Hierdie artikel gaan oor die antieke koninkryk. Vir die artikel oor die seun van Sem, sien Assirië (seun van Sem). duimnael|260px|Oorsig oor die antieke Nabye-Ooste in die 15de eeu v.C. (Middel-Assiriese tydperk). Dit wys onder meer die twee belangrike Assiriese stede Nineve en Assur. duimnael|180px|Sargon II en 'n amptenaar. Reliëf uit Sargon II se paleis in Assirië, c. 716–713 v.C.
Assirië was 'n belangrike Mesopotamiese koninkryk en ryk van die Antieke Nabye-Ooste. Dit het sowat ses eeue lank as 'n onafhanklike staat bestaan – van omstreeks 1250 tot 612 v.C. (van die Vroeë Bronstydperk tot in die Laat Ystertydperk). Dit het daarna nog 13 eeue lank, van die 7de eeu v.C. tot die middel 7de eeu n.C., voortbestaan as 'n geo-politieke entiteit waaroor buitelandse magte die grootste deel van die tyd geheers het, hoewel 'n aantal klein Nieu-Assiriese state soos Assur, Adiabene, Osroene en Hatra tussen die 1ste eeu v.C. en die laat 3de eeu n.C. op verskillende tye ontstaan het.
Die ryk was gesentreer om die Bo-Tigrisrivier in Noord-Mesopotamië (die hedendaagse Irak, Noordoos-Sirië en Suidoos-Turkye) en het verskeie kere oor magtige ryke geheers.
As 'n aansienlike deel van die groter Mesopotamiese "wieg van die beskawing" wat Sumer, Akkad en heelwat later Babilonië ingesluit het, was Assirië die middelpunt van die tegnologiese, wetenskaplike en kulturele vooruitgang van sy tyd. Op sy hoogtepunt het die ryk gestrek van Siprus in die Middellandse See tot by Persië (Iran), en van wat nou Armenië is tot by die Arabiese Skiereiland en Egipte.
Assirië is genoem na sy oorspronklike hoofstad, Assur, wat van omstreeks 2600 v.C. bestaan het in wat nou Noord-Irak is; dit was aanvanklik een van 'n aantal Akkadiese stadstate in Mesopotamië. In die 25ste en 24ste eeu v.C. was die Assiriese konings landelike leiers, en in die laat 24ste eeu v.C. het hulle onder die mag van Sargon van Akkad gekom wat al die Akkadies-, Semities- en Sumeriessprekende volke van Mesopotamië onder die Akkadiese Ryk (omstreeks 2334 tot 2154 v.C.) verenig het. Ná die val van die Akkadiese Ryk omstreeks 2154 v.C.Georges Roux (1964), Ancient Iraq, bl. 161–191. en die kortstondige Nieu-Sumeriese Ryk (Ur III) wat net oor Suid-Assirië geheers het, het Assirië weer onafhanklik geword.
Die ryk se geskiedenis word ingedeel in drie tydperke, bekend as Oud-, Middel- en Nieu-Assiries. Hierdie terme word algemeen in Assiriologie gebruik en stem rofweg ooreen met onderskeidelik die Vroeë tot Middel-Bronstydperk, Laat Bronstydperk en Vroeë Ystertydperk. Tydens die Oud-Assiriese tydperk het die ryk kolonies in Klein-Asië en die Levant gestig en onder koning Ilushuma het dit ook beheer oor Suid-Mesopotamië oorgeneem. Van die middel 18de eeu v.C. het die ryk in konflik gekom met die pasgestigte staat Babilonië, wat die veel ouer Sumeries-Akkadiese state in die suide soos Ur, Isin, Larsa en Kisj oorskadu het.
Assirië het 'n magtige ryk geword tydens die tydperk van die Oud-Assiriese Ryk van die laat 21ste tot middel 18de eeu v.C. Daarna het dit in die 18de en 15de eeu v.C. vir kort rukke onder onderskeidelik Babiloniese en Mitannies-Horitiese heerskappy gekom. Nog 'n tydperk van groot mag het gevolg met die begin van die Middel-Assiriese Ryk (1365 tot 1056 v.C.) waartydens groot konings geheers het, soos Assur-uballit I, Arik-den-ili, Tukulti-Ninurta I en Tiglath-Pileser I. In dié tyd het Assirië ook die Mitanniese Ryk omvergewerp en die Hetitiese Ryk, Antieke Egipte, Babilonië, Elam en Frigië in die Nabye-Ooste oorskadu.
Van die veldtogte van Adad-nirari II in 911 v.C. afGeorges Roux (1964), Ancient Iraq het dit vir die volgende drie eeue 'n groot mag geword wat die 25ste Dinastie van Egipte omvergewerp en Egipte verower het. Dit het ook Babilonië, Elam, Urartu, Armenië, Medië, Persië, Mannea, Goetium, Fenisië/Kanaän, Aram (Sirië), Arabië, Israel, Edom, Moab, Ammon, Samarra, Sisilië, Siprus, Galdea, Nabatea, Kommagene, Dilmun, Libië, die Horiete, Sutu en die Nieu-Hetiete oorrompel en die Ethiopiërs, Koesjiete en Nubiërs uit Egipte verdryf. Hulle het die Kimmeriërs en Skitiërs onderwerp en belasting geëis van onder meer Frigië, Magan en die Land van Poent.
