Diederik Johannes Opperman (1914–1985) was 'n professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. As Afrikaanse digter en dramaturg verower hy die Hertzogprys vir beide poësie en drama.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Opperman,_Diederik_Johannes

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms duimnael|regs|D.J. Opperman aanvaar in 1960 die professoraat in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hier hou hy op 26 Februarie daardie jaar die lesing "Kolporteur en kunstenaar", sy eerste openbare optrede in sy nuwe hoedanigheid. Diederik Johannes Opperman is op 29 September 1914 op die familieplaas Geduld nr. 2 naby Dannhauser in die distrik Dundee in Natal gebore.Kannemeyer, J.C. “D.J. Opperman: ’n Biografie” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1986Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/opperman.html

Hy is die oudste van agt kinders, vyf seuns en drie dogters (van wie een vroeg oorlede is), van Diederik Johannes Opperman (5 Junie 1891 – 20 Mei 1943) en Heila Susanna Magdalena Botha (13 November 1892 – 27 Augustus 1956). Sy broers was Hermanus Lambertus (Maans) (gebore 1917), Louis Petrus (1923), Christiaan Christoffel (Chris) (1926) en Jacobus Abraham (Koos) (1930) en sy susters was Elizabeth Margaretha (Liz) (1918), Louisa Petronella (1920–1921) en Violetta Susanna (Vi) (1921).

Sy vader slaag slegs standerd ses, maar was ’n skrander man wat weens gebrek aan geleerdheid nooit sy volle potensiaal verwesenlik het nie. Hy is aanvanklik boer op die familieplaas en later spoorwegwerker en versekeringsagent van beroep, maar was geïnteresseerd in die Oosterse wysbegeerte en die spiritisme en het in sy vrye tyd geskilder.

Die gesin verhuis gereeld as gevolg van die vader se beroepsveranderinge. Dirk se eerste lewensjare bring hy op sy grootvader se plaas Stedham deur, naby die sendingstasie Glückstad in die distrik Vryheid in Natal. Weens die gesukkel om ’n lewe as boer te maak, verhuis die gesin in 1917 na Ladysmith, waar sy vader se broer Chris reeds as spoorwegamptenaar werk en sy vader ook in hierdie amp by hom aansluit. In 1918 verhuis hulle na sy moeder se familiedorp Memel in die Vrystaat, waar die vader as grofsmid werk. Vanaf 1921 bly hulle op New Formosa, ’n klein spoorweghalte naby Estcourt in Natal, waar sy vader stasievoorman is. Aanvanklik gaan Dirk in Engels skool op Estcourt, en in 1922 verhuis die gesin na Hart’s Hill naby Colenso, waar hy hier ook in Engels sy skoolopleiding voortsit. In 1923 verhuis hulle na Colenso self, waar sy pa steeds in diens van die spoorweë staan.

Reeds as jong kind kom Dirk in aanraking met die taal en kultuur van die Zoeloes en Indiërs, en leer hy hul leefwyse en wêreld intiem ken. Op elfjarige ouderdom word hy ernstig siek aan maagkoors en draai by die dood om. Hy bring etlike maande in die Rooms-Katolieke hospitaal in Pietermaritzburg deur. Weens ’n hartkwaal is sy vader in 1926 verplig om sy werk by die spoorweë op te sê en om die huis in Colenso te verkoop. Die gesin verhuis dan na Estcourt, waar sy vader as versekeringsagent begin werk en Dirk sy standerd ses voltooi.

In 1929 verhuis hulle na Frere, waar sy vader sy versekeringswerk voortsit. Dirk word as gevolg van die depressie toestande gedwing om sy skoolopleiding te onderbreek en ’n tyd saam met sy broer Maans op ’n kleinhoewe in die dorp met koeie, hoenders en groente te “boer”. Aan die einde van 1930 verhuis die gesin na Vryheid in Natal, waar sy vader op ’n kommissiebasis as ’n agent vir African Homes Trust werk. Vanaf 1931 gaan Dirk dan as ryper leerling na die dubbelmedium Hoërskool Vryheid waar P.C. Schoonees die skoolhoof is en hy vir die eerste keer gedeeltelike onderrig in Afrikaans ontvang. Schoonees word sy Afrikaans onderwyser, wat sy leerlinge se insig in die letterkunde verdiep en só ’n liefde daarvoor by hulle aankweek.

