Johann de Lange (22 Desember 1959 - 27 Maart 2025) was 'n Afrikaanse digter, kritikus en skrywer van kortverhale. Hy word onder meer met die Ingrid Jonkerprys en die Hertzogprys bekroon vir sy skryfwerk.
Lewe en werk Daniël Johannes de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore.LitNet ATKV-Skrywersalbum 12 November 2014: http://www.litnet.co.za/johann-de-lange-1959-2/ Hy het twee susters (Antoinette en Jacqueline) en ’n broer (Leon) gehad. Sy pa is ’n boukontrakteur wat dikwels verhuis en hy woon dus verskeie laerskole by (eers Wonderboom-Suid Laerskool, daarna Eben Swemmer Laerskool, dan ’n laerskool op Kalkheuwel naby Pienaarsrivier, daarna ’n laerskool by Rooiwal en toe Pierneef Laerskool). ’n Tyd lank gedurende sy laerskooljare bly hulle op ’n plaas buitekant Nylstroom met die naam Moddernek. Tydens sy tyd op Kalkheuwel doen hy rumatiekkoors op en moet drie maande in die hospitaal op Warmbad spandeer. ’n Groot deel van sy jeug bring hy by sy ouma deur, wat hom Kas noem. Sy gehele hoërskoolopleiding deurloop hy aan die Hoërskool Hans Strijdom op Naboomspruit,La Vita, Murray; Roux, Wyn en Wasserman Herman Onderhoude: http://johanndelange.blogspot.co.za/p/onderhoude_28.html waar hy in die Sekelbos seunskoshuis bly en in 1977 matrikuleer. Hy behaal in matriek die toekenning vir die beste prestasie in Engels. Hierna studeer hy verder aan die Universiteit van Pretoria, waar hy eers in 1978 vir ’n B.Sc.-graad inskryf en in 1979 vir ’n B.A.-graad, wanneer hy besef dat hy eerder belangstel in die letterkunde. Op universiteit herbenoem hy homself van Daniël na Johann, sodat hy onderskei kan word van sy neef, ook Daniël de Lange, wat saam met hom op universiteit was. Tydens die tweede jaar van sy B.A.-studies ondervind hy persoonlike probleme en ly aan kwaai depressie. Hy staak dan sy studies en aanvaar in 1980 ’n betrekking by Volkskas Bank, waarna hy aansluit by ’n boekhandelaar in Pretoria. Vanaf 1982 doen hy periodieke boekresensies vir Die Vaderland. Kort na die verskyning van sy debuutbundel in 1982 ontvang hy ’n uitnodiging om lid te word van die Afrikaanse Skrywersgilde en hy aanvaar die uitnodiging.
Later sit hy sy studies voort aan die Universiteit van Suid-Afrika, waar hy ook ’n klompie jare ’n kursus in kreatiewe skryfwerk by Unisa se Instituut vir Voortgesette Opleiding aanbied. Hy is ook by geleentheid betrokke by die aanbied van ’n poësiewerkswinkel by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Dan trek hy Kaapstad toe waar hy in diens tree van die bekende boekhandelgroep Exclusive Books en ook vir twee jaar lank ’n poësiewerkswinkel by die Universiteit van Kaapstad aanbied. Hy het in hierdie tyd noue kontak met Sheila Cussons, wat hom van raad bedien met sy digkuns. In die tagtigerjare besoek hy New York, ’n besoek wat hom as skrywer motiveer, aangesien hy voel dat hierdie stad elke emosie verhoog. Om sy skryfwerk te stimuleer eksperimenteer hy vanaf ongeveer 1998 met die rave-toneel en die gebruik van dwelms, ’n kompulsie wat hy weer later aflê. Hy bly in Durbanville in die Kaap.
