duimnael|regs|Oorspronklike illustrasie deur Alphonse de Neuville en/of Léon Benett van die Franse uitgawe van Jules Verne se roman "Om die wêreld in 80 dae".
Fiksie is die vorm van ’n werk wat, gedeeltelik of algeheel, handel oor inligting of gebeure wat nie werklik is nie, en eerder denkbeeldig en teoreties is – dus, wat deur die skrywer versin is. Hoewel fiksie ’n vername vertakking van literêre werke omskryf, kan dit ook na teatrale, kinematiese of musikale werke verwys. Fiksie staan teenoor nie-fiksie, wat te doen het met eksklusiewe feitlike (of ten minste veronderstelde feitlike) gebeure, beskrywings, waarnemings ens. (bv. biografieë, geskiedenisse).
Definisie en teorie Die fiktiewe aard van ’n werk word gewoonlik openlik te kenne gegee, sodat die gehoor verwag dat ’n fiksiewerk in ’n mindere of meerdere mate van die werklike wêreld sal afwyk eerder as om bloot feitelik korrekte weergawes of karakters wat werklike mense is, aan te bied. Omdat daar algemeen aanvaar word dat fiksie nie by die werklike wêreld hou nie, is die temas en die konteks van ’n fiksiewerk – of en hoe dit met werklike vraagstukke of gebeure verband hou – oop vir interpretasie.
Aangesien fiksie die langste in die letterkunde gevestig is, word die breë studie van die aard, funksie en betekenis van fiksie literatuurteorie genoem, en die nouer uitleg van bepaalde fiksietekste literatuurkritiek – met langgevestigde onderafdelings soos film- en teaterkritiek. Buiten sy verbande met die werklike wêreld kan ’n fiksiewerk ook karakters en gebeure binne hul eie konteks uitbeeld, heeltemal apart van die bekende fisiese heelal: ’n selfstandige fiktiewe heelal. Die skeppende kuns om so ’n verbeelde wêreld op te bou, staan as wêreldbou bekend.
Die literatuurkritikus James Wood voer aan dat fiksie sowel kunsgreep as skynwaarheid (artifice and verisimilitude) is: dit verg dus sowel skeppende vindingrykheid as ’n aanvaarbare mate van geloofwaardigheid vir sy gehoor. Hierdie gedagte word dikwels saamgevat in die digter Samuel Taylor Coleridge se begrip van die gehoor se gewillige opskorting van ongeloof. Geleerdes ondersoek al eeue lank die uitwerking van die ervaring van fiksie en die wyse waarop die gehoor verander word deur die nuwe inligting wat hulle deur fiksie ontdek.
Kenmerke Fiksie word dikwels volgens die mate waarin dit by die werklikheid hou, in twee sambreelgenres verdeel. Spekulatiewe fiksie hou in ’n mindere mate by geloofwaardige mense, gebeure of plekke, en realistiese fiksie in ’n groter mate.
Realistiese fiksie Realistiese fiksie, hoewel dit nie waar is nie, kan moontlik gebeur. Sekere gebeure, die mense en plekke kan selfs bestaan. Dit is moontlik dat versinde gebeure in die toekoms werklik kan afspeel. Jules Verne se roman Van die Aarde na die Maan is byvoorbeeld as moontlik bewys met Neil Armstrong se maanlanding. Nog ’n sub-genre wat hierby gevoeg kan word, is misdaadfiksie soos: Sherlock Holmes deur Arthur Conan Doyle, Hercule Poirot deur Agatha Christieen so voorts. Al hierdie werke beeld ’n fiktiewe maar aanneemlike storie uit. Een sub-genre van realistiese fiksie is die historiese roman, wat om ware groot gebeure en tydperke in die verlede sentreer. Die poging om verhale getrou aan die werklikheid te laat voel en besonderhede meer objektief te beskryf – en die 19de-eeuse kunsbeweging wat hierdie benadering kragtig begin bevorder het – staan as literêre realisme bekend, ’n stroming wat sowel fiksie- as nie-fiksiewerke insluit.
