Donald John Trump (gebore 14 Junie 1946 in Jamaica, Queens, New York) is ’n Amerikaanse sakemagnaat wat van 2025 tot 2029 as die 47ste Amerikaanse president dien. Van 2017 tot 2021 was hy ook die 45ste Amerikaanse president.
Trump het in 1968 met 'n baccalaureusgraad in ekonomie aan die Universiteit van Pennsilvanië gegradueer. Hy het in 1971 president van die Trump-familie se eiendomsonderneming geword en op luukse verblyf gefokus. Na 'n reeks sakebankrotskappe in die 1990's het hy verskeie newe-ondernemings van stapel gestuur. Van 2004 tot 2015 was hy gasheer en medevervaardiger van die werklikheidstelevisiereeks The Apprentice.
Hy was die Republikeinse Party se kandidaat in 2016 en het sy Demokratiese teenstander Hillary Clinton op 8 November 2016 in die Amerikaanse presidentsverkiesing verslaan, hoewel hy minder stemme as sy op hom verenig het. Hy is op 20 Januarie 2017 as die 45ste president beëdig. Op 20 Januarie 2021 is hy deur die Demokraat Joe Biden opgevolg, wat hom in die Amerikaanse presidentsverkiesing 2020 verslaan het.
Trump het die verkiesing in November 2024 gewen met 312 verkiesingstemme teenoor die voormalige visepresident Kamala Harris se 226,"2024 Presidential Election Results". AP News. 25 November 2024. Besoek 25 November 2024. en daardeur was hy die tweede president in die geskiedenis van die VSA (na Grover Cleveland in 1892) om vir 'n nieopeenvolgende tweede termyn verkies te word.Treisman, Rachel (4 November 2024). "Trump is hoping to win non-consecutive terms. Only one president has done it". NPR. Besoek 9 November 2024. Hy het ook die gewilde stem gewen met 'n pluraliteit van 49,8% teenoor Harris se 48,3%."2024 Presidential Election Results" (PDF). Federal Election Commission. 16 Januarie 2025. Besoek 16 Januarie 2025.
Op 70 jaar was Trump in 2016 die oudste en welvarendste persoon wat ooit die amp van president van die VSA beklee het, asook die eerste sonder enige voorafgaande militêre of politieke loopbaan en die vyfde wat op nasionale vlak geen meerderheid van die uitgebragte stemme op hom verenig het nie. Trump is ook ’n belegger, skrywer en TV-persoonlikheid. In 1971 het hy die voorsitter van die eiendomsgroep geword wat in besit van sy familie is, en dit hernoem tot The Trump Organization. Hy het die onderneming vervolgens uitgebrei om die bou en opknapping van wolkekrabbers, hotelle, kasinos en gholfbane in te sluit. Die onderneming Trump Entertainment Resorts is deur hom gestig en beheer.
Vroeë lewe Donald Trump se voorouers aan vaderskant is afkomstig uit die Duitse nedersetting Kallstadt in die Palts-streek, en van die Buite-Hebride in Skotland aan moederskant. Sy grootouers en sy moeder is almal in Europa gebore. Trump is op 14 Junie 1946 in Jamaica, Queens, 'n woonbuurt in New York gebore. Hy is die vierde van vyf kinders van Frederick Christ "Fred" Trump (1905–1999) en Mary Anne Trump (née MacLeod, 1912–2000). Trump het twee susters, Maryanne en Elizabeth, en twee broers, Fred Jr., en Robert. Trump se ouer broer, Fred Jr., het in 1981 weens alkoholisme gesterf. Trump het al aangedui dat sy broer se dood aanleiding gegee het tot sy besluit om homself te weerhou van enige alkoholiese drank en sigarette. Robert Trump is in Augustus 2020 oorlede.
Eerste termyn as president Grensmuur-beleid Een van Trump se verkiesingsbeloftes was om 'n muur teen die Meksikaanse grens op te rig, en Republikeine het oorweeg om aksyns van tot 20% op Meksikaanse invoere te hef wat effektief vir die muur sou betaal. Meksiko is byvoorbeeld die grootste verskaffer van vars groente aan die VSA, en het in 2016 groente ter waarde van $5,6 miljard na die VSA uitgevoer.Border commerce, and who will really pay for the wall, Daniel González, azcentral.com, USA TODAY NETWORK Teen die einde van Trump se termyn het betonmure of metaalheinings oor 'n afstand van 423 myl gestrek, waarvan sekere dele opknappings van bestaande mure was.
