Gerhard Johannes Beukes (21 November 1913, Upington – 31 Augustus 1998, Bloemfontein) was 'n Afrikaanse dramaturg, veral bekend vir sy komedies. Benewens sy eie toneelstukke laat hy ook talle ander skrywers se bloemlesings die lig sien.HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, Hy het die Hertzogprys vir drama in 1952 (saam met W.A. de Klerk) verowerEsat: http://esat.sun.ac.za/index.php/Gerhard_J._Beukes en was tot 1978 die hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat.
Lewe en werk
Herkoms en vroeë lewe Gerhard Johannes Beukes is op 21 November 1913 in ’n watent op die plaas Biesiepoort naby die Augrabieswaterval en Upington gebore, as een van sewe kinders wat later almal in die onderwys staan. Tot elfjarige ouderdom word hy op die plaas groot voordat hy vir die eerste keer na die plaasskool gaan wat deur die ywer van sy moeder op hulle plaas ingerig is. Die skrywer Lalie Beukes is sy suster.
Opleiding en begin van loopbaan Hy gaan daarna skool op Keimoes in die Noord-Kaap en matrikuleer in 1932 op Upington. Na skool studeer hy vanaf 1933 verder aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sy toekomstige vrou, Pattie Pretorius, ontmoet. Professor F.E.J. Malherbe se geïnspireerde lesings en persoonlike belangstelling dra hier veral baie by tot sy letterkundige vorming. Hy behaal die B.A.-graad in 1935 en die Sekondêre Onderwysdiploma in 1936. Daarna gee hy vir twee jaar lank onderwys aan die Michaelhouse College in Natal. In 1939 verhuis hy na Pretoria as onderwyser aan Pretoria Boys High School, waar hy aan die einde van dieselfde jaar na deeltydse studie aan die Universiteit van Suid-Afrika die M.A.-graad met ’n verhandeling oor Die Indiwidualisme in die algemeen en sy uiting in die jongste Afrikaanse poësie verwerf. Hy gee vir agt jaar onderwys in Pretoria.LitNet ATKV Skrywersalbum 21 Augustus 2014: http://www.litnet.co.za/gerhard-j-beukes-19131998/
Loopbaan in die akademie In 1940 tree hy in die huwelik met Isabella Susanna (Pattie) Pretorius (11 Junie 1914 – 14 Oktober 1992) en uit die huwelik word twee seuns, Gerhard en Johann, gebore. Hy behaal in 1946 ’n doktorsgraad aan die Universiteit van PretoriaEsaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Beukes,_Gerhard_Johannes met ’n proefskrif oor Die moderne eenbedryf,Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/beukes.html wat later gepubliseer word. In sy tyd in Pretoria is hy ’n geesdriftige ondersteuner van die Volksteater, wat veel tot sy vorming as dramaturg bydra. Sedert 1947 is hy lektor, later senior lektor en vanaf 1959 tot met sy aftrede in 1980 professor in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, terwyl hy in 1973 ook bevorder is tot departementshoof. Hy lewer op 24 Mei 1961 sy intreerede onder die titel Die moderne eksperimentele toneel. In 1956 ontvang hy die Carnegie-beurs vir verdere studie van die moderne toneel in Amerika, waar hy onder andere die professionele teater by die Off-Broadway-teater bestudeer. Tydens sy reis van drie maande besoek hy ’n aantal belangrike universiteite, maar bring die meeste van sy tyd by Yale Universiteit deur.
