Wurms is 'n informele groep van diere, waarvan daar meer as 25 000 spesies is. Bekende stamme van wurms is die ringwurm (Annelida), die platwurm (Platyhelminthes) en die snoerwurm (Nemertea).

Die term "wurm" word vir 'n aantal ongewerwelde diere met soortgelyke uiterlike voorkoms, maar sterk afwykende afstamming en/of ontwikkeling gebruik. Dit is 'n informele (polifiletiese) groep wat 'n versameling van diverse groepe uit verskillende ander groepe omvat. Die platwurm, byvoorbeeld, behoort aan die superfilum Platyzoa, waaraan die drasties afwykende raderdiertjies (rotifere) ook aan behoort.

duimnael|links|Pseudoceros dimidiatus, 'n soort platwurm Wurms kom oor die hele wêreld en in die mees uiteenlopende omgewings voor. Sommige spesies leef op land of in varswater, maar die meeste lewe in die see. Die lewenswyse is ook wyd uiteenlopend; talle spesies lewe as parasiete in of op ander diere, ander is vrylewend of nie-parasitêr. Gemeenskaplike kenmerke is die swak, langwerpige liggaam en die meestal gesegmenteerde lengte van enkele millimeters tot sentimeters. Daar is egter ook wurms wat meer as 10 meter lank kan word, soos die runderlintwurm (Taenia saginata).

Algemeen Onder die ou groep van die wurms (Vermes) is alle bilateraal simmetriese diere (onderafdeling Bilateria) wat normaalweg geen stewige skelet besit en nie op 'n vaste plek leef nie, saamgevat. Hierdie definisie bepaal hom egter meer by die uiterlike bou en lewenswyse as by hulle plek in 'n soölogiese sisteem.

Op grond van die beskikbare kennis oor die embrionale ontwikkeling, die anatomie en die afstamming, word die wurmgroep teenswoordig verdeel in 'n aantal afsonderlike stamme (phyla) wat op uiteenlopende plekke in die sisteem tuishoort. Afhangend van die betrokke wetenskaplike se uitgangspunt, is daar al tussen 7 en 22 verskillende phyla beskryf. In hierdie artikel word grotendeels die indeling van Grzimek (in Het leven der dieren) gevolg.

Die phyla Ectoprocta en Entoprocta is vroeër onder die phylum Bryozoa saamgegroepeer. Later het dit geblyk dat die Entoprocta geen egte liggaamsholte het nie maar wel 'n pseudoseloom, dit wil sê die liggaamsholte is tussen die mesoderm en die endoderm. Na aanleiding hiervan word die Entoprocta onder die versamelgroep pseudocoelomata en die Ectoprocta met 'n ware seloom saam met ander diere met 'n ware seloom geklassifiseer.

Die phyla Priapulida, Sipunculida en Echiura wyk blykbaar af van die evolusionêre lyn van gelede wurms tot geleedpotiges (phylum Annelida tot phylum Arthropoda). Hulle besit wel baie kenmerke van die gelede wurms. Die phylum Onychophora is ʼn duidelike tussenvorm tussen gelede wurms en geleedpotiges en is daarom lank beskou as die vermiste skakel in die ontwikkelingslyn tussen die twee organismegroepe.

Hulle liggame is opgebou uit ʼn aantal in- en uitwendige gelyke segmente; die buitenste huidlaag (kutikula) is swak en die harsings lyk uitwendig nog na die van gelede wurms. Ooreenkomste met die geleedpotiges is onder meer die kloutjies aan die pote, 'n chitienneerslag in die kutikula wat tydens groei vervelling noodsaak, asook die harsings wat in verskillende dele opgedeel kan word en wat vergelykbaar is met die senuweeknope van die geleedpotiges.

Die stam Pentacoela word in twee groepe verdeel, naamlik in die kraagdraers (phylum Hemichordata of Branchiotremata) en die armdiere (Branchiata), wat tot die noemgroep Deuterostomia behoort. Dit is diere by wie 'n anus ontstaan het op die plek waar die oermond (tydens embrionale ontwikkeling) geleë was; op die teenoorgestelde end ontwikkel 'n mond. Dieselfde geld vir die pylwurms (phylum Chaetognatha) en dit was een van die belangrikste redes waarom hierdie 10 cm lange seelewende organismes van die ander wurmvormige organismes geskei is.

