Sonop Tehuis Ligging Land Suid-Afrika Provinsie Pretoria, Gauteng Adres Murraystraat 93, Brooklyn Meer inligting Webwerf www.sonop.org.za Kontak nommer (012) 460 7830

Sonop Tehuis verskaf verblyf aan sowat 160 manstudente wat aan die Universiteit van Pretoria studeer. Die opset van die koshuis verskil van dié van ander Tuks-koshuise in die sin dat inwoners in huisies woon – in die tehuis bekend as "mansjioene" (afgelei van die Engelse woord "mansions") – i.p.v. woonstelblokke. Die tehuis word verdeel in 4 hoofstreke waar senior studente woon, nl. die "Weste" (bevat 'n sub-afdeling bekend as die "Verre Weste"), "Ooste", "Noorde" en "Sentraal". Die streeknaam dui die ligging van die streek aan relatief tot die "Stalle": die oudste gebou op die terrein asook die landmerk van Sonop Tehuis. Die "Stalle" dien as huisvesting vir eerstejaarstudente, so ook die "Pastorie" (geleë in die "Noorde"). Die "Bloutrein" huisves eerstejaars asook "nuwelinge" (d.i. studente wat nie vanaf hulle eerstejaar in Sonop was nie). Verder beskik die tehuis oor 'n biljartsaal, tennis- en muurbalbaan, kombuis en eetsaal en selfs 'n klein informele gimnasium. Die aanhou van troeteldiere word ook in Sonop toegelaat.

Die geskiedenis en groei van Sonop In 1916 het die gedagte om 'n Christelike Tehuis vir studente van die Transvaalse Universiteitskollege op te rig by prof. W.P. de Villiers, professor in Duitse letterkunde, ontstaan.Sonop Argief Joernaal 1 Die sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk het deur sy bemiddeling besluit om oor te gaan tot die stigting van sodanige Tehuis. Ses residensiële erwe in Brooklyn, tesame met die woonhuis van ene mnr. Archie Struben, is aangekoop teen R2 175 deur die NG gemeente van Pretoria. In 1917 het Sonop Christelike Tehuis met 40 inwonende studente geopen. Die eiendom is oorgedra aan die toe pas afgestigte NG gemeente Pretoria-Oos.

Die eerste Sonoppers het R60 per jaar aan koshuisgelde betaal. Tussen 1917 en 1920 is die eerste "mansjioene" oos van die "Stalle" gebou en in 1921 die eetsaal-kombuiskompleks asook die eerste drie mansjioene wes van die "Stalle". In die tydperk 1937 tot 1939 is die laaste agt mansjoene in die huidige "Weste" en die "Ooste" gebou. Vir 'n tydperk in die vroegste jare is drie huise in Brooklyn gehuur as addisionele huisvesting – "Goedhalshuis", "Ávondrust" in Andersonstraat en "Maiden’s Hope" op die hoek van Marais- en Williamstraat.

Nadat Sonop in die vroeë dertigerjare aan die Universiteit van Pretoria verkoop is het die Kerk die Tehuis weer in 1939 teruggekoop. In 1941 is 'n nuwe huisvaderswoning (die huidige "Pastorie") gebou. In 1942 is die tennisbane en swembad gebou (in 1960 weer opgevul) en in 1944 word die ou "Stalle" afgebreek om plek te maak vir die huidige "Stalle". In 1949 volg die fietsloods en motorhuis en in 1951 die "Weste" en "Ooste" se badkamers. In 1959–60 word die "Weste" en "Ooste" "Stalle", die eetsaal en badkamers gerestoureer.

Prof. Ben Marais word in 1957 verkies tot voorsitter van die Sonopraad. Prof. Marais is in der waarheid 'n oud-Matie, maar word gedurende die dertigerjare op die Sonopraad verkies terwyl hy as studenteleraar dien. Hy is later professor in teologie en tree 'n tyd lank op as dekaan van die Fakulteit Teologie. Hy het ook emeritus professor aan Tukkies en deeltydse dosent aan Unisageword. Hy tree af as voorsitter van die Sonopraad in 1983. Sy huis is naby Sonop in Haystraat. Die volgende voorsitter is prof. JJ Geldenhuys wat destyds werksaam was by die departement van Toegepaste Wiskunde aan Tukkies. Die huidige voorsitter is mnr. Danie Slabert.

