Reza de Wet (11 Mei 1952 – 27 Januarie 2012) was 'n Afrikaanse skrywer en dramaturg, wat in 1994 en 1997 die Hertzogprys verower het. Sy is 'n nasaat van die skrywer Eugene Marais en is op Senekal gebore. Sy was getroud met Lindsay Reardon en hulle het een dogter, Nina, en twee kleinkinders.
Sy is aan kanker dood en was tot voor haar afsterwe 'n dosent aan die Rhodes-universiteit se dramaskool in Grahamstad.http://www.4-wall.com/authors/authors_w/de_wet/reza_de_wet.htm
Lewe en werk Frederica (Reza) de Wet is op 11 Mei 1952 op Senekal in die Oranje-Vrystaat gebore as die enigste kind van regter Hendrik Francois de Wet en Elizabeth Mary Marais. Van moederskant was sy die agterkleindogter van Charles Marais, wat die ouer broer van Eugène Marais was. Op driejarige ouderdom verhuis die gesin na Bloemfontein, waar haar pa later regter-president van die Oranje-Vrystaat word. Reza kuier in haar jeug baie by haar ouma op Senekal. Haar ouma was ’n begaafde mezzo-sopraan wat ’n kontrak by La Scala in Italië gekry het, maar weens haar ouers se dood tydens die Groot Griep van 1918 kon sy dit nie aanvaar nie. Hierdie ervarings en blootstelling maak ’n groot indruk op Reza en sy verwerk dit later in haar dramas. Sy gaan vir twee jaar (op agt- en negejarige ouderdom) in Kimberley skool en spandeer die res van haar skoolloopbaan in Bloemfontein, waar sy in 1970 aan die Hoër Meisieskool Oranje matrikuleer. Op skool was daar ’n goeie dramavereniging en haar loopbaan as toneelspeler begin reeds hier met ’n produksie van “Quality Street”. Haar alma mater stel later ’n jaarlikse dramafees in wat hulle na haar vernoem.http://esat.sun.ac.za/index.php/Reza_de_Wet
Sy studeer vanaf 1971 verder aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal in 1973 die B.A.-graad met Drama en Engels as hoofvakke. In hierdie tyd speel sy deurentyd toneel in die Vrystaat, onder meer as Nina in ’n opvoering van Anton Tsjechof se “Die seemeeu”. Op twintigjarige leeftyd ontmoet sy haar toekomstige eggenoot, die Ierse akteur en regisseur Lindsay Reardon, wat een van die stigters van die Markteater in Johannesburg was. Sy speel gereeld in hierdie teater terwyl hulle in Parktown in Johannesburg woon. Nadat sy na Kaapstad verhuis, speel sy talle rolle op die verhoog terwyl sy haar dramastudies voltooi onder Robert Möhr aan die Universiteit van Kaapstad, waar Reza en Angelique Rockas tydgenote was. Sy verwerf ’n Nagraadse Diploma in Drama en later ook ’n B.A. Honneurs-graad in Engelse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad. Sy verhuis terug na Johannesburg en sluit aan by die eksperimentele Arena Company van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK). In 1982 trek Reza, haar man en dogtertjie Nina (gedoop Frederica) na Grahamstad, waar sy klas gee in Drama aan die Rhodes-universiteit en later aangestel word as medeprofessor. Intussen studeer sy verder en verwerf ’n M.A.-graad in Engels met lof aan die Universiteit van Suid-Afrika met ’n tesis oor die Engelse skrywer Henry James. Op Grahamstad is sy regisseur van verskeie dramas wat deur die Rhodes-Universiteit se Dramadepartement opgevoer word, insluitende Arthur Miller se “The Crucible” (1989), August Strindberg se “The Ghost Sonata” en haar eie drama “Heathcliff goes home” (2007). Sy werk ook nou saam met Gary Gordon se Physical Theatre Company en skryf tekste vir sy dansdramas. Aan die einde van 2007 tree sy af by Rhodes-universiteit. Sy tree vir die eerste keer in meer as twintig jaar weer as aktrise op wanneer haar drama “Die see” in April 2011 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn opgevoer word. Leukemie word in Oktober 2011 by haar gediagnoseer en sy is op Vrydagoggend 27 Januarie 2012 in haar slaap in haar huis in Grahamstad oorlede.Rautenbach, Elmari “Leukemie eis Reza de Wet” “Beeld” 28 Januarie 2012
Skryfwerk
Drama Sy begin skryf toe sy vyf jaar oud is en in substanderd A het sy reeds ’n bloemlesing van ongeveer twintig versies geskryf. Later fokus sy egter haar aandag op drama en haar kennismaking met die Russiese dramaturg Anton Tsjechof op vyftienjarige ouderdom verander haar idee van drama ingrypend. Haar dramas word gekenmerk daardeur dat dit nie as realisties beskou kan word nie, al speel dit af teen ’n herkenbare agtergrond. Dit moet dus eerder as simbolies geïnterpreteer word, met tegnieke van die teater van die absurde wat ook gebruik word. Die spookagtige en bonatuurlike word ontgin en baie van die dramas het Gotiese eienskappe. Die magiese vind uiting veral in die bevryding wat deur ’n verlosser bewerkstellig word. Jung se filosofie word ook betrek, veral karakters wat die animus en anima-begrippe vergestalt, met die animus wat alles definieer en binne ’n stel reëls plaas, terwyl die anima dinge as vloeiend en veranderend ervaar, gedurig in ’n proses van wording. Só word daar dikwels dan konflik geskep.
