Casparus Peter Hoogenhout (11 Maart 1843 – 13 Januarie 1922) was 'n vroeë Afrikaanse skrywer. Hy was 'n lojale ondersteuner van die Afrikaanse Taalbeweging; tewens was hy 'n stigterslid van die Genootskap van Regte AfrikanersEsaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Hoogenhout,_Casper_Peter en het reeds in 1873 in die taal begin skryf. Hy het waarskynlik van sy eerste vertalings van die Bybel in Afrikaans gedoen. Hy het ook dikwels bydraes vir Die Afrikaanse Patriot geskryf onder die naam Oom Jan wat Versies Maak. Hy skryf ook onder die skuilname Klaas Waarzegger Jr. en Cupido. Hy tree in 1908 af as onderwyser en is in 1922 oorlede.

Een van sy bekendste aanhalings is:Oor die verengelsing na die Tweede Anglo-Boereoorlog, in Die Afrikaanse Patriot, 1880

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms Casparus Peter Hoogenhout is op 11 Maart 1843 in Amsterdam, Nederland gebore as die oudste kind van Nicolaas Hoogenhout (1818–1873, seun van Pieter Hoogenhout en Alida van Henten) en sy vrou Wynanda Elizabeth Imker (1823–1856, dogter en enigste kind van Casper Imker en Elizabet Smit). Hy het ’n suster Elizabeth (1844–1847) wat jonk oorlede is. Sy ander suster Alida is ’n paar dae na geboorte in 1846 oorlede. Dieselfde lot tref die tweeling (Pieter en nog ’n Alida) wat eweneens ’n paar dae na hulle geboorte op 27 Desember 1851 oorlede is. Sy broer Nicolaas (1850–1913) is die enigste een van die ander kinders wat ook ’n volwassene word. Al die lede van sy familie spandeer hulle leeftyd in Amsterdam in Nederland. Sy moeder sterf wanneer hy slegs dertien jaar oud is en wanneer sy vader weer trou (met Maria Elisabeth de Haan) is die verhouding tussen hom en sy stiefmoeder so sleg dat hy onder invloed van professor U.G. Lauts, ’n Nederlander wat hom in hierdie tyd doelgerig vir emigrante na Suid-Afrika beywer het, besluit om eerder na Suid-Afrika te kom.

Aankoms in Suid-Afrika Teen 1860 stap hy in Kaapstad aan wal en werk die eerste paar jaar na sy aankoms as klerk op die kantoor van die firma O.J. Truter in St. Georgestraat. Truter was sekretaris van die Kaapse kommissie vir kinder-immigrasie. Hoogenhout was op hierdie jong ouderdom en sonder ouerlike toesig en liefde maklik beïnvloedbaar en hy beland dan ook onder die verkeerde invloed van die ouer Nederlandse immigrant F.W. van der Gendt. Op 3  Mei 1864 verskyn Hoogenhout in die Kaapse Hooggeregshof op aanklagte van vervalsing van wissels in die name van O.J. Truter en A.W. van der Merwe, dat hy bankboekies gesteel het van die twee Hollandse immigrante Johannes de Vries en W.J. Wolvers en van “opdrossing”, wat vermoedelik beteken dat hy onregmatiglik uit die diens van O.J. Truter gedros het. Hy word in die Hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind op die aanklagte teen hom en tot vyf jaar dwangarbeid gevonnis. Dit is onbekend of hy sy volle vonnis uitgedien het, maar hy was voor 1870 reeds uit die tronk en in die Paarl. Uit sy latere lewensgeskiedenis is dit duidelik dat hy homself ten volle gerehabiliteer het en ten spyte van ’n wankelrige begin en etlike terugslae, inderdaad ’n groot sukses van sy lewe gemaak het.

