Pieter Johannes Fourie (3 April 1940 - 12 September 2021) was ’n Afrikaanse dramaturg. Ná skool studeer hy Afrikaans Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch en verwerf sy B.A. Honneurs-graad. Vanaf 1964–1966 toer hy met sy eie teatermaatskappy. Vanaf 1967–1987 was hy die kunsdirekteur by KRUIK. Daarna was hy werksaam by TRUK en later was hy die hoofdirekteur van die KKNK. Hy was die regisseur van verskeie dramas en het ook in ’n paar gespeel.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Pieter_Fourie

In 1996 ontvang Fourie die Erepenning vir Toneelkuns en die Gerhard Beukesprys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. In 2003 ontvang hy die Hertzogprys vir sy dramaöeuvre.http://www.stellenboschwriters.com/fouriep.html besoek op 30 Januarie 2015.

Lewe en werk

Herkoms en vroeë lewe Fourie is op 3 April 1940 op Philippolis in die Vrystaat gebore as die middelste van drie kinders. Sy pa, Fritz, was ’n vervoerkontrakteur en as kind ry Fourie baie kilometers saam met sy vader. Op sewejarige ouderdom trek hy saam met sy ouers na Luckhoff in die Vrystaat, waar hy grootword en skoolgaan. Op die Vrystaatse platteland raak hy bekend met die toneel deur die rondreisende geselskap van André Huguenet en maak sy toneeldebuut op Philippolis as gordyntrekker. Op sestienjarige ouderdom verlaat hy die skool met slegs standerd agt om op Koffiefontein as briewebesteller en klerk by die Poskantoor te werk, maar sit na aanmoediging van Etienne Leroux weer sy skoolloopbaan voort op negentienjarige ouderdom. Hy matrikuleer aan die M.T. Steyn Hoërskool op Philippolis. Hierna studeer hy drama aan die Universiteit van Stellenbosch, maar ná ’n onderonsie met professor Fred Engelen skakel hy oor na letterkunde en verwerf die B.A.-graad en in 1964 ook die B.A. Honneurs-graad in Afrikaans-Nederlands. Hier is hy een van die eerste studente in D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium. As student is hy die stigter en eerste voorsitter van die Stellenbosse Aktuele Aangeleenthedekring (SAAK) en laat die wenkbroue lig wanneer hy voorstel dat Albert Luthuli die openingsvergadering toespreek. Vir vier jaar agtereenvolgens is hy die wenner van die Senior Redenaarsbeker. In sy studentejare resenseer hy ook professionele produksies vir Die Burger se kunsteblad, onder redakteurskap van W.E.G. Louw.Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/fouriep.html

Pieter Fourie Genootskap Hierna stig hy die Pieter Fourie Genootskap, ’n reisende toneelgeselskap in die jare 1964 tot 1966, wat ook die laaste Afrikaanse reisende toneelgeselskap is. Christine Basson en Marie Pentz is saam met hom lede van hierdie geselskap. Hulle repertorium sluit stukke in wat deur Fourie geskryf en geregisseer is. As akteur speel hy in hierdie jare in vele dramas (waaronder Vergewe ons ons skulde), terwyl hy daarna soms nog rolle vertolk op die verhoog en ook op die televisie, waar hy in die televisiereeks Herberg ’n groot rol vertolk. Rolprente waarin hy rolle vertolk sluit in Dr. Kalie, Vlug van die seemeeu en My broer se bril. In 1966 sluit hy as bestuurder van die Afrikaanse toneelgeselskap by die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK) aan, in 1967 word hy hoof van die Afrikaanse toneelafdeling en in 1968 artistieke direkteur, ’n posisie wat hy tot 1983 beklee. As regisseur met ’n onortodokse en vindingryke aanslag is hy verantwoordelik vir meer as sestig opvoerings soos Fando en Lis en Die twee laksmanne van Arrabal, Die selfmoordenaar van Erdmann, ’n Kop vir die strop van Feydeau, Die huwelik van mnr. Mississippi van Friedrich Dürrenmatt, Shakespeare se Othello en So ’n liefde, Roulette en Arme moordenaar, almal van Pavel Kohout. Hy word in 1978 aangestel as redakteur van beide die Engelse en Afrikaanse toneelafdelings. In hierdie tyd bly hy in ’n huis in Tamboerskloof in Kaapstad.