Buitelandse beleid Die prioriteite van Donald Trump se buitelandse en veiligheidsbeleid het hul uiting gevind in die leuse America first – 'n merkbare koersverandering en breuk met Washington se politieke tradisies. Met hierdie nuwe doktrine het Trump beoog om groter speelruimte in sy buitelandse beleid te laat vir nasionale belange van die Verenigde State waar dit eensydig afdwingbaar was. Sy administrasie het gevolglik daarna gestrewe om verpligtinge, wat die VSA ingevolge internasionale ooreenkomste aangegaan het, te verminder en die land se militêre slaankrag te vergroot. Bundeszentrale für politische Bildung (bpb), 23 Junie 2020: Vier Jahre Donald J. Trump: Ein Rückblick auf seine Regierungsbilanz in der Innen- und Außenpolitik. Besoek op 16 Julie 2020 Die klem is dadelik geplaas op bestryding van gewelddadige ekstremisme en die herposisionering vir grootmoondheidskompetisie met China en Rusland.
Beleid jeens China President Trump het 'n beleid in werking gestel wat beoog het om China se toenemende geopolitiese invloed hok te slaan. Spesifiek is daar opgetree teen China se ongunstige handelspraktyke en hul strewe na politieke, ekonomiese en tegnologiese dominansie deur finansiering van groot projekte in ontwikkelende lande. Daar is gevrees dat bates en natuurlike hulpbronne van arm lande in Chinese hande sal val wanneer hierdie lande nie hul Chinese leningsverpligtinge kan nakom nie. China se strategiese belange in Afrika het reeds veral olie, gas, steenkool en metale ingesluit, wat vir hul konstruksie- en vervaardigingsektore benodig is, terwyl Afrika lenings vir infrastruktuurprojekte benodig het. Zambië, Angola, die DRK, Mosambiek, Ethiopië, Soedan, Kenia en Djiboeti het onder die lande getel wat teen 2018 reeds van hul bates aan Chinese beheer moes afstaan.
Daar is perke gestel op Chinese beleggings in die VSA wat kon meebring dat Amerikaanse tegnologie en handelsgeheime in Chinese hande val, en die uitvoer van siviele kerntegnologie na China is in 2018 aan streng beperkings onderwerp. Doeane-aksyns (Eng: tariffs) van $250 miljard is op Chinese goedere geplaas ten einde handelspraktyke te kortwiek wat Amerikaanse maatskappye benadeel het.
In sy verkiesingsveldtog het Trump sterk kritiek uitgespreek oor Amerika se buitelandse hulp tydens sy voorgangers se termyne. 'n Afskaling van buitelandse hulp sou egter in China se hande speel wat beplan het om $1 miljard se konstruksiehulp aan 100 lande beskikbaar te stel. Gevolglik is Trump se beleid in Oktober 2018 aangepas om buitelandse hulpprogramme vir infrastruktuur in Afrika, Asië en die Amerikas te bevorder. Dié hulpprogramme het $60 miljard se lenings, leningswaarborge en versekering teen politieke risiko's vir maatskappye behels wat in ontwikkelende lande sake wou doen. Die hoop is uitgespreek dat die nuwe stelsel beleggings volgens maksimum ekonomiese en politieke effek sou toeken, en gelykertyd die korrupsie en wanbestuur sou systap waardeur China se beleggings in Maleisië en elders gekenmerk is.
Beleid jeens Afrika Weens Trump se kenmerkende America first-benadering was belangrike beleidsaanpassings jeens Afrika te wagte. Desondanks is Amerika se voorafgaande betrokkenheid by Afrika grootliks uit sy eie oorwegings en die kongres se invloed gehandhaaf. Sy grondige skeptisisme oor buitelandse betrokkenheid, en veral in armer ontwikkelende lande, het wel hand aan hand gegaan met 'n afskaling van dié internasionale handelsooreenkomste wat as onbillik teenoor die Verenigde State beskou is. Amerikaanse steun vir internasionale hulporganisasies waarvan Afrika afhanklik is, het onder die loep gekom, en Amerika se beperkte militêre teenwoordigheid in Afrika is ingekort van 7 200 ontplooide personeel in 2018, tot 7 000 in 2019 en 6 000 in 2020. Ten spyte van die besnoeiing van AFRICOM-magte, is beplan om tussen 2021 en 2025 meer as $330 miljoen te spandeer om 27 basisse op die vasteland te versterk en uit te brei.
