Klas 91 is 'n tipe diesellokomotief - tegnies 'n diesel-elektriese lokomotief - wat deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë gebruik word. Hierdie lokomotief is ontwerp vir smalspoorlyne (610 mm) die enigste sodanige lokomotief van die SAS. Die lokomotief het 'n Bo-Bo uitleg (twee twee-as draaistelle met 'n elektriese motor elk per as).

Die lokomotief is verskaf deur General Electric van die VSA, bekend as produk UM6B wat 'n variasie van hulle standaard U6B-model is. Spesiale draaistelle is ontwerp vir die lokomotief om op die smalspoor te pas; die traksiemotors is tussen die aste geplaas wat grondvryhoogteprobleme opgelewer het.

Die lokomotief is toegerus met 'n Caterpillar D375 turboaangejaagde V8-dieselenjin en het beide lug- en dinamiese remme. Die remme is ook voorsien van 'n vertragingsmeganisme wat verhoed dat die waens opeenhoop wanneer die trein rem of ruk wanneer dit versnel. Wanneer lokomotiewe saam gekoppel word het dit tot gevolg dat tot sewe kabels tussen die eenhede gekoppel moet word. Die lokomotiewe is ook toegerus met 'n Willisontipe koppeling. Die lokomotief kan 'n maksimum spoed van 50 km/h handhaaf.

Eksterne skakels

Verwysings

Kategorie:Spoorvervoer in Suid-Afrika Kategorie:Treine