Ierland (Engels: Ireland, [ˈaɪərlənd], ; Iers: Éire, [ˈeːɾʲə], ), ook bekend as die Republiek Ierland (Engels: Republic of Ireland; Iers: Poblacht na hÉireann), is 'n onafhanklike eilandstaat in die noordweste van Europa, wat met 70 273 vierkante kilometer sowat vier vyfdes van die eiland Ierland beslaan. Noord-Ierland, die gebied in die noordooste van Ierland, is een van die lande van die Verenigde Koninkryk. Die Ierse grondwet bepaal dat die naam van die staat Éire is, of, in Engels, Ireland. Desondanks word na die onafhanklike staat Ierland soms ook as Republiek Ierland verwys om dit te onderskei van die eiland Ierland.

duimnael|links|Nasa-Satellietbeeld van Ierland Ierland het volgens die sensus van 2022 'n bevolking van 5,15 miljoen, 'n toename van 8 persent teenoor die laaste sensus in 2016. In 2024 is Ierland se inwonertal op 5,4 miljoen beraam.

Die amptelike simbool van die republiek is die Keltiese harp, wat ook op die Ierse euromunte uitgebeeld word. Dikwels word egter die klawer gebruik, onder meer deur beide die Ierse nasionale krieketspan en die Ierse nasionale rugbyspan wat albei die hele Ierland in onderskeidelik krieket en rugby verteenwoordig.

Ierland is sedert 1973 'n lidland van die Europese Unie en beskik oor 'n hoogs ontwikkelde ekonomie, wat immigrante uit ander Europese en oorsese lande lok. Dié land het sedert die 1990's tot een van die welvarendste Europese nasies ontwikkel. Dit is ná die ongekende finansiële krisis van 2008 in 'n ernstige resessie gedompel, maar in 2013 het die ekonomiese groei teruggekeer.

Naam duimnael|links|Die Paasfees-Proklamasie van 1916 Die Ierse staat het al meer as een amptelike titel gehad. Die rewolusionêre staat, wat deur Ierse nasionaliste in 1919 gestig is, het as die Ierse Republiek bekend gestaan. Die Paasfees-Proklamasie van die jaar 1916 gebruik reeds die Ierse term Poblacht na hÉireann ("Republiek Ierland"). Nadat die staat in 1922 ook de jure onafhanklik geword het, het dit as die Ierse Vrystaat bekend gestaan (Iers: Saorstát Éireann). Hierdie naam is tot 1937 behou.

Die Ierse naam vir Ierland is Éire, ontleen aan die Ou Ierse Ériu, 'n godin in die Ierse mitologie waarna in die negende eeu vir die eerste keer verwys is. Die staat wat in 1922 gestig is en 26 van die 32 graafskappe van Ierland behels, is "gestileer en bekend as die Ierse Vrystaat" (Saorstát Éireann). Die Grondwet van Ierland wat in 1937 goedgekeur is, bepaal dat "die naam van die Staat Éire is, of, in Engels Ireland". Die wet sou verduidelik dat die staat 'n republiek was en geen grondwetlike monargie nie. Afdeling 2 van die Republiek Ierland-wet 1948 lui "Dit word hiermee verklaar dat die benaming van die staat die Republiek Ierland sal wees." Die 1948-wet noem die staat nie "Republiek Ierland" nie, aangesien dit in konflik met die grondwet sou gewees het. Alhoewel die term Republiek Ierland aanvaarbaar is, word die naam Ierland vir amptelike doeleindes soos internasionale ooreenkomste, regerings- en regsdokumente en die lidmaatskap in internasionale organisasies gebruik. Slegs indien daar 'n onderskeiding gemaak moet word tussen die onafhanklike republiek en Noord-Ierland, soos byvoorbeeld op die gebied van sport, waar Ierse en Noord-Ierse spanne bestaan, of by verwysings na die "grens tussen Noord-Ierland en die Republiek Ierland", is dit ook vir die amptelike taalgebruik noodsaaklik om aan hierdie naam die voorkeur te gee.

Die regering van die Verenigde Koninkryk het die naam Eire (sonder die diakritiek) gebruik en sedert 1949 "Republiek Ierland" vir die staat. Eers met die Goeie Vrydag-ooreenkoms van 1998, toe die Republiek Ierland sy aanspraak op Noord-Ierland laat vaar het, het die Verenigde Koninkryk die staat "Ierland" begin noem. In Engels staan Ierland onder meer ook bekend as Éire, Die Vrystaat (The Freestate) en die Ses-en-twintig Graafskappe (Twenty-six Counties). Weens die negatiewe historiese konnotasies van die naam Éire word dit tans nie meer dikwels gebruik nie.

