Hierdie bladsy verwys na die Aarde se Maan. Vir ander mane in die Sonnestelsel, sien natuurlike satelliet.
Die Maan is die enigste natuurlike satelliet van die Aarde. Sy deursnee is ’n kwart van die Aarde s’n (vergelykbaar met die deursnee van Australië) en dit is dus die grootste natuurlike satelliet in die Sonnestelsel in vergelyking met die grootte van sy planeet. Die Maan is die vyfde grootste natuurlike satelliet in die Sonnestelsel, ná Ganumedes, Kallisto en Io (Jupiter) en Titaan (Saturnus). Dit het geen ander amptelike naam as "die Maan" nie, alhoewel dit soms Luna (Latyn vir "maan") genoem word om dit te onderskei van die algemene term "maan". Luna (soms ook Diana) is die Romeinse godin van die maan, diere en jag. Haar tradisionele simbool is die groeiende of halfmaan.
duimnael|links|180px|’n Vergelyking van die Maan en die Aarde se grootte. Die Maan het nie ’n beduidende atmosfeer, hidrosfeer of magneetveld nie en die swaartekrag op sy oppervlak is omtrent ’n sesde van dié op Aarde (0,1654 g). Die gebrek aan ’n atmosfeer verseker ook dat die Maan se oppervlak in sy oorspronklike toestand bewaar bly. Waterys is in die permanente skadu's van kraters naby die suidpool aanwesig.
Die Maan se gemiddelde afstand van die Aarde af is 384 400 km, wat sowat 30 keer die Aarde se deursnee is. Die verste afstand wat dit bereik, is sowat 407 000 km en een van die kortste afstande – soos bereik in 2005 en 2007 – is 357 290 km. Die kortste afstand wat ooit gemeet is, is 356 000 km.
Weens die kleiner afstand lyk die skyf van die volmaan net so groot soos dié van die groter, maar verder geleë Son (sy afstand van die Aarde is 150 miljoen km). Hierdie toevallige ooreenkoms het tot die gesamentlike verering van die Maan en Son in baie kulture gelei; dit beteken egter ook dat die Maan vir ’n aardse waarnemer die sonskyf tydens ’n algehele sonsverduistering heeltemal kan bedek.
Die Maan se wentelbaan om die Aarde het ’n sideriese tydperk van 27,3 dae en ’n sinodiese tydperk van 29,5 dae. Die Aarde en Maan is deur hulle wedersydse swaartekrag in ’n sinchroniese rotasie; dit beteken die Maan se rotasie om sy eie as duur net so lank as die sinodiese tydperk en daarom is net die een kant van die Maan altyd na die Aarde gedraai. Tog is 59% van die totale oppervlak van die Maan van die Aarde af sigbaar vanweë wisselings in perspektief (sy librasie).
Aangesien die Aarde se massa sowat 81 keer so groot as dié van die Maan is, lê die twee liggame se massamiddelpunt sowat 1 700 km onder die Aarde se oppervlak. Die swaartekraginvloed van die Maan veroorsaak die Aarde se getye en beïnvloed die lengte van ’n dag op Aarde.
Die kant van die Maan wat na die Aarde gedraai is, word gekenmerk deur donker vulkaniese marias (seë), wat die ruimtes vul tussen die helder antieke hooglande en prominente impakkraters. Die Maan se oppervlak weerkaats redelik min lig; omtrent dieselfde as uitgetrapte teer. Omdat dit direkte sonlig weerkaats, kontrasteer dit egter teen die relatief donker naglug en het dit ’n groot skynbare grootte wanneer dit van die Aarde af gesien word. Dit is dus die helderste voorwerp in die lug naas die Son.
Die eerste mensgemaakte voorwerp wat die Maan bereik het, was die Sowjetunie se onbemande Loena 2 in 1959; dit is gevolg deur die eerste suksesvolle sagte landing deur Loena 9 in 1966. Die eerste suksesvolle bemande ruimtetuig wat op die Maan geland het, was die VSA se Apollo 11; in die Apollo-program het ses bemande landings tussen 1969 en 1972 plaasgevind. Dié en ander, onbemande tuie het maanrotse na die Aarde teruggebring wat in besonderhede bestudeer is om ’n begrip te ontwikkel van die Maan se oorsprong, interne struktuur en daaropvolgende geskiedenis; die algemeens aanvaarde hipotese is dat die Maan sowat 4,51 miljard jaar gelede, kort ná die Aarde, gevorm het uit die puin van ’n reusebotsing tussen ons planeet en ’n hipotetiese voorwerp omtrent so groot soos Mars met die naam Theia.
