Hermanus Jacobus Kriel (1941–2015) was 'n minister van wet en orde in die kabinet van F.W. de Klerk, asook die eerste premier van die Wes-Kaap in 1994.

Kriel is op 14 November 1941 op Kakamas in die Noord-Kaap gebore. Hy het 'n B.A.- en 'n LLB-graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Daarna was hy 'n prokureur tot in 1981, waarna hy tot die uitvoerende komitee van die Kaapse Provinsiale Raad verkies is.

Op 1 Junie 1990 het hy, as die minister van beplanning en provinsiale sake, die Wetsontwerp op die herroeping van diskriminerende wetgewing betreffende openbare geriewe by die Parlement ingedien.

Van 1991 tot 1994 was hy die minister van wet en orde. Hy was verantwoordelik vir die aanstel van 'n ombudsman om bewerings van wangedrag onder polisielede te ondersoek. Hy het ook die aantal swart lede in die Polisie uitgebrei, 'n eenheid vir onlustebeheer (wat apart van die SAP funksioneer) daargestel, en 'n kode vir polisie-optrede ontwikkel.

Kriel het van 11 Mei 1994 tot 11 Mei 1998, steeds as 'n lid van die Nasionale Party, as premier in die Wes-Kaap gedien. Hy was bekend daarvoor dat hy die objektiwiteit van Waarheid-en-versoeningskommissie bevraagteken het. Hy het ook die herinstelling van die doodstraf bepleit.

Hy is op 5 Julie 2015 oorlede.

Verwysings

Kategorie:Geboortes in 1941 Kategorie:Sterftes in 2015 Kategorie:Suid-Afrikaanse ministers