Freda Linde (Swellendam, 12 Desember 1915 – 7 Maart 2013) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer en vertaler van kinderboeke. Sy het hoofsaaklik in Afrikaans geskryf en het meer as 150 kinderboeke in Afrikaans, Frans en Duits vertaal.Freda Linde
Lewe en werk Linde werk tot 1960 as 'n joernalis en redakteur. Van 1960 tot 1963 was sy die redakteur van HAUM-uitgewers, en van 1964 tot 1971 redakteur in bevel van kinderlektuur by John Malherbe-uitgewers. Sy is die enigste dogter en oudste kind van die boer Hans Jurie Linde (self ’n skrywer en ’n ywerige amateur sterrekundige, wat ook bouer is en verskeie huise in die omgewing bou) en Christophera Frederika Johanna Joubert (ook skrywer wat ’n paar stukkies publiseer). Haar ouers is tydens die Eerste Wêreldoorlog met mekaar getroud. Freda het twee jonger broers, Pieter Emelius en Deon. Die stamvader van die Lindes in Suid-Afrika is die soldaat Hans Jürgen Linde, wat in 1753 vanuit Durlach, digby die grens van Frankryk en Duitsland, na die Kaap kom. Hier word hy wamaker en vestig hom eindelik op Swellendam, waar hy op 5 November 1758 met Catherina Elisabeth Swart trou, ’n huwelik waaruit ses kinders gebore word.
Reeds as jong kind kom Freda deur middel van haar ouers se boekery in aanraking met werke uit die Victoriaanse Engelse letterkunde en die vroeë Afrikaanse letterkunde. Sy begin haar skoolloopbaan op die plaasskool op Middelrivier. Daarna gaan sy vanaf standerd ses met ’n beurs, wat die Katolieke priester dr. McAuliff vir haar organiseer, na die Katolieke Seminarie vir Meisies wat aan die Engelsmedium Girls High School op Worcester verbonde is. Hier ontwikkel sy ’n liefde vir die Engelse letterkunde. Vanaf 1933 gaan sy na die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad, waar sy in 1934 matrikuleer. Hier is die skrywer Essie Malan haar onderwyseres in Afrikaanse letterkunde, wat haar baie aanmoedig in haar skryfwerk.
Na haar skoolopleiding werk Freda twee jaar in ’n assuransiekantoor en daarna is sy vanaf 1937 tot 1950 joernalis by die koerant Die Suiderstem. Hier is Uys Krige aanvanklik saam met haar op die redaksie en hy moedig haar aan met haar skryfwerk. Sy werk hierna ’n paar jaar as vryskutjoernalis en volg dan teen die einde van 1954 vir Audrey Blignault op as redaktrise van Die Huisvrou. Vanaf 1960 is sy redaktrise by die uitgewery HAUM en vanaf 1964 by die uitgewer John Malherbe, wat hulle veral op die publikasie van kinderboeke toespits. Hierdie pos bedank sy aan die einde van 1971 en word daarna vryskutskrywer in Kaapstad. Vir ’n ruk dien sy saam met Uys Krige en Jack Cope op die redaksie van die letterkundige tydskrif Contrast. Van die ontstaan van die Ingrid Jonker Gedenkfonds in 1965 tot 1971 is sy sekretaresse van hierdie fonds. Sy besoek Suidwes-Afrika (Namibië) in 1972 en 1973 en hierdie besoeke word die inspirasie vir “Die singende gras”. Sedert die begin van 1981 bly sy in ’n huis in Kloofnekweg in die voorstad Tamboerskloof van Kaapstad. Sy tree in 1972 af om voltyds te skryf en is op 7 Maart 2013 oorlede.