Naas "Ierland", "Éire" of "die Republiek Ierland", word die na die staat ook informeel verwys as "die Republiek", "Suid-Ierland" of "die Suide", veral wanneer die staat van die eiland onderskei of wanneer Noord-Ierland ("die Noorde") bespreek word. Ierse republikeine behou die benaming "Ierland" vir die hele eiland en verwys dikwels na die staat as "die Vrystaat", "die 26 graafskappe", of "die Suide van Ierland". Dit is 'n "reaksie op die partisionistiese siening […] dat Ierland by die grens eindig".

Geografie duimnael|links|Die Glendalough-meer in die graafskap Wicklow Die Republiek Ierland beslaan die grootste deel van Ierland, die mees westelike en tweede grootste van die Britse Eilande, en word van Groot-Brittanje deur (van noord na suid) die Noordkanaal, die Ierse See en die Sint-Georgekanaal geskei, waarby die afstande tussen die twee eilande van 18 tot 193 kilometer (11 tot 120 myl) wissel. Ierland vorm ook die mees westelike Atlantiese randgebied van Eurasië, 'n uitgestrekte landmassa op die Noordelike Halfrond waarvan dié eiland saam met die ander Britse Eilande vroeër self deel uitgemaak het. As deel van die Eurasiese kontinentale plaat word Ierland deur seegebiede met 'n maksimale diepte van 200 meter omring.

Ierland is in die gematigde klimaatsone en op dieselfde breedtegraad soos Labrador in Kanada geleë, maar het 'n gematigder klimaat as dié streek in Noord-Amerika.

Demografie duimnael|Verspreiding van Iers in Noord-Ierland en die Republiek Ierland volgens die sensus van 2011 Die Ierse bevolking is hoofsaaklik afstammelinge van die oorspronklike Keltiese bewoners van dié eiland, Skandinawiese setlaars en Anglo-Noormanne.

Die amptelike tale is Iers en Engels. Iers is as nasionale taal 'n verpligte skoolvak in Ierland en word deur meer as 77 000 Iere buite die onderwysstelsel as daaglikse omgangstaal gepraat. Meer as 110 000 mense praat dit weekliks, en meer as 613 000 gebruik die taal minder dikwels. Die sogenaamde Gaeltacht-gebiede, waar Iers deur 23 000 bewoners as huistaal gebesig word, is in die uiterste weste van dié eiland geleë. Met die Wet oor die Amptelike Tale (Official Languages Act) van 2005 is die name van 'n aantal stede en dorpe van Engelse na Ierse weergawes gewysig.

Meer as 90 persent van die bevolking is Rooms-Katolieke. Daar is 'n Protestantse minderheid van Anglikane Presbiterianers en ander groepe. Naas die klein Joodse gemeenskap is daar 'n klein groeiende Islamitiese bevolking, veral immigrante.

Sowat 115 500 Britte het hulle in dié land gevestig. Ierland het daarnaas baie immigrante uit die nuwe lidlande van die Europese Unie soos Pole (122 000 immigrante), Litaue (36 000; die Litause Vereniging in Ierland het 90 000 lede) www.lietuva.lt: Lithuania needs the experience of emigré communities, 5 Oktober 2010 en Letland (20 000) gelok. Ander belangrike groepe van onlangse immigrante sluit Roemene (17 000), Indiërs (17 000) en Nigeriërs (17 000) in. Nadat Ierland in 2008 in 'n resessie gedompel is, het baie buitelandse werknemers weer na hul tuislande teruggekeer.

Migrasie duimnael|links|'n Tweetalige straatbord Die demografiese ontwikkeling in Ierland was oor 'n lang tydperk deur 'n krimpende bevolking en hoë emigrasiesyfers gekenmerk. Maar sedert die 1990's het die prentjie ingrypend verander nadat stewige ekonomiese groei groot getalle immigrante na Ierland gelok het. Aanvanklik het veral Ierse burgers na hul geboorteland teruggekeer, terwyl daar vanaf 2000 ook noemenswaardige immigrasie uit lande buite die Europese Unie plaasgevind het. Die meeste van hierdie nuwe aankomelinge was op soek na werk, sommige het aansoek gedoen om politieke asiel.

Die immigrasiestroom het Ierse politici onder druk geplaas aangesien daar geen spesifieke immigrasie- en asielbeleid was nie. Die kodifisering van só 'n beleid in 'n wetsontwerp, die Immigration, Residence and Protection Bill, is vertraag sodat Ierland se immigrasiebeleid op die besluite van amptenare in plaas van 'n wet gebaseer is.

