Johannes Friedrich Wilhelm Grosskopf (25 November 1885 – 3 Julie 1948) was 'n Afrikaanse skrywer. Grosskopf was redakteur van Die Volksblad, professor in Ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch en hoof van die afdeling Ekonomie en Markte in die Departement van Landbou in Pretoria. As dramaturg is hy die grondlegger van die realistiese drama in Afrikaans en hy verower die Hertzogprys met sy dramas.Afrikaner Geskiedenis: http://www.afrikanergeskiedenis.co.za/25-november/
Lewe en werk
Vroeë lewe en herkoms Johannes Friedrich Wilhelm Grosskopf is op 25 November 1885 as lid van ’n Duitse sendingfamilie in Bloemfontein gebore, waar sy vader leraar van die Lutherse gemeente was.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/J.F.W._Grosskopf Sy moeder is in 1864 in die distrik Lydenburg gebore en kom ook uit ’n geslag van sendelinge. Sy was die oudste dogter van eerwaarde H. Grützner, wat in 1859 saam met A. Merensky (vader van Hans Merensky) na Transvaal gestuur is as die eerste buitelandse sendelinge wat die Zuid-Afrikaansche Republiek in sy gebied laat arbei het. E.B. Grosskopf is sy broer.
Opleiding en verdere studie Na voltooiing van sy skoolopleiding in 1900 aan die Grey-Kollege in Bloemfontein, waar dr. Johannes Brill een van sy leermeesters was, studeer hy van 1902 verder aan die Victoria-Kollege op Stellenbosch. In 1904 behaal hy die B.A.-graad in moderne tale en in 1906 die M.A.-graad. Sy belangstelling in die drama word hier geprikkel met sy studie van die Duitse letterkunde op Stellenbosch en hy doen ook navorsing oor die Engelse toneelgeselskappe wat vanaf 1600 op die Europese vasteland rondgereis het.
Vir ’n jaar (1907) gee hy onderwys in Nederlands en Duits aan die Diocesan-Kollege in Rondebosch in Kaapstad. Reeds in hierdie tyd neem hy deel aan die aktiwiteite van die Tweede Taalbeweging. In Desember 1907 woon hy die kongres van Kaapland se Afrikaanse taalverenigings in Kaapstad by as plaasvervanger vir ds. Willem Postma vir Steynsburg. Dan studeer hy vanaf 1908 met ’n Queen Victoria-beurs van die ou Kaapse Universiteit in Berlyn, Leipzig en Wenen in Duitsland en Oostenryk in die regte en die letterkunde. Sy belangstellingsveld is egter veral die regte en ekonomie en hy gaan later na Leiden in Nederland. Hier behaal hy in April 1913 die D.Jur.-graad op die gebied van die Romeins-Hollandse Reg en studeer dan nog ’n jaar in die ekonomie in Zürich, Switserland.Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Grosskopf,_Johannes_Friedrich_Wilhelm Terwyl hy in 1909 en 1910 in Wenen is, word sy belangstelling in die drama verder ontwikkel deur sy blootstelling aan die tradisie van die keiserlike Burghteater. Hy neem hier ook gereeld klasse in drama by professor Alexander von Wellen Weil, wat dramas van Henrik Ibsen vanuit die gesigspunt van die toneel, eerder as die letterkunde, ontleed.
Terugkeer na Suid-Afrika By sy terugkeer in April 1914 na Suid-Afrika onderneem hy aanvanklik in opdrag van die Universiteit van Oxford navorsing na ongeskrewe Voortrekker-herinneringe. Hy voer soveel moontlik onderhoude met mense wat nou reeds bejaard is en as kinders aan die Groot Trek deelgeneem het. Met die uitbreek van die Rebellie neem hy onder generaal PienaarStellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/grosskopf.html en saam met Jopie Fourie deel daaraan en word na ses weke in die veld gevange geneem en veroordeel tot tronkstraf vanaf Desember 1914 tot Augustus 1915. Met oplegging van ’n geldboete word hy dan uit die tronk ontslaan, op voorwaarde dat hy hom nie weer met die regte of politiek in Suid-Afrika mag bemoei nie. Sy ondervindings in die gevangenis dien later as boustof vir van sy dramas, soos ’n Esau. By sy ontslag dien hy vanaf 1915 in die redaksie van Ons Vaderland in Pretoria en is in hierdie tyd ook korrespondent in Pretoria vir Die Burger, vir wie hy ’n vaste weeklikse rubriek onder die opskrif Briewe van o’er die Vaal skryf. Hy word in 1917 hoofredakteur van Die Volksblad in Bloemfontein en skryf in hierdie jare enkele boekresensies in Die Huisgenoot, Die Volksblad en Die Volkstem, waarin hy detailkritiek by wyse van kommentaar op taal en versvorm lewer en so een van die eerste werklik insigryke kritici in Afrikaans word.
