duimnael|regs|250px|'n Boek in die leessaal van die Universiteit van Graz (Oostenryk).
'n Boek is 'n versameling geskrewe, gedrukte, geïllustreerde of skoon velle bestaande uit ink, papier, perkament of ander materiaal wat aan een kant geheg is om te kan blaai. 'n Enkele vel binne 'n boek is 'n blad en elke kant van die blad is 'n bladsy. 'n Versameling van teksgevulde of geïllustreerde bladsye wat in elektroniese formaat geproduseer is staan bekend as 'n elektroniese boek of e-boek. In sommige meer gegoede lande is e-boeke besig om gedrukte boeke te verdring, Nog 'n verdere ontwikkeling is die luisterboek. 'n Winkel waar boeke gekoop en verkoop word staan as 'n boekwinkel of boekhandelaar bekend.
Boeke kan oor een onderwerp handel (soos storieboeke en veldspesifieke boeke) of oor 'n hele aantal (soos ensiklopedieë). Boeke beskik oor die volgende kenmerke: Dit het 'n titelblad, gewoonlik waarop die naam van die skrywer en uitgewer, sowel as die publikasiedatum verskyn Sommige boeke het 'n voorwoord en/of inleiding Daar is in sekere boeke, soos naslaanwerke, 'n inhoudsopgawe vóór in die boek Daar is normaalweg 'n indeks ('n alfabetiese lys van die onderwerpe wat in die boek verskyn) agterin naslaanwerke Sommige boeke het ook 'n glossarium agter in die boek, waar woorde en terme verduidelik word
Volgens Unesco se definisie word enige gedrukte publikasie wat nie gereeld verskyn nie, aan die publiek beskikbaar gestel word en met uitsondering van die titelblad en omslag 'n minimum van 49 bladsye het as boek beskou.Unesco-definisie van 'n boek Tans word daar jaarliks sowat 1,2 miljoen boeke gepubliseer (waarvan 375 000 in Engels en 80 000 in Duits verskyn). Die wêreldwye omset beloop meer as 600 miljard ZAR.Der Fischer Weltalmanach 2007. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2006, bl. 745
Boeke kan ook verwys na letterkundige werke of die hoofafdeling van so 'n werk. Boeke kan ook by 'n biblioteek uitgeneem word. Binne biblioteek- en inligtingskunde word 'n boek 'n monografie genoem om dit te onderskei van gereelde blaaie soos tydskrifte, vaktydskrifte of koerante. Alle geskrewe werke, boeke ingesluit, word omskryf as letterkunde. In die geval van romans en sekere ander boeke (soos byvoorbeeld biografieë en antieke tekste soos die Bybel) kan 'n boek in verskeie groot dele opgedeel word wat ook as boeke (Boek 1, Boek 2, Boek 3 en sovoorts) bekend staan. 'n Geesdriftige boekleser staan bekend as 'n bibliofiel of meer algemeen 'n boekwurm.
Etimologie Die woord boek is afkomstig van die Middelnederlands "buec" en Oudnederlands "buoke" (groot dokument). Verder is die Oudnederlandse woord ook verwant aan die Oudsaksiese "bōk" (letter, skryfplankie), Oudhoogduitse "buoh" (letter, boek), Oudfrisiese "bōk" (boek) en Oudengelse "bōc" (boek). Die woorde is weer afkomstig van die Oergermaanse "*bōk-" (letter, iets waarop letters staan).
Daar is tot in die tweede helfte van die twintigste eeu gemeen dat boek en beuk etimologies saam hoort vanweë die Germaanse stamme se gewoonte om runes op beukehoutstafies te kerf, daar is egter geen historiese bewyse hiervan nie. Die woord boekstaaf is eerder afkomstig van die Oergermaanse "*bōk-staba-" wat letterlik towerstaaf beteken, 'n taksushoutstaaf met runes daarop uitgekerf. Die taksusboom is deur die ou Germane as heilig beskou. Verder verskil die Proto-Germaanse woordstamme vir die twee woorde, "*bōk-" (boek) en "*bōkō-" (beuk) ook. Met verloop van tyd het daar in Nederlands twee uitspraakvorme ontstaan vir beuk: boek (wes) en beuk (oos). Om die verwarring met boek te oorkom is later net van beuk gepraat. Die uitspraak boek vir beuk het intussen omtrent heeltemal verdwyn behalwe in samestellings soos byvoorbeeld die woorde boekenhout (Suid Afrikaanse beuk) en boekvink (gryskoppie).
