duimnael|regs|320px|Die Gereformeerde kerk Strydenburg, gestig in 1897 as 'n Gereformeerde kerk onder die Kruis.
Die Gereformeerde Kerke onder die Kruis was ’n kortstondige Protestantse kerkverband in Suid-Afrika wat ontstaan het toe lidmate laat in die 19de en vroeg in die 20ste eeu die Nederduitse Gereformeerde Kerk om godsdienstige redes verlaat het. Dié kerkgroepering het ophou bestaan nadat die Kerke onder die Kruis deel geword het van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
Die naam van die kerke Die benaming "Kerk onder die Kruis" is in die geskiedenis van die kerk in Nederland nie onbekend nie; trouens, dit kom voor in verskeie situasies eers in die 16de eeu en later weer in die 19de eeu. Op die voetspore van die benaming in die 16de eeu is dit later weer gebruik, hoewel onder gewysigde omstandighede. In die geskiedenis van die Reformasie in Nederland het gedurende die 16de eeu as gevolg van die onderdrukkingsmaatreëls van Karel V en Philips II talle reformatories gesinde gelowiges hulle land verlaat en as vlugtelinge in die aangrensende lande tydelike gasvryheid geniet. Hierdie vlugtelinge is in die vreemde georganiseer in gemeentes, wat gewoonlik bekend staan as vlugtelingkerke, maar hulle het ook die naam Kerke onder die Kruis gedra. So blyk dit byvoorbeeld dat die handelinge van die eerste Sinode van die Gereformeerde Kerke in Nederland, wat as gevolg van die gevaarlike toestand in 1571 nog in Emden gehou is, die opskrif dra: "Acta ofte Handelinghen der versamelinghe der Nederlandsche Kerken die onder 't Cruys sitten".
Hieruit kan afgelei word dat die aanduiding "Onder die Kruis" moet heenwys op 'n toestand van geloofsvervolging en as gevolg waarvan die kerke verhinder word om 'n normale bestaan as gelowiges te voer. In dieselfde rigting dui die gebruik van die benaming "Gereformeerde Kerke onder die Kruis" gedurende die 19de eeu in Nederland, toe van staatsweë ook weer onderdrukkingsmaatreëls uitgevaardig is teen diegene wat hulle nie met die staatskerkgedagte in Nederland kon versoen nie. Die gebruik van die benaming "Gereformeerde Kerke onder die Kruis" in Suid-Afrika moet wel op 'n ietwat gewysigde vlak beskou word, want hier was destyds nooit sprake van geloofsvervolging van staatsweë nie, maar die gebruik van die naam is tog deur die betrokke persone soos volg geregverdig: "Die groot bedoeling daarvan is dolerende of treurende onder die kruis. Die vraag sou wel gevra kan word of daar dan 'n vervolging is? Daar is wel geen openlike vervolging nie, maar ons moes alles verlaat, kerkgoedere, ens., ook moes daar 'n onderskeid in die naam wees om nie met die tans bestaande Gereformeerde Kerk verwar te word nie. Ons sou ons ewe goed dolerend kon genoem het."
Die ontstaan van die Kerke onder die Kruis Omstandighede en faktore in die bestaan van die Nederduitse Gereformeerde Kerk gedurende die laaste deel van die 19de eeu bied die historiese agtergrond vir die ontstaan van hierdie kerkgroep. In die 19de eeu het daar ’n groot verandering in die Kerk aan die Kaap plaasgevind, onder meer die nuwe gees van verdraagsaamheid en die verengelsing van die kerklike lewe aan die Kaap. Daar was ook ’n slapper houding jeens die belydenisstukke van die Kerk, die sterker opkomende Liberalisme in die Kerk en die middels wat daarteenoor aangewend is, veral die opwekkingsdienste. Die nuwe gees van verdraagsaamheid hoef nie in sy wese verkeerd te wees nie, maar sodra dit volgens sommige te ver gevoer word, werk dit 'n baie groot mate van geestelike onverskilligheid in die hand, en word dit volgens hulle 'n baie groot gevaar in die kerk. As hierby gevoeg word die beleid van die Britse owerheid om Engels as taal soveel moontlik in die kerklike lewe te bevorder, word die aksente as vanself op ander sake gelê en moet daar 'n ander geesteshouding uit gebore word.