Akademiese loopbaan In 1920 word hy hoogleraar in Staatshuishoudkunde (Ekonomie) aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy hom later veral toespits op die landbou-ekonomie. Op universiteit word hy ’n lid van die Unie-debatsvereniging en hy is dan ook regisseur van verskeie Afrikaanse toneelproduksies, insluitende Koringboere van D.F. Malherbe. In hierdie jare is hy ook baie geïnteresseerd in jag en die veldlewe, en in 1922 besoek hy in ’n maandelange reis Oos-Afrika saam met Sangiro. Sangiro dokumenteer hierdie ervaringe in sy boek Op safari. As professor interesseer Johannes hom onder meer in die probleme van Koöperasie in Suid-Afrika, waaroor hy in 1923 ’n studie publiseer, in boerdery as nering (drie studies in onderskeidelik 1930, 1937 en 1941) en in die oorsake van die Plattelandverarming en plaasverlating, waaroor hy as lid van die Carnegie-kommissie in 1932 verslag lewer.
Hy bring ’n besoek aan Europa en die Verenigde State van Amerika in 1934 en in 1935 word hy hoof van die afdeling Ekonomie en Markte in die Departement van Landbou in Pretoria. Gedurende hierdie tyd is hy ook vir etlike jare die eerste voorsitter van die Mielieraad, die Koringraad en die Tabakbeheerraad. In 1945 word hy adjunk-voorsitter van die Nasionale Bemarkingsraad in Pretoria, terwyl hy steeds tegniese adviseur is vir die afdeling Ekonomie en Markte. Van 1935 tot 1945 is hy ereprofessor in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria.
Persoonlike lewe In 1916 trou hy met Franki Neethling van Pretoria, wat in 1918 ten tye van die groot griepepidemie oorlede is. Dan trou hy in 1925 met Cornelia Johanna Wagner, ’n boeredogter uit die distrik Humansdorp in die Oos-Kaap. As aktrise het sy die hoofrol vertolk in die opvoering van D.F. Malherbe se Koringboere.
Op 3 Julie 1948 is Johannes Grosskopf in Pretoria oorlede.
Skryfwerk Van kleins af is die jong Grosskopf lief daarvoor om stories uit te dink. Reeds in ongeveer 1903 verskyn sy eerste verhaal in Engels in The South African News. In 1908 neem J.H.H. de Waal ’n studenteverhaal getiteld ’n Snaakse briefwisseling in die maandblad De Goede Hoop op. In 1915 verskyn in Ons moedertaal die verhaal Ongenooide gaste, wat hy in die gevangenis in Pretoria skryf. Waar hy aanvanklik in Engels begin skryf het, slaan hy vroeg reeds oor na Afrikaans. Sy oorspronklike voorneme was om deur vertalings uit ander tale sy vaardighede in Afrikaans te verbeter. So vertaal hy gereeld verse en prosa uit Engels, Duits en Frans. Reeds in Desember 1909 begin hy met ’n vertaling van Balzac se Une passion dans le désert as Woestynliefde (wat later in sy bundel Ou Leeumelker en ander vertellings gepubliseer word), terwyl hy ook proewe het van vertalings uit Jonathan Swift, Schopenhauer en andere wat uit hierdie tyd dateer.
Drama Grosskopf is die grondlegger van die realistiese drama in Afrikaans deur sy belangstelling in verhoudings en konflikte tussen mense. Onder die ouer Afrikaanse dramaturge is hy ook die veelsydigste eksperimenteerder wat hom op verskillende terreine begewe. Hy skryf byvoorbeeld die eerste gepubliseerde hoorspele in Afrikaans en lewer die eerste episodiese radiodrama, terwyl sy eenbedryf In die wagkamer as teks vir die eerste Afrikaanse rolprent (Moedertjie, 1931) dien.
