Keulen 280px Kaart Wapen senter|180px senter|75px Vlag 90px|raam|senter Land  Deelstaat 20px Noordryn-Wesfale Koördinate  Stigting 50 n.C. Stadstatus 1475 (Vrye Ryksstad) Oppervlakte:    - Totaal 405,01 vk km  Hoogte bo seevlak 53 m Bevolking:    - Totaal (31 Desember 2023) 1 024 408  - Bevolkingsdigtheid 2 529/vk km  - Metropolitaanse gebied 2 700 000 Tydsone UTC +1 (MET)  - Somertyd UTC +2 (MEST) Klimaat    - Tipe Gematigde klimaat  - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 10 °C  - Gem. temp. Januarie/Julie 2,4 / 18,3 °C  - Gemiddelde jaarlikse neerslae 798 mm Burgemeester Henriette Reker  Amptelike webwerf stadt-koeln.de

Keulen (Duits: Köln, , plaaslik: Kölle; Frans en Engels: Cologne) is die vierde grootste stad in Duitsland en die grootste stad van die westelike deelstaat Noordryn-Wesfale. Die stad aan die Ryn gaan terug op 'n Romeinse nedersetting en is met sy meer as 2 000-jarige geskiedenis een van die oudste stede in Duitsland. Sedert 30 Junie 2010 is Keulen die vierde miljoenestad in Duitsland ná Berlyn, Hamburg en München.

duimnael|links|'n Lugbeeld van Keulen met die katedraal en Hohenzollern-brug Vandag is Keulen die ekonomiese, kulturele en geskiedkundige sentrum van die Rynland. Die Universiteit van Keulen en ander hoëronderwysinstellings het altesaam meer as 85 000 studente. Sy ligging aan die Ryn, die belangrikste Duitse rivier, en by die kruispunt van belangrike handelsroetes maak van Keulen ook 'n eersterangse Europese vervoersentrum. Die stad is naas New York een van die belangrikste sentrums van die internasionale kunshandel.

Vrolikheid word as een van die tipiese Rynlandse eienskappe beskou, en dit vind veral neerslag in Keulen se losbandige Karnavaltyd, wat met die optogte op Rosenmontag sy hoogtepunt bereik. Keulen staan daarnaas bekend as een van die belangrikste sentrums van gay- en lesbiese kultuur in Duitsland. Meer as 175 000 Keulenaars is van buitelandse afkoms, en die stad is dus nog steeds 'n smeltkroes van vele kulture. Keulen huisves een van die grootste Turkse gemeenskappe in Duitsland en is ook die setel van 'n aantal Islamitiese organisasies.

Etimologie Die stadsnaam Keulen is ontleen aan die Latynse naam Colonia Claudia Ara Agrippinensium. Uit Colonia het oor Coellen, Cöllen, Cölln en Cöln die huidige naam met "K" ontwikkel. In die Keulse dialek word die stad Kölle genoem. In die meeste Romaanse en verskeie ander tale is die Latynse oorsprong van die naam steeds herkenbaar (byvoorbeeld Italiaans en Spaans Colonia, Portugees Colônia, Katalaans Colònia, Frans Cologne, Pools Kolonia, Turks Kolonya en Arabies كولونيا (Kōlōnyā).

Die Romeinse stad Colonia Claudia Ara Agrippinensium (CCAA) is na keiserin Agrippina genoem: Die eggenote van Claudius is aan die Ryn gebore en het in 50 n.C. stadstatus aan die Ubiërnedersetting Oppidum Ubiorum verleen.

Geografie en klimaat duimnael|links|Keulen se distrikte Die stadsgebied van Keulen strek oor 405,01 vierkante kilometer, waarvan 230,25 aan die linkeroewer en 174,87 aan die regteroewer van die Ryn. Ten opsigte van sy oppervlak is Keulen na Berlyn en Hamburg die derde grootste stad van Duitsland.

Die hoogste punt in die Königsforst lê 118,04 meter bo seevlak, die laagste in die Worringer Bruch 37,5 meter bo seevlak.

Keulen lê in die sogenaamde Keulense Bekken (Duits: Kölner Bucht), 'n vallei tussen die heuwels van die Bergische Land en die Eifel, wat deur klimatiese besonderhede gekenmerk word: Aangesien die Eifel-gebergte 'n soort versperring vorm, lê Keulen (en veral sy linkeroewer) in die reënskadu van westelike winde. Warm valwinde kom hier gereeld voor. Die lug in die bekken word meer verwarm as dié van die omgewing, en die middestad van Keulen word as die warmste plek in Duitsland nog voor Freiburg im Breisgau beskou. Die verdamping van Rynwater veroorsaak hoë lugvogtigheid en lei in die somer dikwels tot bedompige weer met donderbuie.

