Die De Hoopdam is 'n dam in die Steelpoortrivier, naby Burgersfort, Limpopo, wat in 2014 in gebruik geneem is. Die doelwitte wat aan die dam gestel is, is die verskaffing van water vir die ontginning van ryk mineraalbronne in die oostelike Limpopoprovinsie, benewens waterverskaffing aan dorpe, nywerhede en gemeenskappe in die Sekhukhune-distrik, waar dienslewering voorheen van swak gehalte was.

Die voltooiing van die dam is met vier jaar vertraag (2010 tot 2014) weens probleme in die voorsieningsketting, tegniese en toerustingprobleme, onvoldoende omgewingsimpakstudies, verskuiwings van gesinne uit die area, en loonstakings.

Die vlagskipdam in die Olifantsrivier-stelsel en Suid-Afrika se grootste nuwe dam sedert die laat 1970's, was 'n projek van die Departement van Waterwese. Die projek van R3,4 miljard het innoverende oplossings vir energie-dissipasie en die gebruik van roller-gekompakteerde beton ingesluit, waarvoor die departement 'n Fulton-toekenning ontvang het.Toegeken deur die Concrete Society of Southern Africa

Dit was die tweede fase van die Olifantsrivier-waterhulpbronprojek (ORWRDP), die enigste lewensvatbare oplossing vir waterlewering aan die Nebo-plato, waar 800 000 mense woonagtig is. Die eerste fase wat in 2006 voltooi is, het kapasiteitsverbeteringe aan die Flag Boshielodam behels.

Sien ook Lys van grootste damme in Suid-Afrika

Verwysings

Bronnelys Lys van Suid-Afrikaanse damme deur die Departement van Waterwese

Kategorie:Damme in Limpopo Kategorie:Damme van Suid-Afrika