regs|250px|duimnael|Die Bosmanstraatse kerkgebou van die NG gemeente Pretoria, intussen deels verkoop aan die Verenigende Gereformeerde gemeente Melodi ya Tshwane. Dis ontwerp deur Klaas van Rijsse.

Die NG gemeente Pretoria is die oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Pretoria en nagenoeg die 59ste oudste gemeente in dié Kerk. Voor die verdeling van die Transvaalse Kerk in twee, drie en later vier Sinodes, was dit die vyfde oudste Transvaalse gemeente, net 12 jaar jonger as die oudste, Potchefstroom, gestig in 1842. Weens ingrypende demografiese veranderings in die sentrale dele van Pretoria sedert 1990, bestaan die gemeente sedert 2000 uit ses saamgestelde dele, naamlik die ou moedergemeente, Bronberg (1942), Burgerspark (1952), Arcadia (1951, waarby Meintjeskop in 1964 ingelyf is) en Harmonie (1957). Teen 2017 het ’n handjie vol Afrikaanssprekende NG lidmate in dié gebied oorgebly.

Stigting duimnael|regs|160px|Ds. A.J. Begemann is in 1860 of '61, toe hy pas uit Nederland aangekom het, as Pretoria se eerste predikant bevestig. Hy het sy emeritaat in 1872 aanvaar.

Die gemeente Pretoria dateer van die jaar 1854 of ‘55, toe daar maar nog 28 wonings gepryk het op die plek waar later een van die grootste stede van Suid-Afrika en daarby die administratiewe hoofstad sou verrys. Omdat die huidige NG gemeente Pretoria ’n voortsetting is van die Hervormde gemeente Pretoria wat tot 1885 bestaan het – toe die twee kerkverbande saamgesmelt het, maar 'n gedeelte van die Hervormde Kerk as sodanig bly voortbestaan het – is die stigtingsdatum van hierdie gemeente ook dié van Hervormde gemeente Pretoria, naamlik die naweek van 8 en 9 September 1855.

Die gemeente was byna agt jaar lank vakant terwyl ds. Dirk van der Hoff, die stigter van die Nederduitsch Hervormde Kerk, dié kerkverband se enigste leraar in Transvaal was. Omdat uit die Kaapkolonie geen predikant bekom kon word nie, het die lidmate hulle na Holland gewend waar prop. A.J. Begemann die beroep op sekere voorwaarde aanvaar het. Nadat hy die beroep aangeneem het, is hy op 7 Maart 1860 in die Grote Kerk van die Hervormde gemeente Den Haag as predikant van Transvaal georden. Nadat hy op 21 Junie daardie jaar in die Kaap aangekom het, het hy op Sondag 24 Junie die diens in die Groote Kerk namens ds. S.P. Heyns waargeneem. Op 30 Junie het hy per skip na Natal vertrek en van daar per ossewa na Potchefstroom gereis waar hy op 8 Desember aangekom het. Op Sondag 27 Januarie 1862 het ds. van der Hoff hom as Pretoria se eerste leraar bevestig.

Hervormde naas NG gemeente duimnael|links|300px|Kerkplein tydens 'n Nagmaalsviering omstreeks 1870. Die huis aan die linkerkant met die twee gewels was die pastorie van ds. A.J. Begemann en het op die plek gestaan waar die Paleis van Justisie nou staan. Die kerk is in die 1860's tydens ds. Begemann se dienstyd deur William Skinner, die latere landdros, en Edward Lewis Devereux herbou. Dit het diens gedoen tot dit in September 1882 afgebrand het.

In die eerste jare van Pretoria se bestaan was die Hervormde gemeente die enigste daar en van sy koms tot 1866 was ds. Begemann die enigste plaaslike predikant van enige kerkgenootskap. Die Gereformeerde gemeente is in 1859 gestig, maar kon sy eerste leraar in die persoon van ds. N.J.R. Swart eers in 1866 ontvang. Die Anglikaanse gemeente is in 1869 gestig en eerw. Joseph Wills is as eerste leraar bevestig. In 1867 het ds. Frans Lion Cachet 'n NG gemeente in die distrik gestig, wat streng gesproke die stigtingsdatum van die NG gemeente Pretoria is. Dié gemeente het klein en kwynend gebly en het nooit 'n eie predikant of kerkgebou op die dorp gehad nie, maar wel 'n klein geboutjie aan die Elandsrivier. Dié ds. Cachet het van 1865 af eiehandig die NG Kerk in Transvaal lewend gehou deur verwarring by Hervormde lidmate te saai en hulle te probeer wysmaak dat die Staatskerk (die Hervormde) liberaal was en gevaarlik vir die rus, vrede en welvaart van die Republiek. Ds. Begemann en sy kerkraad het in die distrik talle vergaderings gehou om die mense teen ds. Cachet se veldtog te waarsku. In Pretoria het ds. Cachet se veldtog geen ingang gevind nie, maar hy het wel in 1867 die gemeentetjie aan Pienaarsrivier opgerig wat, toe dit in 1885 met Kerkvereniging opgehef word, net 80 lidmate getel het.

