Riana Scheepers (1957-) is 'n Afrikaanse skrywer en digter, wat met haar prosa onder meer die ATKV-prys vir die beste gewilde prosa en die Eugène Maraisprys gewen het.

Lewe en werk Wilhelmina Adriana Scheepers is op 9 Desember 1957 in Vryheid, KwaZulu-Natal, as die derde van vier kinders, gebore. Op sesjarige ouderdom is haar vader, ’n treindrywer, in ’n spoorwegongeluk oorlede. Hierna trou haar ma, Myra, met haar man se broer, Adriaan. Haar ma word later self bekend as skrywer toe sy stories uit die Zoeloe orale kultuur versamel en dit gepubliseer word as “Om die Nguni-vure”. Riana se kinderjare bring sy deur op haar geboortedorp, waar sy saam met Zoeloekinders grootword en van haar negende tot elfde jaar woon sy op Pongola, waar sy haar laerskoolloopbaan voltooi. Sy leer vroeg Zoeloe praat en gaan saans na die Zoeloe-verteller om na stories te luister. Sy matrikuleer in 1975 aan die Hoërskool Vryheid en is ook in hierdie jaar hoofmeisie van die skool. Reeds op jong ouderdom wen sy verskeie pryse in poësie en skryfkompetisies, asook etlike redenaarskompetisies. Vir twee agtereenvolgende jare (1974–1975) word sy aangewys as die beste redenaar in Noord-Natal. Sy neem ook deel aan verskeie sportsoorte en verwerf Noord-Natal kleure vir atletiek, swem en sierduik.

In 1976 skryf sy haar in as student by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat in Bloemfontein en behaal in 1978 'n B.A.-graad in kommunikasiekunde (cum laude), in 1984 'n B.A. Honneurs-graad in Afrikaans (cum laude) en in 1987 'n M.A.-graad in Afrikaans (cum laude), met ’n proefskrif oor “Onderskeiding tussen leë en betekenisdraende tekens in die literêre kommunikasieproses, geïllustreer aan die hand van Koos Prinsloo se ‘Die jonkmanskas’”. Tydens haar universiteitsjare blink sy op verskeie terreine uit. Reeds in 1976 wen sy die eerstejaarsredenaarskompetisie en word die Volksblad-prys vir die beste student in Afrikaans-Nederlands aan haar toegeken. Die jaar daarna word sy verkies tot redaktrise van die studenteblad die Irawa. In 1978 is sy primaria van haar koshuis (Wag-'n-bietjie) en word sy in 1979 tot die Sentrale Studenteraad verkies. Sy is ook voorsitter van die Afrikaans-Nederlandse Vereniging (1978–1979) en die Kommunikasievereniging. In 1979 trou sy met Dirk Botha, ’n sakeman van Bloemfontein, en twee seuns, Floris en Adriaan, word uit die huwelik gebore. Adriaan word later onder die naam Adriaan Meyer ook baie bekend as dramaturg. Sy skei in 1988 van haar man.

Vanaf Januarie 1985 tot Maart 1988 werk sy as akademiese assistent aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat se Departement Afrikaans-Nederlands. In Julie 1988 aanvaar sy ’n pos as lektrise by die Universiteit van Zoeloeland, waarna sy in April 1990 ’n pos aanvaar as lektrise in Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Kaapstad. Hierdie pos beklee sy tot aan die einde van 1994. In die negentigerjare in Kaapstad het sy ’n besondere verhouding met die digter Daniel Hugo. Sy is deeltyds vanaf 1992 tot 1995 radioverslaggewer vir Die Burger en in Januarie 1995 sluit sy haar by Tafelberg-Uitgewers aan as skakelredakteur. Sy studeer steeds verder en behaal in 1997 ’n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad met die proefskrif “Die verhouding feit:fiksie in die kortverhaalbundels van Koos Prinsloo”, wat later as “Koos Prinsloo: Die skrywer en sy geskryfdes” gepubliseer word.

