Die Rocherpan is 'n natuurreservaat aan die Weskus. Dit grens aan die see, lê aan die pad van Velddrif en Laaiplek na Elandsbaai en is noord van Dwarskersbos.
In 1839 het Pierre Rocher die mond van die Papkuilsrivier opgedam om met die water uit die Auroraberge beter weiding vir sy vee agter die ry duine te skep. So het hy egter ook 'n ideale habitat vir voëllewe daargestel. Tydens die Kaapse reëntyd beslaan die meer soms 'n area van 110 ha, is dan tot 6 km lank en tot 2 m diep. Van Maart tot Junie is die vlei egter droog.
Daar is reeds 183 voëlspesies (insluitende 70 soorte watervoëls) hier aangeteken. Daaronder is die bedreigde witpelikaan (Pelecanus onocrotalus), die swarttobie (of oestervanger, Haematopus moquini) en grootflaminke. Dit is ook 'n broeiplek vir die Kaapse slopeend (Anas smithii). Van Junie tot September is daar meesal walvisse voor die kus, en in die lente is die veld bedek met die Namakwalandse blomme.
Hierdie vlei is in 1966 tot natuurreservaat verklaar. Sedert 1988 is die seegebied vanaf die hoogwatermerk tot 500 m weswaarts 'n mariene reservaat. In die park is wandelpaaie, twee voëlkykskuilings en ongerepte strand.
Bronne Die Burger, 23 Julie 2013 www.capenature.co.za www.sa-venues.com
Kategorie:Natuurreservate in die Wes-Kaap