Rondewurms Ongelede of rondewurms is meestal lang, uitgerekte ronde organismes. Die meeste soorte is mikroskopies klein, maar baie langer soorte kom ook voor. Hulle lewe meestal in varswater en op vogtige plekke op die land (mos, dakgeute, ensovoorts). Alle rondewurms besit 'n primêre liggaamsholte (pseudoseloom), maar die 6 klasse vertoon verder taamlik uiteenlopende kenmerke.

Die liggaam besit dikwels 'n vaste aantal selle, wat dan kenmerkend is vir 'n bepaalde spesie. Baie van hierdie wurms is parasiete wat op plante, diere en die mens parasiteer. Ongelede wurms, wat tans eerder rondewurms (phylum Aschelminthes of Nemathelminthes) genoem word, vorm 'n wyd uiteenlopende groep. Die 6 klasse vertoon geen gemeenskaplike kenmerk nie en die phylum is daarom nie duidelik van die ander onderskeibaar nie. Om die rede gebeur dit dat die klasse soms as aparte phyla beskou word, soos in die geval van die stekelsnoetwurms (phylum Acanthocephala).

Liggaamsbou Rondewurms is meestal lang, uitgerekte, silindervormige diere. Hulle liggame is bilateraal simmetries en is nie in segmente verdeel nie (ongelid). Binne die liggaam word die primêre liggaamsholte of pseudoseloom aangetref wat uit die ruimte tussen die endoderm en die mesoderm ontstaan. Die liggaam word beskerm deur 'n harde deklaag, die kutikula, wat deur die selle van die epidermis afgeskei word.

Hierdie harde laag kan nie vergroei nie, en daarom moet hierdie organismes tydens die ontwikkeling van larwe tot volwassene enkele kere vervel. ʼn Ware kop kan by baie soorte nouliks onderskei word: die voorste gedeelte van die liggaam is slegs herkenbaar aan die mond waaromheen sintuigorgaantjies gerangskik is.

Dikwels is die aantal selle waaruit die liggaam opgebou is, konstant en kenmerkend vir die soort. Asemhalingsorgane en 'n bloedvatstelsel ontbreek by hierdie organismes; daar kom wel protonefriede, 'n eenvoudige senuweestelsel en manlike of vroulike geslagsorgane voor.

Indeling Die bekendste en vormrykste klas van die rondewurms is die raderdiertjies (Rotifera), waarvan ongeveer 2 000 soorte bekend is. Hierdie mikroskopies klein diertjies (tot 0,5 mm) kom wêreldwyd voor, meestal in varswater. Hul deurskynende liggaam kan onderverdeel word in 'n kop, lyf (romp) en voet.

Op die kop is 'n trilhaarkrans, die raderorgaan of korona en die mond. Die golfbeweging wat die trilhare maak, wek waterstrome op en voer die voedseldeeltjies na die mond. Opvallend by raderdiertjies is die teenwoordigheid van 'n koumaag wat aan die binnekant met skerp tandjies (trofi) bedek is. By sommige soorte is hierdie tandjies verleng en die dier kan 'n prooi daarmee vasgryp. Die raderorgaan dien dan slegs as 'n soort fuik.

Op die koumaag volg 'n dikwandige maag en derm, wat saam met die geslagsapparaat en die nierstelsel in die kloaka uitmond. Die geslagsorgaan van die wyfie word 'n eierdooierstok genoem en bestaan uit ʼn kleinerige eierstok en 'n groterige dooierstok (dooierklier). Tydens voortplanting word eierselle afgeskei wat deur die dooierstok van dooier voorsien word. Verteenwoordigers van die kleinerige orde Seisonida lewe net in die see. Hulle sit vas op die kieue van hul gasheer en die trilhaarkrans is by hulle swak ontwikkel.

Die Digononta, wat in varswater meestal op waterplante leef, het ʼn gepaarde eierdooierstok en plant altyd partenogeneties voort (dit wil sê die eiersel ontwikkel sonder bevrugting). Daar kom dan ook geen mannetjies voor nie. By die Monogononta is die mannetjies baie kleiner as die wyfies. Hulle besit ʼn goed ontwikkelde geslagsapparaat maar geen dermkanaal nie en kan dus hoogstens 'n paar dae leef. Hierdie organismes kan geslagtelik sowel as partenogeneties voortplant.

Die Monogononta leef veral in water in verhouding tot plankton. Die kutikula is by hulle omvorm tot 'n dik pantser waarin die voet en die raderorgaan teruggetrek kan word. Die 200 soorte van die klas Gastrotricha lyk soos raderdiertjies maar hulle het geen trilhaarkrans nie. Daar is wel trilhaarbande aan die buikkant aanwesig waarmeehulle oor die grond kan gly. Soms is groepies trilhare saamvergroei tot ʼn borsel wat as 'n voetjie kan dien.