Dirk begin reeds op Colenso om gediggies in Engels te skryf, maar op Vryheid begin hy meer ernstig dig en skryf verskeie gedigte in Afrikaans. Gerard (Koos) Boonstra gee onderrig in Wetenskap op Vryheid. Boonstra het ’n uitgesproke Darwinistiese oortuiging, skeptiese en kritiese ingesteldheid teenoor die Kerk en opstandige gesindheid teenoor die Regering. Hierdie eienskappe oefen groot invloed uit op die ontwikkeling van Dirk se rasionele denke en hy begin belangstel in die deterministiese denke van die evolusieleer. Aangesien die Oppermangesin dit altyd maar skraps gehad het, staan Boonstra hom later finansieel by met sy studies vir sy meestersgraad. Aan die einde van 1934 lê hy die matrikulasie-eksamen van die Universiteit van Suid-Afrika af en behaal die beste uitslag in die Hoër Taalbondeksamen, wat aan hom ’n onderwyslening besorg waarmee hy sy studies kon voortsit.

Verdere studie en begin van loopbaan duimnael|regs|180px|Die letterkundige kritikus P. du P. Grobler. In 1935 gaan Dirk na die Natalse Universiteitskollege in Pietermaritzburg waar hy aanvanklik in die University Lodge koshuis tuisgaan en in sy derde jaar privaat loseer. Aan hierdie universiteit het G.S. Nienaber as dosent ’n stimulerende invloed op hom en moedig hom as digter aan. Hy is ook bevriend met Jan Scannell, C.J.M. Nienaber, Sheila Cussons, P. du P. Grobler en M.J. Harris.

Tydens universiteitsvakansies werk hy as vragmotorbestuurder van die klipbrekers by die munisipale gruisgat. Vanaf 1936 dien hy in die redaksie en in 1938 is hy redakteur van Natal University College Magazine, terwyl hy in 1936 ook stigter en sekretaris en in 1937 voorsitter is van die Afrikaanse Kultuurklub. Dirk behaal in 1937 die B.A.-graad met Hollands (soos Afrikaans-Nederlands in daardie tyd bekend was), Geskiedenis en Sielkunde as hoofvakke. In 1938 studeer hy aan sy Hoër Onderwysdiploma, wat hy die einde van die jaar met onderskeiding verwerf, en skryf ook reeds in vir sy meestersgraad opleiding. Reeds aan die einde van 1938 slaag hy die eksamengedeelte (vandag die B.A. Honneurs) van sy M.A.-graad met onderskeiding en aan die einde van 1939 behaal hy die M.A.-graad onder leiding van G.S. Nienaber met onderskeiding met ’n verhandeling oor Die Afrikaanse letterkundige kritiek tot 1922.

Onder die skuilnaam Arnold Benadi behartig hy in die jare 1938 en 1939 die boekerubriek van Die Natalse Afrikaner en plaas dan ook van sy skeppende werk in hierdie publikasie. Deur bemiddeling van G.S. Nienaber raak hy ook betrokke by die Natalse radio-omroep, waar hy boekbesprekings waarneem en ook aan ander programme deelneem. Na aanleiding van sy besondere prestasie met sy Onderwysdiploma en die eksamen vir sy M.A.-graad word die Victoria-beurs vir oorsese studie reeds einde 1938 aan hom toegeken, waarmee hy van plan was om vanaf September 1939 in Nederland te studeer. Die Tweede Wêreldoorlog verongeluk egter hierdie planne. Tydens sy universiteitsjare het hy ernstige verhoudings met Marie Theron en die model Olga Ardell. In Mei 1938 kom hy weer in aanraking met sy latere eggenote, Marié van Reenen, wat saam met hom op skool was, toe sy as sekretaresse en hy as voorsitter van die oudskolierebond van die Hoërskool Vryheid ’n reünie reël. Hulle begin hierna met ’n ernstige verhouding.

Loopbaan as onderwyser en troue Dirk gee vanaf 1940 tot middel 1945 onderwys aan die Voortrekkerskool in Pietermaritzburg, wat beide laer en hoër klasse gehuisves het en ook die enigste Afrikaanse skool in die stad was. Nadat hy aanvanklik betrokke was by die laer klasse, skuif hy vanaf 1941 oor na die hoër klasse en doseer veral Afrikaans, maar ook Geskiedenis, Engels en per geleentheid ook Rekenkunde. Hy skryf in 1944 die skoollied vir hierdie skool en is afrigter van een van die rugbyspanne, atletiek en skyfskiet, terwyl hy ook leiding neem met kulturele bedrywighede soos die toneelvereniging en die kunswedstryde. Van 1940 tot 1944 is hy ook redakteur van die skooljaarblad. Terselfdertyd werk hy aan ’n doktorale verhandeling oor die natuurbeelding in die letterkunde, wat hy nooit voltooi nie. In hierdie tyd verskyn verskeie van sy gedigte in Die Huisgenoot en hy lewer ook boekbesprekings vir hierdie tydskrif en vir Ons eie boek.