Persoonlike lewe Uit sy eerste huwelik, met die aktrise Liz Dick, word twee dogters gebore, naamlik Tanya en Mashinka. Na sy tweede huwelik, op 17 Desember 1983 met Marlize Herselmann, vestig hy hom op die kleinhoewe La Terra de Luc naby Franschhoek en is resident-dramaturg vir KRUIK en vanaf 1 Januarie 1987 vir die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK).Le Roux, André. Truk-Toneel palm Pieter Fourie in. Die Burger, 12 November 1986. Hy en Marlize het twee dogters, Natasha en Nandi. In 1990 vestig hy hom as knoffelboer op die plaas Kapteinskloof tussen Piketberg en Velddrif. Na sy tweede egskeiding vestig hy hom in 1993 op Luckhoff, waar hy groot geword het. By al hierdie wonings is hyself ten nouste betrokke met die restourasie van die geboue. Hy word op 1 Junie 1994 die eerste hoofdirekteur van die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees wat vanaf 1994 jaarliks te Oudtshoorn aangebied word, waarna hy in 1998 artistieke direkteur (woordkuns) van hierdie fees word en in 1999 die fees verlaat om weer voltyds te skryf.Nieuwoudt, Stephanie. Fourie verheug omdat hy nie meer feesdirekteur is. Plus, 23 Oktober 1998. In 2000 verhuis hy na ’n huis in die Swartberg, naby Oudtshoorn in die Klein Karoo. In hierdie jaar stig hy die produksiemaatskappy Rooderandt Produksies, wat verskeie van sy werke opvoer. Hy is in 1995 weer getroud, hierdie keer met die skilder en weduwee Maletta, wat ’n dogter, Sonja, uit haar vorige huwelik het. Hulle koop later ’n huis in Stilbaai en trek daarna in 2010 na Robertson.

Skryfwerk

Digkuns Hy begin sy kreatiewe werk deur gedigte te skryf, wat in tydskrifte soos Standpunte, Sestiger en Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer word. D.J. Opperman neem ook van sy gedigte op in Stiebeuel 2, wat in 1965 gepubliseer word. Hy begin hom egter redelik vroeg in sy skrywersloopbaan meer toespits op die drama. In 2017, op 77-jarige ouderdom, debuteer hy met 'n boeiende, stewige bundel getiteld Knapsekêrels wat allerweë goed ontvang word. Sy omvangryke kennis van en liefde vir die volkse blyk uit elke gedig.

Drama

Kinderdrama Sy eerste gepubliseerde drama is ’n kinderdrama, Hansie die hanslam wat landwyd opgevoer is. Die slagter Rondomlelik wil vir Hansie tydens ’n droogte slag om sy vleis aan die burgemeester se vrou te verkoop. Die handeling geskied tussen diegene wat die slagter ondersteun en diegene wat hom in sy poging teenstaan. Hy skryf ook twee ander kinderstukke as deel van ’n Oude Libertas-opdrag, naamlik Husse met lang ore en Luilummel en Flenterpiet.