In 1999 aanvaar sy ’n onderwyspos by Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch en begin die Stellenbosch Skool vir Skryfkuns en Kreatiewe Denke, met die teikenmark uiters talentvolle kinders. Sy bedank in 2001 om meer tyd aan haar kreatiewe skryfwerk te wy en in September 2002 trou sy met die boer Johann Loubser. Sy woon hierna beurtelings op Paternoster, op die wynplaas De Compagnie in die Wamakersvallei naby Wellington, waar sy 'n tyd lank as plaasbestuurder werk, en op Klipkraal, ’n plaas in die Tankwa-Karoo. Op De Compagnie werk sy saam met die vroue in die wingerd, gee geletterdheidsklasse vir volwassenes in die plaasgemeenskap en bied ook jaarliks ’n kursus in Skryfkuns en Kreatiewe Denke aan. Sy bedryf ’n gastehuis op die plaas en die boetiek-brandewyn van die plaas word in 2009 bekroon met ’n goue internasionale Michelangelo-toekenning. In 2015 verhuis sy en haar man na Wildernis naby George.

Ander bedrywighede van haar sluit in die draaiboek wat sy vir ’n televisiereeks van 52 episodes skryf oor Leerbehoeftes van swart adolessente. Vanaf 2002 tree sy op as Huisgenoot se sosiale raadgewer in die rubriek “Vra vir dr. Adri”. Tussen 1998 en 2003 is sy lid van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se Kunstekabinet en tussen 2004 en 2007 is sy Raadslid van die S.A. Brandewynstigting en die Afrikaanse Taalmuseum. Sy hanteer verskeie rubrieke, onder andere vir Die Volksblad vanaf 1999, Beeld vanaf 2000, Die Burger vanaf 1992–1995 en weer vanaf 2002 en die Belgiese koerant De Morgen vanaf 2000. Sy behartig ook vanaf November 1999 ’n rubriek vir die Christelike vrouetydskrif Finesse, wat in Junie 2000 summier opgeskort word omdat sy kwansuis “nie ’n Christen is nie” na aanleiding van lesers se klagtes oor haar boeke. Sy skryf ook sketse vir Beeld, Volksblad, De Kat en Rooi Rose. Sy tree gereeld op as mentor by skryfskole, onder andere in 2011 by die Winterskool van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria, waar sy in beheer is van die prosafokusgroep. In 2000 word sy ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Sy onderneem verskeie lesingtoere oor haar eie werk en die Afrikaanse letterkunde in Nederland, Friesland en Pole. In 1992 besoek sy die Universiteit van Wrocław in Pole, waar sy ’n lesing oor die Afrikaanse letterkunde aanbied en in Junie 1992 woon sy die Feministiese Boekebeurs in Amsterdam by nadat sy by ’n kursus vir dosente in Nederland was. Sy is in 1996 ’n gas by die alternatiewe Boekebeurs (Het Andere Boek) in Antwerpen en in 1997 en 1998 ’n gas van die Antwerpse Boekebeurs. In Maart 2000 is sy gas van die kultuurvereniging Geletterde Mensen en onderneem sy ’n uitgebreide lesingtoer in Vlaandere. Die Vlaamse Parlement nooi haar om op 11 Junie 2002 deel te neem aan die Parlement se dertigjarige herdenking, waartydens 24 digters uit die Nederlandse spraakgemeenskap hul poësie in die Parlement voorlees. Sy is die enigste Afrikaanse digter wat na hierdie geleentheid genooi is. In 2009 lei sy die prosa-fokusgroep by die Winterskool van die Universiteit van Pretoria se Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns. By verskeie geleenthede tree sy op as spreker by skole, leeskringe en studiegroepe.