Nie-realistiese fiksie duimnael|regs|'n Illustrasie uit Lewis Carroll se Alice se avonture in Wonderland, wat die fiktiewe protagonis, Alice uitbeeld besig om fantasie-kroukie te speel. Nie-realistiese fiksie is fiksie waarvan die gebeure in die storie nie in die werklikheid kan voorkom nie, soos ’n alternatiewe geskiedenis van die mensdom wat nie opgeteken is nie of onmoontlike tegnologie wat benodig word. ’n Groot aantal sulke tipe fiksieboeke is in omloop, insluitend werke deur Lewis Carroll (Alice se avonture in Wonderland), J.K. Rowling (Harry Potter ), en J. R. R. Tolkien (Die heerser van die ringe).
Selfs fantasie-literatuur is egter tweedimensioneel: dit lê iewers tussen die realisme en wonderlike of mitiese pole. Geografiese detail, karakterbeskrywings ens. skets ’n realistiese retoriek, dit "invites the reader to ignore the text's artifice, to suspend one's disbelief, exercise poetic faith and thereby indulge in the narrative's imaginative world". Die tweedimensionaliteit kom in die storie te voorskyn as verrassend of skrikwekkend. Volgens G. W. Young en G. Wolfe word fiktiewe realiteite buite die teks opgeroep, en word die leser se vorige opvattings ontbloot as onvolledig. Dus "by fiction is one able to gain even fuller constructs of what constitutes reality". Aan die ander kant belig die oneindige fiktiewe moontlikhede die onmoontlikheid daarvan om die werklikheid volledig te ken. Daar is geen kriteria waarmee die samestellings van die werklikheid gemeet kan word nie – as laaste toevlug is dit "entirely fictional".
Semi-fiksie Semi-fiksie is fiksie wat aan ’n groot aantal nie-fiksie uitvoering gee, byvoorbeeld: ’n fiktiewe weergawe "gebaseer op ’n ware verhaal", of ’n fiktiewe rekenskap of opnuut saamgestelde biografie. Daar sal gereeld, selfs al beweer die skrywer dat dit waar is, betekenisvolle byvoegings en weglatings tot ’n storie gemaak word vir ’n meer paslike storievertelling. Helfte fiksie en helfte nie-fiksie.
Fiksie teenoor nie-fiksie In teenstelling met fiksie aanvaar die skeppers van nie-fiksie verantwoordelikheid daarvoor om inligting, en soms opinie, aan te bied wat slegs op historiese en feitelike werklikheid gegrond is. Ondanks die tradisionele siening dat fiksie en nie-fiksie mekaar se teenoorgesteldes is, vervaag party werke – veral in die moderne tyd – hierdie grens. Dit geld veral werke in eksperimentele verhaalgenres, waaronder party postmoderne fiksie, outofiksie en kreatiewe nie-fiksie soos nie-fiksieromans en dokudramas, maar ook die doelbewuste literêre bedrog waarin fiksie valslik as nie-fiksie bemark word.
Die onderskeid tussen nie-fiksie en fiksie word waarskynlik die beste vanuit die gehoor se oogpunt gedefinieer: ’n werk is nie-fiksie indien sy mense, milieu en plot geheel en al as histories of feitelik werklik ervaar word, en dit is fiksie indien dit in enige van daardie opsigte van die werklikheid afwyk.
Selfs die meeste fiksiewerke bevat elemente van waarheid, of is op een of ander soort waarheid gegrond, of op waarheid uit ’n bepaalde oogpunt. Alle soorte fiksie nooi hul gehoor uit om werklike idees, vraagstukke of insigte – die temas – te verken deur middel van ’n verbeelde milieu, ’n verbeelde reeks gebeure of iets anders wat aan die werklikheid grens sonder om daarmee saam te val. Soos die filosoof Stacie Friend dit stel, lees ons fiksiewerke net soos nie-fiksiewerke asof hulle oor die werklike wêreld handel, selfs al nooi hulle ons uit om die wêreld anders voor te stel as wat dit werklik is. Navorsing deur Joshua Goodstein en Deena Skolnick Weisberg het bevind dat lesers deurgaans aanvaar dat sekere feite uit die werklike wêreld ook in ’n fiksiewêreld geld – al is hulle nooit uitdruklik daarvan vertel nie – maar dat hulle sensitief is vir die soort feit en vir hoe realisties die verhaal is.
