Miere is sosiale insekte met 'n dun middellyf en elmboogagtige antennes. Hulle behoort tot die familie Formicidae, wat (net soos bye en perdebye) in die orde Vliesvlerkiges (Hymenoptera) val. Daar is ongeveer 22 000 spesies miere. Meer as 12 500 van hulle is reeds geklassifiseer.
Bou en gedrag
Algemeen Die familie van die miere (Formicidae) bestaan al meer as 130 miljoen jaar. Fossielvondste dui daarop dat hulle, wat saam met onder meer bye en wespe onder die orde Hymenoptera geklassifiseer word, reeds in die Kryttyd gelewe het. Die familie bestaan uit duisende verskillende spesies, wat vanweë hul besondere groot aanpassingsvermoë, vanuit die trope oor die hele wêreld kon versprei. Sowat 3500 spesies is tot dusver beskryf, waarvan sowat 400 in Suider-Afrika voorkom.
Bou Die liggaam van 'n mier bestaan uit 'n kop, 'n borsstuk en ʼn agterlyf. Die kop het sterk kake wat vir 'n wye verskeidenheid werksaamhede gebruik word en ook as gevegsinstrument dien. Die tong word gebruik om voedsel in te neem en om sy eie liggaam asook die van soortgenote te poets. Voorop die kop is twee antennae waarin senuweepunte lê. Behalwe 'n saamgestelde oog aan weerskante van die kop kom daar ook drie enkelvoudige oë bo-op die kop voor. Hierdie oë ontbreek egter meestal by werkers en soldate. Die borsstuk en agterlyf word deur een of twee smal segmente (pediselle) verbind.
Die borsstuk bestaan uit vier segmente, waarvan die agterste een in werklikheid 'n agterlyfsegment is, maar in die borsstuk geleë is. By koninginne en mannetjies kom een paar vlerke aan die tweede en derde borssegment voor, maar werkers en soldate het geen vlerke nie. Wat dikte en beharing betref verskil die liggaamswand van spesie tot spesie. Sommige spesies het yl, lang hare wat regop staan of teen die liggaam lê. Soms is hierdie hare ook skubvormig. Ander spesies het kort, met digte beharing.
Die liggaamswand kan glad en glansend, dof of gespikkel wees. Miere is oor die algemeen rooi, bruin of swart, terwyl bruinrooi, bruingeel en metaalkleurige spesies kom ook voor.
Daar is drie paar pote en drie paar asemhalingsopeninge (stigmata) aan die borsstuk en die agterlyfsegmente is ook van asemhalingsopeninge voorsien.
Op die eerste agterlyfsegment kom 'n geluidvoortbrengende (stridulerende) struktuur voor. In die voorafgaande segment is 'n tandagtige uitsteeksel wat teen die strukture gevryf word en 'n skril geluid voortbring. Koninginne en werkers van primitiewe spesies het 'n angel aan die agterlyf. By ander spesies is die angel gereduseer en deur die een of ander vorm van verdedigingsmeganisme vervang.
Die angel bestaan uit twee stilette binne 'n angelskede, en aan die basis van die stilette lê die gifklier. Miere sonder angels byt hul slagoffer en spuit gif of miersuur met die punt van die agterlyf in die wond. Sommige spesies kan hul gif tot 50 cm ver spuit. By sommige spesies mond anaalkliere vlak bokant die anus uit waardeur 'n skerpruikende stof afgeskei word om vyande af te skrik.
Kastes en staatvorming Alle miere is sosiale diere wat in goed geordende groepverband (state) saamleef. Wat arbeidsverdeling en fisiologiese eienskappe betref, kan die lede van 'n staat in 'n aantal kastes verdeel word. Die sentrale figuur in 'n staat is die koningin, wat vir 'n nageslag moet sorg. Jong koninginne het vlerke, en sodra hulle geslagsryp is, verlaat hulle die nes om die " bruidsvlug" te onderneem.
Tydens die bruidsvlug paar 'n koningin met een mannetjie, wat genoeg spermselle in haar saadsakkie plaas sodat sy vir die res van haar lewe - sowat 15 jaar – vrugbaar sal wees. Polimorfie, dit wil sê 'n verskeidenheid van vorme, word nie by mannetjies aangetref nie, maar net by die wyfies. Mannetjies word net 'n sekere tyd van die jaar, naamlik voor 'n bruidsvlug, in die nes aangetref. Hulle gaan kort na paring met 'n jong koningin dood.