Ná sy val tussen 612 en 605 v.C. het Assirië 'n provinsie en geo-politieke entiteit onder die Babiloniese, Mediese, Achaemenidiese, Seleukidiese, Partiese, Romeinse en Sassanidiese Ryk gebly tot met die Arabies-Islamitiese verowering van Mesopotamië in die middel 7de eeu n.C.
Dit het daarna finaal tot 'n val gekom en die oorblywende Assiriërs (teen dié tyd hoofsaaklik Oos-Assiriese Christene) het geleidelik 'n etniese, taalkundige, kulturele en godsdienstige minderheid in die tradisioneel Assiriese grondgebiede geword waar hulle tot vandag toe woon.Parpola, Simo (2004). "National and Ethnic Identity in the Neo-Assyrian Empire and Assyrian Identity in Post-Empire Times" (PDF). Journal of Assyrian Academic Studies (JAAS)
Voorgeskiedenis duimnael|links|'n Brief wat die hoëpriester Lu'enna aan die koning van Lagasj gestuur het om hom in te lig oor sy seun se dood omstreeks 2400 v.C. op die slagveld. Dit is in Girsu gevind. In prehistoriese tye was die streek wat later as Assirië (ook voorheen as Subartu of Azuhinum) bekend was, die tuiste van 'n Neanderdaller-kultuur, waarvan bewyse gevind is by die Shanidar-grot in die huidige Irakse Koerdistan. Die eerste terreine uit die Nuwe Steentydperk in Assirië was die Jarmo-kultuur omstreeks 7100 v.C. en Tell Hassuna, die middelpunt van die Hassuna-kultuur omstreeks 6000 v.C.
In die 3de millennium v.C. het 'n baie intieme kulture simbiose ontstaan tussen die Sumeriërs en die Semitiese Akkadiërs regdeur Mesopotamië, wat wydverspreide tweetaligheid ingesluit het. Die invloed van Sumeries, 'n geïsoleerde taal wat nie aan ander tale in die gebied verwant is nie, is op alle gebiede duidelik in onder meer leenwoorde, sintaksis en morfologie.
Akkadies het Sumeries 'n tyd ná die oorgang van die 3de na die 2de millennium v.C. geleidelik vervang as die spreektaal van Mesopotamië,Woods C. 2006 "Bilingualism, Scribal Learning, and the Death of Sumerian". In S.L. Sanders (red.) Margins of Writing, Origins of Culture: 91–120 Chicago maar Sumeries is steeds gebruik as 'n heilige, seremoniële, letterkundige en wetenskaplike taal in Mesopotamië tot die 1ste eeu n.C.
Die stede Assur en Nineve, asook 'n paar kleiner stede en dorpe het bestaan minstens sedert die middel 3de millennium v.C. (omstreeks 2600 v.C.); dit lyk egter of hulle toe eerder Sumeriese administratiewe sentrums was as onafhanklike state.
Volgens sommige Christelike skrywers is die stad Assur gestig deur Assirië, die seun van Sem en kleinseun van Noag, wat later as die stad se beskermgod beskou is. Daar is egter geen melding daarvan in die boek Genesis, waar hy genoem word nie.
Volgens die Assiriese tradisie was daar 'n vroeë koning, Uspia, wat sy eerste tempel in die stad in die 21ste eeu v.C. aan die god Assur opgedra het. Dit is hoogs waarskynlik dat die stad na dié god genoem is.
Stigtingsdatum George Syncellus haal in sy Chronographia vir Julius Africanus aan volgens wie Assirië in 2284 v.C. gestig is.Cory's Ancient Fragments, Isaac Preston Cory, 1832, bl. 74. Die Romeinse historikus Velleius Paterculus haal Aemilius Sura aan wat sê Assirië is gestig 1995 jaar voordat Philip V in 197 v.C. deur die Romeine by die Slag van Kynoskephalai verslaan is,Roman History, Book 1, Chapter 6. dus in 2192 v.C. Diodorus Siculus haal 'n ander tradisie aan van Ktesias dat Assirië gestig is 1 306 jaar voor 883 v.C. (die begin van die bewind van Assurnasirpal II), dus 2189 v.C.The History of Antiquity deur Maximilian Duncker, 1877, p. 26–30. Die Kroniek van Eusebius gee 'n ander datum aan: die troonbestyging van Ninus in 2057 v.C., maar die Armeense vertaling van die kroniek gee 2116 v.C. aan. Nog 'n datum, wat in die Excerpta Latina Barbari aangegee word, is 2206 v.C. onder Belus.
