Jeffrey Lionel Dahmer (21 Mei 1960 - 28 November 1994) was ’n Amerikaanse reeksmoordenaar. Hy het van 1978 tot 1991 altesaam 17 jong mans in Wisconsin en Ohio verkrag, vermoor en die lyke opgesny. Baie van sy latere moorde het ook nekrofilie, kannibalisme en die preservering van liggaamsdele behels. Dahmer was ook bekend as die Milwaukee-kannibaal.

Hy is op 15 Februarie 1992 skuldig bevind aan 15 van die 16 moorde wat hy in Wisconsin gepleeg het. Hy het later erken hy het 17 moorde gepleeg, die eerste hiervan in 1978 in Ohio. Die jurie het Dahmer se verweer van ’n geestesteuring verwerp en hy is tot 15 keer lewenslank gevonnis. Hy het later ’n 16de vonnis van lewenslange tronkstraf gekry vir die Ohio-moord in 1978.

Hy is op die oggend van 28 November 1994 deur ’n medegevangene in die tronk doodgeslaan.Jeffrey Dahmer

Vroeë lewe Jeffrey Dahmer is op 21 Mei 1960 in West Allis, Wisconsin, gebore as die oudste seun van Joyce Annette Flint en Lionel Herbert Dahmer. Sy ma was van Walliese en sy pa van Duitse afkoms.

Lionel Dahmer was ’n student in chemie en baie van die huis af weg. Joyce was bekend as ’n intense persoon wat baie aandag van Lionel geverg het wanneer hy tuis was. Sy het eenkeer probeer selfmoord pleeg deur ’n oordosis pille te drink waaraan sy verslaaf geraak het. Dahmer het dus nie baie aandag van sy ouers gekry nie. Op skool was hy stil, maar het tog ’n paar vriende gehad.

Van vroeg af was Dahmer geïnteresseerd in diere. Hy het groot insekte versamel en hulle in bottels gehou. Hy sou karkasse van dooie diere langs die pad optel en hulle naby hulle huis in stukke sny. Hy het gesê hy stel belang in hoe die diere "inmekaarpas".

duimnael|220px|links|Josh Hitchens as Jeffrey Dahmer op 'n plakkaat vir 'n toneelstuk. In Oktober 1966 het die gesin na Doylestown, Ohio, verhuis. Dahmer se ma het toe hulle tweede kind verwag wat op 18 Desember 1966 gebore is, en Jeffrey is toegelaat om ’n naam te kies. Hy het die naam David gekies. In dieselfde jaar het sy pa sy graad gekry en in die stad Akron, Ohio, as analitiese apteker begin werk.

In 1968 het die gesin weer getrek, na Bath, Ohio. Op hoërskool is hy as ’n buitestaander met min vriende beskou. Hy het ook gedrink; dit is die eerste keer opgemerk toe hy 14 jaar oud was. Hy sou bier en sterk drank by die skool insmokkel en dit voor, ná en tydens skooltyd drink. Hy het dit eenkeer sy "medisyne" genoem. Sy onderwysers het hom as beleef en intelligent beskou, al het hy aanvanklik gemiddelde punte gekry.

Toe hy puberteit bereik, het Dahmer besef hy is homoseksueel. Hy het dit nie vir sy familie vertel nie en hoewel hy en ’n ander seun ’n kort verhouding gehad het, het hulle nooit seks gehad nie. Toe hy seksuele fantasieë begin kry, sou hy later vertel, het oorheersing en algehele beheer oor ’n onderdanige seksmaat deel daarvan uitgemaak.

Teen 1977 het Dahmer se punte erg begin daal. Sy ouers het vir hom ’n privaat onderwyser gekry, maar dié het net beperkte sukses behaal. In dieselfde jaar is Dahmer se ouers geskei. In Mei 1978 het hy sy hoërskoolloopbaan voltooi.

Eerste moord en diensplig Dahmer het sy eerste moord in 1978 gepleeg toe hy 18 jaar oud was, net drie weke nadat hy met skool klaargemaak het. Hy het in dié tyd alleen in die gesin se huis gewoon. Hy het ’n 18-jarige ryloper, Steven Mark Hicks, opgelaai. Dahmer het hom na sy huis gelok met beloftes van drank. Ná ure van saam drink, wou Hicks verder ryloop na ’n rock-konsert, maar Dahmer wou nie hê hy moes gaan nie. Hy het hom van agter met ’n handgewig teen sy kop geslaan. Toe Hicks bewusteloos neerval, het Dahmer hom verwurg, sy klere uitgetrek en gemasturbeer terwyl hy oor sy lyk staan.