Ontstaan Wetenskaplikes het tans geen eenparige verklaring vir die oorsprong van die Maan nie. Sommige deskundiges beweer die Maan is uit die vroeë Aarde geskeur, toe dit nog uit gedeeltelik gesmelte gesteentes bestaan het. Die bekken van die Stille Oseaan (Pasifiese bekken) word volgens hierdie teorie as die oorspronggebied van die Maan beskou – hierdie verklaring word gesteun deur die feit dat die samestelling van die Maan min of meer met dié van die aardkors - en mantelgesteentes ooreenstem. Die Pasifiese bekken het egter eerder deur die verskuiwing van die Aarde se landmassas ontstaan.
duimnael|regs|220px|Die animasie wys die ontstaan van die Maan volgens die "botsingshipotese". Volgens 'n tweede teorie word die Maan beskou as 'n klein planeet wat lank gelede deur die Aarde aangetrek en in ’n wentelbaan vasgevang is. Tog sou die Maan se wentelbaan dan eerder ellipties moes wees en nie kringvormig nie. Dit is ook twyfelagtig of 'n groot satelliet soos die Maan werklik deur 'n planeet vasgevang sou kon word.
'n Derde hipotese stel voor die Maan is baie vroeg van die vinnig roterende Aarde geskei deur 'n soort "pirouette-effek".
'n Vierde verklaring is dat die Aarde en die Maan gelyktydig uit 'n oerwolk ontwikkel het en gevolglik as 'n dubbelplaneetstelsel beskou moet word.
'n Vyfde en deesdae die algemeens aanvaarde teorie is die botsingshipotese: dat die Maan uit ’n botsing tussen die jong Aarde en ’n planeet omtrent so groot soos Mars ontstaan het. Daarvolgens het die planeet, wat Theia genoem word, die Aarde skrams getref en stukke lawa van albei vormende planete die lug ingeskiet. Dié stukke het afgekoel en óf een Maan gevorm óf twee liggame wat eindelik versmelt het om die Maan te vorm.
Dit word deesdae as onwaarskynlik beskou dat die Aarde en Maan gelyktydig uit dieselfde gas- en stofwolke gevorm is. Hoewel 'n aantal elemente soos aluminium, kalsium, silikoon, yster, suurstof, titaan en magnesium op albei voorkom, wyk die verhoudings sterk van mekaar af en is daar opvallend min koolstof en yster op die maan. Die lae digtheid van die Maan – slegs 60% van dié van die Aarde – word aan hierdie afwykende samestelling toegeskryf. Die ouderdom van gesteentes wat deur ruimtevaarders Aarde toe gebring is, is volgens radioaktiewe datering bepaal. Die jongste gesteente is basaltiese rots uit die maria, wat sowat 3,1 miljard jare gelede ontstaan het, terwyl die oudste monsters uit die hooglandgebiede sowat 4,6 miljard jare oud is – omtrent so oud soos die Aarde.
Ontleding van gesteentemonsters Gedurende die landing van Apollo 11 is net sowat 21 kg maangesteentes vir wetenskaplike ontleding ingesamel, maar die vyf volgende landings het altesaam 382 kg opgelewer. Tydens die laaste landing, van Apollo 17 in Desember 1972, het die eerste wetenskaplike op die maan, die geoloog Harrison Schmitt, 110 kg maangesteentes versamel.Althaus, Tilmann: 382 Kilo für 25 Milliarden Dollar. In: Berliner Morgenpost, 20 Julie 1999
duimnael|links|220px|Hierdie oranjekleurige glasfragmente van vermoedelik vulkaniese oorsprong is tydens die Apollo 17-missie naby 'n maankrater ontdek. Meer as die helfte van die gesteentemonsters word tans in lugdigte houers op 'n Nasa-terrein in Houston bewaar om deur toekomstige generasies navorsers met nuwe ontledingsmetodes bestudeer te word. Nogtans het die monsters, wat reeds ondersoek is, verrassende resultate opgelewer. Die gesteente se ouderdom – soos hier bo beskryf – maak van die materiaal "bewysstukke" uit die ontstaantydperk van ons Sonnestelsel. Op die Aarde is daar geen soortgelyke ou gesteentemateriaal meer te vinde nie – as gevolg van verwering en die bestendige vorming van nuwe gesteentes het dit lankal verdwyn. Die Maan word dus deur wetenskaplikes as 'n "geologiese museum" beskou.