Die "Groot Trek" Sonop het ook sy eie “Groot Trek” gehad toe al die huislede – op een uitsondering na – die Tehuis vir die duur van 1935 verlaat het. Die rede was dat die huisvader, prof. W.P. de Villiers, 'n vurige republikein en nasionalis was. Die Groot Trek het egter 'n lang aanloop gehad.Sonop Argief Joernaal 2 In 1926 skenk Daan de Wet (latere kabinetsminister) 'n foto van genl. C.R. (Chrisjan) de Wet aan die Tehuis om in die eetsaal op te hang. In 1929 word die Transvaalse Universiteitskollege (TUK) die eerste keer deur die destydse rektor, prof. A.E. du Toit, in Afrikaans geopen. Hy pleit dat die TUK moet kies om in diens te staan van die plattelandse Afrikaanssprekende bevolking van Transvaal.

Prof. de Villiers, huisvader van Sonop, is diep getref deur die rektor se woorde en terug in die Tehuis sê hy aan die huislede: “Wat my betref moet ons hier in Sonop ook besluit om rigting te kies.” Hy wys na die foto van genl. de Wet teen die muur en vervolg: “U moet vandag besluit of u daardie foto wil laat verbrand as dié van 'n verraaier, of hom laat bly hang as die portret van 'n volksheld”.

In 1930 slaag prof. A.E. du Toit se onvermoeide pogings om die Universiteitskollege selfstandig te maak toe die selfstandige Universiteit van Pretoria op 10 Oktober van daardie jaar tot stand kom. Dieselfde prof. Du Toit slaag ook in September 1932 daarin om die Universiteitsraad te oorreed om Afrikaans as voertaal van die Universiteit te aanvaar.

In 1933 gaan dr. D.F. Malan in Sonop tuis tydens die Pretoriase Krugerdagvieringe. Dr. Malan se toespraak op Kerkplein het Sonop se huisvader weereens aangegryp en na aanleiding van dr. Malan se uiteensetting van wat 'n republiek is, sê prof. De Villiers aan Sonoppers dat hulle Sonop voortaan as 'n republiek moet beskou. Die idee kry stelselmatig gestalte in die gedagtes van die huislede.

In 1934 moes prof. A.E. du Toit sy pos as rektor neerlê. Prof. D de Villiers, vir wie dit 'n groot skok was, maak geen geheim van sy gevoelens nie, want vir hom was Prof. A.E. du Toit 'n toonbeeld van 'n ware Afrikaner. Op 12 Oktober 1934 word 'n petisie deur inwoners van die Tehuis aan die Senaat van die Universiteit voorgelê – daarin vra hulle vir die vergadering met die huisvader. Die volgende eise word gestel: Die studentegemeenskap van Sonop dring daarop aan om onder beheer van die Pretoria-Oos kerkraad uit te kom. Die studente van Sonop Tehuis versoek dat prof. WP de Villiers sy betrekking as huisvader van Sonop laat vaar, omdat: Prof. WP de Villiers partypolitiek by die koshuislewe insleep (soos blyk uit die konsepkonstitusie wat hy aan die Tehuis voorgelê het), en hy besig is om kerksistiese diskriminasie onderling aan te hits (waar daar in Sonop nog nooit voorheen enige onderskeid getref is tussen die studente van verskillende kerkgenootskappe nie). Dr. WP de Villiers is besig om 'n onderskeid aan te kweek.

Van die 44 inwonende Sonoppers het net twee nie die petisie onderteken nie. Lede van die huiskomitee moes voor die Universiteitsraad getuienis aflê. Nadat die sekretaris se getuienis nie die ander s’n ondersteun het nie, is die saak deur die Raad verwerp. Op 'n koshuisvergadering dieselfde aand word die sekretaris as verraaier uitgekryt en besluit die huislede verder dat nie een van hulle in 1935 sou terugkeer, indien prof. WP de Villiers die volgende jaar nog huisvader is nie. Die gevolg is dat al die Sonoppers – op een uitsondering na – 1935 as vrywillige ballinge in Buxton-Tehuis deurgebring het.

Toe prof. WP de Villiers boonop daarvan beskuldig word dat hy die teologiese professore van die Hervormde Kerk beskuldig van 'n "kerksistiese stryd", besluit die Universiteitsraad op 22 Mei 1945 om prof. WP de Villiers te onthef van sy pligte as huisvader. Die uiteinde was dus dat die “Groot Trek” in 1936 beëindig is met die terugkeer van al die Sonoppers. Slegs drie persone het in die geskiedenis van Sonop die eer gehad om huisvader van Sonop te kan wees. Daarna word mnr. A.C. Vlok as huisvader aangestel. Die laaste huisvader was prof. I.D. Bosman (in die amp van 1939 tot 1947). Bosman was 'n alombeminde huisvader. Hy is op 16 Maart 1947 oorlede.