Die volgende dag het Dahmer die lyk opgekap en in ’n vlak graf in die agterplaas begrawe.Roy, Jody M. Love to Hate NY: Columbia Univ. Press, 2002; pp. 102 et seq. ’n Paar weke later het hy die lyk opgegrawe en die vleis van die bene afgesny. Hy het die vleis in suur opgelos en in die toilet afgespoel; die bene het hy met ’n hamer stukkend geslaan en in die beboste gebied agter die gesin se huis gestrooi.

thumb|220px|Dahmer, in 1979 in Wes-Duitsland afgeneem. Weens sy drinkery van diens af is hy in 1981 ongeskik verklaar vir militêre diens. Ná ’n onsuksesvolle kwartaal op universiteit het Dahmer opgeskop en by die Amerikaanse weermag aangesluit waar hy as mediese spesialis opgelei is. Op 13 Julie 1979 het hy diens gedoen in Baumholder in Wes-Duitsland. ’n Medesoldaat het in 2010 beweer Dahmer het hom daar oor ’n tydperk van 17 maande herhaaldelik verkrag.http://www.independent.co.uk/news/world/americas/soldiers-sexual-abuse--and-the-serial-killer-the-us-militarys-secret-sexual-assaults-8679271.html Hy het dit glo verskeie kere aan sy bevelvoerder gerapporteer, maar hy is nie geglo nie.Blind to Betrayal: Why We Fool Ourselves We Aren't Being Fooled By Jennifer Freyd, Pamela Birrell p.40

Weens Dahmer se voortdurende alkoholmisbruik het sy werk verswak en hy is eindelik (eervol) uit die weermag ontslaan. Op 24 Maart 1981 is hy na Fort Jackson gestuur, waar hy ’n vliegkaartjie kon kry na enige plek in Amerika waarheen hy wou gaan. Hy wou nie teruggaan huis toe nie en het Miami Beach, Florida, gekies. Hier het hy werk by ’n toebroodjiewinkel gekry en ’n kamer in ’n nabygeleë motel gehuur. Hy het al sy geld op drank uitgegee en ná ’n paar maande is hy uit die motel geskop. In September 1981 het hy sy pa gebel en gevra of hy kan teruggaan Ohio toe.

Ohio en West Allis In Ohio het Dahmer bly drink en sy pa het hom in Desember 1981 na sy ouma in West Allis gestuur. Sy was die enigste familielid teenoor wie hy enige vorm van toegeneentheid getoon het. Sy het aanvanklik ’n goeie invloed op hom uitgeoefen; hy het saam met haar kerk toe gegaan, takies vir haar verrig en ernstig werk gesoek, hoewel hy steeds gedrink het. Vroeg in 1982 het hy werk gekry as bloedtrekker by die Milwaukee-bloedplasmasentrum. Hy het die werk 10 maande lank gehou voordat sy pos afgeskaf is. Die volgende twee jaar sou hy nie werk nie en het hy gelewe van geld wat sy ouma hom gegee het.

In Januarie 1985 het hy werk gekry by ’n sjokoladefabriek en in dié tyd het hy die stad se gay kroeë, boekwinkels en saunas leer ken. Hy het ook ’n manlike mannekyn uit ’n winkel gesteel en dit vir seksuele stimulasie gebruik totdat sy ouma daarop afgekom het en geëis het dat hy daarvan ontslae raak. Teen laat 1985 het hy saunas begin besoek waar hy seks met ander mans gehad het. Hy het egter gefrustreerd geraak as sy seksmaats beweeg tydens seks en hy het in Junie 1986 begin om slaappille in hulle drankies te gooi. Dan het hy hulle bewustelose liggame misbruik. Eindelik is sy lidmaatskap van die saunas opgeskort en hy het hotelkamers begin huur om dié praktyk voort te sit.

In dié tyd het Dahmer gelees van ’n 18-jarige jong man wat begrawe sou word. Hy het besluit om die lyk ná die begrafnis te gaan opgrawe, maar het van sy plan afgesien omdat die grond te hard was.

In Augustus 1986 is hy in hegtenis geneem omdat hy voor twee 12-jarige seuns gemasturbeer het. Dahmer het aanvanklik skuld beken, maar dit later teruggetrek. Die aanklag is verander na wanordelike gedrag en op 10 Maart 1987 is hy vir ’n proeftyd van ’n jaar gevonnis op voorwaarde dat hy berading kry.

Daaropvolgende moorde Ambassador-hotel thumb|Steven Toumi in 1979. In November 1987 het Dahmer die 25-jarige Steven Tuomi van Ontonagon in ’n kroeg ontmoet en hom na die Ambassador-hotel genooi waar hy ’n kamer gehuur het. Volgens Dahmer was hy nie van plan om Tuomi te vermoor nie; hy wou hom net bedwelm en seks met sy bewustelose liggaam hê. Toe hy die volgende oggend wakker word, was Tuomi dood en sy eie vuiste en een voorarm was vol kneusplekke. Hy kon glad nie onthou dat hy Tuomi vermoor het nie en "kon dit nie glo nie". Hy het toe ’n groot tas gekoop, Tuomi se lyk daarin gesit en dit na sy ouma se huis geneem. Daar het hy die volgende oggend die kop, arms en bene van die torso afgesny. Hy het die vleis in hanteerbare stukke gesny en in plastieksakke gesit. Die bene het hy in ’n laken toegedraai en met ’n hamer stukkend gekap. Hy het alles in ’n vullisdrom gegooi.

