Jeanette (Jeanne) Helena Goosen (13 Julie 1938 – 3 Junie 2020) was 'n veelsydige Suid-Afrikaanse skrywer wat in Parow, Kaapstad, gebore is. Sy het verskeie beroepe gevolg, onder meer as radiografis, boer, visser en ook joernalis by Afrikaanse dagblaaie soos Oggendblad, Hoofstad en Die Transvaler. Sy het ook vir die Natalse blad Tempo gewerk. Sy het aan die Hoërskool Parow gematrikuleer en het daarna radiografie aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Van haar bekendste werke is ’n Uil vlieg weg, Ons is nie almal so nie, Wie is Jan Hoender?, die kortstorie ’n Kat in die sak, die toneelstuk Kombuis-blues en ook kabaretstukke. Haar eerste werk, die poësiebundel ’n Uil vlieg weg, is reeds in 1971 gepubliseer. Haar boek Ons is nie almal so nie het die CNA-, Rapport- en M-Net-prys verower.http://www.esaach.org.za/index.php?title=Goosen,_Jeanne(tte_Helena)

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms Jeanette Helena Goosen is op 13 Julie 1938 in Parow gebore as die middelste van drie kinders, en word ook daar groot. Haar pa was ’n tekenaar by die spoorweë en haar ma ’n huisvrou. Sy druip standerd drie, wat sy aan haar onoplettendheid as kind toeskryf. Op agtjarige ouderdom begin sy met klavier en ’n paar jaar daarna met die klarinet.http://esat.sun.ac.za/index.php/Jeanne_Goosen Sy studeer musiek aan die Rondebosch School of Music, verwerf haar Unisa-lisensiaat in musiek en kry ook formele opleiding in musiek onder Magriete Herbst van Parow en Japie Malan en Toronti Florenti van die Kaap. Haar eerste werk is in standerd ses as junior Kersvader by Ackermans in Parow. Sy matrikuleer aan die Hoërskool J.J. du Preez in Parow en ontvang dan ’n beurs van die Universiteit van Kaapstad, waar sy radiografie en drama bestudeer. Daarna volg sy ’n Diploma in Radiografie aan ’n tegniese kollege en werk vir ’n ruk in hospitale as radiografis en arbeidsterapeut. Later studeer sy ook drama aan die Akademie van Dramakuns in Kaapstad, hoewel sy nie self toneelspeel nie en die kursus deurloop om as skrywer meer van dramas te wete te kom. As jong vrou is sy verloof aan ’n wetenskaplike, maar trou nooit nie.

Loopbaan duimnael|regs|240px|Jeanne Goosen in 1968. Die onderskrif by dié foto in Foto-Beeld van 21 April 1968 lui: "Jeanne Goosen het ’n loopbaan as radiografiste laat vaar om meer aandag aan die skryfkuns te wy. Benewens poësie skryf sy ook grillerige fantasie en prosa, oor soldate wat na die front gestuur word met stukkende gewere, en reisigers wat hul bestemming nie kan bereik nie. Vir ontspanning peuter sy met elektroniese apparate." Regdeur haar lewe beoefen sy ’n verskeidenheid beroepe en doen verskeie werke, met haar skryfwerk, deeltyds of voltyds, die enigste konstante. Sy is onder meer kunsredakteur by die destydse koerant Hoofstad in Pretoria en joernalis by onder andere Oggendblad, Tempo en Die Transvaler, bibliotekaris by die Vloot, radiografiste, stoorkamerwerker, vertaler, sitrusboer by Hartebeeshoek, kleuterskoolonderwyseres, visser aan die Weskus, smous, afslaer, en voltydse skrywer. Sy is ’n swerwer wat nooit lank op een plek bly nie. Sy is gebore in die Kaap, woon vir ’n ruk op Groblersdal en lank in Pretoria en Johannesburg, dan aan die Weskus en trek daarna Karoo toe waar sy twee jaar op Graaff-Reinet bly. Hierna verhuis sy na die plaas Dassenberg naby Franschhoek, waar sy in 1986 joernalis is by die plaaslike koerant The Paarl Post en later voltyds skryf. Daarna vestig sy haar in Durban waar sy by die koerant Tempo werk en onder andere naweekaande by ’n immigranteklub klavier speel en bas sing. Intussen bly sy ook op Keurboom naby Plettenbergbaai, waar sy baie van haar tyd spandeer aan visvang. In 2000 verhuis sy na Hartbeeshoek naby Hartbeespoortdam, later na ’n plek tussen Brits en Pretoria-Noord en dan in 2001 na Brixton, Johannesburg, voordat sy haar ongeveer ’n jaar later in Melkbosstrand vestig. Daarna trek sy na woonstelle in Tafelsig en later Parklands in Kaapstad. Sedert 2004 is sy ’n gereelde rubriekskrywer in By, bylae tot Die Burger, met haar rubriek “Kaalvuis”, terwyl sy gereeld praatjies oor haar boeke lewer en keurverslae opstel vir uitgewers. Sy kry ook geldelike hulp van die skrywer Reinet Nagtegaal wat haar in staat stel om voltyds te skryf.

