A.G. Visser (1 Maart 1878 – 10 Junie 1929) was ’n dokter en Afrikaanse digter wat twee keer met die Hertzogprys bekroon is. Hy was algemeen bekend as die "sanger van die Suikerbosrand".
Lewe en werk duimnael|300px|Die AG Visser-huis in Heidelberg, Gauteng.
Andries Gerhardus Visser is op 1 Maart 1878 op die plaas Zaaifontein in die distrik Fraserburg in die Noord-Kaap gebore, waar sy vader hom in 1877 tydelik gevestig het om weiveld te kry vir sy vee. 'n Groot droogte het sy ouers van hulle plaas in die distrik Carnarvon verdryf, en hy is in 'n tentjie op die werf van die plaashuis, onder die skaduwee van 'n peerboom gebore. Hy gaan skool op Daljosafat (twee ander bekende skrywers, Totius en D.F. Malherbe is in dié tyd ook saam met hom op skool), ontvang opleiding in onderwys aan die Normaalkollege te Kaapstad, en studeer in die geneeskunde in Edinburg, Skotland, van 1901 tot 1906.
Hy is die derde seun en een van ses kinders van Andries Gerhardus Visser en Martha Engela Elizabeth Roussouw, wat in 1873 met mekaar getroud is. Hy het vier broers (Floris, Daniël, Frans en Jan) en een suster (Anna Engela Magdalena). Sy vader is ’n prominente man in die samelewing en word in 1904 vir die kiesafdeling Victoria-Wes tot Kaapse parlementslid verkies. Hy doen egter afstand van sy setel ten gunste van John X. Merriman, maar word in 1908 weer deur hierdie kiesafdeling verkies en word later ook lid van die Kaapse Provinsiale Raad. Sy vader het ook gedigte geskryf en is op 20 Oktober 1916 op Carnarvon oorlede, nadat sy ma reeds in 1907 oorlede is. Die jong Andries word groot op die ou familieplaas Bloukrans naby Carnarvon wat sy vader na die dood van sy oupa in 1890 erf. Aanvanklik word hy tuis saam met sy broers en suster onderrig deur die Hollander Koos Karstens. Saam met onder andere Totius en D.F. Malherbe woon hy dan eers in sy dertiende jaar vanaf Julie 1891 die Gedenkschool der Hugenoten in Daljosafat by, waar hy tot Junie 1894 ’n leerling is. Vanaf Julie 1894 tot Junie 1896 is hy student aan die Normaalkollege in Kaapstad, waar hy in 1896 matrikuleer en hom ook as onderwyser bekwaam deur die ou Middle Class Teacher’s Examination te slaag. Hy slaag ook etlike Taalbondeksamens en ’n Musiekeksamen. Na kwalifikasie kry hy onmiddellik ’n tydelike pos tot September 1896 as onderwyser aan die Gedenkschool der Hugenoten, waarna hy vir die res van 1896 tot 1901 onderwys gee en in Junie 1898 ook skoolhoof word aan die Publieke Skool op Carnarvon.