Hy het die kop twee weke lank gehou, dit gekook en gebleik en vir seksuele stimulasie gebruik. Eindelik was dit te bros weens die bleikproses en hy het daarvan ontslae geraak.

Nog moorde Ná Tuomi se dood het Dahmer aktief begin soek na slagoffers. Hy sou die meeste in gay kroeë ontmoet, na sy ouma se huis lok en hulle net voor of ná seks bedwelm. Dan sou hy hulle verwurg.Roy, Jody M. Love to Hate NY: Columbia Univ. Press, 2002; pp. 103 et seq.

Twee maande ná die moord op Tuomi het Dahmer die 14-jarige manlike prostituut James Doxtator genooi om vir foto's te poseer. Daar het hy hom bedwelm en verwurg. Dahmer het die lyk vir ’n week in die huis se kelder gelos voordat hy op dieselfde manier as voorheen daarvan ontslae geraak het. Op 24 Maart 1988 het hy die 22-jarige, biseksuele Richard Guerrero buite ’n kroeg ontmoet. Hy is bedwelm en met ’n leerband verwurg voordat Dahmer orale seks op die lyk uitgevoer het. Die res van die proses was dieselfde as met Tuomi en Doxtator se moord.

In September 1988 het Dahmer se ouma hom gevra om ander blyplek te soek weens sy gewoonte om jong mans laat snags huis toe te bring asook die slegte reuk in die kelder en motorhuis. Dahmer het ’n eenslaapkamerwoonstel gevind en op 25 September ingetrek. Die volgende dag is hy in hegtenis geneem omdat ’n 13-jarige seun wat hy na sy woonstel gelok het, bedwelm en betas het. In Januarie 1989 is hy skuldig bevind. Hy sou in Mei 1989 gevonnis word.

Twee maande ná sy skuldigbevinding en twee maande voordat hy gevonnis sou word, het Dahmer die vyfde keer gemoor. Sy slagoffer was die 24-jarige aspirantmodel Anthony Sears, wat hy op 25 Maart 1989 in ’n gay kroeg ontmoet het. Volgens Dahmer het hy nie dié aand ’n slagoffer gesoek nie, maar Sears het net voor sluitingstyd met hom begin gesels. Hy het hom genooi na sy ouma se huis, waar hy intussen weer ingetrek het. Daar het hulle orale seks gehad voordat Dahmer hom bedwelm en verwurg het. Die volgende oggend het hy Sears se lyk in sy ouma se bad gesit en hom onthoof. Hy het die vleis van die bene gestroop, die bene stukkend gekap en in ’n vullisdrom gegooi. Volgens Dahmer het hy Sears "besonder aantreklik" gevind; dit was sy eerste slagoffer van wie hy liggaamsdele gehou het: hy het sy kop en geslagsdele in asetoon gepreserveer en in sy sluitkas by die werk gebêre. Toe hy die volgende jaar na ’n nuwe blyplek trek, het hy dit soontoe geneem.Murder In Mind, issue 5, ISSN 1364-5803, p. 22

Op 23 Mei 1989 is Dahmer gevonnis tot ’n proeftyd van vyf jaar en ’n jaar in ’n werkkamp, waar hy uitgelaat sou word om te gaan werk; hy moes ook as ’n seksoortreder registreer.

Ná 10 maande is hy uit die werkkamp vrygelaat en het sy proeftyd begin. Hy het eers na sy ouma in West Allis teruggetrek voordat hy in Mei 1990 by ’n nuwe woonstel in Milwaukee ingetrek het.

924 North 25th Street Binne ’n week in sy nuwe woonstel by 924 North 25th Street het Dahmer sy sesde slagoffer, Raymond Smith, vermoor. Smith was ’n manlike prostituut vir wie Dahmer na die woonstel gelok het. Hier het hy Smith ’n drankie met sewe slaappille gegee en hom met sy hande verwurg. Die volgende dag het hy ’n kitskamera gekoop en foto's van Smith se lyk in verskeie suggestiewe posisies geneem voordat hy dit in die badkamer opgesny het. Die arms, bene en pelvis het hy gekook en die bene in sy wasbak afgespoel. Die skedel het hy met spuitverf geverf en langs Anthony Sears s’n gesit. Dié het hy intussen van die werk af gebring.

Sowat ’n week later, op 27 Mei, het hy nog ’n jong man na sy woonstel gelok. Op dié geleentheid het hy egter per ongeluk self die gedokterde drankie gedrink. Toe hy wakker word, was die man weg en hy het ontdek hy is van $300 en ’n horlosie beroof.