Sauropoda, of die souropodes ("met akkedisvoete"), was ’n infraorde van Saurischia-dinosourusse. Hulle het baie lang nekke en sterte, klein koppe (in vergelyking met die res van hul lyf) en dik, bonkige bene gehad. Hulle is merkwaardig vanweë die enorme grootte van sommige spesies – die groep sluit die grootste diere in wat op aarde geloop het. Bekende genera sluit in Brachiosaurus, Diplodocus en Apatosaurus (wat volgens die huidige klassifikasie ’n vroeëre sinoniem vir Brontosaurus) is. Souropodes het in die Laat Trias-periode vir die eerste keer hul verskyning gemaak. Teen die Laat Jura (150 miljoen jaar gelede) het souropodes wydverspreid voorgekom en teen die Laat Kryt is hulle hoofsaaklik vervang deur titanosourusse, wat feitlik wêreldwyd voorgekom het. Laasgenoemde het saam met alle ander nie-vlieënde dinosourusse uitgesterf tydens die Kryt-Paleogeen-uitwissing. Fossiele oorblyfsels van souropodes is op al die kontinente ontdek, insluitende Antarktika.
Die naam is in 1878 deur die Amerikaanse paleontoloog O.C. Marsh gevestig en is afgelei van die Grieks vir "akkedisvoet". Souropodes is een van die mees herkenbare groepe dinosourusse en word algemeen voorgestel in verskeie kunsvorms vanweë hul grootte.
Volledige souropode-fossiele is skaars. Baie spesies, veral die grootstes, is net bekend uit geïsoleerde stukke bene. Baie feitlik volledige fossiele kom koppe, sterte of ledemate kort.
Beskrywing Souropodes was plantvretende, vierpotige diere met meestal lang nekke, dikwels met roerspaanvormige tande (breed by die basis en smaller bo). Hulle het klein koppe en massiewe lywe gehad, en die meeste se sterte was lank. Hul agterbene was dik, reguit en kragtig. Hulle het vyf tone gehad, waarvan die binneste drie (of soms vier) kloue gehad het. Hul voorste ledemate was dunner en het in pilaaragtige pote geëindig wat hul gewig kon steun; net die duim het ’n klou gehad.
Grootte
Die souropodes se mees bekende eienskap was hul grootte. Selfs die dwerg-souropodes soos Europasaurus (moontlik 5 tot 6 meter lank) was van die grootste diere in hul onderskeie ekosisteme. Hul enigste mededingers wat grootte betref, was vinwalvisse soos die blouwalvis. Maar anders as walvisse het hulle hoofsaaklik op land voorgekom.
Hul liggaamstruktuur het nie so baie gewissel soos dié van ander dinosourusse nie, moontlik vanweë groottebeperkings, maar daar was tog variasies. Sommige, soos die Diplodocidae, het uiters lang sterte gehad, wat hulle moontlik soos ’n sweep kon klap om hul aanvallers af te skrik of te beseer.Bakker, Robert (1994). "The Bite of the Bronto" Earth 3:(6):26–33. Supersaurus, wat 33 tot 34 m lank was, was die langste souropode waarvan ’n feitlik volledige skelet ontdek is, maar die ou rekordhouer, Diplodocus, was ook baie lank. Die holotipe-ruggraat van Amphicoelias fragillimus, wat nou weg is, kon dié gewees het van ’n dier van 58 m lank;Carpenter, K. (2006). "Biggest of the big: a critical re-evaluation of the mega-sauropod Amphicoelias fragillimus." In Foster, J.R. and Lucas, S.G., eds., 2006, Paleontology and Geology of the Upper Jurassic Morrison Formation. New Mexico Museum of Natural History and Science Bulletin 36: 131–138. sy werwelkolom sou veel langer gewees het as dié van die blouwalvis. Die langste moderne dier op land, die luislang Python reticulatus, word net sowat 8,7 m lank.Murphy JC, Henderson RW. 1997. Tales of Giant Snakes: A Historical Natural History of Anacondas and Pythons. Krieger Pub. Co. 221 pp. .
Ander, soos die Brachiosauridae, was uiters hoog, met hoë skouers en uiters lang nekke. Sauroposeidon was moontlik die hoogste – tot sowat 18 m. In vergelyking daarmee word die kameelperd, die hoogste van alle lewende diere, net 4,8 tot 5,5 m hoog.
