Ciudad Autónoma deBuenos AiresOutonome Stad Buenos Aires 280px Kaart Wapen 180px 75px|senter Vlag 90px|raam|senter Land  Koördinate  Deur Pedro de Mendoza gestig op 2 Februarie 1536 Deur Juan de Garay gestig op 11 Junie 1580 Oppervlakte:    - Totaal 203 vk km  - Stadswyke 48  Hoogte bo seevlak 25 m Bevolking:    - Totaal (2021-skatting) 3 003 000  - Bevolkingsdigtheid 14 793/vk km  - Metropolitaanse Gebied 15 624 000  - Ongeletterdheid 0,45% Tydsone UTC-3 (ART) Somertyd UTC -2 (ARST) Burgemeester Jorge Macri (PRO-JxC) Amptelike webwerf buenosaires.gob.ar

Buenos Aires (Spaans: [ˈbwenos ˈajɾes], ), amptelik die Outonome Stad Buenos Aires (Ciudad Autónoma de Buenos Aires), is die hoofstad en ekonomiese, kulturele en nywerheidsentrum van Argentinië, ná Meksikostad die tweede grootste Spaanssprekende stad ter wêreld en die vierde grootste stad in die Amerikas (ná São Paulo, Meksikostad en New York), met 'n bevolking van drie miljoen in die Distrito Federal (203 km²) en 15,6 miljoen in die metropolitaanse gebied (Gran Buenos Aires) met 'n oppervlakte van 4 758 km². Buenos Aires beteken “gunstige winde”, 'n ou skeepvaartterm vir winde wat voordelig is vir seilskepe.

duimnael|links|Nasa-satellietbeeld van die Río de la Plata, met Gran Buenos Aires aan die regterkant en links bo Montevideo, Uruguay Die stad is aan die mond van een van die grootste riviere ter wêreld, die Río de la Plata (Silwerrivier), geleë. Aangesien Gran Buenos Aires sowat 'n derde van die Argentynse bevolking en ook die meeste belangrike instellings en hoofkwartiere van ondernemings huisves, oorheers sy ekonomie die res van die land.

Danksy talle winkels en boetieks, sy pragtige argitektuur, 'n ryk kulturele lewe, uitstekende restaurante en kosmopolitiese bevolking van oorwegend Italiaanse, Spaanse, Franse, Duitse, Engelse, Oos-Europese, Arabiese en Asiatiese herkoms staan Buenos Aires ook as die Parys van die Suide bekend. Die stad is een van die mees Europese van Suid-Amerika en ook die Suidelike Halfrond en het sy Goue Era in die tydperk tussen 1880 en 1920 beleef, toe Argentinië danksy ongekende ekonomiese groei tot een van die tien welvarendste lande wêreldwyd ontwikkel het. Buenos Aires het destyds nuwelinge uit Europa gelok wat hier 'n beter heenkome probeer vind het.

Etimologie duimnael|links|upright|Onse Dame van Buen Aire voor die Nasionale Migrasiedepartement Aragonese argiewe beskryf hoe Katalaanse sendelinge en Jesuïete onder die Kroon van Aragon in Cagliari (Sardinië) aangekom het, nadat dit in 1324 van Pisa verower is, en hul hoofkwartier bo-op 'n heuwel wat oor die stad uitkyk ingerig het. Hulle het die heuwel Bonaira (of Bonaria in Sardies) genoem, aangesien die vieslike reuk van die ou stad (rondom die kasteel), wat aan moerasland aangrens, nie hier voorgekom het nie. Tydens die beleg van Cagliari het die Katalane 'n heiligdom vir die Maagd Maria bo-op die heuwel opgerig. In 1335 het Alfons IV van Aragon die kerk geskenk aan die Orde van Onse Liewe Vrou van Weldadigheid wat 'n abdy gebou het wat steeds daar staan. In die jare daarna het 'n legende die rondte gedoen, waarvolgens 'n standbeeld van die Maagd Maria uit die see gehaal is, nadat dit op wonderlike wyse 'n storm in die Middellandse See gekalmeer het. Dié standbeeld is in die abdy geplaas. Spaanse seevaarders, veral Andalusiërs, het hierdie standbeeld vereer en die "gunstige winde" aangeroep om hulle met hul navigasie te help en skipbreuk te vermy. 'n Heiligdom vir die Maagd van Buen Ayre is later ook in Sevilla gebou.