Die metropolitaanse gebied van Keulen lê in die oorgangsgebied van gematigde see- en kontinentale klimaat met koel winters (die gemiddelde temperatuur in Januarie is 2,4 °C) en gematigde somers (met 'n gemiddelde temperatuur van 18,3 °C in Julie). Die gemiddelde jaarlikse neerslag is 798 millimeter.

Die Ryn en sy brûe duimnael|Die Hohenzollernbrücke is die belangrikste spoorwegbrug oor die Ryn Die Ryn, wat in Keulen 'n wydte van vierhonderd meter (1 300 voet) bereik en oor 'n lengte van veertig kilometer (25 myl) deur die stad vloei, maak 'n groot boog in Keulen en verdeel die stad in twee verskillende helftes: Die linkeroewer, wat in die volksmond as die "ware Keulen" ("wahre Kölle") bekend staan, en die "schäl Sick" of regteroewer. Hier lê ook voormalige selfstandige stede soos Deutz en Mülheim, wat lankal by Keulen ingesluit is.

Beide kante van die rivier is eeue lank deur slegs een veerboot met mekaar verbind. Tans is daar agt brûe. Die eerste permanente brug, die voorloper van die huidige Hohenzollern-spoorwegbrug tussen die hoofstasie en die voorstad Deutz, is eers in 1859 geopen.

Die Suidbrug met sy indrukwekkende boë is eweneens 'n suiwer spoorwegbrug, terwyl die Rodenkirchen- en die Leverkusen-brug uit die jaar 1965 vir motors oop staan. Die Zoo-brug word as die pronkstuk beskou. Hierdie kabelbrug is deur die argitek Gerd Lohmer ontwerp en in 1966 ingewy. Met 1 300 meter (4 200 voet) is dit ook die langste brug in Keulen. Die gunstelingbrug van voetgangers is die Deutz-brug met 'n lengte van 400 meter (1 300 voet), wat Deutz met die ou stadskern van Keulen verbind en 'n pragtige uitsig oor die linkeroewer bied. Duisende toeskouers kom jaarliks op Nuwejaarsaand hier byeen om die groot vuurwerkskouspel te bewonder.

Geskiedenis Die Romeinse tydperk Oppidum Ubiori en Colonia Agrippina duimnael|'n Rekonstruksie van die Romeinse praetorium duimnael|Die Romeinse toring, 'n oorblyfsel van die antieke stadsmuur duimnael|Romeinse glasbeker, omstreeks 330-340 n.C., Romeins-Germaanse Museum Keulen Oorspronklik het 'n klein Germaanse volk met die Latynse naam Eburones op die linkeroewer van die Ryn gewoon. In die jaar 53 v.C. is hulle deur Gaius Julius Caesar verslaan en feitlik uitgewis. 'n Ander volk in die gebied, die Ubiërs, het besluit om liewer geen weerstand teen die veroweraars te bied nie en eerder 'n verbond met die Romeine te sluit. Die Romeinse veldheer Agrippa, 'n skoonseun en vriend van keiser Augustus, het die Ubiër-nedersetting van die regter- na die linkeroewer van die Ryn verskuif. Die versterkte nedersetting oppidum Ubiori, wat in 39 v.C. ontstaan het, was die voorloper van die stad Keulen. Ubiërs het vervolgens as hulpsoldate 'n belangrike rol by die militêre beskerming van die Ryngrens gespeel.

Kort voor die begin van die Christelike jaartelling is die nedersetting se status tot dié van 'n sentrale dorp verhef. 'n Altaar, die Ara Ubiorum, is opgerig en twee van Rome se vier Rynlegioene in die nabygeleë militêre kamp gestasioneer. In 15 of 16 n.C. is Julia Agrippina, die dogter van Germanicus en latere vrou van keiser Claudius (10 v.C. - 54 n.C.) en moeder van keiser Nero (37-68) in die Oppidum Ubiorum gebore. Die Ubiërs het in hierdie tydperk begin om na hulself as Agrippinense te verwys. Die vader van Agrippina was die teenspeler van Arminius, en blykbaar het die Ubiërs as geromaniseerde Germane hulself eweneens van dié rebel gedistansieer.

In 50 n.C. is keiser Claudius deur sy nig en eggenote Julia Agrippina, 'n boorling van Keulen en die moeder van Nero, oorreed om stadstatus aan die nedersetting te verleen. Dit het vervolgens die nuwe Latynse naam Colonia Claudia Ara Agrippinensium gekry (wat dikwels met sy voorletters CCAA afgekort of net Colonia Agrippina genoem is). Die term colonia het na die Romeinse burgerreg verwys, Claudia na die ontstaanstyd (gedurende keiser Claudius se heerskappy), ara na die feit dat 'n belangrike Romeinse altaar in die gebied opgerig is, en Agrippinensium na Agrippina, wat die aanleiding tot die stigting van die kolonie gegee het. Die nedersetting was voortaan in regtelike opsig gelykgestel aan Italiaanse stede. Dit was vervolgens veral veterane, afgetrede soldate van die Rynlegioene met hul gesinne, beamptes, handkunswerkers, ambagsmanne en handelaars wat hulle in die colonia gevestig het.