Sommige souropodes was ongelooflik swaar – Argentinosaurus was moontlik die swaartse: 80 tot 100 ton. Paralititan, Antarctosaurus en Argyrosaurus was amper net so swaar. Daar is skamele getuienis van ’n moontlik swaarder titanosouriër, Bruhathkayosaurus, wat tussen 175 en 220 ton kon geweeg het. Die grootste lewende landdier, die savanne-olifant, weeg nie meer as 10 ton nie.
Onder die kleinste souropodes tel die primitiewe Ohmdenosaurus (4 m lank), die dwerg-titanosourus Magyarosaurus (5,3 m) en die dwerg-brachiosouride Europasaurus, wat as ’n volgroeide dier 6,2 m lank was. Ook noemenswaardig is die Brachytrachelopan, wat die kortste lid van die groep was vanweë sy besonder kort nek. Anders as ander souropodes, waarvan die nek tot vier keer so lank as die rug was, was die Brachytrachelopan se nek korter as sy rug.
Ledemate As enorme, swaar viervoetiges het souropodes gespesialiseerde ledemate ontwikkel wat hul gewig sou kon dra. Die agterbene was breed en die meeste spesies het drie kloue agter gehad.Bonnan, M.F. 2005. Pes anatomy in sauropod dinosaurs: implications for functional morphology, evolution, and phylogeny; pp. 346-380 in K. Carpenter and V. Tidwell (reds.), Thunder-Lizards: The Sauropodomorph Dinosaurs. Bloomington, IN: Indiana University Press. Wat veral van ander diere verskil het, was die hoogs aangepaste voorpote (manus). Dit het glad nie gelyk soos dié van moderne vierpotiges, soos die olifant, nie. In plaas van uitsprei na die kante, was souropodes se manus-bene gerangskik in ten volle vertikale kolomme, met uiters kort vingerbene.
Die rangskikking van die voorpootkolomme was halfsirkelvormig en daarom het souropodes se voetafdrukke soos hoefysters gelyk. Hulle het waarskynlik nie vlesige kussings gehad soos die olifant nie en die voorpote was dus konkaaf. Die enigste klou wat sigbaar was, was die besonderse duimklou. Feitlik alle souropodes het hulle gehad, hoewel die doel daarvan onbekend is.
Latere titanosourusse het nie die duimklou gehad nie; dié diere was ongewoon vir souropodes aangesien hulle ook geen tone aan die voorpote gehad het nie. Hulle het op "stompies" geloop.Apesteguía, S. (2005). "Evolution of the titanosaur metacarpus". Pp. 321-345 in Tidwell, V. and Carpenter, K. (eds.) Thunder-Lizards: The Sauropodomorph Dinosaurs. Indianapolis: Indiana University Press.
Lugsakke Nes ander Saurischia-dinosourusse (soos voëls en ander teropodes), het souropodes ’n stelsel lugsakke gehad – dit is duidelik uit holtes in die meeste van hul werwels.Wedel, M.J. (2009). "Evidence for bird-like air sacs in Saurischian dinosaurs ". (pdf) Journal of Experimental Zoology, 311A: 18pp.
Die voëlagtige holtes in souropodes se bene is vroeg reeds ontdek; minstens een souropode-fossiel wat in die 19de eeu ontdek is, Ornithopsis, is as gevolg daarvan aanvanklik verkeerd geklassifiseer as ’n pterosourus (’n vlieënde reptiel).Taylor, M.P. (In press). "Sauropod dinosaur research: a historical review". In Richard Moody, Eric Buffetaut, David M. Martill and Darren Naish (eds.), Dinosaurs (and other extinct saurians): a historical perspective. HTML abstract.
Pantsers duimnael|300px|’n Voorstelling van ’n Ampelosaurus. Sommige souropodes het pantsers gehad. Daar was genera met klein knotse aan hul sterte, soos Shunosaurus, en verskeie titanosourusse soos Saltasaurus en Ampelosaurus het klein, skubberige osteoderms gehad wat dele van hul lywe bedek het.
Tande In ’n studie deur Michael D’Emic en sy kollegas van Stony Brook-universiteit is bevind souropodes het dikwels tande gewissel vanweë hul groot aptyt. Volgens die studie is elke tand van Nigersaurus byvoorbeeld elke 14 dae vervang, dié van Diplodocus elke 35 dae en dié van Camarasaurus elke 62 dae. Die wetenskaplikes het bevind sekere eienskappe van die tande bepaal hoe lank hulle vat om terug te groei; Camarasaurus se tande het langer gevat as dié van Diplodocus omdat hulle groter was.
D'Emic en sy span het ook bevind die verskille in tande dui op verskillende diëte. Diplodocus het plante naby die grond gevreet, terwyl Camarasaurus blare van die boonste en middelste boomtakke gevreet het. Volgens die wetenskaplikes het die gespesialiseerde diëte die verskillende plantvretende dinosourusse in staat gestel om saam te bestaan.