1952 Hertzogprys Beukes is in 1952 in groot polemiek betrokke wanneer die toekenning van die Hertzogprys aan van sy dramas hewig gekritiseer word deur sommige letterkundiges.Nienaber, P.J. (red.) Rapier en Knuppel. Nasionale Boekhandel Kaapstad 1965 bl. 188-260 Die Akademie se aanbevelingsverslag (deur die kommissie bestaande uit F.C.L. Bosman, M.S.B. Kritzinger en H. van der Merwe Scholtz) het die volgende te sê gehad oor Beukes se dramas: “Al hierdie werk is in die groot of goeie klas. Deur Beukes se meesterskap van vorm, sy breë veld van onderwerpe en figure (nasionaal sowel as internasionaal), sy egte en deurdringende karaktertekening, sy treffende dialoog, sy tragiese sowel as komiese vermoë, sy digterlike siening sowel as intellektuele mag, verdien Beukes sonder enige twyfel die Hertzogprys, insonderheid vir sy eenbedrywe, Salome dans en, as toppunt, Langs die steiltes’. In ’n resensie in Die Huisgenoot van 27 Junie 1952 reageer Rob Antonissen besonder negatief op Langs die steiltes en sê onder andere dat “geen intrinsieke eienskappe” die publikasie van hierdie drama regverdig nie. In ’n artikel in Die Huisgenoot van 24 Oktober 1952 laat W.E.G. Louw hom ook sterk uit teen hierdie drama en meen dat die Akademie se woorde oor Beukes in hulle motivering om die Hertzogprys aan hom toe te ken het “’n goeie kans om klassiek te word in ons literatuurgeskiedenis om hul oordrywing en byna volkome gebrek aan literêre onderskeidingsvermoë”. Intussen lewer Rob Antonissen ook skerp kritiek oor die toekenning, sodanig dat F.E.J. Malherbe, wat Antonissen gevra het om vir Ons Eie Boek oor die twee bekroondes (Beukes het saam met W.A. de Klerk die Hertzogprys gekry) te skryf, die stuk geweier het. Antonissen se kritiek verskyn toe in Standpunte van Oktober 1952. In Die Huisgenoot van 28 November 1952 het F.C.L. Bosman geantwoord op W.E.G. Louw se kritiek, vir Beukes verdedig en ’n persoonlike aanval op Louw se gedig Adam gedoen. In Die Burger van 17 November 1952 reageer Bosman ook op Antonissen se kritiek en noem hom “’n jong uitlander” wat nog nie die Afrikaanse kultuur en waardes onder die knie gehad het nie. Hierop het D.J. Opperman in Die Burger van 18 November 1952 vir Antonissen verdedig en ook die Akademie se aanprysing gekritiseer.Universiteit van Pretoria: http://repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/24498/03chapter5.pdf?sequence=4 Verskeie ander mense het tot die gesprek toegetree, onder andere ook W.A. de Klerk, maar onder ’n skuilnaam. Beukes het hom weerhou om aan die polemiek deel te neem, maar was baie seergemaak daardeur.
Bydrae op Afrikaanse kulturele gebied Op kulturele gebied is Beukes besonder bedrywig. Hy word in 1952 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en is van 1973 tot 1975 voorsitter van hierdie organisasie en ook tussen 1973 en 1975 voorsitter van die Akademie se Fakulteitsraad vir Kuns en Geesteswetenskappe. Hy dien geruime tyd op die Letterkundige Kommissie van die Akademie en in hierdie amp is hy betrokke by die beoordeling van die Hertzogprys en ander Akademiepryse. Vanaf 1958 is hy lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden en tussen 1973 en 1976 is hy lid van die hoofbestuur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (F.A.K.). Verder is hy tussen 1948 en 1970 voorsitter van die Beheerraad van Bloemfontein se Openbare Biblioteek, tussen 1950 en 1970 voorsitter van die Vrystaatse Kunswedstrydvereniging en voorsitter van die Nasionale Toneelbiblioteek in Bloemfontein, lid van die Adviesraad vir die Dokumentasiesentrum vir Taal en Lettere van die Raad vir Geesteswetenskaplike Vereniging en van hierdie organisasie se komitee vir beurstoekenning, en lid van die Beheerraad van Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat (SUKOVS). Hy is verder lid van die beheerrade van Dalro en Carfo. In 1969 word hy aangestel as lid van die ondersoekkommissie na die instelling van televisie in Suid-Afrika en hy is ook lid van die ondersoekkomitee na die toekoms van amateurtoneel in Suid-Afrika. In 1967 word hy deur die Vrystaatse Adviserende Biblioteekkomitee as voorsitter van ’n ad hoc-komitee aangestel om die stigting van ’n Vrystaatse Skrywersbiblioteek te ondersoek, wat na samesprekings met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing ’n nasionale projek word en eindelik uitloop op die stigting van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein. Hy dien dan ook tot met sy aftrede in 1978 as lid van die Adviesraad vir NALN, die NALN-beurskomitee en die kuratoriums van die Stigting NALN en die A.D. Keet-publikasiefonds. Met uitsondering van sy boekery wat na sy ou skool op Upington is, skenk hy sy totale literêre en verwante nalatenskap aan NALN, waarvan sommige items in die Gerhard J. Beukes-kamer uitgestal word.
