duimnael|regs|190px|Ds. Jan Hendrik Hofmeyr was leraar van Uitenhage van 1882 tot sy skorsing in 1887.

Ds. Jan Hendrik Hofmeyr (Calvinia, 17 Maart 1856 – Kaapstad, 22 Maart 1924) was ’n predikant in die Nederduitse Gereformeerde Kerk wat net vyf jaar in die bediening gestaan het in die NG gemeente Uitenhage. Hy is in 1887 geskors nadat hy bedank het weens onsedelike gedrag.

Herkoms duimnael|links|180px|Jan Hofmeyr se vader, prof. N.J. Hofmeyr, een van die eerste twee hoogleraars aan die Kweekskool op Stellenbosch. Hy was van 1851 tot 1858 die eerste leraar van die NG gemeente Calvinia, wat so genoem is op sy voorstel ter ere van die kerkhervormer Johannes Calvyn. Hier is Jan Hofmeyr gebore.

regs|duimnael|320px|Prof. N.J. Hofmeyr en sy gesin. Voor: Maggie, Lucy, Lily (Susanna); middel: Adriaan met Wynand op sy skoot, Miemie, Tobie; agter: Truida (wat getroud was met ds. John Daniel Kestell), Nico, Annie (Adriaan se vrou), Charlie, Jan en Hessie.

Hofmeyr was die tweede oudste seun van prof. N.J. Hofmeyr, een van die eerste twee hoogleraars aan die Kweekskool op Stellenbosch. Sy oudste broer, ds. Adriaan Hofmeyr, is in 1899 ook as predikant geskors, maar is in 1928 in die amp herstel, maar sy broer Nico het ná 'n dienstyd van vyf en 'n half haar as leraar van die NG gemeente Warrenton bedank en toe skrywer en skoolinspekteur geword.

Jan Hofmeyr is in die NG pastorie op Calvinia in die Noordwes-Kaap gebore waar sy vader predikant was. Hy was een van 13 kinders. Die jong ds. N.J. Hofmeyr was ’n seun van die vermoënde en goedhartige Jan Hendrik Hofmeyr (1798–1862) en Hester Sophia Joubert van Welgemeend, die Kaapstadse Hofmeyr-woning wat in 1944 in die besit van die Hoërskool Jan van Riebeeck gekom het. N.J. Hofmeyr was 'n neef van Onze Jan Hofmeyr. Jan Hendrik sr. se vader, Stephanus Johannes Hofmeyr (1760–1826), was die tweede seun van die Hofmeyrs se stamvader, Johann Heinrich Hofmeyr (1721–1805). Een van N.J. Hofmeyr se broers was ds. Servaas Hofmeyr. Hy trou op sy 25ste verjaardag met Maria Magdalena Louw (1834–1918). Hy het in 1859, toe Jan drie jaar oud was, ’n beroep aanvaar om, saam met ds. John Murray, een van die eerste twee hoogleraars aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch te word.

Jan Hofmeyr se moeder, Maria Magdalena Louw (1834–1918), was ’n kleindogter van Johannes Wynand Louw (1786–1854), en die oudste van sewe susters wat almal met ’n predikant getroud was. Hulle was: 1. Maria (Miemie); 2. Louisa Adriana (Wiesie) getroud met ds. Arend Hermanus Hofmeyr van Hanover; 3. Margaretha Johanna (Maggie) met ds. Johannes Rudolph Albertyn; 4. Catharina Johanna (Kitty) met ds. George Murray; 5. Johanna Hendrina met prof. C.F.J. Muller; 6. Charlotte met ds. J.C. Truter; 7. Susanna Maria met ds. P.G.J. Meiring. Jan Hofmeyr se grootouers aan moederskant was Adriaan Jacobus Louw van Babylons Toren, Paarl, en Charlotte Louise Herold, ’n dogter van ds. T.J. Herold (1788–1857). Sy oom Adriaan Jacobus Louw (1859–1935) het ’n leidende rol in die Transvaalse NG Kerk gespeel van 1894 en veral van 1916 tot 1924 toe hy Transvaalse moderator was. Hy was 38 jaar predikant van die NG gemeente Heidelberg, Transvaal. ’n Tante van Jan, Susanna Maria Louw (1813–1887), was getroud met die Kaapse bankier Arend Hofmeyr (1802–1887), en hulle was die ouers van ds. J.H. Hofmeyr (1835–1908), 31 jaar predikant van die NG gemeente Somerset-Oos. Hierdie Jan Hendrik Hofmeyr se vrou, Isabella, was ’n suster van prof. John Murray.