Die slapper houding teenoor die belydenisstukke Met die totstandkoming van Ordonnansie 7 van 1843, waardeur aan die Ned. Geref. Kerk die reg verleen is om onder sekere voorwaardes self sy eie inwendige sake te beheer, is die Drie Formuliere van Eenheid verkeerdelik soos volg aangedui: Die Geloofsbelydenis van Dordrecht en die Heidelbergse Kategismus. Daar bestaan nie 'n belydenisstuk soos "die geloofsbelydenis van Dordrecht" nie, en dan is daar natuurlik drie belydenisstukke gewees: Die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls teen die Remonstrante. Daar word wel aanneemlike verklarings vir hierdie foutiewe opgawe gegee, maar hoe dit ook al sy, dit bly tog 'n aanklag teen die Kerk dat hierdie belangrike ordonnansie in die Staatskoerant gepubliseer is en deur die Wetgewende Vergadering behandel is en daar nogal ten opsigte van die vermelding van die belydenisskrifte van die Kerk geamendeer is, sonder dat een van die kerklike leiers sy stem daarteen in protes laat hoor het. Daar was dus ongetwyfeld 'n mate van louheid in die Kerk ten opsigte van sy belydenisskrifte.
Die sterker opkomende Liberalisme in die Kerk Dr. T.N. Hanekom in Die Liberale rigting in Suid-Afrika. ’n Kerkhistoriese studie verklaar die woord Liberalisme as volg: "Dit is 'n veelomvattende benaming waarin die moderne mens van die 19de eeu sy eie selfstandigheid, selfgenoegsaamheid en soewereiniteit tot lewensbeginsel verklaar het." Vanselfsprekend word hier net die gebruik van die begrip liberalisme bedoel soos dit in kerklik-teologiese verband voorgekom het. Die liberalisme het as geestesrigting ook weer sy eie geskiedenis, en slegs as dit in gedagte gehou word, is die gedagtegang by die voorstanders daarvan duidelik. Gedurende die 16de en 17de eeue het die Gereformeerde leer 'n bloeityd in Nederland belewe maar tog verstar in 'n soort dogmatisme, met die gevolg dat in die 18de eeu die verstand of rede die hoë woord gespreek het – gewoonlik word dit aangedui met die woord rasionalisme. Hierdie rasionalisme het met verwoestende krag om hom heen gegryp en gedreig om die lewe van die kerk te verstik sodat selfs toe ernstige bedenkinge daarteen ingebring is, dit tog nie in staat was om die mag te breek nie.
Tog kon die reaksie nie uitbly nie, want as die verstand so heerskappy voer, moet die gevoel van die mens daarteen in verset kom. Daarom kry, was daar in hierdie eeu ook die Piëtisme in Duitsland en die Metodisme in Engeland, wat weer die gevoelsgodsdiens laat spreek het. En nog 'n verdere reaksie vind was daar in die sogenaamde Verligtingsbeweging, wat 'n soort saamvoeging van die verstand en die gevoel was en wat eintlik in die groot filosoof Immanuel Kant sy apostel gevind het. Dit sou later sy voldrae vrug in die Franse Rewolusiegedagtes sien.
En toe die 19de eeu kom met sy groot opbloei van natuurwetenskaplike ontdekkinge en die groot geroep opgaan dat slegs die dinge wat geweeg, gemeet en bereken kan word, waarlik van belang is, dan word op teologiese gebied die stelsel bekend as die supranaturalisme ten tonele gevoer, wat moes dien as verdediging van die historiese Christendom teen die vervlakkende Rasionalisme aan die einde van die 18de en die begin van die 19de eeu. Verdedigers het die historiese Christendom wel nodig gehad, maar die sogenaamde eerbiedwaardige manne wat byvoorbeeld in Nederland die taak op hulle geneem het, het nie juis buitengewone sukses daarmee behaal nie. Dr. Hanekom wys hulle swakheid aan: "Hul bedoeling was suiwer; hulle wou die grondwaarhede van die christendom verdedig! Maar hul uitgangspunt was verkeerd. In plaas van stelling in te neem agter die geloof in die openbaring van God, het hierdie manne probeer om langs die weg van redenering die redelikheid van dié openbaring en geloof te bewys."