Konsulentsgemeente gestig duimnael|regs|300px|Die eerste kerkgeboutjie op Pretoria, opgerig in 1855. Dit het so gelyk tot dit met 'n vleuel vergroot is in 1865.

duimnael|links|160px|Ds. G.W. Smits is gebore op 19 Junie 1836 in Renkum, Nederland, en oorlede op Rustenburg op 19 Junie 1894.

duimnael|regs|300px|Die eerste kerkgeboutjie ná die vergroting. So het hy gelyk tot hy verniel is in 'n storm in 1882 en kort daarna afgebrand het, "deur 'n vernielende hand".

Ds. Begemann het meermale met sy gemeentelede in botsing geraak omdat hy streng en reguit en nie juis taktvol was nie. Omdat die Hervormde Kerk die Staatskerk was, het die Reglement van Orde bepaal die Hervormde leraar moes die Volksraadsittings met gebed open en afsluit wanneer hy in Pretoria was. In Februarie 1864 het ds. Begemann laat weet hy kan nie die sitting met gebed afsluit nie weens "bezigheid". Die Volksraad het sy verskoning aangeneem, maar toe hulle op 1 Junie 1865 weer byeenkom, het ds. Begemann op die skriftelike uitnodiging van die voorsitter net laat weet dat hy nie beskikbaar sou wees nie. Die Volksraad was hieroor baie ontstemd en het dit in 'n brief aan ds. Begemann te kenne gegee. Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering het in dieselfde maand op Rustenburg byeengekom en van die weiering van die Pretoriase predikant kennis geneem. Daarop het die vergadering besluit dat die leraar "deur sy handelswyse hom skuldig gemaak het aan minagting van die wettige landsbestuur en dus ontrou geword het aan sy roeping om die gemeente voor te gaan in behoorlike betoning van agting vir die wettige verteenwoordigers van die land".

Die vergadering het ook besluit dat die beskuldigde kans moes kry om sy optrede te verduidelik, maar toe hy dit op die Algemene Kerkvergadering van November 1868 doen, was hulle ontevrede met sy verklaring en het hulle sy handelswyse afgekeur. Die Volksraad was tevrede hiermee en daarna het ds. Begemann weer op gesette tye die sittings met gebed geopen en afgesluit.

In die gemeente het sommige lidmate ontevrede gebly met hul predikant, onder meer omdat hy net een maal per maand die doop wou bedien. Ds. Begemann het nie die nodige takt gehad om die gemoedere te bedaar nie. In Desember 1867 het 'n aantal lidmate onder leiding van komm. S.T. Prinsloo en J. Botha 'n versoek aan ds. G.W. Smits van Rustenburg gestuur waarin hulle versoek dat hy hulle as konsulent bedien. Die beswaardes het in die wyk Elandsrivier (die latere Witfontein en Rhenosterpoort in die omgewing van Bronkhorstspruit) gewoon en op 17 Februarie 1868 het ouderlinge H.S. Pretorius en J.H. de Beer en diaken P.C. Minnaar 'n byeenkoms met die mense daar gehou om hulle te probeer tevrede stel. Die beswaardes was wel vas aan die Kerk, maar het probleme met ds. Begemann gehad. Toe hulle hoor dat hulle persoonlik hul klagtes teen die predikant by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering sou moes gaan indien, het hulle blykbaar vereers daarvan afgesien.

'n Paar maande later het iets gebeur wat die herstel van die breuk onmoontlik gemaak het. Die Vrymesselaars van Pretoria het 'n nuwe losie gebou en in Augustus 1868 ds. Begemann gevra om 'n passende gebed tydens die inwyding te doen. Hy was nie 'n Vrymesselaar nie, anders as pres. M.W. Pretorius, maar het gemeen dat dit beter was om aan die uitnodiging gehoor te gee. Hierdeur is die beswaardes heeltemal van hul predikant vervreem. Twee lidmate van sy eie gemeente – wat nie behoort het tot die beswaardes van Elandsrivier nie – het hom by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering aangekla. Die kommissie het op 16 November 1868 op Pretoria vergader om die klagte te behandel, maar het bevind dat hy hom deur die doen van die gebed nie strafbaar gemaak het nie.