Vanaf 2007 het immigrasiesyfers as gevolg van die resessie in Ierland skerp gedaal, en daar is verwag dat 'n groot persentasie buitelandse werknemers na hul tuislande sou terugkeer. Ander sal egter in dié land bly sodat enige vorm van integrasiebeleid ontwikkel sal moet word. Terselfdertyd het steeds meer Iere hulle in die buiteland gevestig.

In die periode tussen April 2015 en April 2016 was daar vir die eerste keer sedert 2009 weer 'n oorskot van immigrante bo emigrante nadat die aantal Iere, wat hulle in die buiteland gevestig het, skerp gedaal het. Tegelykertyd het 'n groter aantal Ierse burgers uit die buiteland teruggekeer. The Guardian, 23 Augustus 2016: Ireland reports first net immigration since 2009. Besoek op 23 Augustus 2016

Historiese migrasiestrome duimnael|Die Nasionale Hongersnoodmonument in Murrisk beeld een van die sogenaamde coffin ships uit – oorbelaaide skepe waarmee Ierse emigrante die gevaarlike seereis na Kanada aangedurf het Ierland was oor 'n lang tydperk 'n emigrasieland. Terwyl die gebied van die huidige Republiek Ierland in 1841 nog deur meer as 6,5 miljoen mense bewoon is, het hierdie syfer in die volgende dekades skerp gedaal, hoofsaaklik weens die groot stroom emigrante en hoë sterftesyfers as gevolg van die Groot Hongersnood (Great Famine) wat Ierland vanaf 1845 tot 1848 geteister het. In 1901 het die bevolking op 3,25 miljoen te staan gekom en daarna verder afgeneem, alhoewel teen 'n laer koers. In 1961 is die laagste inwonertal ooit met 2,818 miljoen aangeteken.

Die meerderheid Iere, wat in die 19de en vroeë 20ste eeu 'n nuwe heenkome in die buiteland probeer vind het, het hulle in Noord-Amerika gevestig waar die aantal inwoners van Ierse afkoms tans op sowat veertig miljoen beraam word. Hierdie emigrasiestroom het weens die Groot Depressie in die vroeë 1930's skielik tot stilstand gekom. Die meeste Ierse emigrante het sedertdien na die Verenigde Koninkryk toe gegaan waar hulle veral gedurende die Tweede Wêreldoorlog en die opboufase, wat daarop gevolg het, maklik werk kon vind. Volgens beramings het tussen 1946 en 1951 86 persent van alle Ierse emigrante na die Verenigde Koninkryk toe gegaan. www.bpb.de: Migration – Länderprofil Irland

In die 1960's het Ierland stewige ekonomiese groei getoon sodat steeds meer werksgeleenthede geskep is. Die aantal emigrante het afgeneem, terwyl 'n natuurlike bevolkingsaanwas aangeteken is. In die 1970's was daar vir die eerste keer meer immigrante as emigrante. Eers as gevolg van die swak wêreldekonomie, wat ook Ierland in 'n langdurige resessie gedompel het, het die stroom Ierse emigrante weer aansienlik toegeneem. In 1986 was Ierland se werkloosheidsyfer met meer as 17 persent merkbaar hoër as dié van die Verenigde Koninkryk. In 1988/89 was daar 'n negatiewe netto-migrasie van sowat 45 000 mense of 1,3 persent van die destydse bevolking.

Die ongekende ekonomiese groei, wat Ierland in die 1990's ervaar het, het met 'n massiewe groei in immigrantetalle gepaard gegaan. Sedert 2004 het talle werknemers uit nuwe Oos-Europese lidlande van die Europese Unie hulle in Ierland gevestig.

Geskiedenis duimnael|links|upright|'n Monument in Dublin ter herdenking van die Ierse Onafhanklikheidsoorlog duimnael|upright|'n Bladsy uit die Boek van Kells, 'n Ierse manuskrip wat omtrent 800 geskryf is Die geskiedenis van Ierland het 'n aanvang met die eerste menslike nedersettings in die steentydperk geneem. Ierland was sowat 8 000 jaar gelede nog met die eiland van Groot-Brittanje verbonde, en die eerste bewoners het waarskynlik vanaf die Europese vasteland gekom. Toe die eerste Gaelies-Keltiese setlaars die eiland in die 4de eeu v.C. bereik het, het daar reeds 'n ander Keltiese beskawing, die Iverners, bestaan. Die huidige Ierse volk het dus verskillende etniese oorspronge.

In die Romeinse tydperk het Ierland as Hibernia bekend gestaan. Dié eiland is nooit deur die Romeine verower nie en daar het 'n aantal onafhanklike Ierse koninkryke en vorstedomme bestaan.