Skryfwerk
Poësie In standerd vier begin hy onder aanmoediging van Frik Pieterse (later verbonde aan die SAUK) om verse te skryf en hervat hierdie belangstelling nadat hy in standerd agt ’n tikmasjien present kry. Op hoërskool verskyn van sy verse in die skoolkoerant Die Leeutjie, maar hy begin eers ernstig dig tydens sy universiteitsloopbaan. Tydens sy studentejare is hy stigterslid van die literêre tydskrif Ensovoort en hy is ook vanaf 1979 lid van die Universiteit van Pretoria se letterkundekring, in wie se tydskrif Vlieg hy ook gedigte en verhale publiseer. Die derde uitgawe van hierdie blad word verbied vanweë sy kortverhaal Die seduksie en Koos Prinsloo se verhaal Skrot. Hy, Koos en die hele redaksie van die tydskrif (wat ook Hans Pienaar insluit) word voor die tugkomitee gedaag en almal ontvang ’n opgeskorte vonnis en word verbied om verder op enige redaksie van enige universiteitspublikasie te dien. Dit is in hierdie tyd wat hy besef hoe swak sy gedigte tot op hierdie stadium is. In 1980 stuur hy van sy gedigte aan André P. Brink, van wie hy baie aanmoediging en waardevolle leiding ontvang. Later dieselfde jaar verskyn van sy verse in Standpunte en daarna ook in Spado, Ensovoort, The bloody horse en Graffier. Sy verse bring vernuwing in Afrikaans met die eksplisiete homoërotiese aard daarvan en sy verkenning van terloopse seksuele ontmoetings in die vigs-era. Ander belangrike temas in sy werk is kultusfigure en ikone soos die filmster James Dean en die rockster Kurt Cobain, asook Afrikaanse letterkundige ikone soos Ingrid Jonker en C. Louis Leipoldt. In sy verse tree hy ook deurlopend in gesprek met ander digters en hulle werk.
Hy debuteer in 1982 met die digbundel Akwarelle van die dors, waar die titel ontleen is aan die motto van Lucebert wat voor in die bundel verskyn. Die titel verwys na ’n waterverfskildery (akwarel) waar op paradoksale wyse met water die dorse (of tekorte) van die lewe geskilder word. De Lange begin reeds hier met die oopskryf van die homoseksuele vers en in hierdie bundel is daar veral ’n volgehoue uitreiking na die ander persoon te bespeur. Die verganklike en die dood is ook deurlopende temas.Coetzee, Ampie “Standpunte” Nuwe reeks 170, April 1984Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 21 no. 3, Augustus 1983Cloete, T.T. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 23 no. 4, Desember 1983 Die bundel word in drie genommerde afdelings verdeel. Hierdie bundel word in 1983 met die Ingrid Jonker-prys bekroon.
Die uitreiking na ander word voortgesit in Waterwoestyn, waar die water (lewensgewend) in die woestyn (dor en dood) soos in ’n lugspieëling vervaag en dus eindelik onbereikbaar bly. Die water en woestyn dui op twee uiterstes en teenstellings, soos tekort te midde van oorvloed of om eensaam te wees te midde van ’n skare.Cloete, T.T. “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 23 no. 2, Mei 1985
Die spanning tussen vind en verlies en die melancholie van bestaan is ’n vername tema, wat die digter verder neem in Snel grys fantoom. Die tema van die bundel is dat herinnering soos ’n sinnebeeld is, met die motor waarin die rolprentster James Dean verongeluk het en volgens oorlewering daarna steeds deur mense gesien is, die aanleiding vir die titel wat uit die gedig Dood van James Dean (1931–1955) geneem is. James Dean word dan die metafoor vir die fantoom van die titel en bring die deurlopende tema van dood en verlies ook sterk na vore.Brink, André P. “Rapport” 7 Desember 1986Hambidge, Joan “Die Burger” 10 Desember 1986
In 1987 skryf De Lange die gedig Skerpskutter wat hy inskryf vir die Anastasie del Pino Memorial-wedstryd wat vanaf die Karibiese eilande georganiseer is. Hy is dan een van elf wenners van die Pankrátor Poeta Germán Pardo Gario-prys en die gedig word in ’n internasionale versamelbundel opgeneem.NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/1926
Wordende naak (opgedra aan Lucas Malan) se bundeltitel is geneem uit ’n nagelate gedig van N.P. van Wyk Louw, maar die skakeling is ironies. Waar Louw se gedig die verleidelikheid van die geleidelike ontkleding van ’n vrou as tema het, bied die bandtekening en die gedigte ’n man as voorwerp en is die ontkleding meer brutaal. Daarmee word die aard van die talle homoseksuele gedigte in die bundel ook aangedui. In die bundel word die temas van lewe en dood en die kortstondigheid van bestaan en liefde verder gevoer, terwyl die geslagsverhoudinge ook soms gepaard gaan met verlange en weemoed.Grové, A.P. “Tydskrif vir Geesteswetenskappe” Jaargang 33 no. 3, September 1993Kannemeyer, J.C. “Op weg na 2000” Tafelberg-Uitgewers. Eerste uitgawe 1998 In die eerste afdeling word die wordende-naak motief bewoord. Wordende naak verower in 1990 die Rapportprys en hierdie bundel is in 1992 ook op die kortlys vir die toekenning van die Helgaard Steyn-prys.