Tydens die stigting van Buenos Aires het Spaanse seevaarders, wat die Río de la Plata bereik het, dank aan die seëninge van Santa Maria de los Buenos Aires ("Heilige Maria van die Gunstige Winde") gesê, wat hulle glo die gunstige winde gegee het om die kus van die huidige stad te bereik. Pedro de Mendoza het die stad "Heilige Maria van die Gunstige Winde" genoem, 'n naam wat deur die kapelaan van Mendoza se ekspedisie voorgestel is – 'n toegewyde van die Maagd van Buen Ayre – na die Madonna van Bonaria in Sardinië (wat tot vandag toe die beskermheilige van dié Middellandse eiland is ). Mendoza se nedersetting is dadelik deur inheemse mense aangeval en in 1541 verlaat.

Vir baie jare is die naam toegeskryf aan 'n Sancho del Campo, wat na bewering met sy aankoms uitgeroep het: "Hoe gunstig is die winde van hierdie land!". In 1882 het die Argentynse handelaar Eduardo Madero ná uitgebreide navorsing in Spaanse argiewe uiteindelik besef dat die naam pleks daarvan 'n noue verband het met die toewyding van die seevaarders aan Onse Dame van Buen Ayre. In 1580 is 'n tweede (en permanente) nedersetting gestig deur Juan de Garay, wie die Río Paraná afgevaar het vanaf Asunción, die huidige hoofstad van Paraguay. Garay het die oorspronklike stadsnaam van Mendoza bewaar, en die stad Ciudad de la Santísima Trinidad y Puerto de Santa María del Buen Aire ("Stad van die Allerheiligste Drie-eenheid en hawe van die Heilige Maria van die Gunstige Winde"). Die kort vorm wat eindelik die stadsnaam sou word, "Buenos Aires", het in die 17de eeu algemeen gebruiklik geword.

Geskiedenis duimnael|Tradisionele Europese en moderne boustyle duimnael|Buiteaansig van die Hotel de Inmigrantes in die stadsdeel Retiro. Vir honderdduisende Europese immigrante was dié gebou dekades gelede die toegangspoort tot 'n nuwe lewe in Argentinië. Dit huisves tans 'n museum Die eerste Europese seevaarder, wat in die jaar 1516 naby Buenos Aires voet aan wal gesit het, was die Spanjaard Juan de Solís. Hy het die groot rivier, wat hy teengekom het, Mar Dulce ("Die Soet See") genoem. Twintig jaar later het Pedro de Mendoza die eerste nedersetting in die gebied gestig, Santa Maria del Buen Aire. Die jaar 1536 word gevolglik as Buenos Aires se stigtingsdatum beskou. Weens die verset van vyandelik gesinde Indiane is die Spanjaarde egter gedwing om die kolonie enkele jare later na Asunción in Paraguay te verskuif.

Die perde en beeste wat die Spanjaarde agtergelaat het, het die grondslag vir die Argentynse veeteelt gevorm, die belangrikste ekonomiese basis van die land. 'n Permanente vesting en dorp het uiteindelik in 1580 ontstaan toe 'n groep oorspronklike setlaars na die gebied teruggekeer het. Die stad het vir bykans tweehonderd jaar 'n onbenullige plek gebly, en aangesien die Spaanse regering die voorkeur aan ander hawens soos Lima gegee het, het talle bewoners 'n broodwinning uit smokkelary gemaak.

Eers met die stigting van 'n Spaanse onderkoninkryk, wat groot dele van Argentinië, Chili, Uruguay en Bolivië ingesluit het, het die Buenos Aires 'n belangrike rol as administratiewe sentrum begin speel. Snelle ekonomiese vooruitgang het plaaslike nasionalisme bevorder; die gebied het in 1810 'n selfregerende status gekry, en in 1816 het die burgers van Buenos Aires onafhanklikheid van Argentinië verklaar. Dekades lank het die plaaslike regering gesukkel om gesag oor die hele land te verkry; aanhangers van 'n federale stelsel het met lede van politieke groeperings baklei wat eerder 'n eenheidstaat verkies het.

In 1880 is Buenos Aires tot federale distrik (Distrito Federal) verklaar. Die regering van president Julio A. Roca het Europese stede, met name Parys, as voorbeeld vir die ontwikkeling van die stad geneem. Die Franse hoofstad het ook die aanleiding vir honderde nuwe geboue in Buenos Aires gegee wat volgens Paryse boustyle beplan is en aan die stad 'n Europese voorkoms gee.

Grootskaalse immigrasie uit Italië, Spanje, Duitsland, Engeland, Pole, Rusland en die Midde-Ooste en snelle ekonomiese groei het van die "Parys van Latyns-Amerika" een van die welvarendste stede wêreldwyd gemaak. Aan die begin van die 20ste eeu het die bevolking gegroei tot meer as een miljoen porteños – soos die inwoners van Buenos Aires in hul eie land bekend staan. "Ryk soos 'n Argentyn" het destyds 'n vaste begrip in Parys en ander Europese metropole geword.

