Die vlaktespekvreter (Emarginate sinuata) is gelokaliseerde algemene standvoël in boomlose landskappe van suidelike Namibië, Suid-Afrika en Lesotho. In die somer kom hulle op die Lesotho-hoogland voor, maar dié wyk tydens koue weer uit na die hoëveld. Soos ander spekvreters is hulle 'n monogame spesies. Hulle is territoriaal en word een-een of in pare aangetref. In Engels staan dit as die sickle-winged chat bekend.
Beskrywing Die voël is 15 cm groot en weeg 17 tot 24 gram. Die genders lyk eenders. Dit lyk baie op die meer algemene spekvreter, maar het 'n effe meer kompakte liggaamsvorm en langerige bene. Ook ontbreek die bruin t-patroon op die stert van laasgenoemde. Die stertvere is hoofsaaklik swarterig, en slegs vaalwit (eerder as kastaiing) aan die buiterande. Dit het 'n opvallender oogring, en die vlerke se dekvere is soms duideliker omsoom. Die unieke vernouing van die buiteslagveer is slegs in die hand sigbaar.
Taksonomie Die eerste formele beskrywing van die spesies was deur die Sweedse dierkundige Carl Jakob Sundevall in 1858, en dan onder die binomiale naam Luscinia sinuata. Die spesies is daarna in die genus Cercomela opgeneem, wat in 1856 deur Charles Lucien Bonaparte voorgestel is. Dit is na die huidige genus, Emarginata, verskuif nadat molekulêre filogenetiese studies van 2010 en 2012 aangedui het dat Cercomela polifileties is. Die spesiesnaam sinuata is Latyn vir "geboë", wat verwys na die unieke vernouing van die geboë buiteslagveer.
Subspesies Daar is drie subspesies: E. s. hypernephela — Lesotho E. s. ensifera — suidelike Namibië en westelike en sentraal Suid-Afrika E. s. sinuata — suidelike Suid-Afrika
Verspreiding en leefgebied Dit kom voor van die Kaapse weskus tot in Lesotho, met enkeles wat vir die winter noordwaarts na die hoëveld uitwyk. Soos die spekvreter verkies dit ook klipperige areas, maar wel in grasarm struikveld van boomlose landskappe. Dit word aangetref in halfdorre Karoobossieveld, landerye en weiveld in plat tot golwende landskappe. Dit is territoriaal en in die Lesotho-hoogland is 'n digtheid van een broeipaar per 10 hektaar aangeteken.
Gewoontes duimnael|regs|Die kompakte liggaam en langerige bene is opmerklik Hul gedrag is sku wanneer die broeityd aanbreek. Die nes word goed teen 'n graspol of onder 'n klip of kluit verskuil. Slegs 'n noue deurgang word gelaat, sodat dit nie van bo af sigbaar nie. Die nes is 'n redelik groot en dik koppie van versnipperde gras, wat aan die binnekant met wol of dierehare uitgevoer word. Die legsel bestaan uit drie ligblou eiers (2 tot 4), soortgelyk in voorkoms aan dié van genus Oenanthe. Die eiers is meestal ongemerk, maar is by uitsondering ligbruin gespikkel. Slegs die wyfie broei op die nes, maar die mannetjie voer ook die kuikens.
Sien ook Alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse voëls Lys van Suid-Afrikaanse voëls (Groepeer) Lys van Suider-Afrikaanse voëls volgens wetenskaplike name
Bronnelys Sasol Voëls van Suider-Afrika. Struik Nature. Vierde Uitgawe 2011.
Verwysings
Kategorie:Spekvreters