Latere jare en sterfte Sy vrou ontval hom op 14 Oktober 1992 en hy tree in 1994 weer in die huwelik, hierdie keer met Marie Lategan. In April 1998 val hy en breek sy been. Die operasie om sy been met ’n pen te heg is onsuksesvol, waarna die been geamputeer moet word. Hierna is hy tot met sy dood onderworpe aan intensiewe sorg in die Pfeiffer-huis in Bloemfontein vir verswakte bejaardes. Hy is op 31 Augustus 1998 in die Hydromed-hospitaal in Bloemfontein oorlede, waarna hy in die In Memoriam-begraafplaas begrawe is.Korrespondent. Skrywer Gerhard J. Beukes sterf op 85. Plus, 3 September 1998.
Skryfwerk
Prosa Op laerskool in standerd vier skryf hy reeds ’n roman en op hoërskool skryf hy gedigte, terwyl hy op universiteit verskeie sketse en kortverhale skryf wat in Die Huisgenoot verskyn. Sy ernstige kreatiewe skryfwerk wy hy egter feitlik uitsluitlik aan die drama, hoewel daar ’n paar letterkundige en teoretiese werke ook van hom verskyn. Sy proefskrif, Die moderne eenbedryf, beskryf die geskiedenis en aard van hierdie kunsvorm saam met besprekings van die werk van Melt Brink, J.F.W. Grosskopf, C. Louis Leipoldt, H.A. Fagan, Uys Krige en W.A. de Klerk.
In Skrywers en rigtings poog hy om saam met F.V. Lategan ’n voëlvlug oor die gehele Afrikaanse letterkunde te gee. Hy behartig in hierdie bundel die ontleding van die poësie en drama, terwyl Lategan oor die prosa skryf. Beukes se oorsigtelike studies word egter weinig meer as sketse van belangrike figure, waar slegs die positiewe aspekte uitgelig word.Mocke, S. Ignatius. Helikon. Jaargang 3 no. 13 Oktober 1953. Hierdie boek word verskeie kere hersien en herdruk.
Die prosabundel Ek glo is die transkripsie van ’n reeks radiopraatjies wat hy gelewer het, wat oordenkings oor die lewe bevat en gesamentlik as sy credo beskou kan word.
Sy kortverhaal Vrou van die aarde word deur F.V. Lategan in die versamelbundel Dekade: Resente Afrikaanse kortverhale opgeneem. Noemenswaardig is verder sy uiteensetting van Die eenbedryf as kunsgenre, wat as inleiding tot die versamelbundel Ses eenbedrywe verskyn.
Hy vertaal Trygve Gulbranssen se roman Og Bakom Synger Skogene as En ewig sing die woude in Afrikaans, asook Kahlil Gibran se Sand and foam as Sand en skuim. Ander vertalings van Kahlil Gibran is Die tuin van die profeet en Die swerwer.
Eenbedrywe Nadat hy aanvanklik gedigte en kortverhale geskryf het, probeer hy om nuwe uitlaatkleppe vir sy kreatiwiteit te vind en skryf dan in 1939 ’n studentedrama, wat hy Matieland noem. Hierdie proefneming stimuleer sy belangstelling in die drama as medium en sy ernstige kreatiewe skryfwerk wy hy later feitlik uitsluitlik aan die drama. Sy eenbedrywe is waarskynlik sy beste dramatiese werk. Aanvanklik skryf hy slegs ’n paar eenbedrywe wat, behalwe vir ’n enkele uitsondering, deur Die Huisgenoot afgekeur word vir publikasie. Wanneer S. Ignatius Mocke, destyds assistent-redakteur by Die Brandwag, geesdriftig reageer en hierdie eenbedrywe publiseer, verseël dit Beukes se kreatiewe toekoms. In sy eenbedrywe toon hy ’n indringende oog vir situasie en hoe om dit te benut, terwyl hy spanning goed skep en telkens ’n onverwagte wending teweegbring, gevolg deur ’n verrassende oplossing. Wat die aksie betref, is dit dus gewoonlik seepglad en vaartbelyn. Daarenteen slaag hy selde daarin om sy karakteruitbeelding volkome geloofwaardig te maak en is sommige van die verrassende wendings nie voldoende gemotiveer nie.
Sy eerste eenbedrywe verskyn in Laat die kerse brand, waarin die eenbedrywe Die winde van U toorn, Oktobernag, In my dae, Die braaiboud, Die hand wat Hy eenmaal geneem het en Laat die kerse brand opgeneem word.