260px|duimnael|regs|Betogers in Junie 2013 op Taksim-plein. 260px|regs|duimnael|Die polisie spuit die betogers met traangas in Istiklal Caddesi aan Taksim-plein.

Die Turkse betogings van 2013 is ’n landwye, steeds voortdurende reeks betogings wat op 28 Mei in Istanboel, Turkye, begin het teen die sloping en ontwikkeling van Taksim Gezi-park, ’n klein park aan Taksim-plein wat beskou word as ’n klein groen eiland in die betonoerwoud. Die betoging het wêreldwyd opslae gemaak toe foto's van polisiegeweld op veral sosiale media begin verskyn het.

Die opstand het sedertdien uitgebrei na tientalle ander Turkse stede en gaan nie net meer oor die sloping van Taksim Gezi-park nie, maar ook oor die hardvogtige houding van die eerste minister van die afgelope 10 jaar, Recep Tayyip Erdoğan, die reg om te vergader, vryheid van uitdrukking en die inbreuk wat die regering maak op Turkye se sekularisme.

Agtergrond duimnael|upright|Die Turkse eerste minister, Recep Tayyip Erdoğan.

Die Regs- en Ontwikkelingsparty onder eerste minister Recep Tayyip Erdoğan regeer sedert 2002 nadat hulle die verkiesing met ’n groot meerderheid gewen het. Hulle is in 2007 en 2011 herkies, weer met ’n groot meerderheid. Onder Erdoğan se bewind het Turkye herstel van die finansiële krisis en resessie van 2001. Veral sedert 2011 het dit ook die land, wat sedert sy stigting in 1923 sekulêr is, in ’n Islamitiese rigting laat beweeg. Beperkings op menseregte, die vryheid van spraak en van die pers, internetgebruik televisie-inhoud, en die reg om te vergader, het terselfdertyd toegeneem.

duimnael|links|upright|150px|2011-betogings teen internetsensuur. In 2012 is Islamitiese elemente ook in die onderwysstelsel ingebring, die verbruik en verkoop van alkohol op universiteitskampusse is verbied en in 2013 het die parlement ’n wet goedgekeur wat alkoholgebruik in die algemeen beperk. Hulle het dit feitlik onmoontlik gemaak om ’n aborsie te kry, die uitbreiding van gayregte teengestaan en gevangenisstraf is aan mense opgelê vir godslastering.

Hoewel bouwerk in Turkye die hoogte ingeskiet en bygedra het tot ’n opswaai in die ekonomie, is die plaaslike bevolkings selde daaroor geraadpleeg en teenstanders van bouprojekte is gereeld herinner aan hoe gewild die regerende party in die verkiesings was.Foreign Policy, 2 Junie 2013, How Democratic Is Turkey? Kommer oor korrupsie het ook toegeneem.Craig Murray, 2 Junie 2013, Talking Turkey

Omgewingskwessies, veral sedert die besluit van die regering in 2010 om nog kernkragsentrales en ’n derde brug oor die Bosporus te bou, het gelei tot betogings in Istanboel en Ankara. In die Swartseegebied was daar ook tientalle betogings teen stortingsterreine, kernkragsentrales, snelweë, fabrieke en damme.

Die regering se standpunt oor die burgeroorlog in Sirië was vir baie Turke ook rede tot kommer. In 2011 is 34 burgers gedood toe Turkse vegvliegtuie bomme op Turkse grondgebied naby die grens met Irak gegooi het; vir baie was dit sprekend van die regering se houding jeens Koerdiese en buitelandse beleidskwessies. Erdoğan het geweier om verskoning te vra oor die voorval ondanks groot druk, en dit het gelei tot die Koerdiese opstande van 2011–'12 in Turkye.

Gezi-park duimnael|links|220px|Die Taksim- Militêre Kasernes wat in 1806 gebou en in 1940 gesloop is om plek te maak vir Taksim Gezi-park. Die aanvanklike oorsaak van die 2013-betogings was die plan om Taksim Gezi-park, een van die min oorblywende groen ruimtes in Istanboel, te sloop vir die herbou van die Taksim- Militêre Kasernes uit die Ottomaanse era wat in 1940 gesloop is. In Januarie 2013 het ’n kultuurbewaringsraad wat onafhanklik van die regering is, die projek afgekeur synde nie in openbare belang nie. ’n Hoër raad het egter dié besluit op 1 Mei omgekeer, volgens aktiviste onder invloed van die regering.Alexander Christie-Miller, Christian Science Monitor, 10 Junie 2013, In Turkey, echoes of US-style clashes over glitzy redevelopment