Skryfwerk Reeds op elfjarige ouderdom skep sy haar eerste gediggie. Sy is op skool lief daarvoor om opstelle te skryf en skryf ook ander kinders se opstelle vir hulle. Op hoërskool kry haar Engels ’n groot stoot, sodat sy selfs in Engels begin dig, terwyl sy steeds Afrikaanse gediggies skryf. In standerd agt verskyn ’n verhaaltjie van haar in die skoolblad Omnus unum en in standerd nege skryf sy ’n opstel met die naam “Kinderindrukke” vir die S.A. Eisteddfod. Sy wen hiermee die eerste prys en die opstel verskyn in Die Huisgenoot van 10 November 1933 en word later opgeneem in “Terug na die mimosas en ander essays”. In haar matriekjaar in 1934 wen sy vier eerste pryse vir letterkunde op die S.A. Eisteddfod, een in die ouderdomsgroep 16-18 jaar vir die opstel “Ou boeke”, wat ook later in “Terug na die mimosas” opgeneem word. Die ander drie pryse is in die ope afdelings, onder andere vir die eenbedryf “Antonie” en ’n essay. Nadat sy aanvanklik ’n paar werke vir volwassenes skryf, begin sy in die sestigerjare by ’n uitgewershuis om kinderboeke te publiseer en te vertaal, wat haar belangstelling in hierdie kreatiewe genre prikkel.
Prosa Sy skryf vir beide volwassenes en kinders en binne hierdie raamwerk beoefen sy ook verskeie genres. Vir volwassenes skryf sy aanvanklik baie essays, sketse en gedigte onder skuilname soos J. van Velden vir Unie Volkspers se tydskrif Die Naweek. Haar debuut is met die bundel essaysOpperman, D.J. “Verspreide opstelle” Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 1977 “Terug na die mimosas”, waarvoor veral die omgewing van haar ouerplaas tussen Bonnievale en Swellendam die agtergrond vorm. Sy beïndruk hier met raak beskrywings waarin sy dikwels in verbeeldingsvlugte verlange na die natuur en sy skoonheid verwoord en ’n feitlik tasbare stemming skep. Met ’n herdruk in 1958 word die inhoud grondig hersien en aangevul met nuwe stukke. Elize Botha neem “Die oumakappie” uit hierdie boek op in haar versamelbundel oor “Afrikaanse essayiste”. Freda volg hierdie boek op met die verdere bundel essays “Vreemdeling in my stad”. Hier is veral “Roetkatjie” noemenswaardig, waar sy daarin slaag om die perspektief van die kat op die wêreld dwarsdeur mooi vol te hou. In 1959 word ’n eerste prys aan haar toegeken vir ’n versameling essays in Die Landstem se Letterkundige Wedstryd.
“Die rooi haan” is ’n moderne fabel vir ouer jeug en volwassenes (in Engels vertaal as “The red rooster”), wat die mens se hebbelikhede satiriseer. Die hoendergemeenskap op Taaibosbult bestaan uit die aristokratiese Leghorns, die Koekoeke en swart Minorcas, afsonderlike soorte wat deur Oubaas Juriaanse in afsonderlike kampe gehou word. Kosie Kokken is ’n Rhode Island Red-haantjie wat glo dat alle hoenders dieselfde is en daar behoort dus nie verdeeldheid te wees in die hoenderdom nie. As gevolg van hierdie oortuiging raak hy in ’n geveg betrokke met Bloukan von Kiep, ’n aanstellerige Leghorn-haan. Kosie verloor die ongelyke stryd en word van sy geboortegrond afgesit. Hy onderneem dan ’n pelgrimsreis en beland in die moderne hoenderplaas met sy lê-hokkies en druk en gespartel. Hiervandaan keer hy terug na die sorg van sy alwyse Oubaas op Taaibosbult, wat nou veel aantrekliker voorkom, en word die onbetwiste leier van die hoenders. So word die haan se reis simbool van die mens se aardse swerftog en die bedreiging wat die stedelike lewe vir die natuurlike lewenswyse vorm. “Die rooi haan” word bekroon met ’n spesiale prys in Die Landstem se Letterkundige Wedstryd van 1960.
