunde en Donga en reeds op skool in die CSV-tydskrif Ons bou.
Sy verblyf in die Noordweste is die vernaamste aanleiding tot sy jeugverse, wat gebundel word in Hondegaloppie. Die titel van die bundel is ’n bekende woord in die Noordweste en verwys na ’n mengsel van bier, wyn en brandewyn. Die streek met sy mense, diere, plante en gesteentes en sy taalgebruik vorm die kern van hierdie bundel en die gedigte is merendeels ’n viering van die wondere van hierdie streek. Die bundel is dan ook ’n versameling van hoofsaaklik losstaande verse, sonder ’n dwingende bundel-eenheid, waarin veral die idiomatiese taal van die Griekwas en Namas ontgin word. Dit is hoofsaaklik ’n tipe volksgedig, sterk ritmies en klankryk, met ’n oog en oor vir die natuur en die lokale werklikhede.
In Aan ’n spoelklippie van Aughrabies skuur die spreker die eens dowwe klippie totdat dit vonkel en die prag van die waterval daarin gesien kan word. Hierdie klippie word dan simbolies van die stroom water wat seewaarts vloei, met die spel van klanke en eiename wat ’n eiesoortige bekoring aan die gedig gee.Viviers, Marni Universiteit van Stellenbosch: http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/1707
As die son kliplangs spring, wat gepubliseer word terwyl hy nog op universiteit is, sluit ten nouste by die tematiek van die eerste bundel aan. Daar is egter meer gebruik van ironie in die beskrywing van die streek as in sy debuutbundel, terwyl die knap woordspeling en sin vir humor opvallend is. Hierdie bundel is baie meer omvangryk as sy debuut, sonder dat daar veel variasie in toonaard en tema is.
Legende van die watersoekers kontrasteer hoe verskillende kulture na water soek, vanaf die swart toordokter en die waterwyser met sy mikstok tot die moderne geoloog met sy wetenskaplike hulpmiddele – maar die boorman laat slegs drie droë gate agter. Dit is eers as die boer op sy knieë gaan dat hy met die opstaan klam sand aan sy velbroek kry. Soverby se lam se ritme gee aanleiding tot die toonsetting daarvan as Bella boklam deur Louis van Rensburg. Hongerjaar beskryf kernagtig die impak van hierdie harde wêreld, met die mooi beskrywing van die ellende wat wit in die blom staan.