Skryfwerk

Prosa Van kleintyd af wil sy skryf en op skool vul sy haar sakgeld aan deur vir die Huisgenoot se tienerblad te skryf. Eenkeer neem sy deel aan ’n opstelwedstryd onder drie verskillende name en wen so die eerste, tweede en derde prys. Haar onderwyser, Danie Jacobs, is so beïndruk met haar vermoëns dat hy op ’n stadium dit oorweeg om reeds op skool ’n bundel met haar verhale te laat uitgee. In 1990 maak sy haar debuut met die “Die ding in die vuur”, ’n bundel kortverhale.  Hierin word die leefwêreld van die Zoeloes uitgebeeld en die titel sinspeel op die Ding wat volgens tradisie aan die luisteraar horings op die kop sou gee as daar na stories geluister word voordat die dag se werk afgehandel is. Die storieverteller spoeg dan in die vuur om daarmee te verseker dat die Ding dood is en die geeste en die storie nie later in die kinders se koppe intrek en hulle nagmerries gee nie. Die skrywer maak gebruik van die orale verteltradisie en verskeie verhale vertoon dan ook kenmerke van die volksverhaal of sprokie, wat op treffende wyse met die inheemse mitologie en die sentrale simbool van vuur en argetipiese karakters soos die toordokter en die storieverteller verbind word. Veral die wêreld van die Zoeloevrou en Zoeloekind word geskets en telkens word die Afrika-kultuur en die Westerse kultuur teen mekaar gestel. Baie van die verhale staan in die teken van die postmodernisme, met feite en fiksie wat soomloos langs mekaar aangewend word. Hoogtepunte in die bundel is die verhale “Ruil” en “Nagloop”. In “Ruil” dring ’n wit winkeleienaar aan op seksuele gunste van ’n vrou wat by hom wil inkopies doen en bied ’n potjie Vaseline as ruilmiddel aan. Die perversiteit van die eienaar word hier gestel teen die vernedering, maar ook edelheid, van die vrou. “Nagloop” beskryf die angs van ’n enkelouer-vrou wat in die middel van ’n tropiese Afrikanag ontdek dat haar klein seuntjie nie in sy bed is nie. Wanneer sy hom vind, neem sy hom na haar eie bed, waar sy voel of sy geslagsorgane nog daar is. Só word die oorgelewerde vooroordele en vrese ten opsigte van die optredes van verskillende kultuurgroepe in die land beklemtoon. “Abantu oNgoye” (wat beteken die mense van oNgoye) vertel deur middel van vier perspektiewe die agtergrond van die stigting van die Universiteit van Zululand en die storie van die slagting wat in 1983 op die kampus plaasgevind het. ’n Eksterne verteller vertel hoe die universiteit deur die beleid van H.F. Verwoerd gestig is; ’n Tradisionele storieverteller beskryf die stigting asook die slagting; ’n koerantberig vertel die verhaal van die slagting uit die perspektief van die studente wat aangeval is; en ’n ek-verteller beskryf hoe ’n professor verduidelik wat werklik tydens die slagting gebeur het. Hierdie perspektiewe illustreer hoe moeilik dit is om die waarheid oor die verlede te bekom en hoe persepsies gebeure inkleur. “The name of the game” is die skrikwekkende verhaal van die jong swart verliefdes wat sonder rede deur drie wit jong mans vasgekeer en die vrou verkrag word. Hierdie verhaal uit die verlede weerklink in omgekeerde rolle in hedendaagse nuusgebeure, met die sterk boodskap van hoe misbruikte mag aanleiding gee tot geweld en traumatiese impak op die lewens van gewone mense. “Tweede kind” beskryf op onthutsende wyse hoe sterk die klas- en rasverskille tussen mense is. ’n Wit sendeling se vrou en ’n dertienjarige swart meisie gee op dieselfde tyd geboorte in ’n afgeleë sendinghospitaal. Die swart meisie sterf tydens die bevalling, waarna die wit vrou versoek word om haar baba ook te borsvoed. Hierdie menslike versoek lei tot groot weerstand by die wit vrou en hoewel sy eindelik toegee, illustreer haar innerlike stryd haar diep gevoelde teensin teen swart mense, ten spyte van haar posisie as boodskapper van God se liefde. “Die ding in die vuur” verower in 1991 die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa en in 1992 die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) se Kaaplandse Helpmekaarprys vir ontspanningsleesstof. Die bundel word in 1990 ook genomineer vir die Rapportprys.