Damon Galgut (Pretoria, 12 November 1963) is 'n Suid-Afrikaanse skrywer wat in Engels skryf. Op 3 November 2021 het hy die Booker-prys vir sy boek The Promise gewen. Sy werk was ook in 2003 en 2010 op die kortlys vir die prys.

Vroeë lewe en opvoeding Galgut is in Pretoria, Suid-Afrika, gebore. Sy vader was uit 'n Joodse familie en sy moeder het haar tot die Judaïsme bekeer.

Galgut het in 1981 aan Pretoria Boys High School gematrikuleer en was in dié jaar sy skool se hoofseun. Hy het daarna drama aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Letterkundeloopbaan Galgut het sy eerste roman, A Sinless Season (1982), geskryf toe hy 17 jaar oud was. Sy volgende boek was 'n versameling kortverhale met die titel Small Circle of Beings (1988). Sy roman The Beautiful Screaming of Pigs (1991) het in 1992 die Central News Agency-prys vir Letterkunde gewen.

Van sy volgende roman, The Quarry (1995), is 'n rolprent gemaak wat in 1998 uitgereik is. 'n Tweede weergawe is in 2020 uitgereik.

Nadat sy vyfde roman, The Good Doctor, in 2003 gepubliseer is, het Galgut se werk beter bekend geraak buite Suid-Afrika. Die boek is goed deur resensente ontvang en was in 2003 op die kortlys vir die Booker-prys. Dit het ook die Statebondskrywersprys vir Beste Boek: Afrika (2003) gewen.

Sy roman In a Strange Room was op die kortlys vir die Booker-prys vir fiksie. Sy roman The Promise het in 2021 die Booker-prys gewen. Hy was die derde Suid-Afrikaanse skrywer wat dit wen, naas Nadine Gordimer en J.M. Coetzee, wat twee keer gewen het.

Galgut sê die tema van die boek is tyd. Die oorspronklike idee kom van 'n gesprek met 'n vriend, wat die laaste oorblywende lid van sy familie is. Hy het Galgut vertel van die begrafnisse van sy ma, pa, broer en suster wat hy bygewoon het.

Benewens sy romans het Galgut verskeie toneelstukke geskryf. Toe hy die Booker-prys wen, was hy aan die werk aan 'n versameling kortverhale.

Persoonlike lewe Galgut is gay en het al gesê dit laat hom in sy skryfwerk meer op manlike verhoudings fokus. Hy woon sedert die vroeë 1990's in Kaapstad.

Galgut is 'n ywerige reisiger en het The Good Doctor in 'n hotel in Goa, Indië, geskryf. Hy sê hy is "obsessief' oor joga en het vir 'n ruk nie 'n motor of televisie besit nie. Hy het 'n "fetisj oor skryfbehoeftes" en skryf sy boeke eers in lopende skrif en tik dit daarna op 'n tikmasjien. Hy gebruik 'n spesifieke Parker-skilpaddopvulpen vandat hy 20 is.

Werke Romans A Sinless Season, 1982 Small Circle of Beings, 1988 The Beautiful Screaming of Pigs, 1991 The Quarry, 1995 The Good Doctor, 2003 The Impostor, 2008 In a Strange Room, 2010 Arctic Summer, 2014 The Promise, 2021

Toneelstukke Echoes of Angers Party for Mother Alive and Kicking The Green's Keeper

Verwysings

Skakels

Kategorie:Geboortes in 1963 Kategorie:Lewende mense Kategorie:Suid-Afrikaanse dramaturge Kategorie:Suid-Afrikaanse Jode Kategorie:Suid-Afrikaanse skrywers