Omdat Jan drie jaar oud was toe die gesin Stellenbosch toe verhuis, geniet hy sy eintlike jeugjare en opvoeding in die Eikestad. Hier studeer hy eers aan die Victoria-kollege en later aan die Kweekskool waar hy as student uitgeblink het; hy behaal die M.A.-graad in 'n tyd toe dit nog weinig in hierdie land beskore was. Toegelaat tot die bediening aan die einde van 1881, was Uitenhage sy eerste (en enigste) gemeente.

In die bediening Dit was moeilike jare vir die gemeente Uitenhage. Ruim 17 maande sou die gemeente herderloos wees ná die vertrek van ds. A.I. Steytler voor ds. J.H. Hofmeyr die beroep hierheen sou aanneem. Ná aanvanklike oplewing onder die jong en talentvolle ds. Hofmeyr, volg tye van knaende droogte en drukkende kerkskuld, en toe die skokkende wyse waarop ds. Hofmeyr se bediening hier beëindig is.

Voor hy die beroep aanvaar het, het die een beroep ná die ander misluk, ondanks die aangebode salaris van £600, destyds heel aanloklik. Met die uitbring van die sesde beroep einde September 1881, besluit die kerkraad om prop. J.H. Hofmeyr van Stellenbosch uit te nooi om “de diensten alhier te komen verrigten voor den tyd van 3 maanden" teen 'n salaris van £100 per kwartaal, “met reiskosten hierheen". Intussen gaan die gemeente sigbaar agteruit. In die godsdiensverslag van 1881 hef die konsulent, ds. J. H. Hofmeyr van Somerset-Oos, 'n “klaagtoon" aan: Die opkomste neem onrusbarend af. Boonop het baie Engelssprekendes wat die afgelope jare hul kerklike voorregte in hierdie gemeente geniet het, onlangs besluit om 'n afsonderlike (Engelse) gemeente te stig, met 'n eie leraar in die persoon van die hoofonderwyser van die plaaslike seunskool, iemand wat juis indertyd in hierdie onderwyspos aangestel is op voorwaarde dat hy Sondae met die Engelse dienste sou help.

Die gemeente was dus sy “hulpprediker" kwyt, en alle versoeke van die kerkraad om minstens vir die duur van die vakature nog met die Engelse dienste te help, het op dowe ore geval. Die kerkraad was vanselfsprekend baie teleurgesteld en ontevrede met die optrede van hierdie broeder. Die gemeente maak 'n moeilike tyd deur. Danksy die onvermoeide ywer van die konsulent, ds. Hofmeyr, kon die gemeente darem gedurende die eerste nege maande van die vakature 10 keer op 'n Sondag besoek ontvang van die konsulent of 'n ander besoekende predikant. Op 26 Desember 1881 het die kerkraad byeengekom om sy agtste beroep uit te bring. Intussen het prop. J.H. Hofmeyr, wat die afgelope maand hier waargeneem het, die hart van oud en jonk so verower dat die keuse vanselfsprekend op hom geval het. Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die gemeente dat die salaris in sy geheel uit die kerkkas aangebied sou word, sonder 'n duit uit die staatskas. (In gevolge die “Vrywillige Beginsel"-wet moes alle leraars wat ná 1875 in diens tree volledig deur die gemeente self besoldig word.)

Groot was die gemeente se vreugde toe prop. Hofmeyr hom die beroep laat welgeval. Maar hierdie vreugde is enigermate gedemp deur die voorwaarde waarop hy dit aangeneem het, naamlik dat die kerkraad hom sou toelaat om “voor den tyd van 9 maanden, nl. van July aanstaande (1882) tot April 1883 ene reis naar Europa en elders te doen, zullende hy ten genoege der gemeente voor de vervulling zyner diensten zorgen". Maar die broeders was so dankbaar vir die vooruitsig om weer 'n predikant van hul eie te hê dat hul hiertoe eenparig ingewillig het.

Op 1 April 1882 is prop. Hofmeyr met handoplegging bevestig as herder en leraar van Uitenhage, by welke geleentheid sy vader, prof. N. J. Hofmeyr, die rede uitgespreek het. Kort daarna het hy op reis na Europa vertrek. Intussen is die dienste van prop. S.P. Helm as plaasvervanger verkry, wat reeds op 24 Desember 1882 as hulpprediker deur ds. P. A. Groenewald van Humansdorp georden is, by geleentheid van die Desember-nagmaal (toe nog gebruiklik om nagmaal op Kersdag te vier). Weens die heersende “maar nu gelukkig afgenomen" droogte en die “zeer gevreesde pokken" , was die opkoms uit die buitewyjke baie teleurstellend. Ds. Hofmeyr van Somerset-Oos, wat die gemeente so getrou bygestaan het, is intussen as konsulent vervang deur ds. Groenewald van Humansdorp. Maar hy kon baie selde hierheen kom. Gevolglik moes ds. Helm maar meestal in die kerkraadsvergaderings voorsit.