Trump het min aptyt vir betrokkenheid by Afrika se interne beleidskwessies getoon. Tydens sy eerste termyn het hy dan nie soos sy twee voorgangers na die vasteland gereis nie, en Afrika se publieke gesondheid of die integriteit van hul verkiesings het geen hernieude aandag geniet nie. Rex Tillerson, sy minister van buitelandse sake, het ontslae geraak van sy departement se kenners rakende Afrika-aangeleenthede, en sy opvolger Mike Pompeo het hierdie kundigheid eweneens nie herstel nie. Trump het Afrika-staatshoofde op die periferie van die VN se Algemene Vergadering ontmoet en enkele Afrika-leiers is in die Withuis ontvang. Diplomasie is gefokus op handel, belegging en hulp, benewens die finansiering van groot hulp- en beleggingsinisiatiewe, en die vestiging van nuwe ondernemings.
In weerwil van Trump se begrotingsvoorstelle wat buitelandse hulp sou inkort, het die Republikeins-beheerde kongres duur humanitêre programme voortgesit, insluitend die president se noodplan vir vigsverligting (PEPFAR). Die staatsdepartement en Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) se hulp aan Afrika-lande het $7,1 miljard in die 2019-boekjaar beloop, wat met besteding deur die regering van president Barack Obama gestrook het. Een sg. onregverdige handelsooreenkoms, die African Growth and Opportunity Act, waarvolgens Afrika-produkte suid van die Sahara sonder aksyns na die VSA uitgevoer word, is ongeskonde behou. Trump het ook sy eie handels- en beleggingsinisiatief, Prosper Africa, van stapel gestuur vir fasilitering van private Amerikaanse beleggings in Afrika. Die by-Trump ongewilde Overseas Private Investment Corporation wat finansierings- en beleggingsversekering aan Afrikalande verskaf het, is saam met USAID se ontwikkelingskredietowerheid omskep in die U.S. International Development Finance Corporation wat grootliks op Afrika gefokus is.
Verkiesing van 2020 In die verkiesing van 2020 het 159 633 396 Amerikaners gestem, die grootste aantal tot nog toe, waarvan Biden en Harris 51,3% op hul verenig het, en Trump en Pence, 46,8%. Trump was van mening dat grootskaalse verkiesingsbedrog die skaal in Biden se guns geswaai het, en het etlike geregtelike aksies geloods om sekere bepalende uitslae ongeldig te verklaar. Die deelstaat Texas het ook 'n aksie geloods maar was ewe onsuksesvol in die hof. Uiteindelik het Trump, sy regsverteenwoordiger Rudy Giuliani en ander Republikeine vurige toesprake voor die Kapitoolgebou gehou. 'n Groot aantal aggressiewe optoggangers het die Kapitool bestorm en binnegedring. Hiervoor het die senaat gepoog om Trump nogmaals in 'n staat van beskuldiging te plaas, maar kon nie die nodige tweederde meerderheid verkry om hom aan te kla nie.Donald Trump cleared in impeachment vote over the Captol Hill riot: The 57-43 vote fell short of the two-thirds majority required for conviction, Simon Rushton, 13 Februarie 2021, The National News
Napresidensiële ondersoeke Sedert hy sy eerste presidentskap verlaat het, was Trump die onderwerp van verskeie ondersoeke na sowel sy saketransaksies as sy optrede tydens die presidentskap. In Februarie 2021 het die distriksprokureur vir Fulton County, Georgia, 'n kriminele ondersoek na Trump se telefoonoproepe aan die Georgia-sekretaris van buitelandse sake, Brad Raffensperger, aangekondig. Afsonderlik het die New Yorkse Staatsprokureur-generaal se kantoor siviele en kriminele ondersoeke gelas na Trump se sakebedrywighede, die ondersoek was in samewerking met die Manhattan-distriksprokureur se kantoor. Teen Mei 2021 het 'n spesiale jurie aanklagte teen Trump oorweeg. In Julie 2021 het die aanklaers van New York die Trump-organisasie aangekla van 'n "15 jaar skema om die regering te bedrieg".
In Desember 2021 het die New York Staatsprokureur-generaal se kantoor Trump gedagvaar om sekere dokumente voor te lê. Op 25 April 2022 het regter Arthur Engoron in die staat New York Trump weens minagting van die hof aangekla omdat hy nie aan die dagvaarding voldoen het nie.