Na haar bruidsvlug trek die koningin haar vlerke met haar kake uit of skuur dit teen 'n harde voorwerp af, en soek dan 'n geskikte plek vir 'n nes. Haar monddele is goed ontwikkel en sodra sy 'n geskikte plek gekry het, vreet sy 'n gat uit en lê 'n paar eiers. Uit hierdie eerste eiers ontwikkel die werkers. Werkers is oor die algemeen onvrugbare wyfies en het nooit vlerke nie. Hulle versamel die kos, bou neste en versorg die volgende geslag larwes.
By sommige spesies lê die werkers wel eiers. Die eiers is nie bevrug nie en net mannetjies kan daaruit ontwikkel. Van enkele mierspesies is dit bekend dat die werkers eiers lê waaruit nog werkers ontwikkel, en daar is ook enkele spesies wat geen koninginne het nie, maar waar hulle deur eierlêende werkers vervang is. Die eerste geslag werkers van ʼn nuwe staat is gewoonlik baie kleiner as latere geslagte omdat die koningin hulle self moet grootmaak en net met haar speeksel voer.
Polimorfie word nie net tussen koningin en werkers aangetref nie, maar ook tussen werkers en soldate. Soldate het groter koppe en sterker kake as werkers omdat hulle die nes moet beskerm en harde voedsel stukkend moet byt. Soldate kom egter nie in alle mierstate voor nie. Die eiers van miere is wit en nie langer as 0,5 mm nie. Die werkers verplaas die eiers van tyd tot tyd in die nes, namate toestande verander, en sorg dat hulle altyd op die gunstigste plek lê.
Die eiers word voortdurend afgelek sodat hulle nie met fungi besmet raak nie. Uit die eiers ontwikkel larwes, wat altyd in hopies van min of meer dieselfde grootte en ouderdom bymekaar gehou word. Oor die algemeen word larwes met uitgebraakte vloeistof gevoer. Na ʼn rukkie verpop die larwes hulle en by baie spesies word 'n kokon rondom hulle gespin. Die werkers help om die kokon oop te breek wanneer die papies tot hul volwasse vorm ontwikkel het.
Die kaste van 'n mier word bepaal deur die hoeveelheid en soort voedsel wat hy in die larwestadium gevoer word. Toekomstige koninginne word met proteïenryke kos gevoer, terwyl toekomstige werkers se dieet hoofsaaklik uit koolhidrate bestaan. Die geslag van miere word geneties bepaal. Koninginne en werkers het XX-chromosome en die mannetjies XY-chromosome.
Sosiale parasitisme By enkele spesies is die koningin nie daartoe in staat om 'n eie staat te stig nie en na haar bruidsvlug soek sy 'n reeds bestaande nes, waaruit sy die koningin verwilder of haar doodmaak. Die werkers van die gasnes sien dan na die vreemde koningin en haar nageslag om.
Sommige spesies is wel daartoe in staat om 'n eie staat te onderhou, maar hou "slawe" aan as werkers. Die slawe word uit hul oorspronklike neste geroof terwyl hulle nog larwes of papies is en dan in die nuwe nes grootgemaak. Baie spesies roofmiere is wat voedselvoorsiening betref, heeltemal van hul slawe afhanklik.
Neste Die meeste miere lewe in neste, maar hulle is nie so nesgebonde soos byvoorbeeld bye en wespe nie en verhuis van tyd tot tyd. Daar is 'n groot verskeidenheid nestipes wat van spesie tot spesie verskil. Oor die algemeen bestaan dit uit 'n aantal kamers wat onderling verbind is en vir verskillende doeleindes gebruik word, byvoorbeeld as bergingskamers, broeikamers en dies meer.
Baie spesies bou hul neste ondergronds. Die Europese woudmier (Formica rufa) grawe 'n kort gangetjie en maak 'n deel van die nes onder die grond, maar stapel ook dennenaalde en stokkies bogronds op, waarin nog kamers geleë is. Houtboordermiere (genus Camponotus) boor hul gate in houtstompe. Die nes van die groenwewermier (Oecophylla smaragdina) word van blare gemaak.
Verskeie van die spesies se werkers hou twee blare langs mekaar deur die een in die kake en die ander een tussen die agterpote vas te knyp, terwyl ander werkers larwes tussen die kake vashou en die blare aanmekaarweef deur die larwes se koppe heen en weer tussen die blare te beweeg. Die larwes skei sy af wat die blare bymekaarhou. Ander spesies maak "papier" deur hout fyn te kou en bou daarmee kartonagtige neste. Trekmiere, soos die rooimiere (genus Dorylus) van Afrika en die soldaatmiere (genus Eciton) van die tropiese streke van Amerika, bou nie neste nie en het ook geen permanente blyplekke nie.