Die lang afwesigheid van sy leraar was reeds baie ongerieflik vir die gemeente. Maar om sake te vererger vra ds. Hofmeyr toe nog boonop verlenging van verlof, tot einde Junie 1883 “zullende hy syn werk als leeraar dezer gemeente op den eersten Julie hervatten". Hierdie keer willig die kerkraad in, maar met hierdie voorbehoud: mits ds. Helm gedurende Mei en Junie hier aanbly as plaasvervanger. Ds. Helm, wat gelukkig toegestem het, is daarna as hulpprediker na Oudtshoorn, waar hy op 7 Julie bevestig is. In latere jare (1887–1898) arbei hy onder meer met seën in belang van die Soutpansbergsending. Einde Junie 1883 was ds. Hofmeyr terug uit die buiteland ná 'n afwesigheid van ruim 14 maande. Op 2 Julie 1883 neem by die voorsitterstoel in op die kerkraadsvergadering, en kon die broeders 'n sug van verligting slaak.

Opbloei in gemeentelike lewe duimnael|regs|320px|Die NG gemeente Uitenhage se vorige kerk, waarin ds. Hofmeyr die woord van 1883 tot 1887 bedien het.

Onder hierdie knap jong dominee, toe maar 26 jaar oud, het die verwaarloosde gemeente spoedig tot verhaal gekom. Groot en geseënde Nagmaalnaweke, geslaagde kerkbasaars, spesiale boodskappe deur besoekende leraars ensovoorts was nou weer aan die orde van die dag. So 'n “rooiletter"-naweek was die April-nagmaal van 1884. Die droogte wat so lank en swaar gedruk het, is gelukkig kort tevore gebreek sodat die opkoms uit die buitewyke “taamlik” was. Die jaarlikse kerkbasaar daardie Saterdag het £210 ingebring, wat ’n groot bedrag was gegewe die droogte. Met die Oktober-nagmaal (gewoonlik dié nagmaal van die jaar) van daardie jaar (1884) was die opkoms groter “dan men zich in jaren herinneren kan". Die kerk was dan ook by al die dienste “wel gevuld". Vrydag was die jaarlikse sustersbasaar, terwyl Saterdag 37 persone tot lidmate bevestig is, onder wie “een bejaarde zuster van 60 jaren". Die voorafgaande drie weke lange katkisasie het ds. Hofmeyr se stem so ooreis dat hy beswaarlik deur al die dienste kon kom. Die kerkraad het daarom besluit om die aanneming en voorstelling in die vervolg nie meer met 'n Nagmaalsgeleentheid te hê nie, maar “halverswege tusschen de nagmaalstyden", dit wil sê die eerste weke van Februarie en Augustus.

Nog ’n teken van die tyd was 'n voorstel in die kerkraadsvergadering van Januarie 1885 om die Nagmaal nie meer op Kersdag te vier nie, 'n voorstel wat egter verwerp is. Dié jare lange gebruik sou dus nog voortgesit word.

Geseënde spesiale dienste Teen die middel van Desember 1884 besoek ds. Andrew Murray die gemeente met spesiale dienste. Bygestaan deur ds. S.P. Helm van Britstown (vorige hulpleraar van die gemeente), volg 'n reeks dienste wat, ondanks die heersende droogte en die feit dat dit “deels in het Hollands, deels in het Engelsch" gehou moes word, baie goed bygewoon en besonder geseënd was. As vrug hiervan is daar toe, veral op die dorp, kringe “tot gezamentlyk gebed en onderzoeking van Gods Woord" gestig, afsonderlik vir “vaders, moeders, jongedochters en jongelingen". Geruime tyd was hierdie gebedskringe 'n middelpunt van geestelike seën en krag.

Ook ander leraars besoek die gemeente in hierdie tyd. So bv. het ds. J. D. Kestell sy reis na Natal vroeg in 1886 onderbreek en twee preekbeurte hier waargeneem. Met die Kers-nagmaal van 1885 neem di. A.J.L. Hofmeyr (die plaaslike leraar se oudste broer, toe van die gemeente Prins Albert) en W.P. Rousseau (Albanie) weer die dienste waar. Toe dit bekend word dat prof. N.J. Hofmeyr, ds. Jan Hofmeyr se vader, die gemeente met die April-nagmaal van 1886 sou besoek, het die gemeente in besonder groot getalle opgekom. Die waardige ou kerkman het al die dienste, onder meer ook een vir die kinders, gehou. Dit was volgens oorlewing waarlik 'n geseënde naweek.

Swak geldsake