Gedurende die 19de eeu het die Liberalisme soos 'n stormvloed die verskillende lande van Wes-Europa oorspoel en het in 'n land soos Nederland op teologiese gebied verskillende rigtings geopenbaar, naas dié wat reeds tevore genoem is, ook die Groninger-rigting, die Liberalisme, wat in sy wese humanisties was, omdat dit sy teosentriese karakter verloor het en 'n gedagtesisteem van die mens geword het. En die inhoud van die denke kan goedskiks weergegee word met die woorde van prof. Scholten: Dit het nie meer die belydenis geëis dat die Skrifte van die Ou en Nuwe Testament self Gods Woord is nie maar dat die volkome leer van die saligheid of die Woord van God in die Skrifte vervat is; nie meer dat die mens deur die sonde geheel en al bedorwe en tot alle goed onbekwaam is nie maar dat hy deur sy sonde diep bedorwe is; nie meer dat ons om Christus wil of om sy verdienste die saligheid ontvang nie maar deur Christus, wat van Godsweë vir ons tot wysheid geword het.
Hierdie toedrag van sake in Nederland sou ook sy uitwerking hê op die kerklike lewe in Suid-Afrika, want ook hier het die liberalistiese denkbeelde weerklank gevind, en later sou van die jong manne wat in Nederland gestudeer het, die draers word van die gedagtes wat hulle gedurende hulle studiejare ontmoet het. En toe die voorstanders van die liberale gedagtes op teologiese gebied met vrymoedigheid hulle gedagtes in geskrifte en selfs vanaf kansels openbaar gemaak het, het daar in die sestigerjare van die 19de eeu 'n baie ernstige stryd in die Kaapse Kerk teen hulle ontbrand. En hierdie stryd is wel gewen deur die Sinode, wat die afwykende gedagtes veroordeel het, maar die predikante J.J. Kotzé en Thomas François Burgers, teen wie opgetree is, is deur die burgerlike hof gehandhaaf en kon sodoende aanbly in die gemeentes.
Opwekkingsdienste in die NG Kerk duimnael|links|240px|S.J. du Toit omstreeks 1870 toe hy student aan die Kweekskool op Stellenbosch was. Terwyl die NG Kerk in die stryd met die Liberalisme gewikkel was, het ook ander dinge in die Kerk begin posvat, naamlik die sogenaamde Herlewing en die Pinksterbidure vir die uitstorting van die Heilige Gees. In die tyd van geestelike louheid en ingesonkenheid van die geloofslewe is die hulp ingeroep van opwekkingsgeleenthede. Hierdie bekende metode van die Metodisme moes nou hier in die Kaapse Kerk aangewend word om nuwe geestelike lewe te bewerkstellig. En waar dit aanvanklik nog maar sporadies voorgekom het, het dieselfde Sinode wat die stryd teen die Liberalisme aangeknoop het, naamlik dié van 1862, oor hierdie saak besluit om sy offisiële goedkeuring aan die beweging te heg en die gemeentes opgewek om ernstig en gelowig te bid dat die Gees van die Allerhoogste in meerdere mate uitgestort mag word.
Soos self te begrype is, het die voorgaande toestande in die Kerk nie onopgemerk verbygegaan nie maar het daar ernstige stemme van protes en waarskuwing opgeklink. Hierdie protesstemme is die duidelikste gehoor vanuit die Paarl, waar ds. S.J. du Toit destyds die hoofwoordvoerder was teen die "nuwighede", soos dit genoem is. Du Toit was feitlik die geestelike leidsman was van die mense wat later die Gereformeerde Kerke onder die Kruis gestig het. Stephanus Jacobus du Toit is gebore op 9 Oktober 1847 en het opgegroei op die plaas Kleinbos naby die Paarl. Die ouerhuis waarin hy opgegroei hef, was eg ortodoks-gereformeerd, en die onderwys was in die dae maar erg primitief. Sy buitengewone gawes en veral sy sterk geheue het vroeg reeds die aandag getrek sodat hy sonder moeite preke wat hy gehoor het, kon sit en opskrywe.