Nagsweet (opgedra aan Hennie Aucamp) word aanvanklik onder die titel Judasoog vir publikasie aanvaar, maar dan weens die voorgestelde omslag afgekeur (wat ’n skildery van Walter Battiss van ’n penis is) en onttrek, waarna dit by ’n ander uitgewer onder ’n ander naam gepubliseer word. Die nuwe titel impliseer die wellustige seksuele aktiwiteite wat in die nag plaasvind. Die eksplisiete tema van manlike seksualiteit word oorheersend in hierdie bundel, waar voyeurisme (begeerte eerder as deelname) die onderliggende gevoel suggereer van hulpeloosheid in die ewige soeke wat op niks uitloop nie.Kannemeyer, J.C. “Op weg na 2000” Tafelberg-Uitgewers Eerste uitgawe 1998Snyman, Henning “Rapport” 14 Julie 1991 In 1991 word Nagsweet genomineer vir die Rapportprys.Hambidge, Joan Oulitnet: http://www.oulitnet.co.za/newlitnet/pdf/la/LA_6_1_hambidge.pdf
Vleiswond dui onder andere op die verwonding van Christus en De Lange gee in die eerste afdeling van die bundel simbole soos die kruis, die verwonde Christus, bloed en die sakramentele tekens nuwe betekenis deur hierdie religieuse simbole op die gay-lewenswyse te reflekteer. So word die tradisionele ondermyn en die godsdiens doelbewus gebanaliseer en ontheilig deur die moment te verheerlik en in terme van ’n ander moraliteit te dig.Hambidge, Joan “Tydskrif vir Letterkunde” Jaargang 33 no. 2, Mei 1995Kannemeyer, J.C. “Insig” Februarie 1994Van Niekerk, Marlene “Rapport” 7 November 1993
Wat sag is vergaan (opgedra aan Ernst van Heerden) ondersoek veral die verganklikheid van die aarde en die natuur asook die liggaam en die mens.Coetzee, Ampie “Insig” Februarie 1996Grové, A.P. “Beeld” 18 Desember 1995Hambidge, Joan “Tydskrif vir Letterkunde”, Jaargang 34 nos. 1 en 2, Februarie/Mei 1996Huisamen, Tim “Rapport” 21 Januarie 1996
Die algebra van nood beïndruk weer met die fyn strukturering van die gedigte. Die algebra van nood verower in 2011 die Hertzogprys nadat dit in 2010 op die kortlys vir die toekenning van die Universiteit van Johannesburg-prys en ook op die kortlys vir die toekenning van die ATKV se prys vir poësie was.Beukes, Marthinus “Beeld” 11 Mei 2009Bezuidenhout, Zandra “Rapport” 28 Junie 2009Odendaal, Bernard “Boeke Insig” No. 7, Herfs 2009
Judasoog is ’n persoonlike keur van die digter uit sy gedigte, terwyl hy ook ’n tiental voorheen ongepubliseerde gedigte insluit. Die titel van die bundel is afkomstig uit die gedig Loergat, waarin na die loergat tussen twee toilette verwys word as ’n Judasoog, terwyl dit ook verwys na Breyten Breytenbach se bundel Judas Eye. Naas die gay-gedigte is dit die besondere gebruik van natuurmetafore wat opval en die gedigte bestryk ’n veelvoud van temas, insluitende die liefde, dood, die kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met ander, soos ouers, geliefdes en ander digters, dwelms en vigs, asook verse oor glanspersoonlikhede soos Marilyn Monroe en Curt Cobain.Crous, Marius “Rapport” 15 Augustus 2010
Weerlig van die ongeloof is ’n bundel met sowat honderd kwatryne, waarin besondere taalvaardigheid en woord-ekonomie saam met beheersing van die tegniese kwatrynvorm tentoongestel word. Soos gewoonlik oorheers die erotiek, met verrassende insigte wat meermale uit ’n eenvoudige gegewe gehaal word.Pienaar, Hans “Rapport” 5 Februarie 2012Slippers, Bibi “Beeld” 12 Desember 2011 Hierdie digbundel is in 2013 op die kortlys vir die toekenning van die W.A. Hofmeyr-prys en die Universiteit van Johannesburg-prys.Slippers, Bibi LitNet: http://www.litnet.co.za/waar-daar-weerlig-is-johann-de-lange-oor-sy-jongste-bundel/