Sjepseskaf (ook Sebercheres of Shepseskaf) was ’n Egiptiese farao van die 4de Dinastie tydens ’n tydperk bekend as die Ou Ryk. Hy het tussen ses en agt jaar lank regeer, vanaf omstreeks 2510 v.C. Die enigste bedrywighede wat vir seker aan hom toegeskryf kan word, is die voltooiing van die kompleks by die Piramide van Menkaoere en die bou van sy eie mastaba by Suid-Saqqara, die Mastabet el-Fara'oen ("steenbank van die farao").Peter Clayton: Chronicle of the Pharaohs. Thames and Hudson, Londen 1994. p. 56

Familie Sjepseskaf se familie is onseker. Die Egiptoloog George Andrew Reisner meen hy was Menkaoere se seun na aanleiding van ’n verordening waarvolgens hy Menkaoere se dodetempel voltooi het. Dit kan egter nie as bewys dien nie, want die verordening maak geen melding van die verwantskap tussen die twee farao's nie. Verder het die voltooiing van die krafkelder van ’n afgestorwe koning deur sy opvolger nie daarop gedui dat hulle pa en seun is nie.Peter Jánosi: Giza in der 4. Dynastie. Die Baugeschichte und Belegung einer Nekropole des Alten Reiches. Band I: Die Mastabas der Kernfriedhöfe und die Felsgräber, Verlag der Österreichischen Akademie der Wissenschaften, Wene 2005, S. 66,

Die ma, vroue en kinders van Sjepseskaf is onbekend. As Menkaoere wel sy pa was, kon sy ma enigeen van sy twee vroue gewees het: Chamerernebty II of Rechetre. Dis moontlik dat Chentkaoes I sy vrou was, maar dis glad nie seker nie. Koningin Bunefer is voorgestel as ’n moontlikie vrou na aanleiding van haar titel as priesteres van Sjepseskhaf, maar sy kon ook sy dogter gewees het. Ook Chamaat, die vrou van ’n edelman met die naam Ptahsjepses, kon sy of Oeserkaf se dogter gewees het.Dodson, Aidan and Hilton, Dyan. The Complete Royal Families of Ancient Egypt. Thames & Hudson. 2004.

Bewind Hy was moontlik die laaste koning van die 4de Dinastie van Egipte as hy nie opgevolg is deur ’n heerser met die naam Djedefptah nie, soos in sommige Egiptiese geskrifte en indirek in die Turynse Koningslys aangeteken is. Geen heerser met die naam Djedefptah word genoem in destydse dokumente oor byvoorbeeld koninklike monumente of private grafkelders nie.P.F. O'Mara, Manetho and the Turin Canon: A Comparison of Regnal Years, GM 158 (1997), p.51 Paleisamptenare wat met die oorgang van die 4de na die 5de Dinastie gedien het, lys die volgorde van die konings spesifiek as Radjedef, Chafra, Menkaoere en Sjepseskaf van die 4de Dinastie, en dan die eerste drie konings van die 5de Dinastie: Oeserkaf, Sahoere en Neferirkare.P.F. O'Mara, Manetho and the Turin Canon: A Comparison of Regnal Years, GM 158 (1997), p. 51. O'Mara's source on Netry-nesut-pu is Kurt Sethe's Urkunden des Alten Reichs of Urk I, p.166

Sjepseskaf se bewind word bevestig deur die begrafnis-inskripsies deur die amptenare wat hom gedien het. Dit word meestal in Giza en Saqqara aangetref. Die feit dat baie van hierdie inskripsies net Sjepseskaf se naam noem sonder enige ander besonderhede, dui dalk op sy kort bewind. Een van die amptenare, Sechemkare, ’n seun van Chafra, was ’n priester van die koninklike dodekultusse. Sy mastaba in Giza (G8154) lys die konings waaronder hy gedien het, van Chafra deur Sjepseskaf tot by Sahoere.Cf. K. R. Lepsius, § 89 p.109 et K.H. Sethe, § 106, p.166 Dié lys gee ook Oeserkaf aan as Sjepseskaf se direkte opvolger.

Mastaba van Faraoen duimnael|200px|Die Mastaba van Sjepseskaf, Saqqara. Sjepseskaf se grafkelder is ’n groot mastaba by Saqqara wat aanvanklik "Sjepseskaf is gereinig" genoem is en nou bekend is as die Mastaba van Faraoen. Die eerste uitgrawings by die mastaba is in 1858 deur die Franse argeoloog en Egiptoloog Auguste Mariette gedoen. Eers in 1924–1925 is deeglike uitgrawings egter deur die Switser Gustave Jéquier gedoen. Daar is eers geglo die mastaba was die grafkelder van die 5de-dinastiese koning Oenas, maar Jéquier het bewyse gevind dat dit Sjepseskaf s’n was. Hy het onder meer ’n Middelryk-stele ontdek wat aandui Sjepseskaf se dodekultus was in dié tyd steeds aktief.Shepseskaf deur J. Dunn

Deur vir homself ’n mastaba te laat bou het Sjepseskaf die 4de-dinastiese tradisie verbreek om ’n groot piramide op te rig. Van hulle, soos Snofroe, het selfs meer as een piramide laat bou. Dit is nie duidelik hoekom Sjepseskaf nie ’n piramide laat bou het nie en daar bestaan verskeie teorieë: Hy het dalk ’n kleiner grafkelder vir hom laat bou omdat sy tyd in beslag geneem is deur die voltooiing van Menkaoere sy piramidekompleks by Giza. Hy kon besluit het om ’n mastaba by Saqqara te laat bou eerder as ’n piramide by Giza, om die groeiende invloed van die priesterskap van Ra te ondermyn.Ian Shaw The Oxford History of Ancient Egypt Dié teorie kan ook verklaar hoekom daar geen verwysing na Ra in sy naam of dié van sy opvolger was nie. Sjepseskaf kon ’n mastaba verkies het volgens die tradisie van die 1ste, die 2de en die 3de Dinastie.Mark Lehner The Complete Pyramids: Solving the Ancient Mysteries Hy kon aanvanklik beplan het om ’n piramide te laat bou, maar is dood kort nadat werk daaraan begin het. Daarna het sy opvolger of koningin die grafkelder as ’n mastaba eerder as ’n piramide voltooi.

Verwysings

Bronne

Eksterne skakels Sjepseskaf by ancient-egypt.org

15px Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia

Kategorie:Farao's van Egipte Kategorie:Sterftes in die 25ste eeu v.C.