Die Rooi Spinnekopnewel (ook genoem NGC 6537) is 'n planetêre newel naby die middel van die Melkweg, in die noordweste van die sterrebeeld Boogskutter. Dit het 'n permanente tweelobbige voorkoms, moontlik vanweë 'n dubbelstermetgesel of magneetvelde en het 'n S-vormige simmetrie van die lobbe – die lobbe teenoor mekaar lyk dieselfde. Dit is vermoedelik vanweë die teenwoordigheid van 'n metgesel van die sentrale witdwerg. Die gasbanke van die twee lobbe is egter nie glad nie, maar gerimpel op 'n ingewikkelde manier.

thumb|220px|links|Die Rooi Spinnekopnewel deur die Hubble-ruimteteleskoop afgeneem. Die sentrale witdwerg, die oorblywende kompakte kern van die oorspronklike ster, skep 'n sterk, warm wind (≈10 000 K) wat teen 300 km/s waai en golwe van 100 miljard kilometer hoog veroorsaak. Die golwe word geskep deur supersoniese skokke wat vorm wanneer die plaaslike gas voor die vinnig uitsittende lobbe saamgepers en verhit word. Atome wat in die skokke vasgevang word, straal 'n sigbare lig uit. Dit is dié winde wat aan die newel sy kenmerkende spinnekopvoorkoms gee en bydra tot die uitsetting van die newel.

Die ster in die middel van die newel word deur 'n stofwolk omhul en dit bemoeilik die bepaling van sy presiese eienskappe. Sy oppervlaktemperatuur is moontlik 150 000 tot 250 000 K, hoewel 'n temperatuur van 340 000 K of selfs 500 000 K nie uitgeskakel word nie. Dit is dus een van die warmste witdwerge bekend.

Die Rooi Spinnekopnewel lê naby die sterrebeeld Boogskutter. Sy afstand is al geraam op 1 900 ligjare of, waarskynliker, 3 000 tot 8 000 ligjare.

Verwysings

Skakels Red Spider Nebula at ESA/Hubble White dwarf sends ripples through Red Spider Nebula at Space.com

Kategorie:Boogskutter (sterrebeeld) Kategorie:Planetêre newels