In 1985 trek sy die aandag wanneer haar debuutdrama, “Diepe grond”, by die ATKV Kampustoneelfees opgevoer word. Hierin neem sy karakters (Alie, Hennie en ou-Melitie) uit Alba Bouwer se idilliese jeugverhaal “Stories van Rivierplaas” en laat hulle twintig jaar later, nadat alles rondom hulle disintegreer, moord en bloedskande pleeg en taamlik sedeloos optree. Hierdie omwenteling beeld die vernietiging van die idilliese, mitiese Suid-Afrikaanse kleintyd uit en parodieer die plaas as ideale omgewing. Na ontsteltenis onder bewonderaars van Bouwer se werk en onderhandeling met belanghebbendes verander sy die name van die hoofkarakters na Soekie, Frikkie en Ou Alina om die koppeling met Bouwer se verhaal te verbreek. Die drama beeld die ware verhaal van rassespanning en aggressie uit teenoor die mite van harmonieuse rasseverhoudinge en gedienstige onderdanigheid van bediendes. Twee kinders vermoor hulle ouers op ’n plaas en bly bloedskandelik agter saam met die swart huishulp, wat soos ’n moeder vir hulle sorg. Die kinders wil die ongeskondenheid van hulle jeug behou en alle aansprake van die eise van die werklikheid ignoreer, waardeur hulle optrede allegories inspraak maak op die politieke aktualiteit van die tagtigerjare. ’n Prokureur (Lourens Grové) word deur die kinders se tant Riekie getaak om ondersoek in te stel na die gebeure op die plaas. Hy daag dan op en vra lastige vrae, waarna hulle hom ook vermoor. Na die moord op Grové keer Soekie en Frikkie terug na hulle rolle en speletjies as kinders, sodat hulle as nie toerekeningsvatbaar gesien kan word. Die ouers verteenwoordig die eng Calvinistiese moraliteit, wat ten spyte van hulle dood en afwesigheid steeds in die psige en speletjies van die kinders teenwoordig is. Die “diepe grond” van die titel verwys na die bekende spreekwoord, maar verwys ook na die water waarna hulle soek deur in die grond onder die vloer te grawe.Brink, André P. “Rapport” 22 Maart 1987Odendaal, L.B. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 27 no. 3, September 1987Olivier, Fanie “Rapport” 29 Junie 1986Schutte, H.J. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 26, no. 4 November 1989Van Vuuren, Helize “Die Burger” 16 April 1987 Die drama word in 1986 by die Markteater opgevoer en vir hierdie opvoering van “Diepe grond” ontvang sy ’n Vita-toekenning as dramaturg van die jaar. Die opvoering van die stuk verower sewe Vita-toekennings, terwyl dit ook met ’n AA Mutual-prys bekroon word. Robert Shore van die Dramadepartement van die Universiteit van Suid-Kalifornië in Amerika nader haar in 1990 vir ’n vertaling van “Diepe grond”. Die vertaling word in 1991 in Los Angeles as “Deep ground” deur beide die Universiteit van Suid-Kalifornië en die professionele teater opgevoer en in 2003 as “African Gothic” in Sydney in Australië. ’n Rolprent word dan van die drama gemaak onder die titel “African Gothic” (vervaardig deur Damon Shalit met Gabriel Bologna as regisseur) en dit debuteer in 2013 by die Durbanse internasionale rolprentfees.http://www.timeslive.co.za/opinion/commentary/2012/02/05/obituary-reza-de-wet-playwright-who-sought-hidden-truths
“Op dees aarde” (subtitel “’n Plattelandse sprokie”) word in 1986 by die ATKV Kampustoneelfees opgevoer en delf ook in aspekte van die Afrikanerpsige in. Die situasie is die nasleep van ’n familieskandaal na die buite-egtelike swangerskap van die sestienjarige suster Bybie en haar daaropvolgende dood tydens geboorte. Bybie se naam dui reeds die kinderlike in hierdie persoonlikheid aan, terwyl dit ook verwys na die baba wat sy verwag. Die drama toon verskeie kenmerke van die fabel en word aangebied as “’n plattelandse sprokie”. Elke jaar met haar verjaarsdag kom die dooie Bybie besoek aflê by haar moeder, twee ouer susters (Sophie en Minnie) en tweelingbroer Tokkie. Hierdie verskyning word beleef in die bewussyn van Tokkie, sodat die hele drama ’n ineenstrengeling van realisme en die magiese word. Dit word algaande duidelik dat Bybie en die skande van wat gebeur het die rede is dat Sophie nie met haar verloofde Gys van Graan getrou het nie, want Bybie het Gys se kind verwag. Wanneer Bybie weer kom, wil die twee susters haar vasdruk en die sondigheid uit haar maag sny, toevallig op dieselfde aand wat die ma sterf. Die twee susters verteenwoordig die verskrikking van moraliteit, wat alle vreugde dooddruk. Hierteenoor verteenwoordig Bybie ’n nadoodse staat van vryheid en vreugde, terwyl die imbesiele Tokkie en die kindse Ma in hulle kinderlikheid ook ’n vorm van vryheid ervaar. Die fantastiese speel ’n groot rol, met Bybie wat byvoorbeeld geen letsels oorhou van die aanval op haar nie. Hierdie drama gee filosofiese kritiek op die Calvinistiese idee dat ’n kuise lewe van plesier-onthouding die regte lewensbenadering is. Dit is beter om die verlede af te lê en nie vir die toekoms te lewe nie, maar die huidige aan te gryp en op daardie manier onsterflik deel te wees van die ewige hede.De Kock, Leon “Rapport” 22 Februarie 1987 “Op dees aarde” verower in 1986 ’n Vita-toekenning.