Voor die vergadering was ook 'n versoek van 69 lidmate wat wou hê dat die kommissie 'n konsulent benoem wat hulle kerklik kon bedien omdat hulle ds. Begemann nie meer as hul predikant wou hê nie. Nadat die kommissie met die kerkraad beraadslaag het, het die kerkraad ingestem dat die beswaardes vir hulle 'n konsulent kon kies. Hulle het ds. G.W. Smits gekies wat op 1 Februarie 1869 die eerste keer voor die beswaardes opgetree het en wel in die Hervormde kerkgebou in Pretoria. Die beswaardes het 'n ouderling en diaken gekies wat ds. Smits met kerktye kon help. Die Algemene Kerkvergadering wat op 29 November 1869 op Heidelberg byeengekom het, het die hele aangeleentheid uitvoerig behandel. Hier is die beswaardes as selfstandige gemeente erken met die naam “Nederduitsch Hervormde Gemeente van Pretoria onder Consulentschap van den Predikant G.W. Smits”, met stigtingsdatum 29 November 1869. Die vergadering het bepaal dat die nuwe gemeente geen aanspraak op die kerklike eiendom van Pretoria se gemeente kon maak nie; so het Pretoria dan twee Hervormde gemeentes gekry, naas die Gereformeerde en die NG gemeente.

Ds. Begemann geskors duimnael|regs|340px|Nagmaal op Kerkplein omstreeks 1895.

Die toestand in Pretoria het nog gespanne gebly en begin 1872 het daar 'n nuwe moeilikheid met ds. Begemann gekom toe hy die akademiese vraagstuk van tekskritiek in die gemeente bring. Eers in 'n privaat gesprek en later in 'n kerkraadsvergadering het hy gesê Joh. 5:7 is later in die Bybel ingevoeg en hoort nie daarin nie, so ook die eerste verse van die agtste hoofstuk van die Evangelie van Johannes. Die kerkraad het hom by die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering verkla. Daarna het hy by die kerkraad aansoek gedoen om sy ontslag te neem, want dié keer het hy besef dat die storm nie bedwing kon word nie, maar hy wou hê die kommissie moes eers die saak behandel voor hy sou aftree. Die kommissie het op 11 Maart 1872 op Potchefstroom vergader en onder meer beslis dat hy "elke daad wat daartoe kan strek om die gesag van die Bybel by die gemeente te verminder, afkeur as synde gevaarlik, ontydig en onnodig". Die kommissie het ook beslis dat die woorde van ds. Begemann "bedoel was om kwaad en geen goed te doen nie, terwyl 'n dienaar van die evangelie hom moet beywer om te vergader en nie om te verstrooi nie". Gevolglik gee die kommissie sy afkeuring oor die woorde van die predikant te kenne en skors hom vir drie maande met 'n verlies van traktement (besoldiging).

Die lang vakature duimnael|regs|160px|Dr. J.J. Kotzé is ná ds. Begemann se aftrede beroep, maar het bedank nadat die kerkraad hom nie verantwoordelik wou stel vir 'n salaris van £400 per jaar nie. duimnael|160px|links|Ds. S.J. du Toit se beroep het 'n beroering in die gemeente Pretoria veroorsaak, maar hy het dit bedank. regs|160px|duimnael|Ds. N.J. van Warmelo het die gemeente daarteen gewaarsku om prop. S.J. du Toit te beroep.

Ná ds. Begemann se aftrede het 'n vier jaar lange vakature ontstaan. Die kerkraad het op 28 November 1872 byeengekom onder voorsitterskap van ds. N.J. van Warmelo om 'n predikant te beroep. Dr. J.J. Kotzé van die NG gemeente Richmond is beroep. Op 'n rondreis 'n paar maande vantevore het hy sy vooroordeel teen die Hervormde Kerk laat staan en 'n gunstige indruk op lidmate gemaak. Ongelukkig het hulle nie besef dat sy houdings jeens die Republiek se onafhanklikheid dieselfde was as die deursnee- koloniale predikant s'n nie. Van die houding dat hy geen staatkundige heil vir Transvaal kon sien sonder die Britse vlag nie, het hy egter niks laat blyk nie. Ná die beroep het dr. Kotzé gevra dat hulle die besoldiging tot £400 per jaar moes verhoog. Die kerkraad wou hom nie vir so 'n bedrag verantwoordelik stel nie; daarom het dr. Kotzé die beroep bedank.