Invloed van Arnoldus Pannevis Ds. G.W.A. van der Lingen van die Paarl neem hom na sy vrylating onder sy beskerming en hy word dan as deel van sy algemene rehabilitasie as onderwyser opgelei, sonder om formeel te kwalifiseer. Sy leermeester is Arnoldus Pannevis, wat in hierdie tyd onderwys gee aan Van der Lingen se skool in die Paarl en met wie Hoogenhout bevriend raak, ’n vriendskap wat sou duur tot Pannevis se dood in 1884. Hoogenhout kom ook onder Pannevis se invloed tot bekering, waarna hy ’n streng godsdienstige lewe lei.Pienaar, E.C. Afrikaanse taalbakens IV: Pannevis en Hoogenhout. Die Taalgenoot, April 1944

Persoonlike lewe Sy eerste onderwyspos is op die plaas Zeekoegat van Jan Louw oorkant die Bergrivier, waarna hy op 3 Augustus 1874 by die Groenbergskool op die plaas Welbedacht aangestel word. Hier gee hy onderwys tot met sy aftrede. By die skool ontmoet hy vir Catharina Maria (Cato) le Roux (nooiensvan Marais – gebore 25 Junie 1847 en oorlede 31 Oktober 1942), die dogter van Frans Marais van die plaas Olifantskop wat voorsitter was van die skoolkomitee van die Groenbergskool. Haar man, Jacob le Roux, met wie sy getrou het toe sy twintig was, het haar ’n paar jaar vroeër tragies ontval toe hy maar 26 jaar oud was en hulle seuntjie Pieter slegs een jaar en nege maande.

Hulle trou op 29 Maart 1875 en uit die huwelik word ses kinders, Nicolaas Marais (Klaas) (1876–1932), Johanna (Nôi) Retief (1877–1905), Francois Paulus (Frans) (1880–1941), Petrus Imker (1884–1970), Daniël Marais (Danie) (1885–1951) en Wynanda Elizabeth (Wynie) (1888–1936), gebore. Die eerste seun, Klaas, is taalkundige, Direkteur van Onderwys in die Transvaal en stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, terwyl Imker later administrateur van Suidwes-Afrika en ambassadeur na Nederland word. Imker skryf later self en Op die delwerye verskyn van hom, terwyl hy ook die Afrikaanse woorde skryf vir etlike Engelse liedere, onder meer die baie bekende Kom ons gaan blomme pluk in die vlei en Die brug op ons plaas. Frans word advokaat en is later besturende direkteur van die Koöperatiewe Wolboerevereniging in Durban.

Die gesin bly aanvanklik in die skoolgebou van die Groenbergskool en die woonhuis en die skool is eers na vier jaar geskei en vergroot. Die Departement van Onderwys staan in 1879 die skoolkomitee van Groenberg se versoek toe om die skool tot ’n graad twee-skool te verhoog en die toelae is tot £56 per jaar verhoog. Op 20 Oktober 1881 rig Hoogenhout ’n versoek aan die owerhede dat aangesien hy reeds etlike jare in die onderwys staan en bevredigende werk lewer, hy ’n amptelike onderwyssertifikaat behoort te ontvang sodat hy permanent aangestel kan word. Hierdie versoek word toegestaan en die sertifikaat uitgereik sonder dat hy eksamen skryf. In Januarie 1884 word Cornelia Stucki, dogter van die bekende onderwyser M.J. Stucki van Blouvlei, as Hoogenhout se assistente aangestel. Voor haar was mejuffrou A.M. Marais vir drie maande daar. Uit die inspekteursverslae blyk dit dat hierdie skool goed bestuur is deur Hoogenhout. Benewens sy werk as onderwyser, preek hy ook meermale in die naby geleë sendingkerk vir bruin mense in Bovlei, terwyl hy ook sekretaris is van die Christelike Werkersvereniging te Groenberg. In 1904 doen hy aansoek om siekteverlof en sy seun Imker neem waar in sy plek. Hy is grootliks afwesig tot en met 1908 omdat sy gesond-heid nie verbeter nie. Hy tree dus in 1908 formeel af en gaan op pensioen. Desnieteenstaande sien hy steeds tot op baie hoë ouderdom die eksamenskrifte van die Taalbond na.Esat: http://esat.sun.ac.za/index.php/C.P._Hoogenhout