Paleobiologie Ekologie Toe souropodes vir die eerste keer ontdek is, het wetenskaplikes hulle met moderne walvisse vergelyk vanweë hul enorme grootte. In die meeste studies van die 19de en vroeë 20ste eeu is bevind souropodes was te swaar om hul eie gewig op land te kon dra en daarom moes hulle waterdiere gewees het. Die meeste kunsvoorstellings van die diere regdeur die eerste driekwart van die 20ste eeu is van waar die diere heeltemal of gedeeltelik met water bedek is.Henderson, D.M. (2004). "Tipsy punters: sauropod dinosaur pneumaticity, buoyancy and aquatic habits." Proceedings of the Royal Society of London B, 71: S180–S183. Aan die begin van die 1950's het wetenskaplikes begin twyfel aan dié teorie toe ’n studie deur Kermack (1951) gewys het die druk van die water sou die longe en lugweg inmekaargedruk het as die dier ’n paar meter diep in die water was. In dié studie is bewyse dat souropodes talle lugsakke gehad het, egter geïgnoreer.
In die vroeë 1970's is die uitwerking van souropodes se lugsakke op hul veronderstelde seelewe begin ondersoek. Paleontoloë soos Coombs en Bakker het dit gebruik om te bewys souropodes was hoofsaaklik landdiere. In 2004 het D.M. Henderson daarop gewys dat souropodes vanweë hul lugsakke nie heeltemal in die water sou kon afsak nie en dat hulle dus bo-op sou dryf; daarom sou die water nie hul longe inmekaardruk nie.
Vanweë hul liggaamsproporsies sou drywende souropodes egter baie onstabiel gewees het en hulle was nie aangepas om vir lang tye in die water te bly nie. Al word daar nie meer geglo souropodes was waterdiere nie, is daar getuienis dat hulle wel nat omgewings en kushabitats verkies het. Voetspore is dikwels aan kuslyne of oor vloedvlaktes gevind, en souropode-fossiele word dikwels ontdek in nat omgewings of saam met fossiele van see-organismes.
Tropvorming en ouerskap duimnael|Sommige souropodes soos Alamosaurus sanjuanensis het troppe gevorm wat volgens ouderdomme geskei was. Daar is baie getuienis dat souropodes kuddediere was wat troppe gevorm het. Die soort troppe het egter van spesie tot spesie verskil. Op sommige terreine, soos in Argentinië, is bewyse uit die Middel-Jura gevind dat individue van verskillende ouderdomsgroepe – volgroeide en jong diere – saam troppe gevorm het. Op ander terreine is voorbeelde gevind van souropodes wat in troppe gereis het wat volgens ouderdom geskei was, met jong en volgroeide diere in apart groepe. Sulke geskeide troppe is gevind met betrekking tot spesies soos Alamosaurus, Bellusaurus en sommige lede van die familie Diplodocidae.
Myers en Fiorillo het in ’n studie bevind volgroeide en jong souropodes se tande verskil en dit dui op verskillende diëte, en daarom sou dit doeltreffender gewees het om in aparte groepe te reis. Die enorme verskille in grootte sou ook ’n rol kon gespeel het.
Aangesien die skeiding moes plaasgevind het kort nadat die kleintjies uitgebroei het, tesame met bewyse dat souropodes vroegselfstandig was, het Myers en Fiorillo tot die gevolgtrekking gekom dat spesies met geskeide troppe nie veel tekens van ouersorg getoon het nie. Wetenskaplikes wat gemengde groepe bestudeer het, het weer tot die gevolgtrekking gekom dat sulke spesies vir ’n lang tyd na hul kleintjies omgesien het.
Dit is onbekend in hoe ’n mate die voorkoms van gemengde en geskeide troppe van groep tot groep gewissel het. Nog voorbeelde van kuddevorming moet ontdek word om patrone te kan onderskei.
Regop houding duimnael|links|160px|’n Diplodocus wat op sy agterpote staan. Wetenskaplikes soos Henry Fairfield Osborn het vroeg reeds vermoed souropodes kon op hul agterpote staan en hul stert gebruik as die derde "poot" van ’n driepoot. In ’n 2005-verslag het Rothschild en Molnar geredeneer as souropodes soms op hul agterpote kon staan, sou daar bewyse moes wees van stresfrakture in die voorpote. Geen sulke bewyse is egter gevind nie nadat hulle ’n groot verskeidenheid souropode-skelette ondersoek het.