Die liggaam is afgeplat en dikwels met plaatjies en stekeltjies oortrek. In die gevurkte stert mond kliere uit wat ʼn klewerige stof afskei waarmee hulle hulle vinnig kan vasheg. Oorspronklik het hierdie organismes slegs in seewater voorgekom, maar teenswoordig kom hulle veral in varswater voor.  Perdehaarwurms (klas Nematomorpha) word tot 1 m lank en is ongeveer 1 mm dik, meestal opgerol en kom in vlak water voor, selfs in amper opgedroogde poeletjies.

Die volwasse wurms teer op voedsel wat die larwes via hulle vel opgeneem het. Hulle het dan ook 'n gereduseerde dermkanaal. Die pseudoseloom is gevul met miljoene eiers wat in die water vrygestel word. Die larwes is aan die kopkant voorsien van 'n boorapparaat en 'n krans van hakies waarmee hulle 'n gasheer kan deurboor. Onder ongunstige toestande (droogte) kan die larwes 'n kapsel vorm en ensisteer. Indien die sist deur 'n insek geëet word, kom die larwe in sy maag vry.

Dit boor deur die maagwand en bly in die liggaamsholte totdat dit byna geslagsryp is. Die wurm verlaat dan die insek om in die water geslagsryp te word. Dit is opmerklik dat al is die gasheer 'n landdier, die parasiet hom dwing om na die water te gaan. Die perdehaarwurms van die genus Nectonema leef in die see en parasiteer op garnale. Tot die klas Kinorhyncha behoort klein diertjies (tot 1 mm) wat op die seebodem leef. Deur insnoering van die kutikula ontstaan daar uiterlik 13 ringe, maar inwendig is die liggaam nie verdeel nie.

Die senuweestelsel vertoon op elke 2e ring ʼn senuweeknoop. Al 400 soorte stekelsnoetwurms (stekelneuswurms, klas Acanthocephala) is parasiete en hulle kry hul naam van die hakies aan die voorkant van die liggaam waarmee hulle hulle aan die dermwand van hul gasheer vasheg. Hulle word meestal net 'n paar sentimeters lank en is verleng en rond. Die larwes leef in ongewerwelde diere, terwyl volwasse diere in die dermkanaal van gewerweldes voorkom.

Hulle neem via die liggaamswand verteerde voedsel van die gasheer op. Die bevrugte eiers van hierdie wurms word saam met die faeces van die gasheer na buite uitgeskei en word dan deur ʼn tussengasheer (insek of skaaldier) opgeëet. In die tussengasheer ontwikkel die larwe tot 'n bepaalde stadium. Indien die tussengasheer deur 'n eindgasheer ('n gewerwelde dier) opgeëet word, groei die larwe verder tot 'n volwasse dier. Macracanthorhynchus hirudinaceus is verreweg die grootste soort en word tot 65 cm lank en leef in die derm van varke.

Macracanthorhyncus hirudinaceus se larwes ontwikkel tot 'n tipe kewerlarwe wat weer deur die varke gevreet word. Hierdie parasiet kom ook by insekte-etende roofdiere en ape voor en soms ook by die mens. Die 2,5 mm lange Polymorphus boschadis word in die derms van eende aangetref, terwyl die stekelkopwurm (Echinorhynchus boschadis) op forelle parasiteer.

Wurmsiektes Wurmsiektes is 'n belangrike groep onder die parasitiese siektes wat die mens kan opdoen. Ligte infeksies verloop meestal sonder behandeling. Baie wurmsiektes kom veral in die trope, subtropiese en warm streke voor. Die wurms wat by die mens as parasiete voorkom, behoort tot 3 klasse, naamlik die lintwurms (Cestoda), suigwurms of bloedbotte (Trematoda) en draadwurms (Nematoda).

Lintwurms Die beeslintwurm (Taeniarhynchus saginatus of Taenia saginata) kom in die Westerse lande taamlik algemeen voor. Dit kan tot 10 m lank word en bestaan uit 'n kop en proglottis (liggaamsegmente) van 2 cm in lengte en 0,5 cm in breedte wat gereeld afgewerp word en dan in die ontlasting voorkom. Die eiers van die lintwurm wat in 'n dragtige proglottied voorkom, moet deur 'n bees ingesluk word om die voortbestaan van die wurmsoort te verseker. In die bees (tussengasheer) ontwikkel die bevrugte eiers tot larwes.