Hierdie artikel handel oor die Engelse nasionale manskrieketspan. Vir die artikel oor die nasionale vrouekrieketspan, sien Engelse nasionale vrouekrieketspan.
Die Engelse nasionale krieketspan (Engels: England cricket team) is die nasionale krieketspan wat Engeland en Wallis in toets- en kitskrieket verteenwoordig. Sedert 1 Januarie 1997 word dit beheer deur die Engelse en Walliese Krieketraad (ECB, van Engels: England and Wales Cricket Board) en is ’n volle lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) met toets-, EDI- en T20I-status; voorheen (1903–1996) is dit deur die Marylebone-krieketklub (MCC, kort vir Marylebone Cricket Club) bestuur. Tot in die vroeë 1990’s het die span ook beide Ierland en Skotland in internasionale krieket verteenwoordig, maar albei lande word sedert hul wegbreek deur hul eie nasionale krieketspanne – Ierland en Skotland – verteenwoordig. Voorheen was die Engelse nasionale krieketspan as ’t ware ’n span wat die hele Verenigde Koninkryk en die Republiek Ierland verteenwoordig het.
Engeland en Australië was die eerste spanne om in ’n toets te speel, op 15–19 Maart 1877. Dié twee lande het saam met Suid-Afrika die Imperiale Krieketkonferensie (die voorganger van die Internasionale Krieketraad) op 15 Junie 1909 gestig. Engeland en Australië het ook op 5 Januarie 1971 die wêreld se eerste Internasionale eendagwedstryd (EDI) gespeel. Engeland het hul eerste internasionale Twintig20-wedstryd op 13 Junie 2005 teen Australië gespeel. Hulle het die IKR se T20I-wêreldbeker in 2010 en 2022 gewen en in 2016 as naaswenner geëindig. Hulle het ook twee keer as naaswenner van die IKR se Kampioenetrofee geëindig (in 2004 en 2013). Engeland het 225 T20Is gespeel, waarvan hulle 121 gewen het.
Engeland het 1 094 toetswedstryde gespeel, 404 gewen en 334 verloor (met 356 onbesliste toetswedstryde). In hul toetswedstryde teen Australië ding Engeland mee om die As, een van die vernaamste trofeë in internasionale sport, en hulle het die urn tot dusver 32 keer ingepalm. Engeland het 823 EDI-wedstryde gespeel, waarvan hulle 409 gewen het. Hulle het ook vier keer in die eindstryd van krieketwêreldbekertoernooie verskyn, waarvan hulle die 2019-eindstryd naelskraap teen Nieu-Seeland volgens aangetekende grenshoue tuis gewen het, nadat beide die wedstryd en die daaropvolgende Superboulbeurt in ’n gelykop geëindig het. Engeland het ná Australië in 2015 en Indië in 2011 die derde – agtereenvolgende – gasheer geword wat die krieketwêreldbekertoernooi tuis gewen het. Daarbenewens is dit ná sokker in 1966 en rugby in 2003 die derde wêreldbekertrofee in een van Engeland se gewildste sportsoorte wat die onderskeidelike nasionale span ingepalm het.
Engeland is tans (Maart 2026) derde op die IKR-toetsranglys, agtste op die eendagranglys en tweede op die Twintig20-wêreldranglys. 29 voormalige Engelse spelers is in die Internasionale Krieketraad se Heldesaal opgeneem.
Beheerliggaam
duimnael|links|Die Engelse nasionale krieketspan tydens hul 1950–51-toer na Australië, saamgestel deur die Marylebone-krieketklub Die Engelse en Walliese Krieketraad (EKR; Engels: England and Wales Cricket Board, ECB) is die beheerliggaam van krieket in Engeland en Wallis en toesighouer van die Engelse nasionale krieketspanne. Die EKR bestaan sedert 1 Januarie 1997 en verteenwoordig Engeland en Wallis by die Internasionale Krieketraad (IKR). Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van toets-, EDI- en T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die ECB verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Engelse span. Die ECB se inkomste in die kalenderjaar van 2006 het £77 miljoen beloop.