Die jonger gesteentemonsters is in die Maan se donker gebiede ingesamel – die maria wat selfs van die Aarde af met die blote oog sigbaar is en gedurende die Apollo-sendings as reusagtige impakkraters van asteroïdes en komete geïdentifiseer is. Hierdie kraters is later weer deur vulkaniese basaltlawa uit die Maan se binneste opgevul om die huidige donker maria met hul opvallend gladde oppervlakke te vorm. Die Maan se basaltlawa verskil hoegenaamd nie van soortgelyke aardse gesteentes nie.
Die ouer gesteentemonsters uit die helder gebiede van die Maan dui daarop dat die Maan tydens sy vroeë geskiedenis sowat 4,5 miljard jare gelede deur baie hoë temperature gekenmerk is en vervolgens vinnig afgekoel het. Kort ná sy ontstaan het hy dus reeds oor 'n soliede kors van helder minerale beskik. Hierdie kors is op die lange duur deur 'n groot aantal asteroïde- en komeetbotsings tot die huidige lewelose oppervlak omskep wat met rotse en klippe besaai lê.
Volgens die chemies-mineralogiese ontleding van die gesteentemonsters was daar nooit groot hoeveelhede water en gasse op die Maan nie – sodoende het die Aarde se satelliet ook nooit oor 'n atmosfeer beskik nie. 'n Nuwe, onbekende mineraal – 'n oksied van yster, magnesium en titaan wat ter ere van die eerste mense op die maan, Armstrong, Aldrin en Collins, "armacoliet" gedoop is – is later ook op die Aarde gevind. Die ontleding het aanleiding tot die botsingshipotese gegee.
Interne struktuur Die Maan is ’n gedifferensieerde liggaam. Dit beteken nes by die Aarde kan ’n geochemies afsonderlike kors, mantel en kern onderskei word. Dit is die tweede digste natuurlike satelliet in die Sonnestelsel, naas Io. Dit het egter ’n klein binnekern met ’n radius van tot net 240 km wat solied en ysterryk is, en ’n vloeibare buitekern wat hoofsaaklik uit vloeibare yster bestaan met ’n radius van rofweg 300 km. Om die kern is ’n gedeeltelik gesmelte grenslaag met ’n radius van omtrent 500 km.
Hierdie struktuur het vermoedelik ontwikkel deur die kristalopbreking van ’n globale oseaan van magma kort ná die Maan se vorming 4,5 miljard jaar gelede. Nadat sowat driekwart van die magma-oseaan gekristalliseer het, het minerale met ’n laer digtheid gevorm en na bo gedryf om ’n kors te vorm. Dié kors bevat meer yster as die Aarde s’n en is sowat 50 km dik.
Samestelling van kors Ten opsigte van sy samestelling lyk die Maan se kors baie soos dié van aardse basalt. Dit bestaan uit aluminiumsilikate en kalsium-, yster-, magnesium- en ander metaaloksiede asook niemetale en gasse.
Samestelling van die Maan se kors Suurstof 43 % Titaan 2 % Swawel 0,1 % Silikon 21 % Nikkel 0,6 % Fosfor 0,05 % Aluminium 10 % Natrium 0,3 % Koolstof 0,01 % Kalsium 9 % Chroom 0,2 % Stikstof 0,01 % Yster 9 % Kalium 0,1 % Waterstof 0,005 % Magnesium 5 % Mangaan 0,1 % Helium 0,002 %
Fisiese eienskappe Oppervlak Anders as die Aarde het die Maan feitlik geen magneetveld of atmosfeer wat as ’n soort beskerming teen kosmiese deeltjies en sonstraling kan dien nie; sy geskroeide oppervlak is gevolglik met kraters besaai. Die oppervlak is hoofsaaklik bedek met fyn korreltjies glasagtige, verharde basalt, obsidiaan en ander gesteentes.
Topografie Die Maan se sigbaarste topografiese eienskap is die reusagtige Suidpool-Aitkenbekken aan die agterkant wat sowat 2 240 km breed is; dit is die grootste krater op die Maan en die tweede grootste bevestigde impakkrater in die Sonnestelsel. Teen 13 km diep is sy bodem die laagste punt op die oppervlak.
Die hoogste punte op die oppervlak is reg noordoos daarvan, en daar is al voorgestel dit is verdik deur die skuins vormingsimpak wat die Suidpool-Aitkenbekken veroorsaak het. Ander groot impakkraters soos die maria Imbrium, Serenitatis, Crisium, Smythii en Orientale is ook baie diep en het hoë rande. Die oppervlak aan die Maan se agterkant is gemiddeld sowat 1,9 km hoër as dié aan die voorkant.
thumb|Geologiese verskynsels op die Maan (voorkant met die noordpool links; agterkant met die suidpool regs. thumb|Topografie van die Maan. thumb|STL-3D-model van die Maan met ’n oordrywing van 10× van die hoogtes.