Bydrae tot die Afrikaanse taal Hy is een van die leiersfigure in die Eerste Taalbeweging en woon die stigtingsvergadering van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 in die Paarl aan huis van Gideon Malherbe by. Wanneer Di Patriot as mondstuk van die GRA uitgegee word, is hy die eerste letterkundige redakteur, wat met sy voorbeeld as Oom Jan wat versies maak groot invloed uitoefen op die leserspubliek en daarin slaag om die mense sover te kry om ook hulle hand te waag aan gediggies en ander bydraes. Hy speel dan ook ’n belangrike rol om die aspirant-skrywers van raad te bedien. In hierdie tyd is hy ook mederedakteur van die Nederlandse Het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift en skryf verskeie Nederlandse gedigte vir hierdie blad, wat hoofsaaklik in sy rubrieke Boerderij en Gezellig Tijdverdrijf geplaas word. Boer-derij gee raad aan boere en hy vertaal ook goeie artikels uit buitelandse tydskrifte, terwyl Gezellig Tijdverdrijf gewoonlik verskillende soorte raaisels bevat het. Baie van die hoofartikels van Di Patriot is ook deur hom geskryf. Saam met D.F. du Toit (Oom Lokomotief) verlaat hy die redaksie van Di Patriot in 1891, wanneer hulle nie langer kan saamstem met die politieke sienswyse van S.J. du Toit nie.

Tot met sy dood op 13 Januarie 1922 woon hy op die plaas Optenhorst in die Bovlei naby Wellington, waar sy stiefseun Pieter le Roux boer. Hy word begrawe in die kerkhof van die Bovlei-kerk naby Wellington, waar hy dikwels gepreek het.Kotzé, D.J. Hier lê die G.R.A.-leiers begrawe. Die Huisgenoot, 15 Augustus 1975

Skryfwerk Sy letterkundige oeuvre is hoofsaaklik didakties en nasionalisties van aard, met beperkte letterkundige waarde. Die enorme waarde daarvan in kultuur-historiese verband en die groot rol wat hy gespeel het in die ontwikkeling van die skryftaal en aanmoediging aan medeskrywers en lesers kan egter nie onderskat word nie. Op prosagebied lewer hy belangrike werk. Sy skrywersloopbaan begin met ’n anonieme brief in De Zuid-Afrikaan van 12 April 1873, opgevolg met nog een op 5 Julie 1873. Hierin bepleit hy die vertaling van die Bybel in Afrikaans, hoofsaaklik sodat die gewone mense, wit en bruin, ook die Bybel in hulle eie taal kan lees. Met hierdie briewe begin die stryd vir die erkenning van Afrikaans met alle erns in die openbare pers.

Bybelvertaling Uit die Statebybel vertaal hy in 1873 Matteus 28 en in 1878 die volledige Markus, maar hierdie vertalings word nie gepubliseer nie. Die vertaling van Matteus 28 het hy na De Kerkbode gestuur, wat dit waarskynlik vernietig het sonder om eers ontvangs te erken. Gelukkig het Hoogenhout ’n afskrif van die vertaling gemaak, sodat hierdie eerste proewe van ’n vertaling van die Bybel in Afrikaans tog bewaar gebly het en afgedruk is in P. J Nienaber se inleiding van die herdruk van Josef en Catharina in 1940.

Skrywerk wat bydrae tot die Eerste Afrkaanse Taalbeweging Hy speel ’n belangrike rol in die beginjare van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, onder meer met sy Gesprekke tussen oom Jan Vasvat en neef Daantjie Loslaat, wat tussen 1873 en 1875 in De Zuid-Afrikaan verskyn onder die skuilnaam Klaas Waarzegger Jr. In hierdie gesprekke is oom Jan die verpersoonliking van die verstandige en lojale Afrikaner, wat die regte van Afrikaans bevorder, terwyl Daantjie Loslaat nog van die waarde van Afrikaans oortuig moet word. Benewens Afrikaans word in hierdie stukke ook die politieke en nasionale sake van die tyd aangeraak.

Eerste kinderboek in Afrikaans Reeds in 1873 verwerk hy Die geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huissouwens in hulle eige taal geskrywe deur een vrind, wat as die eerste kinderboek in Afrikaans beskou kan word. Hierin slaag hy goed daarin om hierdie bekende Bybelverhaal binne die begripsvermoë van die jong leser oor te vertel. As een van die eerste boeke in Afrikaans is die verskyning daarvan angstig afgewag en verwek dit groot opspraak in die koerante, met sterk steun en ewe sterk afkeur wat oor die taal uitgespreek word.Snyman, N.J. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 13 no. 4, November 1975

Eerste Afrikaanse novelle