Hierna is daar nie weer 'n huisvader aangestel tot in 2010 met die aanstelling van ds. Tonie Viljoen nie.Onderhoud met huidige huisvader ds. Tonie Viljoen Voor dit het die Huiskomitee verantwoordelikheid geneem vir die Tehuis se bestuur en hierdie model van "selfregering" blyk deur die jare taamlik suksesvol te wees.

Sonop as republiek Op 31 Mei 1955 is Sonop amptelik tot 'n republiek verklaar. Hierdie gebeurtenis het wye publisiteit geniet. Op 1 Desember 1954 word adv. Hans Strijdom die Eerste Minister van die Unie van Suid-Afrika. Hy is veral bekend vir sy republikeinse ideaal en het groot aanhang gehad in Transvaal – ook in Sonop. Die gedagte aan Sonop as 'n republiek het spontaan op 31 Mei 1955 ontstaan. 'n Spesiale huisvergadering is vir dieselfde aand belê. Henno Cronje dien gevolglik die volgende mosie in: “Dat die huidige inrigting, bekend as die Sonop Tehuis van die Universiteit van Pretoria, uitgeroep word as 'n volwaardige, onafhanklike republiek waaronder dit tot dusver geressorteer het, en dat die nuwe staat bekend sal staan as die "Sonop Republiek".

Die mosie is met 'n meerderheid stemme aanvaar. Die Sonopvlag en die Vierkleur is toe dadelik gehys op die "Stalle". Die Sonop Republiek se grondwet het slegs uit verskanste klousules bestaan. Slegs persone bo 18 jaar het stemreg gehad terwyl alle besluite slegs met 'n tweederde-meerderheid van stemme bekragtig kon word. Die grondgebied van die republiek het uit die koshuisterrein bestaan. Die sypaadjies is as mandaatgebied verklaar. Die uitbreiding van die grondgebied is gelaat tot 'n latere stadium wanneer die republiek meer gevestig sou wees. Die huisvoorsitter en huiskomitee is vervang deur 'n president en sy kabinet. Die eerste president was André du Toit, huisvoorsitter van die vorige HK-termyn. Die kabinet is bygestaan deur die republiek se polisiemag wat voorheen die “Nagligte” ('n tipe straf van daardie tyd) of tug uitgedeel het. Net mans kon burgers van die republiek word. Alle ander persone moes 'n wettige paspoort toon voor hulle toegelaat sou word binne die Republiek.

Daar is besluit dat die Republiek binne die Statebond sal bly en dat daar gepoog sal word om betrekkinge aan te knoop met lande soos die Unie van Suid-Afrika. Die destydse Minister van Binnelandse Sake, mnr. Eric Louw wat op vertrek na die Verenigde Volkeorganisasie (VVO) gestaan het, is versoek om hierdie liggaam in kennis te stel van Sonop Republiek se ontrekking uit die VVO. Die Eerste Minister is in kennis gestel van die verwikkelinge in hierdie deel van die Unie. Hy, sowel as prof. H.C. Rautenbach, rektor van die Universiteit, prof. Ben Marais, mnr. Sidney Martin, voorsitter van die koshuisraad, en ds. Kobus Potgieter, studenteleraar, word as vryburgers benoem. Belasting in die republiek sou sewe sjielings en ses pennies per jaar wees.

Die bestaan van die Republiek was egter kortstondig van aard – slegs 22 dae! Een van die Republiek se klousules het tot die beëindiging daarvan aanleiding gegee. Hierdie klousule het bepaal dat daar op alle vreemde voertuie binne die Republiek se grense beslag gelê moes word. Op 22 Junie 1955 word 'n Unieburger se voertuig dan op 'n heeltemal wettige wyse gekonfiskeer. Hy gaan bekla sy lot gevolglik by die Suid-Afrikaanse Polisie. 'n Hooggeplaaste polisie-amptenaar is gelas om ondersoek in te stel. Op eie houtjie het hy toe die Republiek geannekseer. Sonop moes kies tussen bloedvergieting of oorgee. Daar is besluit op laasgenoemde aangesien te veel burgers verhoudinge gehad het met dames buite die republiek en aangesien Sonop nie oor 'n baie doeltreffende weermag beskik het nie.

Drommedaris na Rhodesië