Van haar prosa word in verskeie versamelbundels opgeneem, wat insluit “Die dammetjie en ander sketse en essays”, “Afrikaanse essayiste”, “Afrikaanse essays”, “Bolder”, “Borde borde boordevol”, “Klein koninkryk”, “Vuurslag”, “Steekbaard”, “In ons goeie boekies”, “Vrouevertellers”, “Granaat”, “Kortetjie vir die katel” en “Storiehuis woordpaleis”. “Rooi” is ’n versamelbundel van sketse en essays deur prominente Afrikaanse skrywers en hierin verskyn vyf stukke van haar, naamlik “Rooisteeltjie-Rabas”, “Vir haar, die ongeroemde”, “Oor ’n leë bladsy”, “In die baan van die storm” en “Minimum vir ’n reis”. Sommige van hierdie essays het tussen 1962 en 1964 in Die Huisvrou verskyn, terwyl “Vir haar, die ongenoemde” in 1963 deur die SAUK uitgesaai is. Hennie Aucamp neem haar kortverhaal “Die isitôlotôlo” in die versamelbundel “Bolder” op. Die stadsmens Lisa is voel nie tuis in die natuur en die suikerplantasie waar sy kuier nie en ontsmet die Afrika musiekinstrument, die isitôlotôlo, baie deeglik. Sy kan egter nie ontspan in haar omgewing nie, hoewel sy later besef dat sy die onrus met haar saamgebring het en dat die omgewing nie daarvoor te blameer is nie. Wanneer haar kind, Kowie, deur ’n slang bedreig word, neem sy die isitôlotôlo wat sy eers nie wou aanvaar nie en speel daarop totdat die slang wegseil. Dit is eers hierna wat sy vrede maak met haar omgewing.
Jeugverhale en kinderlektuur Dit is egter op die gebied van die jeug- en kinderliteratuur dat sy die grootste bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer. In hierdie genre dek sy feitlik alle moontlikhede en haar boeke sluit in prenteboeke en eerste leesboeke, verhale vir 7-9 jariges, verhale en verse vir die ouderdomme 6-12 jaar, jeugromans en selfs vakliteratuur. Haar kinderliteratuur word in onder andere Engels, Duits, Kwanyama en Nama vertaal, terwyl sy self ook meer as honderd boeke vir kinders van ander tale in Afrikaans vertaal. Die natuur speel ’n groot rol in haar werk en dien behalwe as agtergrond ook as fokuspunt vir tematiese ontwikkeling en karakterbeelding. Opvallend is die genuanseerde uitbeelding van goed en kwaad in die karakters, met aspekte van albei, terwyl die grondliggende wetenskaplikheid van haar waarnemings sentimentaliteit voorkom. Vele wetenskaplike besonderhede van eiesoortige plante en diere word vernuftig in die verhaallyn ingevleg. Sy is een van die eerste skrywers in Afrikaans wat kinderliteratuur tot letterkunde verhef.
Die plaas Bruintjiesrivier in die distrik Swellendam, waar sy groot geword het, vorm die agtergrond van die meeste van haar werk. Dit is Sonnige Oewer in “Swiera van die Waterkant” en “Ken jy die Kierangbos”; dit is die kontrei waar Jos van “Jos en die sog”, “Jos en die bok” en “Jos en Klos” woon; dit is Oupa se plaas in “Dakkuiken”; dit is die omgewing van die oumense se plasie in “Die kokkewiet en sy vrou” en van die diere en plante in “As jy kan fluit op hierdie maat”; dit is die wêreld van die erdvark “Snoet-Alleen”; en dit is ook waar Onderplaas en Kleinplasie geleë is in “’n Tuiste vir Bitis”. Tydens haar werkloopbaan by John Malherbe Uitgewers begin sy om bekroonde kinderboeke in Afrikaans te vertaal, wat die dryfveer word vir haar eie skryfwerk. Sy vertaal eindelik digby 150 kinderboeke, sommige in rym, uit ander tale.
Sy skryf verskeie prenteboeke vir kleiner kinders. Die eerste drie is almal vrye verwerkings van bekende stories. ’n Ou Wolf-en-Jakkals verhaal is die bron van “Botter-aas” en verhale van die Grimm-broers vorm die basis van “Stadsmuis en veldmuis” en “Die stadsmusikante”. Die C.P. Hoogenhout-medalje word in 1966 aan die illustrasies van “Botter-aas” en in 1967 aan die illustrasies van “Die stadsmusikante” toegeken. Vir hierdie boeke is die illustrasies eerste gemaak en het sy die verhaal aangepas om die illustrasies te interpreteer, sonder om afbreuk te doen aan die oorspronklike verhaal.