Hulle beweeg in lang kolonne oor die veld en vreet alles wat voorkom. Wanneer hulle rus, slaap hulle onder 'n houtstomp of vorm trosse in ʼn boom. Periodiek vertoef hulle egter vir 'n langer tyd in 'n gat of 'n hol boomstam op dieselfde plek. Die nomadiese periode duur by die soldaatmier sowat 17 dae, en die rusperiode, wat nou saamhang met reproduksie, strek oor 19 of 20 dae. Die soldaatkoningin lê 'n enorme aantal eiers op 'n slag met tussenpose van sowat 'n week en die larwes word tydens die nomadiese periode saamgedra.
Sodra die larwes hulle verpop, raak die staat rustiger aangesien daar geen larwes meer is om te voer nie en minder kos dus benodig word. Na sowat 'n week lê die koningin weer eiers –soms meer as 25 000 op 'n keer- wat binne 'n paar dae uitbroei. Die werkers raak weer onrustig omdat hulle kos vir die larwes moet voorsien. Omstreeks die 19e dag van die statiese fase kom die larwes wat hulle aan die begin van die fase verpop het, as volwassenes uit hul kokonne en die staat trek verder.
Voedselspesialisasie Baie mierspesies leef van 'n verskeidenheid voedsel soos insekte, sade en ander plantmateriaal, dierlike afval en wat hulle ook al kan vind om nes toe te sleep. Daar is egter ook 'n aantal spesies wat voorkeur gee aan 'n bepaalde voedselsoort en wat groot vernuf toon by die verkryging daarvan.
Fungikwekers duimnael|regs|300px|Bedrywige blaarsnyermiere in die Frankfurtse Dieretuin. Die blaarfragmente word hul nes ingedra om as ondergrondse kompos vir die kweek van 'n gespesialiseerde swam te dien, wat naamlik hul enigste voedselbron is. Die miere wat waarskynlik die verste gevorder het ten opsigte van voedselspesialisasie, is die wat hul eie "tuine" aanlê waarin 'n besonder voedsame fungus gekweek word. Die bekendste onder die fungikwekers is die sogenaamde blaarsnyers (subfamilie Attinae), wat veral in die tropiese streke van Sentraal- en Suid-Amerika voorkom.
Die werkers verlaat die nes in lang rye op soek na ʼn geskikte boom of bos vir die versameling van blare. Sommige werkers byt stukkies blare af, terwyl ander die hele blaar afskeur en "dit op die grond tot hanteerbare stukkies opbreek. Hulle kan 'n boom binne 'n nag kaal stroop. As hulle genoeg blare bymekaargemaak het, beweeg hulle in lang rye terug na die nes terwyl hulle die stukkies blare soos sambreeltjies bo-oor hul koppe hou. Sommige spesies word trouens sambreelmiere genoem. In die nes eet hulle nie die blare nie, maar kou dit tot 'n sponserige massa fyn wat in spesiale kamers diep onder die grond geberg word.
Dit is die ideale bemesting vir ʼn sekere fungus, waarmee die larwes van die blaarsnyers gevoer word. Een van die eerste take van 'n jong koningin wat 'n nuwe staat stig, is om 'n paar blare in haar nes in te sleep en 'n fungituin aan te lê.
Heuningmiere Die miere met die hoogste ontwikkelingsvlak leef net van 'n vloeistofdieet, byvoorbeeld van blomnektar of van die uitskeiding van sekere plantetende insekte (heuningdou). Wat veral merkwaardig is in hierdie verband, is die verhouding wat talle mierspesies met plantluise handhaaf. Kenmerkend vir plantluise is dat hulle meer vloeistof uit plante suig as wat hulle nodig het.
Die oortollige vloeistof druip in die vorm van soet heuningdou uit hul liggame. Die miere lek die heuningdou van die plantluise af en beskerm die weerlose diere in ruil daarvoor. Die mate waarin miere plantluise beskerm, word dikwels oordryf, maar dit is wei so dat sommige spesies soos Lasius flavus "stalle" vir die plantluise bou deur gate te grawe rondom die wortels waarop die plantluise voed. Wanneer ander insekte die plantluise probeer aanval, verdedig die miere hulle net soos hulle hulle ander voedselbronne sal beskerm.