Tydens die Anglo-Boereoorlog kom hy in botsing met die Britse militêre owerheid en word hy selfs in April 1901 gevange geneem weens sy uitgesproke simpatieke houding jeens die Boeremagte. Hoewel hy deur bemiddeling van die dorp se inwoners dieselfde dag nog vrygelaat word, maak die owerheid die lewe vir hom baie moeilik. Hy besluit dan om hom as geneesheer te bekwaam en bedank sy pos as skoolhoof in September 1901. In Oktober 1901 vertrek hy na Edinburg, Skotland waar hy in Julie 1906 sy opleiding as medikus voltooi. Hoewel hy hom hoofsaaklik op sy studies toespits en nie veel aan die breër studentebedrywighede deelneem nie, word hy tog in 1904 gekies as die verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Unie op die Verteenwoordigende Studenteraad. Tydens sy verblyf in Skotland gebruik hy ook die geleentheid om talle reise na die Europese vasteland te onderneem en hy besoek onder andere Duitsland en Nederland tydens die somervakansie van Julie tot Oktober 1902. Terug in Suid-Afrika word hy vanaf die einde van 1906 tot 1909 geneesheer op Carnarvon. Hier stig hy en D.F. Malherbe, op daardie stadium hoof van die plaaslike skool, die Jongelingsvereniging van Carnarvon om Afrikaans se stryd om erkenning te bevorder. Onder andere word daar een keer per maand “joernaalaand” gehou en Visser se bydraes hiertoe word in 1969 onder die titel “Joernaalaand” gepubliseer. Hierna is hy vanaf 1909 tot 1916 geneesheer op Steytlerville. Sy musiekaanleg blyk daaruit dat hy in April 1912 twee orrelsolo’s lewer tydens ’n musiekprogram van die NG Kerk. In dieselfde jaar ontmoet hy die onderwyseres Aletta Francina (Lettie) Conradie van Murraysburg (gebore 1889), die Laetitia van sy verse, wat sedert 1908 op Carnarvon onderwys gee. Op 13 Augustus 1913 trou hy met haar. Hulle eerste kind, Andries, word op 24 Februarie 1915 op Steytlerville gebore. links|duimnael|Borsbeeld en huis van Dr. A.G. Visser in Heidelberg, GautengWanneer ernstige droogte op Steytlerville heers en die gemeenskap van Heidelberg in Transvaal hom versoek om hom daar te vestig, trek hy in November 1916 daarheen. Hier bly hy tot met sy dood en verkry ’n reputasie as ’n uiters knap dokter wat meermale self groter operasies plaaslik gedoen het. Sy pligsbesef en opofferende geaardheid veroorsaak dat hy geen oproep weier nie en tydens die griepepidemie in 1918 vir weke feitlik geen rus kry nie. Ten spyte van sy opofferings, stuur hy min rekeninge uit. Op Heidelberg neem hy ryklik deel aan die gemeenskapslewe. Hy word gekies as lid van die Beherende Liggaam van die Heidelberg Hoër Volkskool, is president van die Afrikaanse Kultuur- en Toneelvereniging en word in 1918 ook lid van die Stadsraad. By musiekkonserte speel hy gereeld klavier en hy reël ook kunsaande, waar hy die plaaslike gemeenskap blootstelling gee aan die kunswerke van Suid-Afrikaanse kunstenaars. Op 28 Maart 1918 word die egpaar se tweede kind, Anna, gebore. Met die geboorte van die derde kind, Willie, op 24 Januarie 1920 tree daar egter ernstige komplikasies in en sy vrou is op 3 Februarie 1920 oorlede. Hierna woon sy stiefmoeder by hom in ten einde te help met die versorging van die kinders.
Eugène Marais vestig hom in Junie 1922 as prokureur op die dorp en hulle knoop ’n besondere vriendskap aan. Marais woon selfs ’n tyd lank by hom in. Aan die begin van 1924 het Visser ’n ernstige hartaanval en vertoef meer as twee maande in die hospitaal. Hoewel hy herstel, kry sy gesondheid ’n knak. In 1926 word hy ook as distriksgeneesheer aangestel en neem sy verantwoordelikhede verder toe. Nadat sy liefde aanvanklik onbeantwoord gebly het, trou hy op 4 Julie 1927 in Braamfontein in Johannesburg met Marie de Villiers, oorspronklik van die Paarl, wat hy reeds in Januarie 1921 ontmoet toe sy begin onderwys gee op Heidelberg. Hy word in 1927 verkies tot lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In sy laaste jare ontwikkel hy ’n oogkwaal wat hom baie las gee. Hy is benewens Afrikaans, Engels en Nederlands ook Duits, Frans en Italiaans magtig. Op Maandag 10 Junie 1929 is hy aan ’n hartaanval in sy huis op Heidelberg oorlede.