Voor 1997 was die Toets- en Countykrieketraad (Engels: Test and County Cricket Board, TCCB) die beheerliggaam van Engelse krieket, wat in 1968 dié tak by die MCC oorgeneem het. Die MCC het vanaf 1903 elke Engelse toer gereël. Afgesien van die toetswedstryde het die Engelse span amptelik tot en met die 1976-toer na Australië in die jaar 1976/77 onder die MCC gespeel, wat die tyd weerspieël toe die MCC verantwoordelik was vir die samestelling van die toerspan. Die laaste keer wat die Engelse toerspan die MCC se “spek-en-eierkleure” gedra het, was tydens die 1996/97-toer na Nieu-Seeland.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting. Net soos ander krieketlande beskik Engeland oor ’n o/19-nasionale span wat aan die o/19-krieketwêreldbeker deelneem. England Lions is die tweede nasionale span van Engeland en van hul wedstryde geniet eersterangse of A-lys-status.
Status in Wallis duimnael|links|Ingang van die SWALEC-stadion in Cardiff, tuiste van Walliese krieket Voorheen het die Engelse span die hele Verenigde Koninkryk in internasionale krieket verteenwoordig; sowel die Skotse asook die Walliese nasionale krieketspan het af en toe wedstryde gespeel en spelers van albei lande het by geleentheid vir die Engelse span uitgedraf. Skotland het in 1994 selfs ’n lid van die IKR geword, nadat hulle twee jaar vroeër hul verbintenis met die TCCB beëindig het.
Die feit dat die Engelse en Walliese Krieketraad net die Engelse naam gebruik terwyl hulle ook Walliese spelers inspan het reeds kritiek ontlok soos deur Simon en Geraint Jones. Aangesien Walliese spelers hul loopbane uitsluitlik met ’n Engelse span nastreef is daar reeds gepleit dat Wallis ’n onafhanklike lid van die IKR moet word of dat die EKR meer wedstryde vir ’n Walliese nasionale span moet reël. Beide Krieket Wallis en Glamorgan County Krieketklub ondersteun egter die EKR en Glamorgan verwys na die finansiële voordele van Wallis binne die Engelse infrastruktuur en Krieket Wallis beklemtoon dat hulle “daartoe verbind [is] om steeds ’n belangrike rol binne die ECB te speel”.
Die afwesigheid van ’n Walliese krieketspan het reeds tot verskeie debatte in die Walliese parlement, die Senedd Cymru, gelei. In 2013 het tydens ’n debat beide die Konserwatiewe Party en die Arbeidersparty hul ondersteuning vir die stigting van ’n onafhanklike Walliese nasionale krieketspan gelug.
’n Verslag wat in 2015 deur die Walliese parlement se petisiekomitee uitgereik is, het die passievolle debat rondom hierdie saak weerspieël. Bethan Jenkins, Plaid Cymru se woordvoerder oor erfenis, kultuur, sport en uitsaaiwese, en lid van die petisiekomitee, het daarvoor gepleit dat Wallis sy eie nasionale span moet hê en uit die EKR moet onttrek. Jenkins het daarna verwys dat Ierland (met ’n bevolking van 6,4 miljoen) met 6 000 klubspelers ’n IKR-lid is, terwyl Wallis (met ’n bevolking van 3 miljoen) 7 500 klubspelers het. Jenkins het aangevoer: “Krieket Wallis en Glamorgan CCC het gesê dat die idee van ’n Walliese nasionale krieketspan ‘’n emosionele onderwerp’ is, natuurlik is dit emosioneel om ’n nasionale span te hê, mens moet tydens ’n nasionale wedstryd net na die pawiljoene kyk om dít te sien. Om dit as iets anders as natuurlik voor te stel is ’n misleidende argument.”
In 2017 het die eerste minister van Wallis, Carwyn Jones vir die herinstelling van die Walliese EDI-span gepleit en aangevoer: “[Dit] is vreemd dat ons sien Ierland en Skotland speel internasionale toernooie, maar nie Wallis nie.”
Verkiesbaarheid van spelers duimnael|Feesvieringe op Trafalgarplein ná Engeland se oorwinning tydens die As-reeks 2005 Die Engelse nasionale krieketspan verteenwoordig die lande Engeland en Wallis. Volgens die IKR se regulasies, mag spelers egter deur hul nasionaliteit, geboorteplek of blyplek vir ’n nasionale span kwalifiseer, vervolgens mag sommige spelers vir meer as een span verskyn (net soos in ander nasionale spanne ook). Volgens die EKR-regulasies moet ’n speler om vir Engeland te kan speel, ’n Britse burger wees en óf in Engeland óf in Wallis gebore wees, of minstens drie jaar in Engeland of Wallis woon. Dit het reeds daartoe gelei dat spelers wat vir ander nasionale spanne verskyn het, ook vir Engeland kon speel. Die kwalifiserende tydperk vir spelers wat buite Engeland en Wallis gebore is het in die verlede verander, maar dit is in November 2018 deur die ECB tot drie jaar in alle omstandighede verander en stem nou met die IKR se regulasies ooreen.