Politieke werk Vroeg in haar werkende lewe word sy ’n lid van die Liberale Party en maak so kennis met Alan Paton en Mary Benson. Hierdie kontak oefen ’n blywende invloed op haar verdere denke uit. In die sewentigerjare raak sy betrokke by die tydskrif Wurm en word deel van ’n groep kunstenaars en kunsliefhebbers wat hulle heftig teen die sensuurwetgewing en die toe-passing daarvan verset. Sy ontmoet die skilder Walter Battiss in hierdie konteks en kom diep onder die indruk van sy “Eiland van Verbeelding”, Fookeiland. Die elemente van verset teen burgerlike norme en die ontvlugting weg van daardie burgerlike bestaan deur skepping van fantasie kry gestalte regdeur haar oeuvre. In 1989 is sy een van die afvaardiging van Afrikaanse skrywers wat die toe nog verbode ANC by die Victoria Waterval in Zimbabwe ontmoet. Sy dien in die bestuur van die Afrikaanse Skrywersgilde en is gekant teen alle vorme van onderdrukking en sensuur. Sy tree ook op as beoordelaar vir die toekenning van die Nagtegaalprys vir nuwe dramatekste.

Persoonlike lewe Weens haar uitgesprokenheid beland sy meermale in die warm water. Deborah Steinmair noem in 'n LitNet-artikel dat Goosen al deur Sandra Prinsloo as ’n anargis en deur Ampie Coetzee as “almal se geliefde rebel” beskryf is.

Op 24 Februarie 2011 word sy na ’n hartaanval in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad opgeneem. Voordat sy ’n pasaangeër kon kry, moes sy eers aansterk vir die operasie. Sy herstel gelukkig weer hierna.

Sy sterf op 3 Junie 2020 in die ouderdom van 81 in haar huis in Melkbosstrand, Kaapstad.https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/jeanne-goosen-sterf-op-81/ Opgespoor en besoek op 3 Junie 2020

Skryfwerk

Poësie Wanneer sy twaalf is publiseer sy reeds haar eerste gedigte in Rooi Rose en sy skryf ook vir Die Jongspan. Later publiseer sy gedigte in verskeie tydskrifte, insluitende Standpunte, Sestiger, Kol en Donga. Haar vroeë gedigte word gebundel in 'n Uil vlieg weg. Die bundel word nie in afdelings ingedeel nie, wat die bepaling van tematiek bemoeilik, en bevat ’n groot aantal stylvorms en tegnieke. Liefdesgedigte en die verloop en afloop van die verhouding is ’n belangrike tema. Opstand en protes teen die heersende bestel en die onveiligheid en onderdrukking daarvan, asook onderdrukking van persoonlike gevoelens is sommige van die ander temas wat aangespreek word. Sy maak enersyds gebruik van konvensionele digtegnieke wat makliker verstaanbaar is en andersyds ook van ’n meer geslote, assosiatiewe, irrasionele en soms surrealistiese soort gedig. Die hele bundel staan in die teken van verset teen die gewone. Soos die temas en die stylvorme, is ook die gehalte van die gedigte divers. In Die dag op Nuweland word die Afrikaner se beheptheid met rugby belaglik gemaak en gehekel, met die beeldspraak wat die aggressie en geweld van die sport mooi raakvat.Coetzee, A.J. Standpunte. Nuwe reeks 102, Augustus 1972

Orrelpunte ontgin soos die titel aandui primêr die wisselwerking van musiek en klank met taal. ’n Orrelpunt is ’n musikale konstruksie waarin ’n toon of motief in een stem herhaal word, terwyl die ander stemme vry beweeg, wat dikwels interessante wisselwerking en verrassende resultate tot gevolg het. Die bundel toon egter nie blyke van dieselfde verrassingselement nie. Die gedigte is hoofsaaklik negerend van aard, tot so ’n mate dat daar selfs 'n vraagteken geplaas word agter positiewe dinge en die bundel sterk oorhel na die nihilisme. Die beelding in Siener en Gustav Mahler beïndruk, terwyl ’n besondere effek bereik word met die satire in Pretoria en Waterkloof 1974. Gesprek met 'n komper is ’n geestige gesprek tussen ’n kliënt en ’n rekenaar, wat nie oor die vermoë beskik om die fynere geestelike behoeftes van die mens te bevredig nie.Brink, André P. Rapport, 21 Desember 1975De Vries, Abraham. Beeld, 8 Desember 1975Cloete, T.T. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 16 no. 2, Junie 1976Johl, Johann. Standpunte. Nuwe reeks 125 Oktober 1976

Na ’n digterlike swye van meer as dertig jaar verskyn Elders aan diens. Die titel slaan op verskeie aspekte van die bundel, waaronder eerstens afskeid en afstandname van mense soos gestorwe ouers en grootouers, die gewese geliefde en vriende wat die land verlaat het. Dit impliseer ook die spreker se rebellie teenoor die gemeenskap, soos blyk uit haar teensinnigheid in kerklike en religieuse skynheiligheid en menslike selfsug, asook haar depressiwiteit en wanhoop. Menslike eienskappe word dikwels gekontrasteer met die eenvoudiger en meer welwillende aard van diere. Hierdie bundel word in 2008 tot kabaret verwerk en opgevoer.

Versamelbundels Haar verse word opgeneem in talle versamelbundels, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, Die dye trek die dye aan, Liggaamlose taal, Woordpaljas, Die goue vreugde, Voorspraak en die Versindaba bundels wat jaarliks na hierdie fees uitgegee word. In 2020 word haar gedigte Sonneblom, herontmoeting, nog nooit het ek mooier geskilder, My mamma is bossie en My ma gooi 'n pannekoek in die lug in op in Vers en vrou opgeneem.De Wet, K. (samest.): Vers & vrou. Human & Rousseau. Kaapstad. 2020 By verskeie geleenthede lees sy van haar gedigte in die openbaar voor, onder andere by Versindaba 2007 op Stellenbosch.Cloete, Eckhard: Boeke-Insig no. 1. Lente 2007Cloete, T.T.: Beeld, 22 Oktober 2007Odendaal, Bernard: Rapport, 30 September 2007

Drama