Geskiedenis
Gedurende die ontstaan van skryfstelsels in die antieke beskawings is 'n verskeidenheid voorwerpe vir skryfwerk gebruik, dit sluit onder meer steen, kleitablette, boombas en metaalplate in. Die bestudering van die soort inskrywings beslaan 'n groot deel van die geskiedenis en staan bekend as epigrafie. Alfabetiese skrif maak eerste in Egipte sy verskyning en die Antieke Egiptenare het gereeld op papirus geskryf, 'n plant wat langs die Nyl gevind kon word. Oorspronklik is die woorde nie van mekaar geskei nie (scriptura continua) en geen leestekens is gebruik nie. Tekste is van regs na links, links na regs of selfs afwisselend in verskillende rigtings geskryf. Die term vir hierdie afwisselende skryfrigtings heet 'boustrophedon' en beteken letterlik 'osdraai' of 'osploeg', na aanleiding van die manier waarop 'n boer die landerye heen en weer met 'n os sou ploeg.
Tablet 'n Tablet kan beskryf word as fisies geharde skryfmedium, geskik vir ongereelde vervoer en skryfwerk.
Kleitablette was meestal afgeplatte droë stukke klei wat maklik gedra kon word met afdrukke daarop wat met 'n stilus gemaak is. Dit is gebruik as 'n skryfmedium, veral met wigskrif gedurende die Bronstydperk tot diep die Ystertydperk in.
Wastafels is reghoekige houtplanke wat met 'n dik laag was bedek is om griffelafdrukke op te kan maak en bewaar. Dit was die standaard skyfmedium in skole, vir rekenkunde en die afneem van notas. Die wastafeltjie het die voordeel dat dit weer gebruik kan word deur die smelt en hergiet van die was. Die gewoonte om verskeie wastafels saam te bind (byvoorbeeld codex) kon as moontlike voorloper dien tot die boek soos ons dit vandag ken. Die etimologie van die woord codex (houtblok) suggereer ook dat dit moontlik ontwikkel het uit houtwastafels.
Boekrol
duimnael|links|Egiptiese papyrus die godin Osiris en die weeg van haar hart. Papirus is 'n dik papieragtige materiaal wat gemaak word deur die stamme van die papirusplant inmekaar te weef en met 'n hameragtige gereedskapstuk fyn te stamp. Dit is in Antieke Egipte gebruik vir skryfwerk moontlik al so vroeg as die Eerste dinastie. Die eerste bewyse vir die gebruik van papirus kom egter van rekenkundeboeke van koning Nefertiti Kakai uit die Vyfde dinastie (ongeveer 2400 v.C.) Papirusvelle is saamgegom om 'n boekrol te maak en ander materiale soos boombas van lindebome is ook gebruik.
Volgens Herodotos het die Fenisiërs skryfkuns en papirus na Griekeland gebring rondom die 10de of 9de eeu v.C. Die Griekse woord vir papirus as skryfmateriaal biblion en biblos vir boek is ontleen aan die naam van die Fenisiese hawestad Byblos vanwaar papirus na Griekeland uitgevoer is.
Die boekrol, of dit nou gemaak is uit papirus, perkament of papier, was die oorheersende vorm vir die boek in die Hellenistiese, Romeinse, Chinese, Hebreeuse en Macedoniese beskawings. Die meer moderne kodeks as boekformaat het die Romeinse wêreld begin domineer tydens die laat Oudheid, terwyl die boekrol nog lank in Asië die heersende formaat was.
Kodeks duimnael|regs|upright|’n Chinese bamboesboek voldoen aan die moderne definisie van Kodeks
Isidorus van Sevilla (sterf 636) verduidelik die destydse verhouding tussen kodeks, boek en boekrol in sy Etymologiae (VI.13) as volg: ʼn Kodeks is opgemaak uit verskeie boeke en 'n boek is een boekrol. Dit word ʼn kodeks genoem vanweë die stamme (kodeks) van bome en wingerdstokke wat metafories meerdere boeke bevat asof takke wat uit die stam loop. Die moderne gebruik verskil egter.