Van die huidige span is Jason Roy aan Britse ouers in Suid-Afrika gebore en Keaton Jennings is aan ’n Britse moeder in Suid-Afrika gebore – albei moes aan die vereistes vir verblyfreg voldoen. Daarbenewens is Chris Jordan, Ben Stokes en Tom Curran Britse burgers en bly sedert hul jeug in Engeland, terwyl Eoin Morgan ook ’n Ierse burger is. Curran se jonger broer, Sam, is in die VK gebore, en hoef vervolgens nie ’n kwalifiserende tydperk ondergaan het nie. Jofra Archer, alhoewel hy in Barbados aan ’n Barbadiese moeder gebore is, kwalifiseer deur sy Engelse vader.
Die IKR-regulasies laat ook krieketspelers wat geassosieerde (d.w.s. nietoetsspelende) lande verteenwoordig het, na ’n land oorskakel wat toetskrieket speel, sodra hy aan die nasionaliteitsvereistes voldoen. Dit het veral vir ’n uitvloei uit die Ierse span gelei, toe hulle nog nie toetsstatus geniet het nie. In onlangse jare het ’n aantal Ierse spelers na Engeland verskuif, terwyl Gavin Hamilton voorheen vir Skotland gespeel het – alhoewel Joyce, Rankin en Hamilton later weer kon herkwalifiseer en hul geboortelande verteenwoordig het.
Spelerkeuring Net soos ander toetslande word die Engelse span vandag deur ’n keurkomitee saamgestel. Dit bestaan meestal uit ’n deur die ECB benoemde voorsittende, die hoofafrigter van die span en ’n verdere, deur die voorsittende benoemde persoon. Die keurders benoem elke jaar die spelers, wat ’n sentrale kontrak ontvang, óf vir alle spanne óf vir een krieketvorm. Die benoemde spelers ontvang hul salaris van die Engelse beheerliggaam, maar hulle mag, as hulle nie internasionale krieket speel nie, vir hul countyklub speel. Die keurders stel vir elke toer ’n span saam en die kaptein geniet die uiteindelike reg om te bepaal watter speler in watter wedstryd gebruik word.
Geskiedenis Oorsprong In Engeland word reeds sedert eeue sportsoorte beoefen, waar deelnemers ’n bal met ’n stok slaan. Veral Tip-cat, waarby ’n speler ’n bal met ’n stok slaan en ander deelnemers die bal probeer vang, word as ’n voorloper van krieket beskou. Dit dateer uit die 17de eeu en was veral gedurende die 19de eeu in die Verenigde Koninkryk gewild.
Beginjare duimnael|Die “All-Engeland Elf” in 1846 Die eerste bekende verskyning van ’n span wat “Engeland” verteenwoordig het, was op 9 Julie 1739, toe ’n “All-Engeland”-span, wat uit elf here uit die hele Engeland teen die “onoorwinlike county” Kent gespeel het en met ’n telling van “baie min kerwe” verloor het. Sulke wedstryde is by verskeie geleenthede gedurende die volgende dekades herhaal, totdat in 1846 William Clarke die “All-Engeland Elf” saamgestel het. Dié span het later teen ’n onder andere deur John Wisden in 1852 saamgestelde “Verenigde All-Engeland Elf” van 1857 tot 1866 in jaarlikse wedstryde meegeding. Hierdie wedstryde was glo die belangrikste kompetisie in die Engelse seisoen, ook wat die vaardighede van die spelers betref.
Vroeë toere duimnael|Die Engelse krieketspan van 1859 op pad na Noord-Amerika, die eerste Engelse kriekettoer ooit Die eerste oorsese toer van die Engelse span was in September 1859 na Noord-Amerika en is deur William Pickering, ’n voormalige speler van die Universiteit van Cambridge wat homself in Kanada gevestig het, befonds. Dit het uit ses spelers elk van die “All-Elf” en die “Verenigde All-Engeland Elf” bestaan, die kaptein was George Parr.