Ryne de Beer (1932 - 2008) was 'n Suid-Afrikaanse musikant wat bekend was as die fluitende predikantsvrou. Sy kon bykans enige lied soos 'n nagtegaal fluit en verskeie opnames is daarvan gemaak.Ryne de Beer - Die fluitende predikantsvrou

Ryne de la Bat is op 9 Januarie 1932 op Worcester gebore waar haar vader hoof van die Skool vir Dowes was. Dié skool en enkele NG gemeentes vir dowes is in later jare na hom genoem.

Ten spyte van die gesegde, "meisies wat fluit, word by die agterdeur uitgesmyt", het sy al van jongs af begin fluit. Na matrikulasie is sy na Stellenbosch waar sy haar Hoër Onderwysdiploma behaal het. Sy moes verskeie aanmerkings teen haar verduur, en kon onthou hoe sy op 'n slag na 'n vertoning bedank is: "Die vrou het gesê sy wens sy kon soos ek fluit, dat sy al hard probeer het. Sy het selfs al haar tande uitgehaal om die hoë note by te kom."Om so te fluit was pure jolyt, besoek op 19 Julie 2013

Haar man, ds. Gys de Beer, was 'n predikant in die NG Kerk en nadat die egpaar op Riversdal afgetree het, het hulle op Oudtshoorn gaan woon waar hul dogter, Dorette, en haar man, ds. Schalk Kotze, 'n medeleraar van die moedergemeente, woon. Sy is op 22 Junie 2008 oorlede en haar man in 2013. Hulle het ook 'n dogter, Annagret, en 'n seun, Prof. Wilhelm de Beer van die Universiteit van Pretoria, gehad.

Diskografie Die Fluitende Predikantsvrou LP, DECIBEL Die Fluitende Predikantsvrou LP, BRIGADIERS MUSIEK (begelei deur Bets van den Berg) Fluit-Fluit-Deuntjies LP, BRIGADIERS MUSIEK (o.l.v. Bets van den Berg; uitgereik ten bate van die Instituut Vir Dowes) Die Fluitende Predikantsvrou CD, 1997 EMI Music

Verwysings

Eksterne skakels

Kategorie:Suid-Afrikaanse musici Kategorie:Geboortes in 1932 Kategorie:Sterftes in 2008