Vroeë Assirië, 2600–2335 v.C. Dit lyk of Assur, Nineve en 'n paar ander Assiriese stede reeds teen 2600 v.C. gevestig was. Hulle kon egter Sumeriese administratiewe sentrums gewees het. Omstreeks die laat 26ste eeu v.C. het Eannatum van Lagasj, toe die dominante Sumeriese heerser in Mesopotamië, genoem dat hy "Subartu [die Sumeriese naam vir Assirië] wil straf". In die vroeë 25ste eeu v.C. noem Lugal-Anne-Mundu, die koning van die Sumeriese staat Adab, Subartu op 'n lys stede wat heffings aan hom betaal.
Min is beslis bekend oor hierdie vroeë tydperk in Assirië se geskiedenis. Op die Assiriese Koningslys is die eerste koning wat genoem word Tudia. Dit lyk in argeologiese verslae of Tudia se bedrywighede bevestig word deur 'n tablet waarop vertel word dat hy 'n ooreenkoms gesluit het vir die oprig van 'n karum (handelspos) in die Ebla-gebied met "koning" Ibrium van Ebla (wat eintlik die hofamptenaar van koning Ishar-Damu was). Of dit werklik koning Tudia was, word nou betwyfel.
Tudia word op die koningslys opgevolg deur Adamu en dan nog 13 heesers (Yangi, Shuhlamu, Harharu, Mandaru, Imshu, Harshu, Didanu, Hanu, Zuabu, Nuabu, Abazu, Belu en Azarah). Niks konkreets is oor dié name bekend nie, hoewel 'n heelwat jonger Babiloniese tablet wat die voorouers van Hammurabi, die Amoritiese koning van Babilon, noem, oënskynlik dieselfde name van Tudia tot met Nuabu net so gekopieer het.
Die vroegste konings was "konings wat in tente gewoon het" en dus onafhanklike halfnomadiese, landelike heersers. Hierdie konings het later die "stadstaat" Assur gestig.Saggs, The Might, 24.
Tydens die Akkadiese en Nieu-Sumeriese Ryk Tydens die tyd van die Akkadiese Ryk (2334–2154 v.C.) het die Assiriërs, nes al die Mesopotamiërs en die Sumeriërs, deel geword van die stadstaat Akkad in Sentraal-Mesopotamië. Die ryk wat Sargon van Akkad (ook Sargon die Grote) gestig het, het glo die omringende gebiede ("vier uithoeke") ingesluit.
Assiriese heersers was dus onderdanig aan Sargon en sy opvolgers, en die stad Assur het 'n administratiewe streeksentrum van die ryk geword.
In dié tyd het die Akkadiessprekende Semiete van Mesopotamië oor 'n ryk begin heers wat nie net Mesopotamië ingesluit het nie, maar ook groot dele van Klein-Asië, antieke Iran, Elam, die Arabiese Skiereiland, Kanaän en Sirië.
Assirië was vermoedelik teen dié tyd gewikkel in handel in Klein-Asië; die vroegste bekende verwysing na Anatoliese karums in Hatti is ontdek op latere wigskriftablette wat die vroeë tydperk van die Akkadiese Ryk beskryf (omstreeks 2350 v.C.). Op dié tablette vra Assiriese handelaars in Burushanda die hulp van hul heerser, Sargon die Grote. Die naam "Hatti" is sowat 1 700 jaar lank regdeur die Assiriese Ryk gebruik. Dit verskyn selfs in latere vertellings oor Sargon se kleinseun, Naram-Sin, wat veldtogte in Anatolië gevoer het.
Assiriese en Akkadiese handelaars het skrif na Klein-Asië en die Levant versprei in die vorm van die Mesopotamiese wigskrif.
Teen die einde van Sargon die Grote se bewind het die Assiriese faksie teen hom gerebelleer; hulle is egter verslaan en Sargon het hulle "swaar gestraf".Malati J. Shendge (1 Januarie 1997). The language of the Harappans: from Akkadian to Sanskrit. Abhinav Publications. bl. 46. . URL besoek op 22 April 2011.
Die Akkadiese Ryk het in 2154 v.C. tot 'n einde gekom weens ekonomiese agteruitgang en interne burgeroorloë, gevolg deur aanvalle deur die barbaarse Goeteërs. Die heersers van Assirië het in die tydperk tussen omstreeks 2154 en 2112 v.C. weer heeltemal onafhanklik geword omdat die Goeteërs net in Suid-Mesopotamië geheers het. Die koningslys is egter die enigste inligting oor die Assirië van dié tydperk.
Die grootste deel van Assirië het deel geword van die Nieu-Sumeriese Ryk (of Derde Dinastie van Ur) wat omstreeks 2112 v.C. tot stand gekom het. Die Sumeriese oorheersing het tot so ver as die stad Assur gestrek, maar blykbaar nie tot by Nineve en die verre noorde van Assirië nie.