Op 2 April 1942 trou hy met Marié van Reenen, wat vanaf 1941 ook onderwys gee by die Voortrekkerskool in Pietermaritzburg. Onder haar getroude van verwerf sy later bekendheid vir haar kinderverhale en gedigte, optekening en oorvertelling van inboorlingsprokies en vertaling van Versamelde sprokies van Hans Christian Andersen. Die egpaar het drie dogters, Catherina Elizabeth (Trienke) (gebore 10 Mei 1946), Heila Marié (gebore 1 November 1947) en Diederi Joanne (gebore 10 April 1956). Trienke word later self ’n bekende digteres onder haar getroude van, Trienke Laurie, en sy is ook ’n behendige skilderes.Tafelberg-Uitgewers: http://www.tafelberg.com/authors/333 Om die gesin se inkomste aan te vul is Dirk nasiener van Hollandse vraestelle aan die Natalse Universiteitskollege en bied hy buitemuurse lesings aan, terwyl hy ook buitemuurse lektor is by die Tegniese Kollege.

Vanaf Julie 1945 aanvaar Dirk ’n betrekking aan die Helpmekaar Hoërskool in Johannesburg, waarheen sy ouers reeds in 1938 verhuis het en sy vader op 20 Mei 1943 oorlede is. Hier leer hy die grootstadlewe van fabriek en myn beter ken. Die gevare wat hierdie omgewing inhou, word geïllustreer deur die feit dat sy broer Louis in die versoeking kom om geld te verduister en kort voor Dirk se aankoms in Johannesburg gevang en later tot drie jaar tronkstraf gevonnis is. Hierdie gebeurtenis vind neerslag in sy poësie, veral Ballade van die grysland. In hierdie tyd raak Dirk ook bevriend met Elisabeth Eybers, H.A. Mulder, Fritz Steyn, Olga Kirsch en M.P.O. Burgers.

Loopbaan as joernalis en skrywer en begin van akademiese loopbaan Reeds sedert 1939 verskyn van sy gedigte en boekbesprekings in Die Huisgenoot en as die hoofredakteur Markus Viljoen hom aan die einde van 1945 ’n betrekking aanbied, verhuis hy in Januarie 1946 na Kaapstad. Hier geniet hy die stimulerende vriendskap van onder andere Fred le Roux, I.W. van der Merwe (Boerneef), N.P. van Wyk Louw, Jan Greshoff, W.A. de Klerk en J. du P. Scholtz, met Elsa Joubert wat op dieselfde dag as hy ook nuut by Die Huisgenoot begin werk. In Kaapstad woon die gesin eers ’n kort ruk in beknopte akkommodasie in Seepunt en in Kloofnekweg, waarna hulle in 1947 na ’n woonstel in Drieankerbaai trek. Hier woon hulle tot Julie 1954 en betrek dan hulle eerste huis in Tamboerskloof, steeds in Kaapstad.

Die jare in Kaapstad lei tot ’n kreatiewe opbloei in Opperman se lewe. Uit hierdie tyd dateer van sy belangrikste poësie en dramas en skryf hy sy deeglike kritiese opstelle. Hy stel ook sy indrukwekkende reeks verseboeke saam en werk mee aan Wêreldletterkunde, Die Moderne Ensiklopedie en Die Skatkis. In 1947 tree hy toe tot die redaksie van Standpunte, maar as gevolg van sy werk by Die Huisgenoot (wat hy aan die einde van Januarie 1949 bedank) en die moontlike besware wat daar teen sy aandeel aan ’n ander tydskrif kon kom, word sy naam eers vanaf April 1949 by die paneel gevoeg. Op 1 Maart 1949 aanvaar hy ’n tydelike lektoraat by die Universiteit van Kaapstad, waar hy hoofsaaklik die Middeleeuse en sewentiende eeuse Nederlandse literatuur doseer. Vir die eenjaarkursus doseer hy die Geskiedenis van die Taalbewegings en die Literatuur voor 1900, terwyl hy ook twee kursusse vir die Departement Drama aanbied. Dirk word in 1950 tot permanente lektor en in November 1954 tot senior lektor aan die universiteit bevorder.