Geskiedenis Storievertelling het in alle menslike kulture bestaan, en elke kultuur meng ander elemente van waarheid en fiksie daarin. Vroeë fiksie was nou verwant aan die geskiedenis en aan die mite. Griekse digters soos Homeros, Hesiodos en Aesopus het fiktiewe verhale ontwikkel wat eers mondeling oorgedra en later opgeskryf is. Prosafiksie het in Antieke Griekeland ontstaan, onder die invloed van die verteltradisies van Asië en Egipte. Werk wat duidelik as fiksie herkenbaar was, is egter nie voor die Romeinse keiserlike tydperk as iets aparts van historiese of mitologiese verhale beskou nie. Verhale wat heeltemal versinde karakters en gebeure volg, het deur die antieke drama en die Nuwe Komedie ontwikkel.
’n Struktuur wat algemeen in vroeë fiksie voorkom, is ’n reeks vreemde en fantastiese avonture, waarmee die vroeë skrywers die grense van fiksieskryfwerk getoets het. Die Milesiese verhale was ’n vroeë voorbeeld van fiksieskryfwerk in antieke Griekeland en Italië. Namate fiksieskryfwerk in Griekeland ontwikkel het, is meer klem op herkenbare karakters en geloofwaardige situasies gelê om beter met die gehoor te skakel, met elemente soos die liefde, seerowery en godsdienstige seremonies. Die ridderroman het in die middeleeuse Europa ontwikkel en elemente ingesluit wat vandag met fantasie verbind word, waaronder bonatuurlike verskynsels en ridderlikheid.
Die struktuur van die moderne roman is in die vroeë 17de eeu deur Miguel de Cervantes met Don Quijote ontwikkel. Die roman het in die 18de en 19de eeu die vernaamste medium van fiksie geword en is dikwels met idees van die Verligting soos empirisme en agnostisisme verbind. Realisme het in hierdie tyd as literêre styl ontwikkel. Nuwe vorme van massamedia het in die laat 19de en vroeë 20ste eeu ontstaan, waaronder tydskrifte vir populêre fiksie en die vroeë film. Interaktiewe fiksie het in die laat 20ste eeu deur videospeletjies ontwikkel.
Aanhalings Daar is selfs onder skryfinstrukteurs en welbekende skrywers min ooreenstemming oor die aantal en samestelling van die fundamentele elemente van fiksie, byvoorbeeld:
"Fiction has three main elements: plotting, character, and place or setting." "A charged image evokes all the other elements of your story—theme, character, conflict, setting, style, and so on." "For writers, the spices you add to make your plot your own include characters, setting, and dialogue." "Contained within the framework of a story are the major story elements: characters, action, and conflict." ". . . I think point of view is one of the most fundamental elements of the fiction-writing craft . . . ."
Soos gestel deur Janet Evanovich, "Effective writing requires an understanding of the fundamental elements of storytelling, such as point of view, dialogue, and setting. " Die debat oor die aantal en samestelling van die grondliggende elemente van fiksie duur voort.
Elemente duimnael|Freytag se piramide van intrige.
Intrige Intrige of die storielyn (soms ook die plan of plot) is hoe die storie ontvou deur die vertelling, deur die onthulling van informasie, en deur wat karakters doen, sê en dink. Dit is die werklike aksie wat tot ’n eenheid gebring word deur die omhullende aksie, die universele aksie, die grondvormende aksie. Soos Aristoteles gesê het, wat ’n storie eenheid gee, is nie soos wat die massas glo dit oor een persoon gaan nie, maar dat dit oor een aksie gaan. Plot, of die storielyn, word dikwels genoem as een van die fundamentele elemente van fiksie. Dit is die vertolking en organisering van die gebeure en aksies van ’n storie. Op ’n mikroskopiese vlak bestaan plot uit aksie en reaksie, ook na verwys as stimulus en antwoord. Op ’n makro-vlak het plot ’n begin middel en einde. Plot word dikwels uitgebeeld as ’n boog met ’n sigsaglyn wat die styg en val van die aksie verteenwoordig. Plot het ook ’n middelvlakstruktuur: toneel en opsomming. ’n Toneel is ’n eenheid van drama – waarin die aksie voorkom. Dan, na een of ander oorgang, volg die opsomming – ’n emosionele reaksie en hergroepering, ’n nadraai. Vir ’n aangename tong-in-die-kies aanmerking oor plot, gaan loer na Katherine Anne Porter se "No Plot, My Dear, No Story" in The Occasional Writings and Collected Essays of Katherine Anne Porter, Seymour Lawrence, 1970.
Eksposisie