Die wit-en-pienk-anemoon (Korsaranthus natalensis) is seeanemoon wat vanaf Valsbaai tot by Durban, 'n gebied waarin dit endemies is, voorkom. Dit kom algemeen voor aan die suidkus van KwaZulu-Natal. In Engels staan die anemoon bekend as Candy-striped anemone.
Voorkoms Die seedier bereik 'n diameter van tot 100 mm in grootte en leef op rotsriwwe wat 10 tot 30 m diep is. Die anemoon is helder en staan uit op die rif. Die kolom van die voet tot by die tentakels is wit en gestreep met rooi, pienk of oranje. Daar mag ook kolletjies voorkom op die kolom. Die tentakels is wit met 'n kleur wat dieselfde is as die van die kolom. Die punte van die tentakels is pienkerig.
Hierdie anemoon kan hom losmaak van sy staanplek en dryf na 'n ander rif. Dit verteer sy voedsel uitwendig, die maag word deur die bek uitgedruk om sy prooi buite te verteer. Hulle vreet graag sagtekorale.
Bron The Reef Guide: Fishes, corals, nudibranchs & other invertebrates: East & South Coasts of Southern Africa. Dennis King & Valda Fraser. Struik Nature. 2014 Riemann-Zürneck, K. & Griffiths, C.L. 1999. Korsaranthus natalensis: a mobile sea anemone attacking octocorals. In: South African Journal of Zoology, 34(4):190-196
Kategorie:Seeanemone