In sy eerste drama, ’n Esau, ondersoek hy die tragiek van baie van die ou Transvaalse Boere se onvermoë om aan te pas by die vinnige ekonomiese en politieke hervormings wat deur gebeurtenisse soos die ontdekking van goud, die Anglo-Boereoorlog en die Eerste Wêreldoorlog teweeg gebring word. Die dramatiese konflik is tussen twee broers wat verskillend reageer op hierdie veranderde toestande. Die keurkomitee vir die toekenning van die Hertzogprys plaas in 1919 vir ’n Esau (in manuskripvorm) tweede na Leon Maré se Ou Malkop. Die tweede toneel uit hierdie drama word deur D.F. Malherbe in die versamelbundel Afrikaanse letterkunde opgeneem.
As die tuig skawe is ’n sosiaal-realistiese drama waarin die verband tussen materiële en geestelike verarming treffend uitgebeeld word. Die krag van die drama lê daarin dat die dramaturg daarin slaag om gewone mense in ’n realistiese situasie se innerlike konflik aangrypend uit te beeld en daarby ook die gebeure self oortuigend motiveer. As die tuig skawe word in 1926 saam met Drie eenbedrywe met die Hertzogprys bekroon.
Die vollengte drama Legende beeld die ideaal van ’n Afrikanervolksheld uit teen die agtergrond van heldedade en gebeurtenisse uit die Afrikaner geskiedenis en is gelaai met ideologie. Die historiese agtergrond is die lewe van Paul Kruger en die geskiedenis van die Afrikaners, met die hoofkarakter Karel Veldkamp wat as bindende element tussen die andersins losstaande episodes dien. Die drama is fragmentaries en epies van aard, eerder as dramaties, maar bevat tog natuurlike dialoog, ryk aan tiperende uitdrukkings.Van Wyk, Johan Taylor & Francis Online: http://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/02564718908529897?journalCode=rjls20&
Padbrekers speel af teen die agtergrond van die breuk tussen Afrikaners met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, wat onder andere lei tot die stigting van die Ossewabrandwag en die groeiende steun vir die Nasionale Party van D.F. Malan. Dit word bestempel as “’n mensetragedie” waarin die opkomende nasionalisme van die Afrikaner die fondament vorm van die gebeure, met die boodskap dat die goeie wel uiteindelik sal seëvier, al moet dit tydelik ten gronde gaan. Die verhaalelement is beide simbolies en allegories en beeld ’n volk uit wat onder die idealistiese leier Manno in verset kom teen onregverdige bewindhebbers en teen ’n buitelandse organisasie wat hulle bedreig. In die uur van beslissing kies hulle om eerder heroïes onder te gaan as om eerloos oor te gee.
Die stem van die stad is ’n ongepubliseerde episodiese radiodrama wat op versoek geskryf is vir die Johannesburgse jubileum in 1946 en die Afrikaner se lewe aan die Rand oor sestig jaar skets.
Op 20 Junie 1924 verskyn sy eerste eenbedryf, die allegorie Die peswolk, in Die Huisgenoot en op 26 Desember 1924 verskyn die eenbedryf Die spookhuis ook in Die Huisgenoot. Hierdie twee werke word saam met In die wagkamer gebundel as Drie eenbedrywe. In 1931 ken die Akademie ’n Erepenning aan Grosskopf toe vir sy bydrae tot die Rolprentkuns as draaiboekskrywer van die eerste Afrikaanse klankfilm Moedertjie, gebaseer op die eenbedryf In die wagkamer. Drie eenbedrywe word in 1926 saam met As die tuig skawe met die Hertzogprys bekroon.
Oorlog is oorlog verskyn reeds op 9 Desember 1927 in Die Huisgenoot en word later in versamelbundels opgeneem en apart in boekvorm gepubliseer. As eenbedryf verteenwoordig dit ’n hoogtepunt in Grosskopf se oeuvre. Teen die agtergrond van die Anglo-Boereoorlog word die konflik tussen ’n keuse vir persoonlike eerbaarheid en morele integriteit aan die een kant en trou aan ’n geliefde in lewensgevaar aan die ander kant behandel. Rachel het voorheen ’n verhouding gehad met die Engelsman Cuthbert, maar sy het dit verbreek weens die uitbreek van die oorlog. Sy raak dan betrokke in ’n verhouding met die Boer Jan. T.T. Cloete neem Oorlog is oorlog op in die versamelbundel Vyfling, wat eenbedrywe van Hertzogpryswenners bevat. In 1940 verwerk Anna Neethling-Pohl hierdie drama vir die Volksteater, waar dit as Mara opgevoer word.
Oorlog is oorlog word ook opgeneem in Die klipdolk en ander kortspele, waarin verder verskyn die eenbedryf Die klipdolk en die radiodramas Blinde liefde en Die poskoets in die rivier.