'n Kodeks, volgens moderne gebruik, is die eerste stoorplek van inligting wat moderne mense as 'n "boek" sal herken: blaaie van eenvormige afmetings, aan die een kant gebind volgens een of ander metode en tipies geplaas tussen twee omslae gemaak van een of ander meer robuuste materiaal. Die eerste geskrewe vermelding van die kodeks as 'n tipe boek is aan die einde van die eerste eeu gemaak deur Martialis in sy Apophoreta CLXXXIV. Daarin besing hy die kompaktheid van die kodeks. Die kodeks het egter nooit veel veld gewen in die paganistiese Hellenistiese wêreld nie, maar vinnig binne die Christengemeenskap gewild geraak. Die oorgang het geleidelik plaasgevind deur die derde en vierde eeu en daar was verskeie redes waarom die kodeksformaat van die boek gewild was: die formaat is meer ekonomies aangesien beide kante van 'n skryfblad gebruik kan word, dit is draagbaar, naslaanbaar en maklik om te verberg. ʼn Boek is heelwat makliker om te lees, om die bladsy te kry waarna gesoek word en om deur te blaai. 'n Boekrol is ongemaklik om mee te werk en die Christenouteurs wou dalk ook hulle werke onderskei van die van paganistiese en Judaïstiese tekste wat in boekrolformaat verskyn. Ondermeer is daar ook 'n paar metaalboeke gemaak wat kleiner metaalplate gebruik het in stede van die ellelange onbuigbare metaalrol. Boeke kan ook maklik geberg word in beknopte ruimtes of langs mekaar in beperkte biblioteke of rakke.
Manuskripte
duimnael|links|Die folio 14 rekto van die 5de-eeuse Vergilius Romanus bevat 'n skrywersportret van Vergilius. Let op die boekekas (capsa), leestafeltjie en die teks geskryf in capitalis rustica sonder enige spasiëring.
Met die val van die Romeinse Ryk in die 5de eeu n.C. beleef die Romeinse kultuur ook noodgedwonge agteruitgang. Papirus word moeilik bekombaar vanweë mindere kontak met Egipte, en perkament wat al eeue in gebruik is, word die voorkeurmateriaal vir skryfwerk.
Monnikekloosters gaan met die Latynse skryftradisies voort in die Wes-Romeinse Ryk. Cassiodorus van die klooster van Vivarium (gestig rondom 540), benadruk die belangrikheid daarvan om tekste te kopieer. Benedictus van Nursia moedig ook later die lees van boeke aan in sy Regula Benedicti (Reël van Benedictus, middel 6de eeu). Die Reël van Benedictus (Hfst. XLVIII), wat sekere tye vir lees voorstel, was 'n groot invloed op die monnikekultuur van die Middeleeue en een van die redes waarom geestelikes die oorwegende boeklesers uit daardie tyd was. Die tradisie en styl van die Romeinse Ryk het nog steeds oorheers hoewel 'n besondere Middeleeuse boekkultuur geleidelik na vore getree het.
Voor die uitvind en ingebruikneming van die drukpers is amper alle boeke met die hand oorgeskryf, wat dit duur en vergelykbaar skaars gemaak het. Kleiner kloosters het gewoonlik net 'n paar dosyn boeke besit en middelslagkloosters miskien 'n paar honderd. Teen die 9de eeu het groter versamelings van ongeveer 500 volumes bestaan en aan die einde van die Middeleeue het die pouslike biblioteek in Afignon en die Paryse biblioteek van die Sorbonne slegs ongeveer 2 000 boeke besit.
Die scriptorium van 'n klooster is gewoonlik naby of in die tabularium (kloosterbiblioteek) geleë. Kunsmatige lig is verbied uit vrees dat dit die manuskripte kon beskadig. Daar was vyf soorte kopiïste: Kaligrawe, wat gemoeid was met die fynere boekproduksie. Kopiïste, wat gemoeid was met basiese reproduksie en korrespondensie Korrektors, wat gemoeid was met die samestelling van die boek en vergelyking met die oorspronklike manuskrip. Verlugters, wat illustrasies geverf het Rubrikators, wat die meestal rooi letters ingeverf het
duimnael|regs| Boergondiese outeur en kopiïs Jean Miélot, uit sy Miracles de Notre Dame, 15de eeu. Die boekmaakproses was lank en moeisaam. Die perkament moes voorberei word, daarna is die ongebonde blaaie uitgelê en met 'n stomp voorwerp of lood belyn. Hierna word die teks deur die kopiïs neergepen wat spasies laat vir illustrasies en rubrikasie. Ten laaste het die boekbinder 'n beurt gekry. duimnael|regs|180px|Tafel met vasgekettingde boeke in die Malatestiana-biblioteek van Cesena, Italië.