Die grondverdieping van die kasernes sal waarskynlik ’n winkelkompleks huisves en die boonste verdiepings luuksewoonstelle, hoewel die moontlikheid van ’n museum pleks van ’n winkelkompleks genoem is in reaksie op die betogings.Reuters, 3 Junie 2013, Insight: Simmering anger at Erdogan's authoritarianism boils over in Turkey New York Times, 31 Mei 2013, Police Attack Protesters in Istanbul’s Taksim Square Die hoofkontrakteur van die projek, die Kalyon-groep, is in 2013 deur die BBC beskryf as ’n "maatskappy wat noue bande met die regerende Regs- en Ontwikkelingsparty het".BBC, 5 Junie 2013, Turkey clashes: Why are Gezi Park and Taksim Square so important?

Teenstand het in Desember 2012 begin met ’n petisie en opstande het in April 2013 begin.Hurriyet Daily News, 5 Junie 2013, Istanbul Gezi Park Op 27 Mei het ’n groep van sowat 50 omgewingsbewustes die park beset. ’n Polisie-aanval op 29 Mei het gelei tot groter opstande.Jay Cassano, Global Research, 4 Junie 2013, The Right to the City Movement and the Turkish Summer Hoewel Turkye ’n geskiedenis van polisiegeweld het, het die aanval op ’n vreedsame byeenkoms van omgewingsbewustes gelei tot ’n landwye woede en die grootste betoging in dekades in Turkye.

Terwyl die betogings versprei het na tientalle ander stede soos Anakara, Izmir, Bursa, Edirne, Antalya en Antakya, is verskeie mense dood en talle beseer in die aanvalle deur die polisie waarin onder meer traangas en waterkanonne gebruik is.Luke Harding, The Guardian, 11 Junie 2013, Erdoğan's reaction to Turkey protests reveals ominous Putin parallels Ook in ander dele van die wêreld met groot Turkse bevolkings is protesoptogte gehou.

Tydens die betogings het die eerste minister verskeie toesprake gehou wat die betogers as vyandiggesind beskou het, en op 3 Junie het hy op ’n beplande drie dae lange besoek aan Noord-Afrika vertrek – ’n stap wat opposisiepartye as onverantwoordelik beskryf het. Op 4 Junie het die onderpremier, Bülent Arınç, verskoning gevra vir die "buitensporige geweld" wat deur die polisie gebruik is aan die begin van die betogings, maar gesê hy sal nie verskoning vra vir die geweld later in die betogings nie. Op 6 Junie het Erdoğan gesê die planne vir die nuwe kompleks gaan voort ondanks die betogings.BBC, 6 Junie 2013, Istanbul Gezi Park plan to proceed – Turkish PM Erdogan

Kamp in Gezi-park duimnael|Van die vermaak in die park was ’n draaiende Soefi met ’n gasmasker. duimnael|Betogers in Istiklal Caddesi by Taksim-plein. duimnael|’n Plakkaat in Koerdies wat lees: "Geregtigheid vir Hrant Dink". duimnael|’n Veeartskliniek in die park.

Nadat die polisie ophou probeer het om die betogers uit Gezi-park te verwyder, het die getalle geweldig toegeneem en is talle tente opgeslaan, in so ’n mate dat ’n kaart van die park by die ingang aangebring is om aan te dui waar sleutelpunte soos klinieke en koskombuise is.Huffington Post, 6 Junie 2013, Turkey Protests Snapshots: Yoga, Trash Crews And Barricades Die betoging het ’n soort feesgevoel ontwikkel, met selfs families met kinders wat kom deelneem het.Al Jazeera 4 Junie 2013, c 9.30pm, Turkey Protests Live Blog Betogers het ekstra kos gebring, ’n biblioteek is opgerig met duisende boeke wat geskenk is,Ayla Jean Yackley, Reuters, 6 Junie 2013, Istanbul protesters hunker down with yoga and books Hurriyet Daily News, 4 Junie 2013, Publishing houses to unite in Gezi Park to distribute major resistance material: Books konserte is gehouHurriyet Daily News, 5 Junie 2013, Tensions decrease despite some clashes in Gezi Park protests ’n rolprentskerm is opgestel, asook ’n verhoog met luidsprekers en ’n kragopwekker. ’n Simboliese straat is genoem na Hrant Dink, ’n joernalis wat in 2007 vermoor is; die straat verbind Vredesplein met ’n speelterrein vir kinders.Hurriyet Daily News, 5 Junie 2013, Protesters dedicate a street to slain journalist Hrant Dink in Gezi Park Teatermaskers teen die traangas en Guy Fawkes-maskers word verkoop en jogaklasse gehou. Saans groei die getalle aan wanneer mense van die werk af by die betogers aansluit.Associated Press, 5 Junie 2013, A snapshot of protesters who have gathered in Istanbul's Taksim Square