Romeinse metropool noord van die Alpe Die stad het tot een van die belangrikstes in die Romeinse Ryk gegroei. Aanvanklik was dit veral 'n militêre voorpos met die laers van die 1ste en 20ste Romeinse legioen (hulle is later na Bonna – die huidige Bonn – verskuif), maar gaandeweg het die nedersetting tot een van die grootste Romeinse metropole noord van die Alpe gegroei. Tussen 50 en 70 n.C. is 'n stadsmuur met 'n lengte van sowat vier kilometer en nege stadspoorte en 21 torings gebou.

Die stad het 'n oppervlakte van een vierkante kilometer gehad. Strate is volgens 'n roosterpatroon aangelê wat ten opsigte van die hoofstrate oor die eeue min of meer onveranderd gebly het. Die Cardo Maximus (die huidige Hohe Straße) het langs die Ryn in 'n noord-suidelike rigting geloop, die Decumanus Maximus (die huidige Schildergasse) vanaf die Rynoewer in 'n westelike rigting. 'n Waterleiding het die stad oor 'n afstand van 80 kilometer van vars water uit die Eifelgebergte voorsien. Ondergrondse kanale het rioolwater afgevoer. Die stad het met pragtige pleine gespog, en die woonhuise se mure is deur kunstenaars versier.

Aangesien die stad op die kruispad van belangrike handelsroetes geleë was, is hier goedere van orals in die Romeinse Ryk aangebied. Die stad het tot een van die grootste Romeinse nywerheidsentrums vir glas en keramiek ontwikkel. Die nywerhede is weens die brandgevaar buite die stadsmuur aangelê. Langs die paaie, wat van die stad uitgegaan het, was ook die begraafplase van die inwoners geleë.

In die tydperk ná die Bataafse opstand in die jare 69 en 70 tot by die politieke en ekonomiese krisis van die Romeinse Ryk in die tweede helfte van die 3de eeu het CCAA sy bloeitydperk beleef. In die jaar 90 n.C. is CCAA as die hoofstad van die provinsie Laer-Germanië aangewys. Die provinsiale stadhouer se kantoor, die praetorium, was op die plein geleë waar eeue later die Keulense raadsaal opgerig is. Die stad se inwonertal – insluitende die nywerheidsgebiede buite die stadsmuur – word deur deskundiges op tussen 20 000 en 40 000 beraam. Prinz, Friedrich: Kelten, Römer und Germanen. Deutschlands Frühgeschichte. München: Piper 2007, bl. 98 Keulen was tydelik die grootste Romeinse nedersetting noord van die Alpe en is eers omstreeks 300 deur Augusta Treverorum, die huidige Trier, verbygesteek. Vanaf 275 is CCAA verskeie kere deur Franke aangeval. Dit was duidelik dat die stad as periferiese nedersetting aan die Ryngrens in 'n onseker en gevaarlike posisie was. Die stedelike munt, 'n simbool van Colonia Agrippina se status as ekonomiese sentrum, is in hierdie periode na Lyon in Gallië verskuif.

Die agteruitgang van die Romeinse stad het met die rebellie van die Frankiese generaal Silvanus en die plundering en verwoesting deur Frankiese krygers in die jaar 355 begin. Keiser Julianus het die stad in 356 weer laat opbou, maar in 401 het Rome sy troepe uit die Rynland onttrek. In 455 het die Franke die stad ingeneem, en Keulen het een van die residensies van die Frankiese konings geword. Die Frankiese bevolking se aandeel het gaandeweg toegeneem sodat die Romeinse bewoners gaandeweg geassimileer is. Keulen het steeds administratiewe funksies vervul, onder meer as tydelike hoofstad van 'n Frankiese deelkoninkryk. Manfred Jehle, Erich Hafner, Lothar Kölm, Michael Schippan en Alfred S. Wunsch: Die Deutschen. Geschichte und Tradition. Keulen: Lingen 2012, bl. 104-105

Middeleeue duimnael|links|Die Overstolzen-huis van 1230, 'n uitstekende voorbeeld van Romaanse boukuns, is een van die oudste patrisiër-woonhuise in Duitsland duimnael|Die stadsmuur van Keulen duimnael|Die kerk St. Kunibert duimnael|Die Dreikönigsschrein, die heiligdom van die Heilige Drie Konings in die Keulense katedraal