Die groot Avenidas van Buenos Aires, soos die Avenidas Santa Fé, Córdoba en Corrientes, is in die dertigerjare gebou. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die stad met sy voorstede saamgesmelt en sowat een derde van Argentinië se bevolking gehuisves.

Ekonomiese en politieke teenslae na die Tweede Wêreldoorlog het Buenos Aires voorlopig van sy rol as 'n ryk stad beroof, en die teenstellings tussen die welvarende noordelike stadswyke en die bitterarm suide is steeds groot. Langsamerhand herwin die stad egter sy status as 'n lewendige metropool van 'n vooruitstrewende land. Dit was een van die gasheerstede tydens die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1978.

Klimaat duimnael|Nasa-Satellietbeeld van Buenos Aires duimnael|Swaar reën en weerlig oor die Plaza San Martin. Storms is algemeen in die somer Buenos Aires lê soos die grootste deel van Argentinië in die gematigde sone van die Suidelike Halfrond. Die gemiddelde jaarlikse temperatuur is 17,5 °C, die gemiddelde jaarlikse reënval 1 173 millimeter.

Januarie is die warmste maand met gemiddeldes van 24,5 °C, terwyl temperature in die midwinter van Julie tot gemiddeldes van 11,1 °C daal. Die somermaande is baie warm en bedompig. Baie porteños verlaat die stad in Januarie en Februarie vir 'n vakansie aan die kus of in die berggebiede. Die wintermaande is vogtig, maar nie regtig koud nie.

Demografie duimnael|In Puerto Madero het naas kantoorgeboue ook talle luukse woonstelle vir welgestelde kliënte ontstaan duimnael|Microcentro, die finansiële en besigheidsdistrik van Buenos Aires, huisves talle kantore van ondernemings Tussen 1833 en 1869 het die bevolking van Buenos Aires verdriedubbel van 60 000 tot 180 000. In 1890 was Buenos Aires die grootste en belangrikste stad in Latyns-Amerika met 'n bevolking van 661 000. Danksy die groot immigrasiegolf uit Europa het die inwonertal in die volgende dekades sterk gegroei tot sowat 1,6 miljoen in 1914. Tans het die Outonome Stad Buenos Aires 'n bevolking van sowat 2,9 miljoen.

As al die voorstede in die omgewing ingereken word, is Gran Buenos Aires (Groter Buenos Aires) met 'n bevolking van 12,8 miljoen een van die megastede ter wêreld en die tweede grootste metropolitaanse gebied in Suid-Amerika na São Paulo.

Die porteños, soos die inwoners van Buenos Aires in Argentinië genoem word, is merendeels van Spaanse en Italiaanse afkoms. Daarnaas het talle immigrante uit ander Europese lande soos Duitsland, Ierland, Portugal, Frankryk en Engeland hulle hier gevestig. Siriërs, Libanese en Armeniërs het vanaf die vroeë 20ste eeu 'n belangrike rol in die handelsbedryf en openbare lewe gespeel.

Sedert die tweede helfte van die 20ste eeu het groter getalle immigrante uit ander Suid-Amerikaanse lande soos Bolivië, Peru en Paraguay hulle in Buenos Aires gevestig. In die 1990's was daar 'n klein immigrasiegolf uit Roemenië en Oekraïne.

Die Joodse gemeente in Buenos Aires is met 'n kwartmiljoen lede die grootste in Suid-Amerika. Die meeste van hulle is Asjkenasim uit Noord- en Oos-Europese lande, veral Rusland, Duitsland en Pole. Sefardiese Jode in Buenos Aires is oorwegend van Siriese afkoms.

Die eerste immigrante uit Oos-Asië was Japanners waarvan baie 'n heenkome as blommetelers of skoonmakers gevind het. Vanaf die 1970's was daar ook noemenswaardige immigrasie uit China en Korea. 'n Groot aantal klein supermarkte word tradisioneel deur Han-Chinese en Koreane bedryf.

Die persentasie nakomelinge van nie-Spaanse immigrante is in Buenos Aires aansienlik groter as in die res van Argentinië. Die oorgrote meerderheid porteños praat Spaans as huistaal en is Rooms-Katoliek. Tans is 88,9 persent van die totale bevolking blankes, 7 persent van gemengde Europees-Indiaanse afkoms, 2,1 persent Asiate en 2 persent swartes. Die ouderdomstruktuur lyk baie soos dié van Europese stede: 17 persent van die bevolking is jonger as 15 jaar, en 22 persent is ouer as 60.