Gepubliseerde dramas Met Faan se trein en die opvolg daarop, Faan se stasie,Brink, André P. Rapport, 27 Junie 1976. skep hy volksteater in die tradisionele sin van die woord en die opvoerings van hierdie stukke is uiters gewild, selfs wanneer dit na dertig jaar herhaal word. Faan se treinBoekkooi, Paul. Beeld, 24 Januarie 2014.Brink, André P. Voorlopige Rapport. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 1976. is sonder twyfel die grootste lokettreffer onder Afrikaanse dramas tot op hede. Dit vertel van die verstandelik vertraagde en per definisie onskuldige Faan wat die bedrog, gierigheid en valsheid in die samelewing deur sy kinderlike eerlikheid ontbloot. Na sy vader, Frik Oosthuizen, se dood word hy weggeneem om na ’n gestig te gaan. In die proses word verskeie aktuele kwessies aangeraak, soos die behandeling wat die “amperbase” (die Kleurlinge) by die blankes kry en die skynheiligheid en veral selfsugtigheid en gierigheid onder mense. Wanneer Faan se treinBrink, André P. Rapport, 23 November 1975. in 2005 na dertig jaar weer opgevoer word, verower dit by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees die Herrie Kanna-gewildheidprys as die gewildste opvoering by die fees. Die rolprentregte van hierdie drama word in 2010 verkoop aan Koos Roets en hulle twee verwerk saam die drama in ’n draaiboek. Die film word in Januarie 2014 kommersieel vrygestel, nadat dit by die KykNet Silwerskerm-fliekfees van 2013 met nege toekennings bekroon is, wat insluit beste fliek, beste draaiboek, beste akteur vir Willie Esterhuizen in die rol van Faan en beste regisseur vir Koos Roets.Bouwer, Anna-Retha. ’Faan se trein’ stoom voort as ’n rolprent. Beeld, 20 November 2010. In 2015 word die film ook met twee Saftas (Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiepryse) bekroon.Imdb: http://www.imdb.com/name/nm4583234/Burger, Kobus. ’Faan se trein’ nou op ’n nuwe spoor. Beeld, 7 Junie 2005.Swanepoel, Yolandè. Verwyl tyd op Faan se stasie. Wapad, 27 September 2006.Potgieter, Org. Faan het gevloei uit ’n onrustige gevoel. By, 25 Mei 2013.Steyn, Pieter. Op Faan se spoor. By, 25 Mei 2013. Faan se stasieDe Kock, Corli. Spat, 29 September 2006. neem Faan se storie verder waar hy in drie verskillende areas vasgekeer is, eers in die dorpstronk op wag vir die trein, dan in die treinkompartement en laastens in die gestig. Sy kinderlike gedagtegang stuit teen totale onbegrip van die situasie en eindelik is dit slegs die toneelganger en leser wat insig verkry in sy gemoedstoestand.

Met Die joinerBreytenbach, Kerneels. Die Burger, 15 November 1982. beweeg Fourie op vir sy tyd gevaarlike grond wat die tematiek betref. Sarel was as vyftienjarige seun ’n joiner uit die Tweede Vryheidsoorlog. Om sy ma en meisie en ander vroue te red, lei hy die Engelse magte na die Boere se skuiling, waar 98 Boere doodgeskiet word. Hierna word hy deur sy mense as ’n verraaier verstoot en omdat sy eie mense hom nie wil hê nie, trou hy met ’n swart vrou, maar stem tog in 1948 vir D.F. Malan en die Nasionale Party. Elke jaar op 4 Oktober word hy deur oudstryders verneder oor sy dade van verraad teenoor die Afrikaner. In die drama ondersoek Fourie die Afrikaner se houding teenoor ander rassegroepe, sy selfsug en die manier waarop hy God vir homself annekseer.Slabber, Coenie. Rapport, 21 November 1982. Dit is veral deur eksperimentering met dramategnieke wat ’n nuwe landskap vir die Afrikaanse drama betree word. Benewens die vernuftige gebruik van tydverloop en terugflitse, is dit hier die eerste keer dat die gedagtewêreld van die karakters selfstandige bestaan kry, sodat Sarel en sy gedagtes deur drie akteurs vertolk word. Sarel 1 is die karakter soos hy teenoor ander optree, Sarel 2 gee sy gedagtes weer en Sarel 3 verteenwoordig die stemme van sy selfverwyt. Opvallend is ook die nuwe gebruik van simultane situasies en handelinge op die verhoog.

Die versdrama oor die lewe van TsjakaBrink, André P. Rapport, 21 November 1976.Cloete, T.T. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 16 no. 1, Februarie 1978. word deur Sheila Gillham in Engels vertaal as Shaka.Brink, André P. Rapport, 7 Augustus 1977. Hierin word veral Tsjaka se komplekse verhouding met sy moeder ondersoek asook die gebeure na haar dood, wat lei tot sy uiteindelike dood aan die hand van sy halfbroer Dingaan. Interessant is ook die uitbeelding van sekere Zoeloe-tradisies in die stuk, terwyl die gebruik van Zoeloe-frases die outensiteit van die dialoog versterk.Gray, Stephen. Beeld, 7 Maart 1977. Tsjaka se eie menigvuldige wreedhede, wat ook uitgebeeld word, doen egter afbreek aan simpatie vir hom en veroorsaak dat hierdie stuk as tragedie misluk.