Skryfwerk Reeds in sy skooljare dig hy en in sy tyd op Carnarvon publiseer hy onder die voorletters AV of AGV enkele geestige gedigte in die algemene trant van die Eerste Taalbeweging in Ons Klyntji. Hierdie gedigte sluit in “Di cigarette”, “Di eerste fersoek fan Japi an syn frou”, “’n Saak het twe kante” en “Oom Fani Brink”, wat later deur S.J. du Toit in sy bundel “Afrikaanse gedigte byeenfersameld” opgeneem word. “’n Saak het twe kante” met subtitel “Samespraak tussen Jan Aangeneem en Klaas Afgesê, o’er Sarie Takhaar”, is ’n samespraak wat in Desember 1896 in “Ons Klyntji” verskyn en later deur F.C.L. Bosman opgeneem word in “Di Bedriegers, Magrita Prinslo en ander Afrikaanse dramas en samesprake tot 1900”. Hierin kan Jan, wat Sarie se jawoord gekry het, nie haar voortreflikhede en skoonheid genoeg besing nie, terwyl Klaas, wat afgesê is, haar nie genoeg kan slegsê nie. Die stuk word in 1907 in die Paarl deur die Christen Jeugvereniging van Warmwater opgevoer as “My nooi se naam is Sarie Takhaar”. Op universiteit in Skotland skryf Visser ’n aantal anonieme gedigte in Engels, wat in die universiteitsblad The Student gepubliseer word. Hoewel Visser na hierdie vroeë begin aanhou dig, neem hy dit nie ernstig op nie en word sy gedigte nie gepubliseer nie. Die enigste uitsondering is die gedig “Die jongste burger” wat in Oktober 1910 in Die Brandwag verskyn en later ook in sy debuutbundel opgeneem word. Dis eers wanneer Eugène Marais hom aanmoedig dat hy vanaf 1923 ernstig begin skryf en sy verse beskikbaar stel vir publikasie. Hierna verskyn etlike verse van hom in Die Huisgenoot, Die Burger, Die Boervrou en Die Kerkbode.
Visser publiseer vroeg reeds; op agtien, in Ons Kleintji. Sy werk word egter nie gesien as deel van die Eerste Taalbeweging nie, maar as die einde van die poësie vir die periode tot 1930. Hy wen twee maal die Hertzogprys vir letterkunde, naamlik vir sy eerste sowel as tweede digbundels. Sy verse is kenmerkend eenvoudig en sangerig. Hy dryf die spot met die Afrikaner en sy gewoontes, maar met 'n goeie hart. Hy maak gebruik van tradisionele versvorms soos die rondeel; van intertekstuele verwysings; en tegnieke soos die omdop van idiome, puntdigte, epigramme en woordspelings.
Hy lewer veral liefdesverse wat nog baie konvensioneel aandoen met digterlike taal en retoriek en gebondenheid aan versvorm, klank en rym, slegs sommige waarvan die toets van die tyd deurstaan. Veral opvallend is die effek van sang en melodie wat hy bereik deur die ritme van sy gedigte en mildelike gebruik van musiekterme. In lyn met die destydse mode lewer hy ook verskeie vaderlandse verse, waarvan meeste in die vergetelheid verdwyn het. Op die gebied van die geestige poësie lewer hy ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse literatuur. Veral “Lotos-land” en “Toe die wêreld nog jonk was” munt uit in hulle geestigheid. As digter is een van sy sterkpunte sy rymvirtuositeit en hy slaag daarin om ’n groot aantal rymvondse te skep, wat die leser telkens verras. Hy lewer ook ’n belangrike bydrae met sy kinderverse, waarvan ’n handvol in “Gedigte” gepubliseer word. Na sy dood word in “Uit ons prille jeug” ’n hele bundel daaraan gewy. Op sy eiesoortige manier sorg hy ook vir verbreding in die digkuns van sy tyd en staan hy met sy geestige en speelse gedigte tussen die vaderlandse verse van sy voorgangers en die belydenisverse van die Dertigers. Sy digkuns verwerf ’n algemene populariteit by die breë bevolking wat geeneen van sy tydgenote te beurt val nie. Hierdie gewildheid kan toegeskryf word daaraan dat dit eenvoudig en maklik verstaanbaar is, asook hoofsaaklik vrolik en genotvol, terwyl die vele toonsettings daarvan die bekendheid van sy werk verder bevorder.