Eise Op 4 Junie het ’n solidariteitsgroep wat met die Beset Gezi-beweging verbind word, ’n lys eise uitgereik: Die bewaring van Gezi-park; ’n Einde aan polisiegeweld, die reg om te vergader en die vervolging van diegene wat verantwoordelik was vir die geweld teen die betogers; ’n Einde aan die verkoop van "openbare ruimtes, strande, woude, waterstrome, parke en stedelike simbole aan private maatskappye, eiendomsbesitters en beleggers"; Die reg van mense om hul "behoeftes en klagtes uit te druk sonder vrees, inhegtenisnemings en marteling." Dat die media, "wat die professionele plig het om die openbare belang te beskerm en korrekte inligting te versprei, optree op ’n etiese en professionele manier".The Daily Dot, 4 Junie 2013, Refusing oppression, Turkish protesters release a list of demands

Onderpremier Arınç het ’n vergadering met die groep gehou, maar later hulle eise verwerp.Al Jazeera, 5 Junie 2013, Turkey protests continue despite apology

Die regering se reaksie Op 29 Mei, ná die aanvanklike betogings, het Erdoğan weer eens sy steun aan die bou van die derde brug oor die Bosporus bevestig en gesê: "Wat julle ook al doen, ons het klaar besluit en ons sal dit deurvoer." Op 31 Mei het die burgemeester van Istanboel, Kadir Topbaş, gesê die omgewingsveldtog "is geplooi deur politieke agendas".

Op 1 Junie het Erdoğan in ’n TV-toespraak die betogers veroordeel en gesê "vir elke 20 mense wat hulle bymekaarmaak, sal ek 200 000 mense bymekaarmaak. Vir elke 100 000 wat hulle bymekaarmaak, sal ek ’n miljoen van my party bymekaarmaak." Op 2 Junie het hy die betogers beskryf as "plunderaars" en "leeglêers".New York Times, 2 Junie 2013, Turkish Leader Says Protests Will Not Stop Plans for Park

Op 1 Junie het onderpremier Arınç die gebruik van traangas teen die betogers veroordeel en gesê: "Dit sou beter gewees het om die mense wat sê hulle wil nie ’n winkelkompleks hê nie, te probeer oortuig, in plaas daarvan om hulle met traangas te spuit."

Op 2 Junie is berig dat pres. Abdullah Gül ander senior leiers gekontak het en gesê het om "matigheid" te gebruik. Daarna het die minister van binnelandse sake, Muammer Güler, die polisie gelas om aan Taksim te onttrek en betogers toe te laat om die plein weer te beset. Op 3 Junie het Gül die reg om te betoog verdedig en gesê: "Demokrasie beteken nie net verkiesings nie."The Guardian, 3 Junie 2013, Turkish president defends people's right to protest

Op 8 Junie het burgemeester Topbaş aan verslaggewers gesê: "Ons oorweeg dit beslis nie om ’n winkelsentrum of ’n hotel of woonstelle daar te bou nie. Dit kan ’n stadsmuseum of uitstallingsentrum wees.

Turkse media Die betogings het veral aan die begin (tot 2 Junie) min dekking gekry in die Turkse media.BBC, 4 June 2013, Turks deprived of TV turn to Twitter for protest news Volgens die BBC steun sommige media die regerende party of is hulle na aan die eerste minister, terwyl ander nie die regering wil kwaad maak nie omdat van die eienaars se sakebelange soms van regeringshulp afhang.

Weens die min dekking in die Turkse media is die sosiale media soos Twitter gebruik om oor die voorvalle te berig.Turkish Weekly, 1 Junie 2013, ‘Occupy Taksim’ grows in spite of crackdown In die 12 uur ná 16:00 op 31 Mei was daar meer as twee miljoen twiets. Erdogan het in ’n toespraak gesê: "Daar is nou ’n bedreiging wat Twitter genoem word. Die grootste leuens kan daar gevind word. Vir my hou die sosiale media die grootste bedreiging vir die gemeenskap in."